Ek het met Irma gesels oor die laaste boek in haar oorlogstrilogie, Na n plaas in Afrika (Lapa Uitgewers, R350) en oor skryfwerk oor die algemeen. Dié boek volg op Immer Wes en Mentje, kind van Pas-Opkamp.

 inspirasie, woorde
Foto: Estie du Plessis

Op die vraag of haar karakters altyd doen wat sy vir hulle beplan, vertel sy hulle doen net wat hulle wil. En hulle voer interessante gesprekke wanneer sy in die bad sit.

“Ek het ’n lekker klein bad. Kyk, ek is kort en kan lekker vasskop en met my kop agteroor lê en heerlik ontspan. Dan, eweskielik begin die karakters met mekaar praat, veral as ek besig is met ’n storie. Ek wil vir hulle sê, stop asseblief dat ek net kan uitklim, want ek is oud en onthou nie meer alles wat hulle gesê het so goed nie. Maar hulle hou net aan met praat. Karakters moet die skrywer ignoreer, want anders is die skrywer besig om in te meng. Hulle kan nie vir my luister nie, hulle is in die middel van ’n gesprek. Hoe kan ’n spook hier uit die lug uit vir hulle vertel hulle moet ophou praat.”

Sy het nie die pen in die hand nie, verduidelik sy. Die karakters ontwikkel ’n lewe van hul eie en hulle dryf as’t ware die verhaal vorentoe. Haar passie vir geskiedenis het gelei tot haar kreatiewe skryfwerk, en deur haar verhale wil sy bewys geskiedenis is nie dood nie.

“Al wat ek probeer wys, is dat dit iemand se storie is. Geskiedenis is lewendig en jy kan so baie daaruit leer,” sê Irma.

Baie van haar karakters word ook geïnspireer deur die ware verhale van mense. So is die hoofkarakter, Charles, in Na n plaas in Afrika, gegrond op iemand wat sy geken het. In dié verhaal wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel, word hy uit Londen na die Skotse dorpie Eaglesham gestuur, waar hy by sy bejaarde tante gaan woon. Toe die oorlog verby is, is hy na Afrika gestuur omdat daar vir hom geen vooruitsigte in Skotland was nie. Hier kruis sy paaie uiteindelik weer met dié van Mentje en Esther. In die trilogie ontvou ’n boeiende epiese verhaal waarin die karakters en geskiedenis jou met hulle saamsleur totdat dit in die laaste boek op ’n bevredigende einde uitloop.

 inspirasie, woorde

Waar het jy aan Charles se karakter gekom?

Ek het ’n Charles geken op wie ek die karakter gegrond het. Oom Allan Charles Heath was met my tannie getroud. Ek het hom leer ken toe hy nog nie eens agtien was nie. Hy is tydens die oorlog as seuntjie deur sy ouers ontruim Skotland toe. Daar het by sy aunty Maud op ’n klein dorpie gaan woon, weliswaar nie Eaglesham nie. Hy was baie lief vir haar gewees.

Ná die oorlog was Engeland ekonomies nie sterk nie en ’n jong man het maar gesukkel om werk te kry. Die dorpie waar hulle was, het buitendien nie werk gehad nie en aunty Maud besluit toe hy moet na haar dogter Enid in Swaziland gaan. Hy’s toe soontoe en het daar op die plaas gehelp, maar dit het nie heeltemal uitgewerk nie.

My pa het altyd jong mense gekry om as plaasbestuurder te kom werk op ons plaas op Nylstroom in die Bosveld. Oom Allan doen toe voor hy agtien was aansoek vir die pos. Ek kan onthou hoe my ma met my pa baklei het oor hy oom Allan gestuur het om goed op die stasie te gaan haal voordat hy nog ’n lisensie gehad het.

Oom Allan is later getroud met my tante wat sewe jaar ouer as hy was. Hy het nie matriek gehad nie, maar was hoogs intelligent en ’n baie bekwame boer. Sy vrou was goed gekwalifiseer en dit was regtig ’n gelukkige huwelik.

Wat ek ook van hom onthou, is: Ons het Afrikaans in die huis gepraat en hy het by ons in die huis geëet. So hy moes maar leer om die taal te praat. Hy het Noord-Sotho en later Afrikaans vlot gepraat.  

Om jou storie te anker op n plek wat jy goed ken, gee jou seker n gerustheid dat jy met geloofwaardigheid oor die omgewing kan skryf?

Na n plaas in Afrika, eintlik maar al my boeke, speel rondom Nylstroom af. Dis waar ek grootgeword het, waar ek op hoërskool en in die koshuis was. So, enigiets wat met die karakters gebeur, is maar daar geplaas. Ek het eintlik gedink ek moet nou afskeid neem van die Bosveld en beslis van die Tweede Wêreldoorlog. Die probleem is ek het in die vroeë vyftigs in die Bosveld grootgeword. Ek weet hoe praat daardie mense, hoe hulle leef en so aan. Ek wil nou na ’n ander plek toe skuif, maar ek weet nie waarheen nie. Maar miskien bly ek in die Bosveld. [Lag.] Ek is dalk te oud om nou te verhuis.

 

Jy is gemaklik om trilogieë te skryf. Wanneer jy begin met boek een, het jy reeds n idee waaroor boek twee en drie gaan?

Ek het nie presiese idees nie. Ek stam uit ’n Nederlandse familie en dit was ’n goeie aanknopingspunt toe ek in dié land was vir ’n boekbekendstelling. Ek sê toe vir die Nederlanders, maar ek voel so tuis tussen julle, want my oupa kom van hier. Toe helder almal se gesigte op en hulle verwelkom my in my stamland. Hulle het so goed reageer dat ek vertel my ouma kom ook uit die omgewing, uit Duitsland. Dit was egter ’n fout. Ná die tyd sê my uitgewer vir my in Nederland sê jy nie ’n goeie woord oor die Duitsers nie. Dit was vir my verstommend. Daai mense is vir my so dieselfde. My boeke word in Nederland en Duitsland uitgegee as Christelike lektuur en as ek met die lesers meng, het hulle presies dieselfde godsdiens. Hulle praat ’n taal baie verwant aan mekaar en hul gebruike is so dieselfde. Boonop lyk hulle baie na mekaar. Waarom nou hierdie, ek wil amper sê, nydigheid? Hulle kan dit nie oorkom nie.

Dit het my laat besef wat ek wil doen. Ek kom uit dié twee lande en my ma se familie is van Engelse oorsprong. Ek wil toe graag skryf oor die Duitse siening van die oorlog, die Nederlandse siening van die oorlog en die Engelse siening van die oorlog. Dit was my drie boeke. Ek het wel geweet die Engelse siening gaan oom Allan se storie wees. Iemand het vir my sy ma se geskiedenis vertel, hoe sy ma immer wes moes vlug met haar familie, en uiteindelik in Suid-Afrika opgeëindig het. Dit het my aan die dink gesit en so het die Hildegard-storie ontstaan wat in die eerste boek, Immer Wes, vertel word. Terwyl ek een van my boeke in Nederland bekend gestel het, het my bemarker my na die Pas-Opkamp geneem en daar het ek Mentje se storie gekry.

So, met die basiese stories het ek geweet waarheen ek mik. Ek moes êrens ’n knooppunt kry waar die karakters bymekaar kom en dit was die boot. Hulle het almal met die boot Suid-Afrika toe gekom. Die bote was nie groot nie, glad nie soos die plesierskepe van deesdae nie. Mentje, Charles en Esther, die drie kinders was op mekaar aangewese, hoewel klein Esther baie jonger was. Reeds op die boot moes ek presies weet waar gaan Charles heen, waar gaan Mentje heen en ook eintlik waar kom hulle vandaan.

 

Hou jy ’n tipe stamboek met dinge wat jou karakters definieer, waarna jy kan terugverwys as jy by die latere boeke kom?

Nee, ek hoef nie. Hulle bly lank genoeg saam met my in die huis. Ek ken hulle so goed. Ek weet presies hoe hulle lyk en wat is hul geaardheid. Ook die bykarakters. Dis soos familie. Ek beplan wel my verhale baie planmatig en soms kom daar afdraaipaaie. Partykeer werk goed nie uit nie, soos in Na n plaas in Afrika waar ek Rudolf Hess begin inbring het. Sy verhaal is vir my fassinerend, maar hy wou net nie werk nie. Toe sê my uitgewer ek moet dit uit Ilse Hess se oogpunt skryf. Die probleem was Rudolf Hess se karakter. Hy was ’n baie teruggetrokke introvert wat nie gevoelens gewys het nie, niks nie. So, hoe kan jy nou vir hom gevoelens gee? Dis hoekom Ilse Hess, wat eintlik ’n bykarakter is, baie sterker uitgebeeld word. 

 

Toe jy met die eerste boek begin het, moes jy kantnotas maak oor waarnatoe jy gaan?

Nee. Die liewe Vader het die wiskundedeel van my brein speldekoppie-grootte gemaak. Die verbeeldingdeel neem my brein heeltemal oor. Ek maak nie regtig kantnotas nie. So nou en dan sal ek teruggaan as ek dalk iets vergeet het, maar dit kom vir my redelik natuurlik om stories te skryf.

 

Jy moes omvattend navorsing gedoen het oor die tydperk 1933-’56. Hoe het jy die navorsing aangepak?

Ek moet eers my feite ken. Gestel ek wil die stuk skryf oor Hildegard en die Eerste Wêreldoorlog. Ek ken nie die Eerste Wêreldoorlog so goed soos die Tweede Wêreldoorlog nie. Dan doen ek deeglik navorsing oor die Eerste Wêreldoorlog en besluit wat ek daarvan wil inbring.

Om ’n voorbeeld te gee, ons het met Na n plaas in Afrika na Eaglesham toe gegaan. Hoekom het ek die plek gekies? Ek het geweet ek soek ’n dorpie in Skotland en ek het geweet Rudolf Hess het in die suide van Skotland geland. Toe gaan ek na waar hy geland het. My seun Jan-Jan het saamgegaan, waaroor ek ongelooflik bly is. Ek het gehoorprobleme en moet na iemand se mond kyk wanneer hulle praat. Ek praat oorwegend met baie ou mense wat die oorlog beleef het. Hulle praat regtig Skots, waarvan ek min of meer niks verstaan het nie. Dan, wanneer jy veral ouer mense wil opneem, intimideer dit hulle. Hulle is dan versigtig wat hulle sê. So ek neem nie op nie. Nou moet ek skryf en ek kan nie sien wat hulle sê nie! Gelukkig is Jan-Jan gewoond daaraan om tegelyk te skryf en te luister. Hy het ook verstaan wat hulle sê.

My vrae was uitgetik om presies die inligting te kry wat ek wou hê, maar dan kom hulle met ekstra storietjies wat ek in die roman kon inbring. Alles wat byvoorbeeld in hierdie boek in Eaglesham gebeur het, is oor mense wat werklik daar gelewe het. In Mentje, kind van Pas-Opkamp het elke karakter regtig in die Pas-Opkamp gelewe. Ek het ’n wonderlike boek daaroor gekry. Mens moet skryf wat jy beleef het. Hoewel ek nie die oorlog beleef het nie, kyk ek na flieks daaroor.

 

Hoe besluit jy wat hou jy in en wat los jy uit?

Dis vir my baie moeilik, veral die historiese materiaal. As iets my aangryp, sal dit die leser aangryp en daarom fokus ek veral op die mensestories. My verhale is geskiedenis met die suikerlagie om. Ek bly by feite, maar dis moeilik om te sny, veral vir iemand soos ek wat so passievol is oor geskiedenis. Die storie bly die belangrikste.

 

Jy het Charles die stremming van disleksie gegee, waarom?

Hy is eintlik so ’n gelukkige karakter en ek het gevoel hy kan nie nét so wees nie. Ek kom uit ’n dislektiese familie. Ek ken disleksie, ek weet wat dit aan mense doen. Ek weet dis hoogs intelligente mense wat struikelwoorde het wanneer hulle lees. Dis soos ’n boggel wat jy die res van jou lewe saamdra. Mense kan dit nie sien nie. As jy dislekties is, kan jy ’n intelligente gesprek voer, maar sodra jy iets neerskryf, dink hulle die persoon is stupid.  

 

Jy roer die tema van vergifnis aan. Al die karakters moes iets in hul lewe vergewe.

Vergifnis is vir my baie belangrik. Jy vergiftig jouself as jy nie kan vergewe nie. Dis iets wat mens moet kan doen, klaar. Hulle sê ons sal vergewe, maar nie vergeet nie. Al onthou mens, moet dit nie jou lewe oorneem nie. As jy totaal kan vergewe, sal jy natuurlik nog onthou, maar dan maak dit nie meer saak nie. Hulle het nie geweet wat hulle doen nie: Ek dink dit so baie keer van die Nazi’s, want ek bedoel, ons as Afrikaners het dieselfde gedoen. Ons het ook ongelooflike foute gemaak, ongelooflik gediskrimineer, mense verneder omdat hul velkleur anders was en dis hoekom ek elke keer teruggaan na die Nazi’s toe. Ek wou die Nazi’s se standpunt inbring. Hildegard was nie so nie, maar haar man en twee van haar seuns was trotse Nazi’s. Ek kon daardie ideologie inbring sonder om die hoofkarakter van die lesers te vervreem.

Jy het tog die pen in die hand as jy karakters skep en bepaal hul lewens?

Nee, daai mense begin lewe. Ek het dit vroeg in my loopbaan uitgevind toe ek Tussen Stasies geskryf het. Ek het gedink ek gaan vir hierdie klein dogtertjie ’n identiteitskrisis gee, maar toe ek by daai hoofstukke kom, sê Gretl vir my: “Jy kan nou maar dink ek het ’n identiteistkrisis, maar ek weet presies wie ek is. Ek is Gretl.” Ek het nie die pen in die hand nie. As jy pligsgetrou wil bly aan die karakter, dan luister jy wat die karakter sê. Ek het reg aan die einde van Na ’n plaas in Afrika ook nie ten volle met Oswald saamgestem nie. Hy bly ’n Duitser, al is hy hoe platgeslaan en hy gaan hom nie laat voorskryf deur hierdie Afrikaanse skrywer nie. Karakters doen hul eie ding. Ek doen net wat hulle vir my sê.

Is dit moeilik om afskeid te neem van jou karakters of dink jy hulle gaan in die toekoms weer opkom?

Ek glo nie hulle gaan in die toekoms weer opkom nie, maar mens weet nooit. Dalk gebeur dit, maar ná ’n trilogie het mens genoeg gehad van daardie karakters.