Skielik moes tuiskantore ingerig word. En vergaderings op Teams of Zoom gehou word, vir baie mense ’n groot uitdaging. Boonop was daar die druk van tuisonderrig vir ouers met skoolgaande kinders.  

Maar hoe het die grendeltyd skrywers beïnvloed? Hulle werk immers meestal van die huis af en is gewoond daaraan om op hul eie geselskap aangewese te wees. Ek het per e-pos met ’n paar gesels.

Die spanningsverhaalskrywer Martin Steyn vertel hy is gelukkig dat Covid-19 niemand na aan hom swaar getref het nie. Vir hom was die inperkingsregulasies ook nie ’n vreeslike aanpassing of ontwrigting nie en sy dag-tot-dag-roetine het nie veel verander nie. “En om ’n introvert te wees is voordelig: Tuisbly en social distancing is nie ’n probleem nie. Maar dit was nogal droewig toe die wyn opgeraak het.”

Martin Steyn Foto: Chantelle Visser

Hy is wel negatief beïnvloed toe die mediamaatskappy Caxton van hul tydskrifte toegemaak het, en
’n paar ander dinge is ook in die wiele gery.
“Ek het net mooi ’n vervolgverhaal vir Vrouekeur klaargemaak, toe maak Caxton die tydskrif toe. En ek was nog besig met onderhoude vir ’n boek waarmee ek toe nie kon aangaan nie. So, daardie storie lê nou maar eers. Ek het wel ’n ander idee gekry waaraan ek tans werk. En die pandemie het my ’n kortverhaal gegee wat op LitNet gepubliseer is as deel van hul corona-kortverhaalfees.”

Vir hom is dit as skrywer baie interessant om te sien hoe mense reageer in ’n regte pandemie. “Dis nogal ’n voordeel van skryf: Solank jy dit oorleef, kan jy iets positiefs uit enige tragedie kry. Dis iets wat jy beleef het en dus ’n ervaring wat jy iewers in ’n storie kan gebruik en beter kan beskryf. Tog is daar baie mense wat direk of indirek deur Covid-19 getref is en swaar aan die nagevolge dra.”

Nanette van Rooyen, wie se jeugroman Die 17de veer die 2020-ATKV-Woordveertjie verower het in die Selfleeskategorie: Graad 8-10 en ’n naaswenner was in Lapa se Jeugromankompetisie, het geleer om alles dag vir dag te vat. Afsondering het vir haar nuwe insigte gebring.

“Maak lekker kos. Steek kerse aan. Lief jou onmiddellike mense. Luister na mekaar. Neem tyd vir die lees van die fynskrif. Wees dankbaar en nederig. Jy is geseënd,” sê sy.

Dibi Breytenbach Foto: verskaf

Meer werk. Dís wat die inperking vir Dibi Breytenbach, ’n regsgeleerde wat al langer as twintig jaar in die strafregstelsel werk en skrywer van spanningsverhale, gebring het.
“Ek het my pan afgewerk deur die grendeltyd en was amper deurgaans op kantoor. Daarby was ek besig met die finale redigering van Stom gode. Ek moet sê, aanvanklik het dit goed gegaan – a luta continua en al daardie – maar halfpad deur is ek getref deur die allerverskriklikste gevoel van fatalisme. Nie depressie nie, eerder so ’n vaal, uitsiglose straatbrak van ’n emosie. Dit was baie bleek. Ek het moeilik geskryf, want die gevoel was: Vir wat? Ek het egter nou in ’n groot mate opgehou nuus kyk en dit help! Ek moes myself dwing om te skryf en in roetine te bly en dit het ook gehelp. Hoeveel van wat ek toe geskryf het bruikbaar is, is ’n ope vraag. Ek het darem geleer hekel en doughnuts maak op die huishoudelike front. Daar is baie gate in die hekelwerk en ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ek meer ’n avant-garde-tipe hekelmens is ... Maar die doughnuts was flippen lekker. En ek het baie klavier geoefen.”


Die grendeltyd het die kinderboekskrywer Maretha Maartens teruggeneem na herinneringe van haar kinderjare. “In ons geval is die grendeltyd voorafgegaan deur ’n verre, onbesorgde kindertyd. Deur rugsakreise, later. Deur ’n vrolike familievakansie by die see. Die inperking en grendeltyd het geestelike en vriendskapsverdieping gebring (en daarvoor sal ek altyd dankbaar wees). Ek was hartseer oor wat kinders en jongmense vanjaar verloor het. Dit is steeds die geval. Ons het gesteier. Die nood en ontbering van landgenote het ons nog meer laat steier. Ons het persoonlike orde in die chaos van die pandemie probeer bewerkstellig deur rakke, kaste en ons persoonlike leefruimte uit te sorteer. En uiteindelik het ons besef hoe min besittings ons regtig nodig het. Ons sal nooit weer dieselfde wees nie.”

Die jeugboekskrywer Christien Neser vertel dat sy gesukkel het om te fantaseer. En dat dit miskien bygedra het daartoe dat sy ’n niefiksieboek afgehandel en help vertaal het. Help! My kind is anders het vanjaar by Lapa verskyn.

 
Peartree Photography | 190831 Deon_Marianne | http
Foto: verskaf

Deon Meyer vertel die grendeltyd was die enigste gogga in die skryf-drinkwater van sy jongste spanningsroman, Donkerdrif. “Die inperking was aanvanklik ’n uitkoms, want dit het meteens vir my hope tyd gegee om uitsluitlik aan die boek te kan werk. Maar ek het in die eerste ses weke baie gesukkel om te fokus. Ek kon byvoorbeeld nie veel langer as ’n halfuur aaneen skryf nie, in teenstelling met my gewone skedule van ’n paar uur op ’n slag. Ná twee maande van vasbyt het dit darem begin beter gaan.”

Vir die spanningsverhaalskrywer Isa Konrad en haar gesin het die grendeltyd op ’n ietwat dramatiese noot begin in Switserland, waar hulle woon.

“My man is die Engelse vertaler vir die Switserse universiteitsowerheid se mediaverklarings. Toe die noodtoestand hier uitgeroep is, moes ons ons dadelik afsonder. Ons is van ons kinders geskei sodat hy gesond sou bly vir die werk. Ons het toe in ons bergchalet in die Pirenese Alpe kom woon terwyl die kinders in Solothurn, ons tuisstad, moes agterbly. Hulle is nie meer klein nie, maar dit was eienaardig om hulle maande lank nie te sien nie en mens was bekommerd. Ons oudste dogter het begin Mei getrou en dit moes hulle ook sonder ons doen.

 
Isa Konrad Foto: verskaf

“Ons grendeltyd hier in Switserland was nie so streng soos in Suid-Afrika nie. Ons kon uit die huis gaan en mense is aangemoedig om tyd in die natuur deur te bring. Ek en my man is albei skrywers en het vir ons ’n roetine van stap en skryf geskep, wat ’n yslike plesier geword het. Ons het die plek in die berge nou al elf jaar, maar hierdie jaar het ons baie staproetes ontdek wat ons nie vantevore geken het nie.

“Op die oomblik heers hier ’n tweede noodtoestand omdat ’n tweede vlaag in Europa woed. Dit voel nie so traumaties soos die eerste grendeltyd nie, wat seker beteken dat mens by enige omstandighede kan aanpas as dit moet. Ek mis dit om te reis, maar verder voel hierdie lewe met die maskers en afsondering en vroue wat na ontsmettingsmiddel in plaas van parfuum ruik, vir my normaal. As ons ’n jaar gelede tot hier in die toekoms kon sien, sou daardie laaste stelling my waarskynlik geskok het!”

Isa vertel haar skryfwerk het in die eerste maande van die pandemie glad nie gevloei nie. “Seker maar oor die onsekerheid en die groot veranderinge wat die pandemie meegebring het. Ek dink dit is hoe die meeste mense gevoel het. Ons sal die trauma van daardie eerste maande seker eers werklik begryp wanneer alles weer terugkeer na normaal.

“Maar in elk geval, ek het myself daardie eerste paar maande gedwing om gedurende my normale werksure voor my rekenaar te sit en deur my aantekeninge te lees vir die boek waaraan ek wou begin werk. Ek sou dan hier en daar ’n aantekening byvoeg, of party dae het ek net na die skerm gestaar sonder om ’n woord uit te kry. Dit was net vir my belangrik om nie my selfdissipline te verloor nie, al was dit onproduktiewe selfdissipline. Die illusie dat ek nog beheer gehad het oor my werk, het beslis gehelp. Teen Julie het ek toe weer bietjie vir bietjie begin skryf, en dit begin stadigaan makliker gaan. Ek begin dit weer geniet.

“Ek moet ook net sê, ek het nog nooit meer bevoorreg gevoel as hierdie jaar nie. Ek probeer om nooit blasé te wees oor dinge nie, maar mens is. Die paar veranderinge wat ek moes maak, was nooit ingrypender as ’n bietjie ongerief nie, maar dit het dit by my tuisgebring dat elke normale dag in ons lewe die grootste seën is. Dit voel goed om daaroor na te dink. Baie mense verkeer egter steeds in groot gevaar, daar is mense wat in die middel van hierdie pandemie ook nog teen baie ernstiger siektes baklei, die eensames is eensamer as ooit en so baie mense se omstandighede laat afsondering glad nie toe nie. Hulle leef daagliks met vrees saam, wat ek my skaars kan voorstel. Dit is die dinge wat my hartseer maak van hierdie jaar.”