In Dink soos ’n miljardêr (Tafelberg, R290) lig Daniel entrepreneurs in dat jy jou lewe kan verander deur bloot jou manier van dink te verander. Volgens hom hoef jy nie ryk gebore te word om ryk te sterwe nie. Daai miljoene is binne jou bereik, as jy bereid is "om bó die lyn te dink". In sy boek verduidelik hy wat die lewensveranderende ingesteldheid is en hoe jy dit kan bemeester.

 

Volgens Nielsen Bookscan SA (NBS-SA) se ranglys was Dink soos ’n miljardêr drie weke in ’n ry die nommer een Afrikaanse verkoper in die land, nadat dit voorheen ook die nommer een verkoper van alle Afrikaanse, asook alle Suid-Afrikaanse boeke was, sê Alishia van Deventer van Starburst Promotions in ’n nuusvrystelling.

Sy sê verder Daniel het in sy reaksie oor dié prestasie die volgende kommentaar gelewer: “Ek het eerlikwaar net die boek geskryf om ander entrepreneurs te help. Ek wil régtig net mense help. Ek het nie gedink iemand anders behalwe my ma en my vrou [Roelien Strauss] gaan die boek koop nie”, lag hy skaam. “Ek is nederig dankbaar vir almal se ondersteuning en ongelooflik opgewonde om te sien hoe dit mense se denke positief verander, want dít kan ’n omwenteling in die besigheidswêreld bewerkstellig”.

In die boek deel hy sy geheime tot sukses, onder meer hoe om toegang tot kapitaal te verkry, waar om die regte mense te vind om jou te help om jou doelwitte te bereik en hoe om jouself van jou eie beperkings te bevry. Hy wíl hê jy moet soos ’n miljardêr, sodat jy een kan word!

Lees hier "Sien meer", die eerste deel van hoofstuk 2 in sy boek:

Jy wag dat jou skip kom.

Dis ’n ou sêding wat jou laat droom oor ’n skielike meevaller – dalk wen jy die nasionale lotery of ontdek jy ’n skatkis vol goud in ’n skeepswrak of erf ’n vergete tante se fortuin.

Maar wanneer jou skip kom, gaan dit nie ’n onverwagse gelukkie wees nie. Dit sal eerder die gevolg wees van ’n noukeurige strategie om welvaart te bou. Die gesegde het sy oorsprong in die skeepshandel van ’n paar honderd jaar gelede. Dit is hoe die Nederlanders en Britte gepraat het oor die skepe wat hulle halfpad om die wêreld gestuur het om eksotiese speserye in die Verre-Ooste te gaan haal.

Dit was ’n riskante onderneming om skepe te bou en so ver te laat vaar. Die vaartuie was duur om aanmekaar te sit en baie van hulle is nooit weer in die hawe gesien ná hul vertrek nie – die stormagtige waters van die Atlantiese en Indiese Oseaan het honderde van hulle ingesluk. Ryk families kon oornag geruïneer word deur ’n storm duisende kilometer van hulle af. Selfs die regering kon nie pa staan vir ’n besigheid wat soveel risiko vir die belastingbetaler dra nie.

Daarom het die Nederlanders vroeg in die sewentiende eeu met ’n nuwe strategie vorendag gekom. Pleks daarvan dat een persoon of ’n enkele instelling die geld verskaf om skepe na Indië en die hedendaagse Indonesië te stuur, het hulle die publiek die geleentheid gegee om aandele in die onderneming te koop. So het die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) se unieke finansieringsmodel ontstaan. Die onderneming kon meer geld insamel deur die risiko tussen verskeie beleggers te versprei as deur ’n enkele bron, wat gewoonlik ’n ryk sake persoon was. Dit was die wêreld se eerste formeel genoteerde maatskappy en was langer as ’n eeu ’n oorweldigende sukses. Skepe het na die Ooste gevaar en al het van hulle steeds gesink, het baie ander teruggekeer, meestal gelaai met ’n waardevolle vrag om op die Euro pese markte te verkoop. Die aandeelhouers het in die winste gedeel. 

In vele opsigte was dit die begin van kapitalisme soos ons dit vandag ken. Die meeste lande gebruik nou die stelsel in die een of ander vorm. Selfs China, wat deur sy Kommunistiese Party regeer word, het ’n aandelebeurs.

Mense in verskillende wêrelddele stry dalk oor die manier waarop jy welvaart moet verdeel om ongelykheid teen te werk. Maar een ding is duidelik uit die laaste paar eeue: kapitalisme is die beste meganisme waarvan ons  weet om welvaart te skep. 

Ek maak nie ’n argument uit vir een ideologie bo die ander nie. Soos die stelsel nou daar uitsien, is daar egter maniere om ryk te word. Ek  het die grootste deel van my volwasse lewe daaraan bestee om die beginsels en metodes aan te leer. As die stelsel verander, sal ek opnuut begin soek na die beste manier om welvaart op te bou en seker weer ’n boek daaroor skryf. Hierdie boek gaan egter oor wat jy kan doen in  vandag se wêreld. 

So, die VOC was eerste, maar miljoene besighede het sedertdien aan dele uitgereik, beleggings gelok en is só tot veel groter ondernemings uitgebrei. Die rykste mense in die wêreld het vandag almal iewers ’n band met ’n suksesvolle maatskappy.

Daar is seker miljoene entrepreneurs wat produkte op die internet verkoop, maar hoe is dit dat Amazon se stigter, Jeff Bezos, binne die bestek van ’n paar dekades die wêreld se rykste mens geword het? Teen 2020 was sy persoonlike fortuin meer as $200 miljard (meer as R3 000 miljard). Jy weet hy het dit nie geërf of op ’n berg goud afgekom nie. Tog het hy dit reggekry om een van die grootste fortuine in die geskiedenis bymekaar te maak.

En hoe is dit dat Oprah Winfrey – uit die duisende aanbieders van  geselsprogramme, baie van hulle uit eie reg suksesvol – so fabelagtig ryk kon word voordat sy 50 was? Sy het duidelik nie daarin geslaag met ’n gewone salaris, ’n inflasieverwante verhoging en ’n jaarlikse bonus nie. Sy was beslis ook nie die enigste talentvolle mens in haar veld nie, tog het sy ’n manier gekry om beter te vaar as al haar mededingers en in die proses ’n fortuin bymekaar gemaak.

So ook Bill Gates, Elon Musk, Alibaba se stigter, Jack Ma, en IKEA se baas, Ingvar Kamprad. Jy kry verskeie ranglyste van die wêreld se rykstes – Bloomberg en Forbes publiseer byvoorbeeld sulkes – en daarop sal jy honderde miljardêrs kry wat op eie stoom daar gekom het. En hulle het dit relatief  vinnig  vermag – in hul leeftyd.

Sterkte as jy na ’n goue draad soek wat dié uiteenlopende mense aan mekaar verbind. Hulle is nie in dieselfde veld opgelei of doen nie in dieselfde bedryf sake nie. Hulle kom uit ’n verskeidenheid lande en agtergronde. En hulle kom nie eens almal uit dieselfde generasie nie – ja, baie het grys hare, maar daar is ook ’n hele paar relatief jonges.

Was dit vir dié miljardêrs, en dié wat binnekort miljardêrs gaan wees, net ’n gelukskoot – of is dit moontlik dat hulle iets weet wat ander mense nie weet nie? Gebruik hulle dalk metodes waarvan jy nie eens bewus is nie?

Jy het seker agtergekom dat elke miljardêr na wie ek verwys het ’n sterk verbintenis met ’n bekende handelsnaam het. Hierdie besighede het klein begin, maar is nou in die meeste gevalle wêreldbekend.

Kapitalisme, of jy nou daarvan hou of nie, is ’n stelsel wat jou ryklik beloon as jy verstaan hoe om ’n goeie besigheid op die been te bring. Die beste manier om buitengewone welvaart op te bou, is om ’n deel van ’n maatskappy te besit en daardie onderneming dan eksponensieel te laat groei.

Jy kan sien dat die wêreld se rykstes hul fortuine aan entrepreneur skap te danke het. Maar nie alle entrepreneurs is ryk nie.

Jy ken seker mense wat hul eie besighede begin het: vroue en mans wat hul eie baas wil wees en in ’n maatskappy se wins wil deel eerder as om ’n voorspelbare, markverwante salaris te verdien. Jy is dalk self een van daardie dapper entrepreneurs. Jy het ’n goeie idee gehad en iewers die afgelope dekade ’n besigheid begin. Jy het hard gewerk, maar nou wonder jy waarom Mark Zuckerberg soveel meer sukses met Facebook beleef as jy met jou besigheid.

Om eerlik te wees: die inkomste wat jy vandag verdien, is ’n direkte gevolg van jou besluite in die verlede.

Gelukkig is dit ook waar dat jy van nou af, deur die regte dinge te doen, die inkomste wat jy in die toekoms gaan verdien fundamenteel kan verhoog. Dit is egter noodsaaklik dat jy nie net jou optrede verander nie, maar ook jou manier van dink. As jy bereid is om jou gesindheid te verander – jou verstand as’t ware oop te stel vir ’n ander benadering – sal ek jou op hierdie reis saamneem.

Moenie skrik nie. Ek gaan jou nie by die een of ander piramideskema betrek nie. Maar ek gaan jou wel wys hoe om beduidende welvaart te skep. Glo my, dit is die enigste regmatige manier waarop iemand in haar of sy eie leeftyd ’n miljardêr kan raak.

Zuckerberg en die res van die wêreld se selfgemaakte miljardêrs het nie eksponensiële groei bereik deur noodwendig harder te werk nie. Hulle is ook nie slimmer as die res nie. Nee. Hulle het net ’n ander manier waarop hulle na die sakewêreld kyk. Miljardêrs, en die mense wat sterk op pad is daarheen, pas sekere beginsels toe wat hulle in staat stel om dinge te sien wat ander entrepreneurs heeltemal miskyk.

Wat dink jy sal gebeur as Oprah of Virgin se stigter, Richard Branson, môreoggend in jou presiese omstandighede wakker word? Verbeel jou ’n miljardêr is in jou skoene – eintlik in jou liggaam en in jou verstand, soos wat jy dikwels in wetenskapfiksieprente sien wanneer mense plekke ruil. Wat sal sy of hy anders doen? Waar sal hulle oor vyf jaar wees?

Ek glo hulle sal weer sakesuksesse wees, al moet hulle dit in heel ander toestande doen.

Wat hou jou dan terug?

Op skool is ons geleer dat die sonnestelsel uit nege planete bestaan. Jy het die name geleer sodat jy hulle van Mercurius tot Pluto kon aframmel. Dalk het jy selfs ’n rympie gehad om die volgorde makliker te onthou. Vir jare is jy en baie ander skoolkinders voorgesê dat Pluto ’n planeet is. Dit was ’n feit. Maar nou beskou wetenskaplikes en die onderrigstelsel dit nie meer as ’n feit nie. Is dit moontlik dat daar ander “feite” is wat jou begrip oor die werking van die wêreld heeltemal skeeftrek?

’n Verwronge wêreldbeskouing is een ding. Maar is dit ook moontlik dat jy nie eens weet dat daar dinge is wat jy nie weet nie?

Wat jou terughou, is jou manier van dink en jou onkunde oor wat kortkom.

Jy het dalk al gehoor van Roger Bannister, ’n Engelsman wat in 1954 die eerste man was om ’n myl in minder as vier minute te hardloop. Dit was ’n buitengewone prestasie wat Bannister in die geskiedenisboeke verewig het. Voor sy rekordlopie was 4:01 byna ’n dekade lank die beste tyd waarin iemand ’n myl kon hardloop. Om deur vier minute te breek, het onmoontlik gelyk. Maar nadat Bannister sy myl in 3:59.4 voltooi het, het dit net ses weke geneem voordat ’n ander atleet die rekord verbeter het. Binne drie jaar het nog tien ander atlete die myl in minder as vier minute kafgedraf.

Sodra dit duidelik raak dat iets moontlik is, slaag meer mense daarin om dit te bereik. Nou, 66 jaar later, het meer as ’n duisend mense al die myl in minder as vier minute gehardloop.

Dieselfde geld in die sakewêreld. Dink maar weer aan die VOC. Handelsvaarte oor lang afstande het gou ’n werklikheid geword deur bloot die risiko van die onderneming tussen ’n groep aandeelhouers te versprei. Maar voordat die VOC die wêreld so laat oopgaan het, sou mense nie gedink het dit is moontlik nie.

Daar is sekerlik ook dinge wat jy nog altyd gedink het onmoontlik is, maar wat tog moontlik is. Jy weet net nie dit is moontlik nie. En jy is dalk nie eens bewus daarvan dat jy nie weet nie.

Hoe bepaal jy of daar WiFi in ’n spesifieke area beskikbaar is? Veronderstel jy stap deur ’n kantoorblok en jy wil weet of die gebou aan jou internettoegang verskaf, maar al wat jy by jou het is een van die oorspronklike Nokia 3310’s.

Met daardie ou foon sal jy eenvoudig nie kan bepaal of die gebou wel WiFi het nie. Wanneer jou vriend natuurlik met ’n splinternuwe iPhone opdaag, kan julle sommer dadelik bevestig dat WiFi beskikbaar is. Maar jy kan die oneindige moontlikhede van die internet eers benut wanneer jy die foon se WiFi-funksie aangeskakel en julle by die netwerk aangesluit het.

Is dit moontlik dat sommige mense die metodes ken waarop jy ’n sakeonderneming na ’n nuwe vlak kan neem, maar dat jy nie eens bewus is dat daardie metodes bestaan nie? Wat nog te sê van die toepassing daarvan om jou besigheid te laat groei?

En waarom moet jy iemand glo wat aan jou wil voorskryf dat dit nie moontlik is om jou besigheid na ’n volgende vlak te laat groei nie? Net omdat so iemand iets sê, of dit selfs vurig glo, maak dit nie noodwen dig waar nie. Dalk is hulle ook net nie bewus van al die inligting en metodes wat daarbuite beskikbaar is nie. Miskien moet hulle vorder van ’n 3310-ingesteldheid na ’n iPhone-ingesteldheid voordat hulle gereed is om te sien wat jy sien.

Is jy of iemand wat jy ken die volgende #SARIEvoorbladgesig of #SARIEnuwegesig? Gaan na voorbladgesig.sarie.com om jouself of iemand anders in te skryf! Inskrywings sluit 10 Mei.

voorbladgesig skryf in 10 mei