Sy is vroeër hierdie week aangewys as die goue wenner in Afrikaans van die Sanlampryse vir die beste plaaslike jeugboeke. Haar boek, Blou is nie ’n kleur nie, het vir haar dié toekenning besorg. Dis ’n storie oor die disintegrasie van ’n disfunksionele voorstedelike gesin in Pretoria, gesien uit die oogpunt van die 16-jarige Vicky. Die beoordelaars het Blou is nie ’n kleur nie beskryf as ’n universele verhaal “wat jou op die krop van jou maag slaan”, maar wat getemper word met skerpsinnige dialoog en humor.

Jan Vermeulen het silwer gekry vir Soen, ’n speurverhaal “wat die leser deurgaans op die punt van sy stoel hou”. Dit gaan oor ’n gewilde en begaafde hoofseun wie se ongesonde obsessie met ’n jong onderwyseres hom amper sy lewe kos. Vermeulen het in 2002 goud gewen vir Geraamtes dra nie klere nie. Die Sanlampryse word tweejaarliks toegeken vir nuwe manuskripte. Vanjaar is 134 inskrywings ontvang in drie kategorieë – Afrikaans (33), Engels (55), Afrikatale (46 in agt tale). 14 inskrywings reg deur die bestaan van die Sanlamprys vir jeugboeke oor die jare is voorgeskryf in skole. Die doel van hierdie prys is om lees te bevorder en te sorg vir ’n ryk leeskultuur.

’n Volledige lys van wenners kan hier  gelees word.

Elton Die Verskriklike April verloor dit, Carin Krahtz (Tafelberg, R150)

Elton se vermaaklike verhaal is in die vorm van ’n joernaal geskryf. Hierdie skrywery het hy te danke aan die skoolsielkundige, Camille du Preez, oftewel tannie Kameel. Toe Elton die heeltyd in die moeilikheid raak by Hoërkool Horison, het die skoolhoof dit goed gedink dat hy sy probleme met tannie Kameel bespreek. Arme Elton se humeur is kort en sy woede-uitbarstings maak dat hy meermale in die moeilikheid is. Boonop woon Elton en sy ma in ’n tweeslaapkamerhuisie op ’n aftreeoord se perseel. Een van die inwoners, oom Tienie, maak die wêreld vir Elton warm, maar gelukkig hou die tannies van hom en kom tot sy redding. ’n Heerlike verhaal vol deernis en humor wat raak aan verskeie sosiale kwessies wat hoërskoolleerders raak.  – Phyllis Green



Die Rooi Prinses,Paul Biegel, vertaal deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis, R150)

Niemand het nog ooit die Rooi Prinses gesien nie, tot op haar twaalfde vejaarsdag toe sy in ’n feestlike optog aan die volk bekendgestel word. Maar voor enigiemand ’n rooi haar kon sien, gebeur iets vreesliks! Die rowers, Holz Bolz en Schwazenstolz, ontvoer die Rooi Prinses. Vir eers dink sy dit is baie opwindend, totdat hulle haar in ’n kamer toesluit. Sy slaag daarin om te ontsnap en die avontuur begin.

As jy van avontuur hou, is hierdie boek spesiaal vir jou. Die boek het ’n paar sketse en is natuurlik vol verrassings. Kanselleer al jou panne vir die dag, want jy kan hierdie boek net nie neersit nie! – Cailin Spickett

Jenna en die leesperd, Marga Jonker (Tafelberg, R145)

Jenna is vies toe sy nie meer in die elite-skouspringspan kon wees nie as gevolg van haar rugprobleem, en om die kersie op die koek te sit, moet die rykmanskind, Elze Roux, haar plek inneem. Maar Jenna is eers kwaad toe haar ouma haar na Amandelrivier se stalle stuur. Op die ou end is Kim en haar terapie-perde die hoogtepunt van haar lewe. Die boek is vol verskillende emosies wat hoog en laag sweef en is perfek vir perdeliefhebbers. – Cailin Spickett

Lotta se lewe 4:  ’n Haas uit die hoed, Alice Pantermüller, geïllustreer deur Daniela Khol (Human & Rousseau, R140)

Nog ’n lekkerlees, vrolik en prettige verhaal, besaai met toepaslike snaakse illustrasies. Lotta en Chantelle besluit dat hulle stokperdjies moet kry, want Lotta se blokfluit tel nie! Maar nie een van die stokperdjies op hul lys is ‘doenbaar’ waar hulle woon nie. Gelukkig kry hulle ’n kans om saam met Zack Zeeman, ’n beroemde filmster (volgens Chantelle) in ’n “movie” te wees. Natuurlik vat Lotta haar blokfluit (wat allerhande towerkragte het) saam en dit maak dat hul planne heeltemal inmekaar stort. Hierdie boek is opwindend en snaaks en dit is lekker om uit Lotta se “dagboek” te lees. – Cailin Spickett



Lotta se lewe 5: My skilpad uit sy dop, Alice Pantermüller, geïllustreer deur Daniela Khol (Human & Rousseau, R140)

Ons ontmoet weer vir Lotta en Chantelle in hierdie avontuur vol pret en humor. Dis ’n ontspanne skryfstyl en heerlike illustrasies. Hul klas het ingeskryf vir ’n kompetisie en het besluit om prente van bedreigde diere te verf. Vreemde dinge gebeur egter aanhoudend en dit vererger net toe Lotta haar blokfluit probeer gebruik. Hierdie boek is baie snaaks en vol katastrofes en nuwe avonture. As jy lus is om te lag en van die ernstige dinge in jou lewe weg te kom, is dié boek vir jou. – Cailin Spickett



Lotta se lewe 6: Vent of vriend, Alice Pantermüller, geïllustreer deur Daniela Khol(Human & Rousseau, R140)

Lotta is smoorkwaad en baie ontsteld oor die nuwe ou in haar klas, Remi. Hy kom uit Frankryk, eet altyd stink kaas (KAMMEMBEER), gee elke dag vir haar ’n geskenk, sit nogal tussen haar en haar vriendin Chantelle in die klas en noem haar boonop Lothar. Sy probeer elke dag harder om van hom ontslae te raak, maar dit help net mooi niks. Om alles net nog erger te maak, is hy nou ook deel van hul bende (die Kwaai Konyne). Soos al die ander stories in die reeks is hierdie een ook baie snaaks en wonderlike prettige afleiding. Baie moeilik om neer te sit as jy eers begin lees. – Cailin Spickett


Lotta se lewe 7: Die Lama-drama, Alice Pantermüller, geïllustreer deur Daniela Khol (Human & Rousseau, R140)

Lotta is baie opgewonde, want sy gaan vir ’n week saam haar klas ’n eiland besoek. Ongelukkig gaan daar vreeslike, ongeskikte ouer kinders saam wat hulle boelie. Daar gebeur iets onverwags, en hul bende, Die Kwaai Konyne, sal met die (volgens Lotta en Chantelle) simpel Glamour Girls, asook die Rockers moet saamwerk om wraak te neem. Sal hul plan werk? Soos verwag van hierdie prettige reeks is die storie vol snaakse avonture, heerlik opgekikker met die lewendige illustrasies. – Cailin Spickett



Stalmaats 17: Waaghals,
Lize Roux (Lapa Uitgewers, R90)

Anri en haar maats, Megan en Karen, kan nie glo die naweek van die afrigtingskamp het aangebreek nie. Tyd saam met perde is hul gunsteling-tydverdryf, en dan is daar ook nog die ruiterkompetisie. Alles is egter nie so lekker nie, ’n ruiter in Anri se span is ’n regte waaghals en breek boonop baie van die reëls. Dit kan haar kans as kampioen-ruiter blaas as Anri-hulle haar nie keer voor dit te ver gaan nie. Hierdie boekie is een van die Stalmaats-reeks wat heerlike verhale oor Anri en haar maats se ondervindings met perde as hoof bestanddeel oorvertel. As jy lief is vir perde is hierdie verhaal ’n ‘moet lees’.  Jy leef jouself in die storie in en die emosies vloei deur jou terwyl jy lees. As jy eers begin, kan jy die boek net nie neersit nie! - Cailin Spickett



Stalmaats 18: Perdepiekniek,
Lize Roux (Lapa Uitgewers, R90)

Nog ’n verhaal in die Stalmaats-reeks waarin Anri en haar maats ’n perde-ondervinding beleef.  Anri kry sommer vlinders in haar maag as sy aan die afrigtingskamp dink: perde, Bosveld, vriende en die brief wat Jacques in haar hand gestop het wat dinge tussen hulle skielik anders laat voel. Megan reël ’n piekniek om saam met Jacques en sy vriende te kuier maar dan kom daar onverwags slegte nuus oor Jacques se liefling vulletjie, Storm, en DIT maak alles net ERGER!  As jy ’n perdeliefheber is, is hierdie verhaal net vir jou. Dit voel asof jy daar is, en jy sal vir altyd daar wil bly …  -  Cailin Spickett

Tania en die perdry-kompetisie, Helen Brain en Nicky Webb, iIllustrasies deur Rico Schacherl (Human & Rousseau,R150)

 Tania spaar en spaar want Oreo gaan hare wees - totdat ’n nuwe meisie, Shardonnay, kom inmeng in Tania se lewe en alles opmors. Om dinge erger te maak, is die twee se ma’s vriendinne en Tania se ouer broer is verlief op Shardonnay. Gaan Tania die stryd wen om Oreo haar perd te maak? Heelwat drama het baie humor tot gevolg.  Dis die tweede boek in ’n reeks waarvan Tania en die Towerfluitjie die eerste is. – Cailin Spickett