inspirasie, woorde

Dis dié opdrag wat gemaak het dat ek begin rondblaai het in Op soek na Saartjie (Tafelberg, R320). Ek het gewonder oor vroue wat hul lewe in die skadu gelewe het en hoe is dit van toepassing op die onderwerp van die boek. Hier en daar het enkele paragrawe my oog gevang en my nuuskierigheid is geprikkel. Ek was vinnig ingetrek in Malherbe se vertelling van al die intrige rondom skrywer CJ Langenhoven se lewe. Ek moes eenvoudig saam op haar soektog gaan om meer te weet oor "Langenhoven se geheime liefde", ene Sarah Eva Goldblatt. Oor dié groottante van haar is Malherbe van kleins af gefassineer deur die familiefluisteringe oor Sarah se verhouding met Langenhoven. Sy het toe ’n soektog van stapel gestuur om meer te wete te kom oor dié vurige rooikop wat in Langenhoven se testament as eksekuteur van sy literêre nalatenskap benoem is.

Op die agterblad van die boek word geskryf: "Hierdie biografie-cum-memoires, gegrond op honderde oorspronklike briewe, argiefnavorsing en familieherinneringe, ontbloot ’n ongewone en boeiende literêre liefdesverhaal tussen ’n jong Joodse vrou en ’n Afrikaner-ikoon." Vir my lê die waarde van hierdie verhaal in al die moeite en volharding waarmee Malherbe haar taak aangepak het. Op bl. 22 sê Malherbe: "Ek wou die ware liefdes van haar lewe verstaan en ontdek, en haar passie om Langenhoven se nagedagtenis lewend te hou. Daardeur het sy Afrikaans bevorder ter wille van ’n groep mense wat haar nooit regtig as deel van hulle, van hul volk, beskou het nie."

Die mense met wie sy gepraat het, onthou hul eie weergawes van interaksies met Sarah, oftewel Saartjie soos sy bekend was. Dan was daar ’n  klomp argiefbesoeke om Langenhoven en Goldblatt se briewe te lees en ook om die raaisel van die verlore briewe op te los. Sy sleep jou saam op haar soektog en al vind sy nie bevredigende antwoorde nie, kan jy nie anders as om aan te hou lees nie. Of daar wel ’n liefdesverhouding en ’n babaseun bestaan het, bly mens oor wonder. Moontlik is die ware antwoord hierop saam met Langenhoven en sy Saartjie na die graf.

 inspirasie, woorde
Foto: verskaf

Lees die uittreksel van Malherbe se besoek aan die skrywer Elsa Joubert met wie Goldblatt bevriend was.

Een van die eerste mense wat ek gekontak het in my soeke na Sarah was Elsa Joubert, die bekende, veel gepubliseerde en bekroonde skrywer van die legendariese roman Die swerfjare van Poppie Nongena.

Ongelukkig is Elsa in Junie 2020 in die ouderdom van 97 oorlede. Sy was een van Sarah se goeie vriendinne. Hul lewenslange vriendskap het begin toe Elsa in 1945 met die aanvang van haar studie aan die Universiteit van Kaapstad by Sarah aan huis loseer het. Ek het Elsa besoek in die aftreeoord in Tuine, Kaapstad, waar sy haar laaste jare deurgebring het. Die datum van hierdie besoek, so het ek dit in my dagboek aangeteken, was 19 September 2017.

Elsa Joubert: Ek was daar aan die einde. Ek het altyd ná afloop van die somerskool by haar gaan kuier, want dit was ’n maklike wandeling vanaf die Universiteit van Kaapstad, bult af, verby die windmeul [tot by haar huis].

Teen daardie tyd was sy in ’n diep depressie. Sy wou niks en niemand meer hê nie en sy’t gevoel asof sy in dryfsand is. Sy het telegramme gekry van die Engelse, die Afrikaanse en die Joodse gemeenskappe om haar te bemoedig in haar tyd van swaarkry.

En ek het gesê, “Wel, dit is darem iets om aan vas te hou”. Maar sy het nie belanggestel nie.

Op haar sterfbed het ek haar besoek op pad terug uit die Paarl Kaapstad toe. Stikland was toe ’n gewone hospitaal en ek het vir haar druiwe geneem van my ma af. My ma het altyd vir my druiwe gegee om vir haar te neem, hoewel die verpleegsters dit gewoonlik geëet het. Ag, wel . . .

Ek het ingegaan en sy was in ’n kamer saam met ander mense – omtrent agt van hulle, almal vroue sonder enige inhibisies.

Een se nagrok was oor haar kop, ’n ander een was besig om uit die Bybel voor te dra, en uit een hoekie van die kamer het ek ’n stemmetjie hoor sê, “Ma-ma, Ma-ma.” Dit was Sarah. Oor en oor het sy dit gesê. Dit was die laaste keer dat ek haar gesien het.

Is daar trane in jou oë?

Ek kon Elsa nie antwoord nie. Ek het deur die venster van haar kamertjie in Berghof getuur en gedink hoe hartseer dit is dat Sarah so gesterf het.

Sarah Eva Goldblatt het op 22 Mei 1975 alleen in ’n hospitaal in Stikland aan longontsteking en hartversaking gesterf. Sy was 86 jaar oud. 

* * *

Elsa Joubert: Sy het almal georganiseer. Oudtshoorn was so warm soos die hel, maar sy het almal georganiseer. Sy moes ’n praatjie gaan lewer op Beaufort-Wes en daarna in Kaapstad. Sy was bang vir vlieg (nes ek), en sy het karsiek geraak, maar sy kon alles organiseer.

Sy het in die administrateur se kar geklim met toebroodjies en ’n fles, en probeer slaap. Ek het gevra: “Wat van jou verkreukelde klere wanneer jy daar aankom?”

“Nee,” het sy gesê. “Hulle kom nie om na my te kyk nie. Hulle kom om na Langenhoven te luister.”

Ek het niks geweet van ’n verhouding met hom nie. Een van ons vriende het eenkeer ná ’n vakansie teruggekeer en vir sy vrou gesê hy gaan haar verlaat, want hy het iemand anders ontmoet, en Sarah het byna mal geraak. Die gedagte aan ’n buite-egtelike verhouding was te veel vir haar. En sy het elke Kersfees by Vroutjie [Langenhoven se weduwee] deurgebring. Oudtshoorn was so warm. Dit moes so ongerieflik gewees het.

Eenkeer het sy my vertel dat haar hare grys begin raak en so meer.

“Ek het nie altyd só gelyk nie,” het sy gesê. “My hare was vlamrooi en ek was verlief.”

Maar dalk is dit die skrywer in my wat die storie versin. Dalk het sy dit glad nie eens gesê nie.

Ek het Elsa uitgevra oor ’n moontlike verhouding tussen Sarah en Langenhoven. Ek het haar vertel dat Guillaume Brümmer, Langenhoven se kleinseun, gesê het Engela het eenkeer die twee verliefdes in die kombuis betrap. Elsa het verras gelyk en was ’n rukkie stil.

“Wie sou nou so iets doen op ’n Saterdagoggend?

“Ek het haar bewonder vir haar werk in laerskoolopvoeding. Sy was ’n nonkonformis, soos ek. Ons het albei rebelse idees oor opvoeding gehad.” 

* * *

Die onderhoud het die beeld wat ek van my groottante gehad het en my idee van haar lewe omvergewerp. Ek het Elsa bedank vir haar tyd en haar vertel dat ek besig is om Kannemeyer se boek oor Langenhoven te lees omdat hy baie te sê het oor Sarah, maar dat dit nie lyk asof hy veel van haar gehou het nie.

Buite in die parkeerarea het ek teruggeleun in my motor se sitplek en die stuurwiel vasgegryp. My oë was vol trane. Ek het dit nie probeer keer nie. Sarah het my trane verdien.

Toe ek van Berghof wegry, het ek gewonder hoe my ontmoeting met Guillaume Brümmer sou verloop. Ek het nogal ’n voorliefde vir ouer mense. Die vorige keer dat ek by Berghof besoek afgelê het, was om ’n ou kliënt te besoek uit my dae by ’n privaat beleggingsbank, baie jare gelede. Hy het geen oorblywende familie meer gehad nie en ek het belowe om hom gou weer te besoek. Ek het nooit daarby uitgekom nie. Toe ek ’n jaar later bel, het ek gehoor dat hy ’n paar maande tevore gesterf het. Ek was aangedaan. Soos met Sarah, het dit my hartseer gemaak dat mense alleen moes sterf, sonder iemand om hul hand vas te hou en hulle op hul pad uit hierdie lewe te begelei.

My verbintenis met Elsa Joubert, my bejaarde kliënt, en my voorgenome besoek aan Guillaume Brümmer het my laat dink hoe vreemd dit is dat daar eintlik maar min mense is wat jou goed ken terwyl jy nog lewe. Wanneer ons navraag begin doen oor mense wat lank reeds dood is, hoor ons gewoonlik hoe hulle as bejaardes was, nie hoe hulle as jong mense was nie. Dit is moeilik om ’n realistiese beeld van iemand as twintigjarige te vorm wanneer hulle reeds oud en grys is op al die foto’s waarop hulle is. Dit was wat ek met Sarah ondervind het en ek was vasbeslote om haar storie van die begin af na te spoor. As ek kon.