Dink maar aan The Doors, The Who, Creedence Clearwater Revival, Led Zeppelin,The Rolling Stones en The Beatles. By hierdie lysie kan ek nog ’n hele paar name voeg. As jy soos ek na hierdie ouens se musiek luister, dan sal jy weet hulle musiek is hard. En hul lewens nog harder. ’n Hele klomp van hulle het vroeg gesterf, juis omdat hulle so selfvernietigend hard geleef het.

Wat my die meeste tref, is dat hierdie ouens meesterlike musikante van hul instrumente was. Daar was niks van 'ons skep ’n sintetiese klank in die ateljee nie'. Hulle het hul kitare en dromme stukkend gespeel - letterlik en figuurlik. Gepraat van kitaarmeesters, Eric Clapton is deur almal (selfs musikante) as die beste beskou. Totdat Jimi Hendrix op die toneel verskyn het. Ek wou onmiddellik meer oor sy lewe weet en het dadelik begin lees aan die biografie.

In Wild Thing, the short spellbinding life of Jimi Hendrix, vertel Philip Norman die verhaal van die enigmatiese musikant se lewe. In Amerika waar hy gebore is, het selfs sy pa nie eens gedink Jimi is ’n big deal nie. Hy het gevoel Jimi moet ’n regte werk doen, want in sy oë was musiek nou nie juis iets waaruit jy ’n bestaan kon maak nie. Jimi moes Engeland toe gaan om regtig sy merk te maak as rocker en kitaarmeester. Selfs toe was die Amerikaners nie beïndruk nie. Toe Clapton hom sien speel het, was hy stom geslaan oor Jimi se vernuf en natuurlike talent. Vir bewonderaars het dit meer gegaan oor die show wat Jimi opgesit het. Hy het sy kitaar agter sy kop gespeel en selfs sy tande gebruik om die snare te pluk. Aan die einde van The Jimi Hendrix Experience se konserte het hy sy instrument op die verhoog stukkend geslaan. Tot groot frustrasie van sy roadie wat moes sorg dat die kitaar vinnig reggemaak word vir die volgende aand se konsert, of hy moes ’n heel ander een in die hande kry. Die vele vroue in Jimi se lewe moes ook vrede maak daarmee dat Jimi se kitaar sy bed deel. Niks het vir Jimi meer vreugde gegee as om op sy kitaar te jam nie en hy het baie keer met die kitaar op sy bors aan die slaap geraak. As hy ’n geleentheid gekry het om saam met ander musikante in klubs te jam, het hy dit met oop arms aangegryp.

Natuurlik is daar ook altyd vroue op die toneel en Jimi was ’n magneet vir die teenoorgestelde geslag. Hy was nou nie juis bekend vir sy seksuele onthouding nie. Hoe bekender Jimi geraak het, hoe meer destruktief was die vroue wat in sy binnekring geleef het. Hulle eie slegte dwelmgewoontes het gemaak dat Jimi ook meer en meer dwelms begin gebruik het. In die 60’s is wyd geëksperimenteer met dwelms en dit was nie ongewoon vir rockers om hulle aan LSD te vergryp nie. Natuurlik het die dwelms gehelp met hul oordadige optredes op die verhoog. Die keer toe Jimi sy Fender Stratocaster in vlamme gehul het aan die einde van sy geskiedkundige optrede by die Monterey Pop Festival in 1967, is beslis een van rock & roll se grootste spektakels, iets wat nie vinnig vergeet sal word nie.

Maar die vernietigende leefwyse het sy tol geëis en Jimi is in 1970 dood toe hy net 27 jaar oud was. Sy dood is tot vandag toe in omstredenheid gehul.

Hendrix se kort lewe is fassinerend en die boek gee jou ’n kykie nie net in sy leefwêreld nie, maar ook die van sy tydgenote en hul musiek. Al wat gepla het van hierdie boek is die baie spelfoute. Dit maak dat ek eerder ’n ander boek oor Jimi Hendrix wil gaan koop. ’n Boek wat so groot musiek ikoon eer, behoort nie sulke slordighede te bevat nie.

 

 

Jimmy Page, Chris Salewics (Harper Collins, R260)

Stairway to Heaven, sekerlik een van dié bekendste liedjies in die geskiedenis van rock musiek, het Led Zeppelin se posisie as die grootste rockgroep in die wêreld gevestig. Reuse skares het in die 70’s opgetrek na  Zeppelin se oorverdowende optredes oral waar hulle gespeel het. Die Britse rockers het veral in Amerika koning gekraai. Kitaarvirtuoos Jimmy Page, die gesig van Zeppelin, was omstrede. Sy belangstelling in die okkulte en sy verhoudings met meisies veel jonger as hy en sy weiering om die groep op Top of the Pops op televisie te laat verskyn, het hom in ’n wolk van geheimsinnigheid omvou. Hy was ’n beheervraat wat gesorg het dat dinge verloop soos dit hom behaag.

Salewics onthul in die biografie die man agter die openbare beeld. Page se geniale vaardighede as kitaarspeler en musiekvervaardiger teenoor die rocker se donker verbintenis met die okkulte en sy oormatige gebruik van dwelms en alkohol en sy onderliggende onsekerheid. Sy verhouding met die ander lede van die groep, veral sanger Robert Plant, kom ook onder die kollig. Hoe daar eintlik geen vriendskappe tussen die vier musikante was nie, daar was net die musiek en die reputasie as die grootste rockgroep in die wêreld wat hulle bymekaar gehou het. Jy kry ’n intense blik van die aftakelende leefwyse en selfdestruktiwiteit van die rockers wat daartoe gelei het dat hulle uiteen gespat het.

Ten spyte van sy omstredenheid het Page aanhou werk om Zeppelin se musiek as ’n nalatenskap vir die musiekwêreld daar te stel. En soos Salewics die boek eindig: " ... no longer the feared figure of rock ’n roll sword and sorcery myth, Page has emerged as the most revered and respected of all classic rock artists. Despite all the odds, Jimmy Page has become the greatest national treasure of British popular music."  - Phyllis Green  

 

Utopia Avenue, David Mitchell (Sceptre, R355)

Musiek is ’n universele taal en het die vermoë om mense vanuit verskillende agtergronde saam te snoer. Die boeiende roman gaan oor Utopia Avenue, ’n Britse band wat in 1967 in Londen tot stand gekom het. Die vier lede het uiteenlopende persoonlikhede en kom uit verskillende agtergronde. Elf Holloway is ’n folksangeres in eie reg, baskitaarspeler Dean Moss speel blues, Jasper de Zoet is ’n kitaar virtuoso en drommer Griff Griffin is ’n jazz musikant. Hulle is bymekaar gebring deur Levon Franklin om ’n groep met ’n eiesoortige klank in die wilde musiekwêreld van die 60’s te vestig.

Die verhaal word vanuit die  verskillende orkeslede se perspektiewe vertel en dit gee ’n veelvlakkigheid aan jou leeservaring. Hoe hard die vier moes werk om ’n merk in die mededingende bedryf te maak. Maklik was dit nie. Dis ’n woeste wêreld van dwelms, kreatiwiteit, drome en aspirasies. Elke plek waar hulle speel, is ’n geleentheid om hul unieke musiek op te dis. Soms is die gehoor so klein, en soms dronk of bedwelm dat dit lyk of die band dit nie gaan maak nie. Hulle sukkel finansieel om kop bo water te hou. Wat in hul guns tel, is dat hulle ’n eerlike bestuurder in Levon het; een wat wheel en deal vir beter plekke om te speel, ’n groter persentasie van die inkomste en om ’n platemaatskappy sover te kry dat hulle ’n album kan opneem. Toe Utopia Avenue dit uiteindelik maak, is dit ’n kort en stormagtige rit op die kruin van sukses.

Mitchell skep so geloofwaardige verhaal dat jy naderhand glo Utopia Avenue het werklik bestaan. Die sterk biografiese inslag dra by dat jy as leser heeltemal inkoop in die verhaal en dat jy nie onemosioneel kan bly oor die lot van Elf, Dean, Jasper en Griff nie. - Phyllis Green