Die voetgangersdorpie Louvain-la-Neuve, rustig geleë in die groener as groen Belgiese platteland, is per trein sowat ’n uur van Brussel. (Opmerksame lesers sal dalk onthou dat André P. Brink sy laaste eregraad van dié dorp se universiteit ontvang het.) Daar is net een rede waarom toeriste Louvain-la-Neuve sal besoek – ’n museum enig in sy soort oor die lewe en werk van die Belgiese kunstenaar Georges Remi (1907-1983). As sy naam nie bekend klink nie, is dit omdat hy onder die skuilnaam Hergé beroemd geword het. En Hergé, natuurlik, is die skepper van die strokiesreeks Tintin (vir ons in Suid-Afrika, Kuifie). Georges Remi het Hergé geword deur sy voorletters, G en R, om te ruil. In Belgiese Frans word dit uitgespreek as “her” en “jay”, Hergé met ’n effense brei van die “r”.

SONY DSC
Die aansig van Museum Herge´. Foto: Verskaf

Soos dubbel-gefermenteerde bier, bitter sjokolade en ’n mannetjie wat in ’n fontein piepie, is strokiesverhale deel van die Belge se nasietrots en kultuur, ’n kunsvorm uit eie reg. En Hergé is hul heilige, ’n held wat op ’n glyskaal van geliefdheid heelwat hoër as Jean-Claude Van Damme en wafels sal val. Met Tintin het Hergé die wêreld van strokiesverhale permanent verander deur ’n tegniek wat as ligne claire bekend staan, menende tekeninge met duidelik skoon lyne eerder as om kontras en skaduwee met fyn lyntjies in te skakeer.

Die museum is nie beskeie nie, sien ek met die naderstap – ’n supermodernistiese gebou omring deur langstam-eikebome en ’n gevoel van glorie en glans. Binne word drie verdiepings en swewende vloervlakke deur voetbruggies verbind, met klassieke tonele uit Tintin teen die mure geteken. Die vensters is geraam soos prentjies uit ’n strokiesverhaal en laat oorvloedige lig in, behalwe op die boonste verdieping, wat in skemerte gehul is. Hier is fokusligte strategies geplaas vir dramatiese effek op stralende glaskaste met eerste uitgawes en oorspronklike tekeninge van Tintin vanaf sy eerste verskyning in 1929, geklee in ’n swart-en-wit geruite speelpakkie, sy kuifie plat en effe yl. Eers later is hy ingekleur en het hy vir homself daardie swierige krul gekam.

Herge´ se voorstelling van homself aan die werk. Foto: verskaf

’n Mens kry ook van Hergé se minder bekende strokieskarakters te siene, handgetekende manuskripte met ’n paar koffiemerke of ’n inkafdruk van ’n katpoot, memorabilia en artefakte van Tintin se avonture – ’n masker uit Tibet, ’n bolhoed en ’n kierie, Hergé se lessenaar en pen – en ’n kopknik na Charlie Chaplin en die invloed wat die vroeë filmbedryf op Hergé se werk gehad het. Teen die mure, korrek belig, hang van sy vroeëre werk as grafiese ontwerper by ’n advertensiemaatskappy. ’n Portret van Hergé deur Andy Warhol dui op die wedersydse bewondering wat dié kunstenaars vir mekaar gehad het.

In ’n onderhoud verduidelik Hergé: “Tintin was beslis gebore uit my onbewustelike begeerte om perfek te wees, ’n held te wees.” En ook: “Ek het hom ’n gesig sonder spesifieke trekke gegee, sodat seuns hulself in hom kon sien.” Deur Tintin kon almal ’n tweede lewe as avontuurlustige wêreldreisiger lei.

SONY DSC
Die eerste Tintin en Milou. Foto: verskaf

Op Tintin se hakke, altyd, is sy brakkie, Milou, ’n steekhaar-foksterriërtjie. Hergé het vir ure ’n vriend se foksie dopgehou om die ras se mannerismes en houding presies na te boots – hardkoppig soos ’n klip, lojaal, dapper en effe nukkerig. Hergé self was ’n katmens en daar is heelwat foto’s van hom en sy katte, onder meer ’n geliefde Siamees wat ’n latere verskyning in een van die strokiesverhale maak om Milou te treiter.

Waar Tintin so ’n bietjie van ’n bleeksiel is – daardie een wysneusige vriend wat jou so irriteer omdat hy altyd beter weet – is Capitaine Haddock ’n windmakerige en swetsende teenvoeter vir Tintin se onophoudelike optimisme. In die Afrikaanse weergawe het Capitaine Haddock, vertaal as Kaptein Sardijn, ’n goeie mondvol swetswoorde te sê, vermaaklik vertaal – om maar ’n paar te noem – as bolbliksemse bolwerk, soute sapperloot, dubbele duiwelsdrek en siedende seepskuim; tienduisend takeltoue en drieduisend dooie albatrosse!

“Siejy stilbly, jou agurkie!” skree hy vir Spokie in Afrikaans as dié nie wil ophou blaf nie.

Deur die hardhorende Professeur Tournesol het Hergé sy belangstelling in die wetenskap uitgeleef. In die museum sien ons die goeie Professor se laboratorium, asook van sy skeppings en uitvindsels soos ’n ruimteskip en duikboot. Professeur Tournesol is, soos in die Nederlandse vertaling, Professor Sonneblom in Afrikaans. Hy voorheen bekend as Professor Phosphatus, maar dis verander omdat die oorspronklike Franse naam as sonneblom vertaal kan word.  

En net as jy dink alles is veilig, betree die taktlose, lomp speurders Dupont en Dupond die prentjie. Om in te pas by die woordspel van die twee se name wat dieselfde klink maar nie is nie, verskil hul name in elke vertaling: Thomson en Tompson, Brits en Britz in Afrikaans (voorheen Uys en Buys), Tic en Tac, Jansen en Jansens, Schulze en Schultze, Hernandez en Fernandez, Johns en Johnes.

 
Hergé besig om te werk. Foto: Verskaf

Later die dag, oor ’n pintje bier, begin ek wonder. Hergé se innerlike lewe bly so half weggesteek in ’n skaduwee van heldeverering. Amper soos Tintin. Ek weet hy hou van katte en swem, dat sy musiekversameling die Beatles en Pink Floyd insluit, dat hy twee maal getroud was, geen kinders het nie, en homself as ’n tipiese Tweeling (Gemini) beskou. Ná die lees van Pierre Assouline se biografie oor Hergé weet ek ook hy het aan erge depressie gely en soms vir weke net verdwyn. En dat daar ’n skandaal en beskuldigings van anti-Semitisme was wat hom vandag nog volg – hy is in hegtenis geneem as Nazi-simpatiseerder omdat hy gedurende die beleg van België met Duitse koerante saamgewerk het.

Die ou-ou vraag is natuurlik hoeveel van ’n kunstenaar se lewe ter sprake moet wees en of daar net blindelings op kuns gefokus moet word? ’n Mens wonder tog of sulke inligting nie maar volledigheidshalwe bespreek en uitgeklaar moet word in ’n museum oor die kunstenaar se lewe en werk nie?

Kopiereg verbied die neem van foto’s binne die museum. Vir meer inligting, gaan na hergemuseum.com.


* Uit Protea Boekhuis se stal het daar vier nuwe titels in die Kuifie-reeks verskyn. Die uitstekende Afrikaanse vertalings is deur Sonya van Schalkwyk-Barrois gedoen. Sy is ook verantwoordelik vir die vertaling van die gewilde Asterix-boeke in Afrikaans.

In die land van swart goud, Die tempel van die son, Die juwele van Bianca Castafiore en Kuifie in Tibet vertel die verdere avonture van die verslaggewer Kuifie en sy hond, Spokie, wat hom op sy ondersoeke vergesel.