Ek soek gewoonlik onmiddellik na iets wat my kan opbeur, al is dit net om vinnig buite te gaan stap sodat ek die son op my vel kan voel en die voëltjies se gekwetter kan hoor.

Vir my lê die grootse inspirasie in ander mense se woorde. Sterk vroue trek my aan, veral as hulle baanbrekers is wat vir ander vroue die pad oopmaak om in hul voetspore te volg. Een so vrou is Kamala Harris, die eerste vrou wat as die vise-president van Amerika aangewys is. In ’n nuwe boek wat in jou handsak kan pas, word ’n verskeidenheid inspirerende aanhalings van haar in 6 hoofstukke weergegee. Sy praat oor vrouwees, ras, identiteit en regte, jou stem en leierskap, familie en gemeenskap, politiek en beginsels, en laastens oor Amerika.

 
 inspirasie, woorde

Kamala Harris: Quotes to live by, saamgestel deur Lisa Dyer (Wellbeck Publishing, R135)  

Die perfekte geskenk vir ’n vriendin, maar ook ’n absolute aanwins vir jouself. Harris se woorde sal jou inspireer en jou as vrou ook ondersteun om in jouself te glo.

Een van haar aanhalings moedig jou aan om jou nie te belas met ander mense se verwagtinge van wie hulle dink jy is as jy by ’n vertrek instap nie. In kort sê sy, moenie dat enigeen vir jou vertel wie jy is nie. Ek het lank oor hierdie raad van haar gedink en besef sy is reg! Hoeveel keer stap mens nie met vooropgestelde idees by ’n vertrek in nie, waar jy wonder of jy gaan inpas in die uitgelese geselskap, en of jy sinvol sal kan saampraat as iemand toenadering sou maak. Maar dan kom daar nog ’n stukkie raad van haar: "We all have so much more in common than what separates us." Stel jouself oop vir groei en nuwe aanknopingspunte. Gebruik die geleentheid om jou stem te laat hoor, want jy hét ’n stem en jy is waardig.

Die aanhaling wat my dadelik beter laat voel het, is een wat vir almal van ons geld: "Do not be burdened by what has been, when you can create what should be." Glo in die toekoms wat jy self kan help skep.

 

inspirasie, woorde

100 Days Happier, Domonique Bertolucci (Hardie Grant Books, R210)

Domonique Bertolucci skryf boeke oor geluk en dit wat jy kan doen om gelukkig te wees. Sy beveel aan dat jy dié boek nie chronologies moet lees nie, maar dit eerder elke dag net op ’n bladsy oopmaak en dan die mantra wat daarop is, moet probeer volg. Die daaglikse inspirasies is eenvoudige dinge wat jy kan doen om gelukkiger te wees.

Heel eerste moet jy kies om gelukkig te wees. Dit maak vir my sin, daai ou ding van ’n positiewe ingesteldheid - dan lyk alles mos ook sommer helderder en ligter! Maar die plek waar ek die boek vandag oopgemaak het, gee vir my bevestiging van iets wat ek nog altyd glo: Aanvaar die verlede, droom oor die toekoms, maar lewe in die oomblik. Moenie tyd mors deur in die verlede vas te haak nie. En droom, ja, maar moet ook nie so in jou droom verstrengel raak dat jy vergeet om elke dag jou beste te gee vir daardie dag nie. Toevallig lees ek ook raak dat jy sag met jouself moet wees, koester jouself en moenie die heeltyd fout vind met wie jy is, hoe jy lyk en wat jy doen nie. Jy is okei nes jy is.

Bertolucci se boekie bevestig dat dit klein dingetjies is wat tel, soos om vir die mense na aan jou te wys jy is lief vir hulle en wees dankbaar vir die gawes en geskende wat jy in jou lewe het.  

 inspirasie, woorde

Die Familiebybel (Lux Verbi, R480)

Baie mense vind hul inspirasie in hul geloof en wend hulle tot die Bybel wanneer hulle soek na woorde om hulle te anker en te vertroos in donker tye. Dié nuwe uitgawe is ’n wonderlike nalatenskap vir jou gesin. Voor is ruimte gelaat waar jy die familiestamboom kan aanteken, en ook ’n bladsy om trou- en geboortedatums aan te teken.

Die Familiebybel is deur dr. Johan Smith van Vita Amp bygewerk en bevat Bybelstudiemateriaal vir die hele gesin vir 52 weke, sowel as kaarte, woordelyste, en agtergrond oor die vertaalopdrag en die geskiedenis van dié nuwe vertaling. Vir elke moontlike vraagstuk sal jy ’n bevestigende woord of vertroosting in die teks vind.

’n Boodskap wat my na aan die hart lê, kom uit Kolossense 4, vers 4 tot 6: "Tree met wysheid teenoor buitestaanders op, en koop die tyd. Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om ’n ieder en ’n elk te beantwoord." Die deel bevestig weer vir my hoeveel impak woorde het en dat kommunikasie ons belangrikste bate in die lewe is.   Gebruik jou woorde om iemand vandag te inspireer.