Om Eugène N. Marais se 150ste geboortejaar te gedenk publiseer Minimal Press vanjaar ’n huldigingsbundel, Laramie, waarin skrywers en kundiges in uiteenlopende bydraes oor sy lewe en werk reflekteer. Of is dit die 151-jarige herdenking? Honderd-twee-en-vyftigste dalk? Dit hang af van watter bron jy raadpleeg, want soos die meeste charismatiese baasvertellers het Eugène rojaal met die waarheid omgegaan. In die Marais-familiebybel is sy geboortejaar 1871, wat mooi saamwerk met die 2021-herdenkingsjaar. Maar Marais self het die jaartal al aangegee as onder meer 1870, 1872 en 1873. Hoe dit ook al sy, enige jaar is ’n goeie jaar om hierdie enigmatiese Afrikaanse skrywer te onthou.

 

Kinderjare


Eugène is in Daspoort gebore, destyds ’n landelike gebied en vandag ’n woonbuurt in Pretoria-Sentraal. Aangrensend was die plaas van Eugène se oom, Lang Piet Marais. Vandag is dit die woonbuurt Les Marais, waar die kolos van ’n Eugène Marais-hospitaal staan. ’n Herdenkingsplaat sê dat die hospitaal genoem is na Eugène “die digter en dokter”. Met al Eugène se spoggery en wit leuentjies kon ’n mens seker maklik vergeet dat hy nooit ’n dokter was nie …

Die straat waar die Marais's se huis in Pretoria g
Die straat waar die Marais se huis in Pretoria gestaan het.


Kort ná sy geboorte trek die gesin van Daspoort na Pretoria, ’n jong plaasdorp met grasdakhuise en plaasdiere wat op oop erwe wei. Die strate is breed genoeg sodat ossewaens met ’n vol span osse gemaklik ’n u-draai kan maak. Hier ken almal mekaar “… soos mense op ’n skip mekaar leer ken,” skryf Eugène in ’n latere artikel in Ons Vaderland.

Die Maraisgesin woon in ’n huis min of meer op die hoek van vandag se Jeff Masemola- en Sisulustraat, met ’n agterplaas wat die vlaktes in strek tot by die Apiesrivier. Hier swem en speel Eugène en sy vriende die dae om. Die rivier skei die dorpsgebied van die omringende plase en die ossewaens kom by Arcadiadrif, naby die Marais se huis, die dorp in. In 1894 word die Leeubrug oor die drif gebou, die enigste van die brûe uit Eugène se tyd wat nog staan, kompleet met dieselfde twee leeus aan weerskante.

Leeubrug, 1894. n Brug uit Marais se tyd, met die
Leeubrug, 1894. 'n Brug uit Marais se tyd, met die oorspronklike leeus wat vandag nog te siene is.


In 1876 begin Eugène sy skooljare in ’n strooidakgebou op Markplein, die besigste deel van Pretoria. Uitgetrap deur osse, perde en wawielspore, hang die rooi stof oor die plein totdat ’n beneukte laatmiddag donderstorm – wat vandag nog klokslag teen vieruur die middag aanmeld – die plein in ’n modderbad verander.Sy kinderjare in Pretoria word onderbreek deur die Eerste Vryheidsoorlog. Met die Beleg van Pretoria in 1880 onthou Eugène hoe hy en sy vriende “… daardie middag stukke van die Engelse bomme opgetel het” in Sunnyside. Met die groterwordende gevaar stuur Eugène se ma hom Kaapkolonie toe. 

Die jong joernalis

Agt jaar later en klaar met skool, is Eugène terug in Pretoria. Markplein is nou Kerkplein en Eugène werk as joernalis by Land en Volk, die eerste Afrikaans-Nederlandse koerant, waarvan hy later eienaar word. Aan die suidekant van die plein pronk die nuutgeboude Raadsaal in ’n eietydse Boere-Renaissancestyl. Vandag is dit die oudste gebou om die plein. Hier het Eugène Volksraadvergaderings bygewoon en politieke berigte met ’n sterk dosis skinder en persoonlike kritiek geskryf. Hy is voortvarend en vol selfvertroue en lug sy opinies vrylik, soms skerp en effens neerhalend.

Raadsaal, Kerkplein, waar Eugene volksraadsvergade
Raadsaal, Kerkplein, waar Eugène volksraadsvergaderings bygewoon het.


Veral pres. Paul Kruger loop deur. Eugène beskuldig hom trompop van bedrog, dryf die spot met sy Ou-Testamentiese landsbeleid, en verwys na hom en sy volgelinge as ’n spul onopgevoede takhare van die agterveld. Gou is daar ’n gestamp van koppe tussen dié twee boelies wat vir mekaar oor ’n stowwerige plein gluur – ’n hardekop-volksheld in sy verslete swart jas, ruwe baard en pyp in die mond; en ’n swierbol-joernalis, sigaret in die hand met sy stoutseun-houding.Maar Eugène se werk is ook stresvol en sy nagte lank. Dis gedurende hierdie tyd dat hy morfien vir slapeloosheid en moegheid begin neem. Dit is nie vreemd nie – niemand het in daardie stadium besef hoe verslawend morfien is nie en dit sou vrylik beskikbaar wees by die handelaars en apteke om Kerkplein as ’n stropie vir kinders. Iets met ’n onskuldige naam soos Mother Bailey’s Quieting Syrup.

Een van vele apteke naby Kerkplein, waar Eugene wa
Een van vele apteke naby Kerkplein, waar Eugène waarskynlik sy voorskrifte ingegee het.


Sy verslawing is reeds ’n probleem toe hy in 1894 met Lettie Beyers trou. ’n Jaar later, kort ná die geboorte van hul seun, sterf Lettie aan kraamkoors. Met sy jong vrou se graf ’n paar blokke vanaf Kerkplein is Pretoria nou te beknop en treurig vir Eugène, en hy gaan in Londen studeer.Hoe suksesvol sy studies was, is onduidelik weens sy gewone oordrewe gespog en liegstories. Wat wel met sekerheid gesê kan word, is dat hy gereeld uithang met die dekadentes van die stad, waar morfien vrylik gebruik is.

Ná die Vryheidsoorlog: Brooklyn, Pretoria

In 1902 staan Eugène weer op Kerkplein. Sy baadjie het goue knope, sy skoene is spits gepunt en hy rond sy blinkgepoetste beeld af met ’n stapstok en goue horlosieketting. Op Kerkplein huur hy ’n regskantoor in die Nederlandse Bankgebou, vandag die toerismesentrum, en raak weer betrokke by Land en Volk. Maar hy is nie meer die dinamiese joernalis van vroeër nie, en ook sy regspraktyk sukkel. Sy morfienverslawing rig en regeer sy lewe.

Die Raadsaal en, regs, die Ou Nederlandse Bankgebo
Die Raadsaal en, regs, die Ou Nederlandse Bankgebou, waar Eugène sy regspraktyk gehad het.


Hy swerf tussen losieshuise en vriende, en in 1905 bly hy vir ’n paar maande in ’n rondawel op die hoek van Brook- en Williamsstraat in die woonbuurt Brooklyn. Gedurende die troostelose winters verdroog alles wat groen is, bome staan blaarloos in die vroeë skemer en die sterrenag is koud en helder. Dit is waarskynlik op só ’n nag dat hy “Winternag”, wat as die eerste letterkundige gedig in Afrikaans beskou word, skryf.Om sy verslawing onder beheer te kry verhuis hy in 1907 na die Waterberge, waar hy hoop om rustigheid te vind. Hier doen hy sy bekende natuurstudies oor bobbejane en termiete. Opinies oor die wetenskaplike geldigheid van sy werk verskil vandag – geniaal of kwakkery? 

Sunnyside en Arcadia

Ná omtrent tien jaar in die Waterberge is Eugène terug in Pretoria oor sy “swak gesondheid”, soos daar na sy morfienverslawing verwys word. Hy woon by vriende in Sunnyside, toe nog ’n woonbuurt met ’n landelike gevoel – oop en boomryke erwe met koeie wat tussen tennisbane wei. Om Kerkplein, waar hy in die Tudorgebou ’n kantoor huur vir sy kwynende regspraktyk, is daar nou ook goedkoop hotelle en drinkplekke soos die Horse Shoe Bar, wat later Café Riche sou word.

Daar is verskeie dokters wat hom voorsien van voorskrifte vir morfien, en in Pretoria kon hy, indien nodig, ook sy voorraad op die swartmark aanvul. Sy inkomste is min, sy skuld baie – veral aan apteke. Hy weet hy is ’n las vir sy vriende, by wie hy gedurig geld leen, en is op verskeie plekke nie meer welkom nie. Soms moet hy vir dae in die bed bly om sy morfienroes af te slaap.

Eugène het dikwels probeer om morfien te los of minder daarvan te neem. Vandag weet ons dat morfienverslawing neurobiologies is – ’n fisieke verandering vind in die brein plaas sodat ’n mens uiteindelik min tot geen beheer het nie. As die wêreld in 2021 steeds nie raad het hiermee nie, watter kans het Eugène destyds gehad om bevry te word? Hy het elke keer misluk, en elke keer het skaamte en vernedering meer van sy selfrespek weggevreet tot slegs ’n dodelike depressie oorgebly het.

In 1933, nou haweloos, arm en sonder veel opsies, vestig hy hom permanent by sy vriend Gustav Preller in Blackwoodstraat 176, Arcadia. Sy besittings is karig – boeke, dokumente en ’n medisynekissie. Sy kamer is donker en deurmekaar, deurtrek van die bitter reuk van morfien en sigaretrook.Hy word dikwels in Arcadia gesien. Die Uniegebou is net om die hoek van Blackwoodstraat, waar Eugène regop maar moeiliker deur die tuine stap. Ander dae besoek hy die Dieretuin en drink daarna koffie by Turkstra’s. Langs die Apiesrivier vertel hy vir die buurt se kinders bosveldstories. ’n Ou man in ’n wit, effens verslonste pak klere en ’n panamahoed wat vir ’n oomblik weer soos ’n held voel, ’n towenaar, ’n goëlaar, ’n mesgooier, ’n palmleser, ’n sterrekyker. Dit is steeds sy gewoonte om die sosiale atmosfeer van Kerkplein te geniet, en naby die plein is ook ’n paar apteke waar hy sy morfienvoorskrif ingee.

Solank hy elke dag die nodige dosis morfien kry, is hy gemaklik. Met gesigpoeier probeer hy sy doodse kleur wegsteek. Soms vergeet hy of verwar feite met verdigsels, maar skryf steeds by geleentheid berigte van ’n goeie kwaliteit vir Ons Vaderland (later Die Vaderland).

Die einde

Toe die Prellers na hul plaas Pelindaba naby Hartebeesfontein verhuis, het Eugène geen keuse nie. Hy moet saamgaan. Op ’n reënerige dag in Maart 1936 skiet hy homself twee maal met ’n geleende dubbelloophaelgeweer.

Eugène se graf in die Heldeakker. Foto: Mercia Burger


In die Heldeakker is Eugène langs sy vrou begrawe, en ’n paar meter vanaf pres. Paul Kruger. Sy grafsteen is ’n eenvoudige rots met die onderskrif: “Skrywer, digter, natuurkenner” en ’n sin uit een van sy gedigte: “Hier sal ek vrede weer besef.”En vrede is wat ons hom toewens.

Bronne:

Eugene Marais Versamelde Werke (I en II) – Leon Rousseau

Die Groot Verlange – Leon Rousseau

Donker Stroom – Carel van der Merwe

Nostalgiese Pretoria: ’n Fotoreis – Friedel Hansen (foto’s met toestemming van Hansen)

Die handdruk van die dood – Friedel Hansen