Van haar heel eerste boek af het Rachel Joyce my bekoor met haar ongewone verhale en die karakters wat lewe in haar bekwame skrywershande kry. ’n Hele klompie jare gelede, nadat ek haar debuut, The Unlikely Pilgrimage of Harold Fry,  gelees het, het ek per e-pos ’n onderhoud met haar gedoen en haar gevra wat haar dryf om te skryf. Haar antwoord was dat dit vir haar ’n manier is om sin van die lewe te maak.

"Skryf is vir my soos om iets te maak. Ek is gek oor die proses. Dis nie ooglopend aan die begin van ’n verhaal nie. Ek moet die storie die heel tyd in my kop laat draai en nuwe vorms toets totdat ek die waarheid vind soos wat ek dit sien", het sy vertel. Die manier hoe sy die eksentrieke karakters skep en die situasies waarin sy hulle plaas, verras my elke keer. Sy laat my elke keer met ’n nuwe gewaarwording oor mense en die karaktereienskappe wat hulle uniek maak. Om anders te wees, is niks te vrese nie - dis juis wat die samestelling van die mensdom so interessant maak.


In haar jongste roman, Miss Bensons Beetle (Doubleday, R310) is die hoofkarakter, Margery Benson, nie noodwendig iemand van wie jy aanvanklik gaan hou nie. Haar karakter groei op jou soos wat die verhaal ontvou. Later kan jy nie anders as om empatie met die verstokte oujongnooi te ontwikkel nie.Daar word maklik met Margery die spot gedryf, want sy pas nie in die gemeenskap in nie. Die verhaal speel af in die vyftigerjare in Engeland, waar Margery ná die oorlog as ’n onderwyseres werk. Sy is ongemaklik tussen mense en voel soos ’n buitestaander. Diep in haar binneste verskuil sy die tragiese herinneringe van 40 jaar gelede toe haar pa in ’n traumatiese gebeurtenis uit haar lewe gestap het. Hy het haar egter een blywende geskenk gegee: Sy nuuskierigheid oor kewers het hy aan haar oorgedra, die enigste ding wat betekenis aan haar saai lewe gee. In die herfs van haar lewe besluit sy sy het genoeg gehad van haar sinlose dae as skoolonderwyseres en smalende jong meisies wat haar dae versuur. Sy wil haar droom om die geheimsinnige en ontwykende Goue Kewer wat glo in New Caledonia te vinde is, najaag. Sy begin al haar dinge in plek stel vir dié ekspedisie na die onhergbergsame bestemming. Toe sy adverteer vir ’n assistent doen net twee kandidate aansoek. Deur ’n sameloop van vreemde gebeure stel sy die uiters eksentrieke (en onbeholpe) Enid Pretty aan om haar op die reis te vergesel.

En wat ’n reis is dit nie! Jy ervaar elke absurditeit in kleur saam met die onwaarskynlike paar op hul avontuur. Jy lag hardop vir van die eskapades en jy pink ’n traan weg vir die hartseer gebeure. Die verhaal voer jou mee en beklemtoon hoe betekenisvolle vriendskappe dikwels ontstaan wanneer jy nie eens daarna soek nie. ’n Juweel van ’n boek wat jou hart warmer gaan laat klop en jou vertroue in die mensdom so klein bietjie gaan herstel. - Phyllis Green 

 


Wegkomkans, Marita van der Vyver (Protea Boekhuis, R300)

In hierdie tyd van onsekerheid, wens ons almal vir ’n wegkomkans. Die heruitgawe van een van Marita van der Vyver se gunstelingboeke bied so ’n kans – al is dit dan net in ons koppe.

Elke jaar kom tien vriende bymekaar vir ’n wegbreek. Die tien karakters se verhoudings oor tien jaar word geskets: die oppe en affe, die vreugdes en trane, alles wat bo en onder die oppervlak lê. Daar is goeie kos, wyn, humor en ook tragedie. Die leser kry ’n blik op die Suid-Afrikaanse landskap van die jare tagtig en negentig en hoe die karakters die geboorte van ’n nuwe Suid-Afrika beleef.

Getroue lesers van hierdie skrywer gaan die nostalgiese herlees (en die pragtige nuwe baadjie) geniet en ’n nuwe geslag lesers gaan die lekkerte van ’n Van der Vyver-roman ontdek. Dis ’n lekkerleesverhaal wat vermaak, maar ook onder die oppervlak delf om meer pitkos te gee. ’n Wegkomkans vir die siel. - Adele Vermaak

 

The little French recipe book, Jacky Durand (Hodder & Stoughton, R310)

’n Ongewone liefdesverhaal is opgesluit in dié klein, dun resepteboekie waarin Frankofiele en fynproewers hulle sal verlustig. Die roman het nietemin baie meer om die lyf as net ’n paar resepte.

Julien skryf veral vir sy pa Henri. Hul verhouding is taamlik stram en gesprekke oor persoonlike sake word vermy. Henri, ’n legendariese kok, wys sy liefde aan sy seun deur vir hom delikate disse voor te berei. Julien spreek sy geliefde pa in die tweede persoon aan, wat aanvanklik vreemd oorkom, maar die storie trek jou weldra in. Noudat sy pa siek en aan die einde van sy lewe is en Julien van hom afskeid moet neem, is hy obsessief op soek na sy pa se eie, handgeskrewe resepteboek wat hy nêrens kry nie. Hy het ook tergende vrae oor sy ouers en hul vreemde verhouding wat in die lug bly hang. Die geleidelike ontknoping is onverwags en onvoorspelbaar.

Resepte, die realiteit van ’n eie klein restaurant en veral die liefde wat ’n gesin bind, vorm die kern van hierdie verhaal. ’n Bonus is die paar eenvoudige resepte aan die einde van die roman. Voorbeelde hiervan is die ‘klein geluk-soppie’ met presies vier bestanddele, of die bief-en-worteldis, en ’n maklike kersietert of clafoutis waarin vars kersies mét hul pitte gebruik word. - Mariette Postma

A poor season for whales, Michiel Heyns (Jonathan Ball Publishers, R270)

Margaret Cowley is ’n welgestelde, geskeide vrou in haar vyftigs wat tot dusver ’n gemaklike en beskermde lewe gelei het. Dit is nou tot die dag wat sy ’n man in haar kombuis met ’n mes doodsteek. Met só ’n inleiding, maak Heyns dit moeilik om nie verder te lees nie.

Die gebeure speel in Hermanus af, waarheen Margaret en haar hond, Benji, verhuis om ná haar egskeiding ’n nuwe begin te maak. Hier ontmoet sy ’n jong man, Jimmy Prinsloo-Mazibuko (24), en ’n interessante dinamika ontwikkel tussen hulle. Hy is voorbarig, opdringerig en maak homself doelbewus deel van haar lewe. Juis daarom is nie Margaret óf die leser seker of Jimmy ’n goeie ou, ’n skurk of beide is nie. Onthou, ons is ’n man met ’n mes in sy bors beloof …

Moenie ’n gewone moordverhaal verwag nie. Die dialoog tussen die karakters is skerp, humoristies, filosofies en vol verrassings. ’n Mens moet op jou tone lees, hoewel die slot mettertyd voorspelbaar word. - Mercia S Burger

If I can’t have you, Charlotte Levin (Mantle, R330)

Die jong, enkellopende Constance werk as ’n sekretaresse by ’n dokterspraktyk. Die dag toe die sjarmante dokter Samuel Stevens by hulle aansluit, begin die vonke spat. Die aantrekkingskrag tussen hulle ruk vinnig handuit en so ook Constance se lewe. Terwyl Samuel voortgaan om soos ’n professionele kollega op te tree, groei haar obsessie met hom.

Die storie word vanuit Constance se oogpunt vertel in die vorm van ’n brief aan Samuel. Haar grootste geheim en skuld omtrent haar ma se dood kom ook aan die lig. Kwessies van misbruik, verlating en verwerping word gedek. Toe Constance dit die nodigste het, kom hulp en ondersteuning uit die mees onwaarskynlike oord. Hierdie storie het ’n boeiende spanningslyn en mens kan nie wag om te sien hoe dit gaan eindig nie. - Danica Gouws

 

The Hideaway, Sheila O’Flanagan (Headline, R320)

Juno Ryan vlug na die betowerende Villa Naranja in Spanje met die hoop om genesing te vind vir haar gebroke hart en om te herstel van die verraad wat sy nooit sien kom het nie. ’n Skokkende nuusberig het haar lewe verpletter en sy bevind haarself skielik sonder die man vir wie sy lief is, en sonder enige manier om die broodnodige antwoorde te kry op haar vrae. Sy moes eenvoudig net wegkom om weer mens te word.

In Spanje laat die blou lug en die oorvloedige lemoenboorde, asook Pep, die aantreklike seun van die wynmaker langsaan, haar stelselmatig beter voel. Sy hou haarself besig met herstelwerk aan die villa en sy probeer om in te skakel in die gemeenskap. Sy weet sy moet haar verliese verwerk, want dis hoe sy haar lewe sal kan omdraai om weer doelgerig en positief aan te kan gaan.

Nès sy weer heel begin voel, bars ’n nuwe bom … Sal Juno die verlede agter haar kan sit? En sal sy ooit weer leer om haar instinkte te vertrou? Vir my was dit ’n fantastiese verhaal met verfrissende heldinne.  ’n Ongelooflike lekker leeseervaring. - Nadia de Jongh

 Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.