Lewensgevaarlike en ekstreme toertjies is hul kos en hul eskapades word op sosiale media gedeel vir almal om te sien. Die karakters is waaghalsige windgatte. Hulle spring van hoë kranse af in die see en jaag branders. Maar die gevaarlike wêreld van stormbranders bestaan tans net in die kop van skrywer Joha van Dyk. Self het sy nog nie die wilde perde van die oseaan op ’n branderplank trotseer nie. Dit, sê sy, gaan in 2021 verander. Branderry is onder die top-5-dinge op haar emmerskoplys vir die jaar.

Joha was vir haar 21ste verjaardag saam met haar gesin op ’n rooibustoer in Kaapstad. Toe hulle verby Seepunt ry, het die toergids se woorde “branderjaers van reg oor die wêreld kom hiernatoe” by haar vasgesteek. En dit was die eerste vonk vir haar jeugroman en debuut, Branderjaer(Human & Rousseau, R195).

 Ek het per e-pos met Joha gesels oor wie sy is en waarom sy skryf.

Joha Van Dyk Foto: Verskaf

Vertel meer oor jouself. Wou jy nog altyd skryf?

Ek is ’n inboorling van Namakwaland en het grootgeword op ’n plaas net buite Kleinzee, ’n klein myndorpie aan die Weskus. Ons het ’n gastehuis, Die Houthoop, waar ek van jongs af aan interessante besoekers blootgestel is. Die plaas self het ook baie bygedra tot my verbeelding. Boonop is Namakwaland ’n streek van storievertellers en was ek geseënd om van kleins af te sien hoe my familie en vriende stories uitruil.Ek het skoolgegaan by die Hoërskool Stellenbosch, waar ek in die koshuis was, en het so op die Boland verlief geraak. Daarna is ek na die Universiteit Stellenbosch toe om BA te studeer en het nou onlangs my meesterstesis in English Studies ingehandig. Ek hoop om volgende jaar met ’n PhD te begin en het onlangs in ’n nuwe woonstel ingetrek ná vier jaar in die vorige een. 2021 gaan dus beslis interessant wees!In ’n stadium wou ek ’n boer wees, nes my pa en ooms, en het ook gedink aan veearts, maar vinnig besef nie een van die twee gaan werk nie. Ek kan dit nie verdra om ’n dier te sien ly nie en kan ook nie bloed goed hanteer nie. In graad 2 of 3 moes ons eendag praat oor wat ons talente is en wat ons eendag wil word, toe ek besef dat ek nie ’n opsigtelike talent het nie! Ek kon nie die vinnigste hardloop, die beste sing, goed dans of geniaal teken nie. Ek kon wel vinnig lees en stories opmaak, so ek het besluit om ’n talent te skep en begin skryf op ’n rekenaar wat my broer nog vir my oorgebou het. Op daardie rekenaar het ek my eerste stories begin skryf en net nooit opgehou nie. Uiteindelik kon ek die idees neerskryf en iets skep nadat ek vir jare lank net gedagdroom het. Dit het toe my droom geword om eendag ’n skrywer te wees. Ek kan baie goed onthou hoe ek vir mense gesê het ek wil ’n skrywer wees, hoe my gesin dit later vir mense vertel het toe hulle besef dis nie net ’n fase nie en, uiteindelik, hoe my vriende my by kuiers as ’n skrywer begin voorstel het. Dit het ’n tydjie geneem voordat ek dit self kon doen. Mens kan amper nie glo die droom het waar geword nie, so jy leef in hierdie surrealistiese spasie waar jy weet jy word gepubliseer maar jy is amper bang om dit hardop te sê vir ingeval dit nie werklik is nie.

Wat was die vonk vir Branderjaer?

Ek was vir my 21ste verjaarsdag saam met my gesin op ’n rooibustoer in Kaapstad. Ons het verby Seepunt gery toe die toergids sê “branderjaers van reg oor die wêreld kom hiernatoe ...” Toe haak die woorde by my vas. Ek haal toe my notaboek uit my handsak en skryf dit vinnig neer. Maande later het ek weer na die woorde gekyk en elke keer wat ek dit gesien het, geweet ek moet iets daarmee doen. Uiteindelik het ek besluit dit gaan net aanhou pla totdat ek iets daarmee doen. Ek het in my blokkiesraaiselwoordeboek woorde begin opsoek wat te make het met “branderjaer”. Ek het afgekom op “ekstremis” en langsaan was vyf woorde: Vuurvreter, Kanniedood, Klipvreter, Stokebrand en Bittereinder. Daar, het ek besef, was my vyf karakters.

Waarom juis n jeugroman skryf?

Dit was nie juis ’n keuse nie. Ek het nie gaan sit en besluit om ’n jeugroman te skryf nie – die storie het na my toe gekom, en ek het geskryf. Dit was net uiteraard ’n jeugroman met jeugkarakters. Ek het wel ’n liefde vir jeugfiksie. Ek is van jongs af ’n groot aanhanger van die Engelse jeugfiksiegenre, juis omdat daar net hier en daar ’n Afrikaanse jeugroman was waarby ek aanklank gevind het. Ek het meer Afrikaanse volwasse fiksie as jeugfiksie op skool gelees en geweet, toe ek aan Branderjaer begin skryf, dat ek iets anders wil doen as die jeugliteratuur van my tienerdae. Ek dink wel jeugliteratuur is baie waardevol. Baie mense kan aanklank vind by die genre en dis gedeeltelik hoekom ek so dankbaar is dat ek ’n jeugroman kon skryf. Daar kan baie vermag word met ’n goeie jeugroman.

Wat was die moeilikste van die skryfproses?

Die skryfproses self is vir my lekker. Met Branderjaer het ek ’n klomp los tonele en dialoë gehad waarmee ek kon speel en dit was asof ek ’n legkaart voor my gehad het en moes uitpluis presies waar elke stukkie moes kom. Nes ’n legkaart is dit soms ook frustrerend, maar die eindproduk is die moeite werd. Ek was altyd baie tevrede wanneer ek die volle prentjie beter kon sien en die tonele en karakters kon laat pas.Wat wel moeilik was, was die redigeringsproses; ek het ure en ure omgesit om te herskryf nadat my uitgewer die manuskrip teruggestuur het met verbeteringe en dis asof dit nooit ophou nie. ’n Paar weke later kom daar net nóg verbeteringe. En toe die grendeltyd begin, het ek net mooi die manuskrip weer weggestuur toe ek dit basies begin oorskryf het. Nóú weet ek darem van beter – ek het ’n baie beter idee van hoe om my volgende manuskrip te takel.

Wat is die grootste les wat jy geleer het met die skryf van die verhaal, jou debuutroman?

Geduld. Die skryfproses behels dat jy nie die storie forseer nie en die redigeringsproses verg baie tyd en harde werk. Die moeilikste deel van die hele proses was seker daardie oomblikke tussen manuskripte, wanneer die buiteleser of my uitgewer die manuskrip deurlees en ek moet wag. Ek was natuurlik besig met swot en ander aktiwiteite, maar ek kon nie help om heeltyd daaraan te dink nie en later is dit frustrerend om nie aan die manuskrip te kan werk en te kan regmaak waar jy weet daar moontlik probleme lê nie.Hier teen die einde was ek ook vreeslik angstig oor lesersindrukke. Ek was regtig bang dat my uitgewer ’n fout gemaak het om die manuskrip te kies, dat ek ’n fout gemaak het, dat alles net ’n misverstand is en dat die mense wat ek ken, teleurgesteld sou wees in die eindproduk. My uitgewer, Simone Hough, was gelukkig baie geduldig en het my elke nou en dan gerusgestel, maar dit was intimiderend om op die punt van publikasie te wees en nie ’n idee te hê van hoe jou verhaal, jou styl, jou karakters, ervaar gaan word deur die publiek nie. So, dit was ’n redelike belangrike les wat ek geleer het: om vas te staan agter my besluite en my werk, my manuskrip en my storie. Ek dink almal ly so nou en dan aan imposter syndrome, maar ek is vasbeslote om dit volgende keer te vermy. Solank jy jou bes probeer en eg is aan die verhaal en die karakters, is daar niks om voor bang te wees nie.

Kan jy self branderry?

Ek het nogal gewag vir iemand om hierdie vraag te vra! Ek het baie vriende wat branderry, maar kan nog nie self nie, nee. Die klem lê wel op nog nie, want ek het ’n bucket list opgestel vir 2021 en dis definitief op my top-5-aktiwiteite vir die nuwe jaar.

Met watter karakter in jou verhaal kan jy jou die meeste vereenselwig?

Ek het ongelooflik baie liefde vir my karakters, dit maak dit moeilik om net een te kies. Ek hou daarvan om te dink dat daar iets in elkeen van hulle is waarby ek aanklank vind. Omdat hulle nie perfek is nie, is dit maklik om myself, as tiener en as student, in hulle raak te sien op spesifieke oomblikke – oomblikke waar hulle twyfel, waar hulle dapper is, waar hulle te hard probeer of mekaar misverstaan. Ek het byvoorbeeld nes Bella op my hand geskryf en vir die Stelloskoop (HSS se skoolkoerant) geskryf. Nes Deidre het ek ook altyd my interaksies met mense oordink. Ek was al dapper soos Kalla en eerlik soos Jak. Ek was al gewaagd soos Mieke, versigtig soos Malherbe, beskermend soos Louw, ’n verkleurmannetjie soos Ben en simpatiek soos Ellis.Dis juis wat dit vir my lekker maak om te skryf oor hulle, juis omdat ek my ervaringe kan onthou en al met verskillende mense gesels het oor hul ervaringe as tieners. Hoe meer jy met mense kommunikeer, hoe meer besef jy dat jou stories ooreenstem met ander s’n, maar ook dikwels fundamenteel verskil – dit maak dit juis interessant. Tans werk ek aan die ander karakters se verhale en ek vind Mieke s’n die maklikste sover. Haar stem vloei ongelooflik natuurlik en ek vind dit soms moeilik om op te hou skryf aan haar verhaal.

Hoe het die grendeltyd jou geaffekteer?

Ek kan eerlikwaar sê dat die grendeltyd vir my, in ’n mate, baie positief was. Net voor die grendeltyd het ek oorweldig gevoel met die idee van 2020 en alles wat ek wou doen en my potensiële afskeid van Stellenbosch. Daar was baie goeie planne vir 2020 wat deur die grendeltyd geaffekteer is, en dit was baie teleurstellend, maar op ’n manier was dit vir my nodig om huis toe te gaan. Ek was redelik “homesick”. Die grendeltyd het my net mooi op die regte tyd gevang sodat ek en my ma tuis was op ons plaas, Steenvlei – by my pa. Ek het nodige stiltetyd ingehaal en weer tyd met my familie spandeer, meer gelees as wat ek in ’n lang tyd voor tyd gehad het. Dit het ook vir my die nodige tyd gebied om my manuskrip oor te skryf en rég te skryf. Die grendeltyd het my ook in staat gestel om my meesters in ’n jaar te voltooi. Uiteindelik was daar baie voor- én nadele, maar ek dink sonder die grendeltyd sou ek baie langer gevat het om sekere besluite te maak en sou ek uitgemis het op wat ek van die plaas en gesinstyd gekry het.

Werk jy aan n nuwe boek?

Ek werk tans aan ’n opvolg vir Branderjaer. Dis baie opwindend en terselfdertyd frustrerend. Ek weet wat moet gebeur en waarop ek wil fokus, maar daar’s dele van die storie wat my nog ontglip. Teen dié tyd weet ek dit sal kom met tyd. Branderjaer is ’n verhaal wat redelik organies ontwikkel het, maar die tweede boek se proses kan ek beskryf soos kreefduik aan die Weskus. Kreefduik by ons, op Kleinzee, behels dat jy in jou duikpak lê en dryf op die bamboes; soms moet jy jouself onder die bamboes inwurm. Jy’s onder water, dis donker, jy kan nie sien nie en jy hou jou asem op. Jou hand is onder ’n rots en jy weet nie wat jy gaan raak vat nie. Jy voel die voelers en dalk die pote van die kreef, jy voel hoe dit beweeg, maar jy kan net nie jou hand om die kreef se lyf kry om hom uit te trek nie. Nou en dan moet jy opkom en asemskep en dan moet jy weer induik en weer probeer om die kreef raak te vat. Dis hoe dit voel. Ek weet wat moet gebeur, maar ek kan net nie die hele storie nou begryp of raak vat nie. So ek probeer my bes en skep nou en dan asem voordat ek weer met ’n pen en papier sit en die verhaal probeer uitpluis.