In Rooiborslaksman vertel Liesbet Amraal en Frederik Vlermuis afwisselend meer oor die wel en wee van die verwesterste Namas van Gobabis met Afrikaans as huistaal. Die gebeure speel af van 1864-1896. 

Die gevolge van die leierskapstryd tussen Andries Lambert en Frederik Vlermuis, albei afstammelinge van vorige kapteins, vorm die hoofverhaallyn waarby die res van die geskiedenis boeiend ingeweef is. Die bedreiging van Duitse kolonisering en die gevegte tussen die Duitsers en die Namas, die dodelike pokke-epidemie, die teenstrydige interaksie tussen die Duitse sendelinge en die Gobabissers en die Herero-aanval op die Namas vertel van die Namas se onstuimige stryd om oorlewing. Liesbet Lambert se eg menslike verhaal oor haar smagting na liefde en ’n eie gesin en die manier waarop sy haar mense se tragiese verhaal vertel, sleur jou mee. Dis geskiedenis in volkleur! Jy kan nie anders as om betrokke te voel nie.

Ek het per e-pos met Marinda van Zyl oor Rooiborslaksman (Tafelberg, R295) gesels. 

 

Waar kom jou liefde vir geskiedenis vandaan en spesifiek die geskiedenis van kaptein Amraal en sy nasate?

Ek het op ’n plaas so 40 kilometer oos van Gobabis grootgeword. Sonder elektrisiteit was die aande lank, dan het my pa ons getrakteer op verhale uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Albei my ouers was lesers en hul boekversameling het hoofsaaklik uit geskiedenisboeke en historiese romans bestaan, waarvan sommige steeds ’n plek in my boekrak het. Hoewel my pa in die Duitsmedium- Katolieke Skool op Gobabis was, het hy nooit stories oor Namibië se vroeë geskiedenis of die tydperk van Duitse besetting vertel nie. Aangesien die twee rante weerskante van die Swart-Nossob by Gobabis na die Duitse bevelvoerder Lampe en die Herero-kaptein Nikodemus vernoem is, is dit as vanselfsprekend aanvaar dat die eerste inwoners van Gobabis Herero’s was. Van verwesterste Namas met Afrikaans as huistaal op Gobabis is daar nooit melding gemaak nie.

Daarom was dit vir my ’n verrassing toe ek in die 1980’s op soek na ’n onderwerp vir my doktorale studies in geskiedenis met Amraal en sy nasate kennis gemaak het. Die hoofbron van daardie geskiedenis was die sendelingverslae wat deur die sendeling Heinrich Vedder oorgetik is. Vir akademiese studies was dit ’n onbetroubare bron, want foute en weglatings kon maklik insluip. Die oorspronklike verslae is in agriewe in Duitsland, wat my studies onbekostigbaar sou maak.

My MBibl-graad in leserkunde oor die uitbeelding van Suid-Afrikaanse geskiedenis in jeug- en kinderverhale het my egter die waarde van hierdie dokumente vir ’n historiese roman laat besef en ek het dit gefotostateer. Ongeveer 25 jaar later het dit my in staat gestel om Amraal in ’n roman aan lesers voor te stel en ook ’n meer inklusiewe weergawe van Suid-Afrika en Namibië se geskiedenis te gee.

Ek het eers verlede jaar uitgevind een van die gevegte tussen die Duitsers en die Namas was waarskynlik op ons plaas. Die Duitsers wat aangeneem het die Namas is verslaan, want hulle het geglo Frederik Vlermuis is dood, het die pan Siegfeld gedoop. (Sieg = oorwinning). In die roman is dit Boesmansfontein. Met Nicol Stassen se hulp het ek vasgestel die plaas Siegfeld 403 het aan ’n Dorslandtrekker behoort. Dit was ons buurplaas. Ek het die eienaar geskakel om vas te stel waar op sy plaas die pan is. Die antwoord het my verras. Daar is geen kalkpanne op Siegfeld nie. Die enigste plaas in die omgewing waar ek dit sou kry, is op die buurplaas Isabella. 

Die kalkpan omring met soetdoringbome en -bosse so 300 tree suidwes van ons huis het inderdaad aan kaptein Von Estorff, aanvoerder van die Duitse troepe, se beskrywing van die gevegsterrein voldoen. Onder een van die doringbome was ’n naamlose graf met kalkklippe bedek. In die tydperk wat die verhaal afspeel, was daar nog ’n fontein. In die 1960’s het die paaiedepartement die pan oopgegrawe vir kalk om padoppervlakke te bedek. Op ongeveer ses voet is die skelet van ’n jong olifant uitgegrawe, wat bevestig dat daar vroeër ’n standhoudende waterbron was.  

 

Rooiborslaksman is die derde boek oor die stuk geskiedenis van Namibië tussen 1864 tot 1896. Is dit gegrond op navorsing wat jy reeds vir die eerste boek, Amraal, gedoen het?

Die sendelingverslae het slegs ’n gedeelte van die tydperk waarin Rooiborslaksman afspeel, gedek, nl. 1864-1880. Dit was nogtans ’n waardevolle bron oor die interaksie tussen die sendelinge en die Gobabissers.Veral sendeling Friedrich Judt se verslae, waarin hy gal gebraak het oor sy gemeentelede, het ek soms woordeliks gebruik.

In 2018 het ek weer die argief in Windhoek besoek om inligting oor die tydperk van die Duitse kolonisering te kry. Verder was reisverhale, memoires, dagboeke en briewe uit daardie tydperk waardevolle bronne; nie net om inligting oor historiese gebeure te kry nie, maar om die atmosfeer van die tyd en alledaagse gebruike te kon vasvang.

Onder meer bevestig dit die gebruik van Afrikaans as omgangstaal in die streek. Die botanikus Hans Schinz noem die taal van die Namas “Cap Holländische”, terwyl Helene von Falkenhausen, ’n Duitse immigrant wat voor haar troue in Windhoek skoolgehou het, daarna verwys as “Südwestafrikanische Holländische”, wat vir haar moeilik was om te verstaan omdat hulle ook baie idiome gebruik het. Dit was ook die taal van kommunikasie tussen die Herero’s en die Namas. Die inligting dat Samuel Maherero haar vier Duitse mark betaal het om vir hom klavier te speel het ’n aanduiding gegee van die vlak van verwestering en kulturele ervaring van die Herero’s. Dieselfde geld vir die Namas, want die huisorrel van die Witboois se onderwyser het in haar klaskamer gestaan. Dit is tydens die aanval op Hoornkranz deur die Duitse soldate geroof. Volgens haar het die Namas ’n deeglike kennis van veesiektes en rate gehad om dit te genees.

 

Hoeveel van die verhaal is waarheid en hoeveel fiktief?

Dis ’n moeilike vraag om te beantwoord. Hoewel ek deeglik navorsing doen en so na as moontlik aan die werklike gebeure bly, word dit fiksie die oomblik wat ek emosie en dialoog toedig aan werklike persone, of fiktiewe karakters skep om die spanningslyn te dra. Kortom, in geskiedskrywing moet jy kan bewys dit hét so gebeur; in historiese verhale werk jy met die moontlikheid dat dit so kón gebeur het. Soms is ’n mens gelukkig en kry jy feite en emosie op ’n skinkbord, soos die handelaar Krapohl se verslag oor die Herero-aanval op Gobabis in April 1865 en sendeling Weber se optrede tydens die gebeure. 

Vroue is gewoonlik afwesig in die optekening van geskiedenis. Net om die name van die sendelinge se vroue te kry, was ’n tydrowende proses. Terselfdertyd laat dit ruimte vir die romanskrywer om deur vrouekarakters werklike gebeure te manipuleer en te dramatiseer.

Meestal word feite en fiksie vervleg. Andries se eskapades met ’n jong meisie, waarvoor hy met nege pond sterling beboet is, is ’n feit, maar sy vrou se wraak berus op verbeelding. 

 

Daar is ’n menigte karakters. Het jy vir jou ’n stamboom opgestel om kop te hou met wie waar inpas?

Met elke roman kla die redigeerder daar is te veel karakters, maar dit is onmoontlik om ’n komplekse verhaal soos Rooiborslaksman wat oor 32 jaar strek tot sy reg te laat kom met net ’n paar karakters.

Terwyl ek navorsing doen, leer ken ek die historiese karakters, met goeie en slegte eienskappe, so goed dat hulle vir my soos eie familie is. Fiktiewe karakters skep ek met ’n spesifieke doel en weet dus presies waar en wanneer hulle in die verhaal moet verskyn en wat hul verbintenis met elke ander karakter is.

Dit is moeiliker om die chronologie van gebeure te onthou, veral met die invoeging van fiktiewe gebeure. Dus werk ek met ’n kaartstelsel waarop die datum en gebeure op daardie dag neergestip word.

 

Die verhaal fokus baie op die leierstryd tussen Andries Lambert en Frederik Vlermuis. Wei uit hieroor asseblief.

Die hooftema van die verhaal is die vernietigende gevolge van die leierskapstryd tussen Andries en Frederik, albei afstammelinge van vorige kapteins. Ek gebruik die duiwelsklou as simbool om die stryd te visualiseer. Hoe meer geweld jy gebruik om daarvan ontslae te raak, hoe dieper sny die dorings en rig meer skade aan.

In die proses wat Frederik en Andries mekaar probeer bykom het, het hulle selfs nie mekaar se families ontsien wanneer wraak geneem is nie. Toe die werklike vyand opdaag, was die groep reeds so gedemoraliseer dat hulle die gevaartekens misgekyk het en te verdeeld was om vroegtydig tot aksie oor te gaan. 

 

Liesbet vertel ’n groot deel van die verhaal. Sy is ’n sterk vrou en toon dikwels beter leierseienskappe as die mans. Wil jy iets hieroor sê?

In my romans is daar altyd ’n sterk vrou wie se krag in haar omgee vir ander gesetel is. Sy is die moederhen wat vertroosting bied wanneer dinge uitmekaar begin val, maar nie skroom om kritiek uit te spreek wanneer sy onreg vermoed nie. In Wilhelmina Radebe kom tuis was dit die naamkarakter; in Amraal Hannah, sy eerste vrou; en Mieta in Dors.

Liesbet was die ideale karakter om hierdie rol in Rooiborslaksman te vervul, want sy het Amraal se sagtheid en Trien se deursettingsvermoë gehad en vroeg in haar lewe die hartseer van verlies ervaar wat haar sensitief vir ander se pyn gemaak het. Om ’n groot deel van die storie deur haar oë te beleef, is daar ’n sagter aanslag in ’n tyd wat oorheers is deur geweld en wreedheid. Baie lesers sal kan aanklank vind by haar hunkering na ’n eie kind terwyl die moontlikheid al hoe skraler word, en moontlik vrees dat sy daarom vir Frederik se hofmakery sal val. 

 

Die inheemse volke het ’n teenstrydige en komplekse verhouding met die Duitse sendelinge gehad. Vertel meer oor die rol van die sendelinge in die vervreemding van die inheemse kultuur. 

Die Khoi-Khoin-groepe wat hulle sedert 1800 vanuit die Kaapkolonie noord van die Oranjerivier gevestig het en bekend was as die Oorlamse of Namakwas, was ten volle verwesters. Die meerderheid van hulle het die Christelike geloof aangeneem, want op plase het hulle saans huisgodsdiens bygewoon en baie was gedoop.

Die Namas wat noord van die Oranjerivier gebly het, het steeds tradisionele gelowe en gebruike aangehang.

Aanvanklik het sendelinge van die Londense sendinggenootskap op versoek van Oorlam-kapteins na hul nedersettings gekom. Daarna het Duitse sendelinge van die Rynse sendinggenootskap gevolg. Die verskil in siening van die rol en magte van die sendeling het spoedig tot konflik gelei. Die verwesterste Namas wou ’n sendeling hê om na hul geestelike en praktiese behoeftes om te sien, soos die sakramente bedien, die kinders onderrig en handelaars na hul nedersettings lok.

Die sendelinge wou totale beheer neem oor die lewens van hul lidmate, wat hulle eintlik as onderdane beskou het. Hulle het die romantiese idee gehad om duisende heidene te bekeer wat voor hul voete sou kniel uit dankbaarheid. ’n Mate van sukses is hiermee onder die Rooivolk-Namas bereik.

Onder die Gobabissers was almal gedoop en huwelike is in die kerk bevestig, maar hul optrede was nie altyd in lyn met hul geloofsbelydenis nie. Soos dit vandag ook maar is. Al waarop die sendelinge kon fokus om tasbare resultate te sien, was om die brou van heuningbier, die rookgewoonte en tradisionele danse wat hulle as vulgêr en seksueel uitlokkend beskou het, te probeer uitroei.

Judt het woedend gereageer toe die Vlermuise hom daarvan beskuldig het dat hy optree asof hy die kaptein is, maar dreig onmiddellik daarna dat hy sal sorg dat die Raad hulle beboet oor hul heidense danse.

Dit voel vir my asof van die karakters ’n morele vervlakking gehad het sedert Amraal se leierskap. Is dit so?

Indien Amraal se leierskap as maatstaf geneem word, dan is dit so. Tog moet in gedagte gehou word dat Amraal ’n uitsonderlike mens en leier was en dit sou moeilik wees vir enigiemand om sy skoene vol te staan. Vir ’n 20-jarige kind om suksesvol te regeer terwyl hy deur sy opponent om elke hoek en draai gedwarsboom is, was te veel gevra.

Die vernietigende pokke-epidemie het die moreel van die gemeenskap en waarskynlik ook hul geloof geknak.

Met wie het jy die meeste meelewing in Rooiborslaksman?

Met Andries. Hy was net 20 toe hy sy hele familie – oupa, pa, ma, broers en susters met al hul kinders, behalwe sy jongste broer, Eduard, en sy oudste broer se babaseun – in die pokke-epidemie verloor het. Hy was nie toegerus vir die kapteinskap wat hy moes oorneem nie. Weens sy ouderdom en klein postuur het die sendelinge hom as ’n kind beskou, voortdurend ingemeng en hom selfs verkleineer. Boonop het sy kywende vrou ook sy lewe versuur.

Met die hulp van sy veel ouer neef, Jan Lambert, sou hy moontlik in ’n goeie kaptein kon ontwikkel het, as Frederik Vlermuis hom nie so genadeloos ondermyn het nie.

Frederik was die lekkerste karakter om te skryf. Hy het in die werklike lewe so baie dinge aangevang dat ek nie veel verbeelding nodig gehad het om van hom ’n multidimensionele karakter wat ’n kentering ondergaan het, te maak nie. Hy was veral bekend vir sy genadelose wreedheid, maar soos die Duitsers uitgevind het, het hy ook ’n byna bomenslike uithouvermoë gehad. Hy het ook die visie gehad om te besef die sendelinge was die voorste linie in die kolonisering van die Namas en Herero’s se grondgebied. Hy was ook die enigste persoon wat dit reggekry het om die Namas en die Herero’s te verenig teen die Duitsers. 

 

Wat wil jy graag hê moet lesers uit die verhaal neem?

Hulle moet dit as ’n storie geniet, die vreugdes en die hartseer van die karakters saam met hulle beleef en weet dat ons almal net mense is met goeie en slegte eienskappe, afgesien van ons voorkoms of herkoms.