In my erf moet ek tussen die skaduryke bome soek vir ’n paar sonkolle waar ek beddings kan maak om groente te plant. My vriende spot en vra of ek besig is om ’n woud aan te plant. In ons groot tuin is ’n stinkhout, ’n doringboom, vyebome, kweper- en granaatbome, drie verskillende suurlemenoenbome, ’n koemkwat en ’n lemmetjieboom, twee amandelbome, ’n feijoa (pynappelkoejawel), ’n melaleuca Johannesburg gold, ’n bottlebrush, twee leopard trees, ’n karob en dan is daar ook nog ’n Kanadese maple en ’n reuse essenhout en laastens twee wildepeerbome. Amper vergeet ek van die wilde olyfboom! Soggens is die boomtakke oorlaai met geveerde besoekers en vroeg-vroeg sing hulle my wakker. Elke boom trek ’n ander soort voël. Die vrugtevreters mik onmiddellik vir die kort laning vye. Die heuningvoëltjies verkies die blomme van die feijoa (pynappelkoejawel). Die duiwe neem alles net oor! Ja, bome het ’n spesiale plek in my hart en ek kon nie wag om deur Die boek van Bome, geskryf deur Wojciech Grajkowski en lieflik geïllustreer deur Piotr Socha (Protea Boekhuis, R395) te blaai nie. Hulle het ook Die boek van Bye geskryf. Die boeke is eintlik op kinders gemik, maar ek is seker volwasse lesers sal net soveel inligting en plesier daaruit kry. Dis uitmuntend in Afrikaans vertaal deur Esta Grobler.

bome bye oorlewing

Die Poolse Wojciech Grajkowski is ’n bioloog wat oor die natuur en wetenskap skryf en ook bordspeletjies ontwerp. Piotr Socha, ’n grafiese kunstenaar, is een van Pole se gewildste strokiesprentkunstenaars en is bekend vir sy humoristiese tekeninge in Poolse tydskrifte en koerante. Die twee span saam om in die twee boeke te wys waarom bome en bye so noodsaaklik is vir die mens se oorlewing.

Bome se blare onttrek koolsuurgas uit die lug. Daardie einste gas waaroor wêreldwyd planne gemaak word om minder daarvan in die lug vry te stel. Lande sluit ooreenkomste om beperkings in te stel om die koolstofvoetspoor in te perk. Dit gaan oor die hoeveelheid gas wat deur fabrieke en industrieë, motors, en selfs brande in die atmosfeer vrygestel word. Ontbossing van natuurlike woude dra by tot die vernietiging nie net van diere se habitatte nie, maar ook van ’n belangrike skakel in die gesond hou van die atmosfeer.Om dinge vir jong lesers interessant te hou, word die teks gepak met interessante brokkies: Wat is die hoogste boom in die wêreld? Hoe oud is die oudste boom in die wêreld en hoe word die ouderdom bepaal? Het jy geweet gaste van die Free Spirit Spheres-hotel in Kanada kan in houtsfere tuisgaan wat tussen die bome hang? Of dat jy ’n ongewone boomhuis wat aan die buitekant soos ’n voëlnes lyk, kan huur by die Treehotel in Noord-Swede? Verbeel jou!

Bye en bome loop hand-aan-hand. Sonder bye is daar nie lemoene, suurlemoene of lemmetjies nie. In my tuin gebeur alles organies en deel ek maar die vrugte en groente met die gevlerktes. Ek plant ook spesifieke plante spesiaal vir bye, soos basilie, ysterkruid en jasmyn waaroor hulle mal is. "Heuningbye se gunstelingplante is dié wat baie nektar produseer. Hierdie plante sluit sekere bome in, soos lemmetjie en akasia, en gewasse wat deur boere verbou word, soos raapsaad en bokwiet."- bl. 54 in Die boek van Bye. Interessante feite:Bye bestuif 71 van die lys van100 gewasse op die Voedsel en Landbou-organisasie van die Verenigde Volke. Die gewasse voorsien 90 % van die voedsel in 146 lande.’n Werkerby kan tot die helfte van haar gewig dra en ’n heuningby kan tussen ’n tiende en ’n derde van haar liggaamsgewig dra. Tussen 4 en 7 heuningbye moet vir ’n hele seisoen werk om net een lepel heuning te maak! Die feit wat my die meeste beïndruk: "Bye moet meer as vier miljoen blomme besoek en ongeveer 110 000 km aflê om een kilogram heuning te maak! Dit is vier keer om die wêreld!" - bl. 34. Twee fantastiese boeke wat jou met respek na bome en bye laat kyk. Ek gaan plant sommer nog ’n boom en ’n paar blomme.

bye inspirasie
 

Be more bee, Alison Davies (Hardie Grant, R155)

Alison Davies beskryf haarself as ’n bee whisperer. Haar eerste kennismaking met dié insekte was toe sy vyf jaar oud was. Van toe af is sy gefassineer deur hulle. "You see, for me the bee has everything. It’s a magical marvel, a creature of flair and talent, a friend of the earth and an advocate for girl power, It’s a totem. A conundrum." - bl. 7Die subtitel van die nuttige motiveringsgids is "How to find your inner buzz" en sy gebruik al die eienskappe wat bye uniek maak om praktiese oefeninge te gee waarmee jy jouself kan verryk. Tussen die blaaie is daar filosofiese aanhalings van bekende skrywers en kunstenaars oor bye. Natuurlik lieflik geïllustreer deur Emily Mayor. Daar is ook bladsye met Buzz woorde, wat mens se mantra kan word, soos hierdie een op bl. 63:

Bee woman, bee fabulous, bee free

I am queen of me

Fly in the face of fear

Born fabulous, born ready!

My wings lift me up.

In die ongewone tyd waarin ons leef, is die boek ’n klein juweel wat jou gemoed sal lig elke keer as jy daarin rondblaai en iets raaklees. En dis ’n oulike bederf vir ’n  vriendin wie se lewe met opkikkering en positiwiteit kan doen!