Deesdae is daar ’n verskeidenheid boeke beskikbaar waarin ouers gelei word om moeilike onderwerpe in die vorm van stories vir hul kinders voor te lees. Die boeke help ook om ’n gesprek op ’n ontspanne manier aan die gang te sit.

Siegfried Louw, ’n spelterapeut, skryf in Die klip in Lisa se borskas (Jeugfokus, R99) hoe die dood van haar oom die 8-jarige Lisa geraak het. Dat sy ’n klip in haar borskas gekry het die dag "toe sy gehoor het oom Han kom nooit weer terug nie. Oom Han moes hospitaal toe gaan. Hy was siek." Die klip maak Lisa se lewe ongemaklik, want dit word net groter en swaarder. Dit raak so erg dat sy net op die klip in haar bors kan fokus. Haar ouma vra haar waaraan sy so swaar dra, want sy kan sien dit gaan nie goed met Lisa nie. Wanneer Lisa die nuus van haar klip deel, vertel haar ouma dat sy ook ’n klip dra, maar dat die klip nie swaar hoef te wees nie. Sy verduidelik hoe die klip ligter raak en ’n herinnering word aan die persoon wat jy verloor het, dat die klip ook ’n herinnering aan die liefde is van daardie mens.

Die Ligland-projek is ’n reeks boeke deur Siegfried Louw waardeur hy kinders wil help om makliker oor moeilike onderwerpe soos verlies, angs en meer te praat. Dis in eenvoudige taal geskryf en kleurvol geïllustreer.

Die drie boeke wat reeds beskikbaar is, is Die klip in Lisa se borskas wat oor die dood van ’n geliefde gaan. In Ben en die drakie kom Ben se angstigheid onder die kollig. Boeliery is die tema van Kolle en die gif. Agter in elke boek word gesprekspunte oor die tema van dié spesifieke boek gelys. Dit kan die raamwerk vorm van waaroor ouers met kinders kan gesels.

Die boeke kan aanlyn by Bybelmedia bestel word.

 

Keegan en Samier, Andrè Trantraal (Lapa Uitgewers, R60)

Keegan en Samier is beste vriende. Samier het ’n tweelingsussie, Samia en sy hang gereeld saam met die seuns uit. Die drie vriende is in Graad 3 in dieselfde klas. Keegan en sy sussie Jenni-Lee is bedags  in Ouma Mienie se sorg wanneer hul ma by die werk is. Vrydae kom Samier en Samia saam met hulle huis toe wanneer hul pa moskee toe gaan. Ouma Mienie met haar afro-haarstyl en groot kopband is ’n karakter wat sommer gou in mens se hart kruip. Sy is liefdevol en maak die kinders met wysheid en insig groot.

Daar is ook ’n boelie in die storie, maar eerder as die tipiese storie waar hy veronderstel is om sy les te leer, help Ouma Mienie die kinders verstaan hoekom hy so optree. Sy lei Keegan en sy vriende om die regte besluite te neem, deur met hulle die lewe te deel soos sy dit ervaar.

Daar is vier boekies in die Keegan en Samier-reeks, elk met ’n lewensles waar die kinders ’n geleentheid kry om te groei as mens. Hierdie stories, gemik op die skolemark, is eerste in sy soort, omdat elke karakter in die boek bruin is. Andrè Trantraal se briljante en kleurvolle illustrasies skep die daaglikse wêreld waarin hierdie vriende al hul avonture beleef. Dit is ideale selflees boekies vir laerskool leerders, maar ook perfek vir voorlees vir kleiner kinders. My dogtertjie was mal oor die 4-jarige Jenni-Lee! Keegan en Samier se avonture is beskikbaar in die volgende titels: Die Sleutel-Speurders, Die Sokker-Fiasko, Die Strokiesprentkompetisie en Die Nuwe Vriend. - Danica Gouws