inspirasie, woorde

Hêppie, ’n baster-foksterriër, vertel die een deel van die verhaal. vanuit sy perspektief. Sy blyplek is nie ’n gelukkige een nie, want hier is geen hond veilig nie. Honde het hier geen waarde nie en kry ook geen liefde nie. Dis eerder ’n daaglikse styrd om oorlewing. Hulle moet wreder wees as die ander honde sodat hulle vir hul onmenslike eienaars geld kan verdien in onwettige gevegte. Hêppie se pad kruis met die van Karel, die ander hoofkarakter in Baster in Jan Vermeulen se boek wat die naaswenner van Lapa se Jeugromankompetisie was.Die wel en wee van Karel se lewe word afgewissel met Hêppie se verhaal. Diereliefhebber Karel het die gawe om met diere te kommunikeer, alhoewel sy polisieman pa dink dis sommer nonsens. Die eerste drama kom wanneer Karel sy hond Potlood moet begrawe drie dae nadat sy ma hom raakgery het. Hy besluit om nooit weer lief te raak vir ’n hond nie. Sy hart sal nie nog so verlies kan hanteer nie. Die tweede drama vind plaas wanneer ’n ongelukkige insident in sy vriendin Natalia se swembad plaasvind. In ’n uitbundige gespelery byt haar hond Bruno hul vriend en tennisspeler Hugo aan die arm. Dit dryf  ’n  wig tussen die vriende in omdat Bruno van kant gemaak moet word. Beskuldigings word heen en weer geslinger en skuldgevoel maak dat Karel hom afsny van sy vriende. Om sake nog meer deurmekaar te krap, keer Karel se voormalige boesemvriendin terug van universiteit af. Waarom en wat maak dat sy so roekeloos optree? En dan kruis Karel se pad nog boonop met die van Hêppie, wat hy summier Baster herdoop. Deur die basterbrakkie raak hy bewus van die onderduimse wêreld van hondegevegte. Teen sy pa se advies in kan hy homself nie daarvan weerhou om betrokke te raak nie.

Dis nie altyd ’n maklike verhaal om te lees nie, veral Hêppie se ervarings maak dit vir enige diereliefhebber ’n uitdaging om deur te druk. Tog roer Vermeulen dié belangrike onderwerp met sensitiwiteit aan. Dis ook moeilik om saam met Karel sy hartseer deur te maak. Ander belangrike kwessies is jeugliefde, teleurstelling, terminale siekte,verlies, vriendskap en versoening. Al voel jy dat jy sien nie kans om die verhaal te lees nie, dis een wat werklik die moeite werd is. Niemand het ooit gesê grootword gaan gepaard sonder pyn en groei nie. En merkwaardige boeke soos Baster (Lapa Uitgewers, R220) ruk jou dikwels uit jou gemaksone.

 inspirasie, woorde

 

The Sun is also a Star, Nicola Yoon (Penguin, R175) 

Natasha en Daniel se paaie kruis op ’n dag in die strate van New York toe Daniel Natasha se lewe red. ’n Mens sou dink dat so ’n daad jou gemoed kan opkikker, maar beide karakters beleef elkeen ’n slegte dag met Natasha wat dalk terug na haar geboorteland toe moet terugkeer en Daniel wat skielik sy familie se goeie naam moet uitleef. Die een is ’n realis wat glo in wetenskap en feite, nie romanse nie. Die ander is ’n dromer en lewe in ’n fantasiewêreld. Elkeen moet egter ’n aspek van hul drome opgee – Daniel kan nie ’n lewe uit gedigte maak nie, en Natasha wil Amerikaans wees.

Die boek is mooi geskryf en elke karakter se storie het betekenis, selfs die sekuriteitswag wat nie meer sin in die lewe sien nie. Dit is ’n lieflike filosofiese liefdesverhaal. Die outeur se skryfstyl is maklik om te lees, maar die boek is dalk nie vir die harde realiste onder ons bedoel nie. – Marieke Snyman

 
 inspirasie, woorde

The million pieces of Neena Gill, Emma Smith-Barton (Puffin, R175)

Neena se gunstelingskildery, Van Gogh se “Starry Night”, of soos sy dit noem, haar “Sky-sea” hang teen haar slaapkamermuur. Sy glo dis ongebalanseerd en deurmekaar, net soos wat sy voel. Dis tien maande sedert haar ouer broer, Akash, verdwyn het. Sy val in haar eie “sky-sea” en sy is besig om te breek.Neena het streng ouers wat net die beste van haar verwag, wat beteken dat daar reëls is: Geen partytjies nie; geen drinkery nie en beslis GEEN kêrels nie. Akash het die neiging gehad om die reëls te verbreek. Hy was ook die rots in Neena se lewe en het haar ondersteun in alles wat sy wou doen. Hy het altyd geweet wat om te sê as sy gestres of ontsteld was. Neena het nooit die reëls oortree nie, dit is totdat Akash verdwyn het. Neena begin rondsluip en partytjies toe gaan, sy kry selfs’n kêrel. Toe sy een aand uitgevang word, dreig haar pa om haar nie na die kunskollege van haar keuse te stuur nie. Sy besluit om harder te werk op skool totdat sy een aand in Akash se kamer wakker word.

Vir haar is die besef dat hy nog daar buite is so sterk, dat sy besluit sy moet hom opspoor. Maar almal is teen haar ... of sien sy dinge vanuit die verkeerde perspektief? - Cailin Spickett

 
 inspirasie, woorde

MoMo, Michael Ende (Protea Boekhuis, R250)

Die outeur is moontlik beter bekend vir sy vrolike fantasieverhaal, ook wat as 'Never ending story' verfilm is. Momo volg dieselfde styl en is in wese ’n storie oor die mens se gebruik (of eerder vermorsing) van tyd.Momo is’n liefdevolle wese wat deur almal aanvaar word in ’n stad waar sy haarself gevestig het. Mense in grys infiltreer die stad en moedig almal aan om hulle 'spaar tyd' te bank in die Tydbesparingsbank. Van toe af gaan die goeie dinge agteruit: Die mense skenk nie meer aandag aan dit wat belangrik in hul lewens is nie.  Hulle het ’n totale obsessie met tyd.Momo kom agter dat die grys mense almal se tyd wil steel, maar om iets daaraan te doen, sal die hulp verg van iemand wat mag het oor tyd. Sy skaar haarself by diebestuurder van Tyd, Master Secundus Minutus Hora, en Cassiopeia, ’n skilpad wat dertig minute in die toekoms kan insien. Momo se avontuur neem haar uit die diepte van haar hart, waarvandaan haar eie tyd in die vorm van lieflike uurlelies vloei, na die loket van die Grys mense: Die plek waar die tyd wat mense glo hulle spaar, bewaar word.

’n Absolute wonderlike fantasieverhaal vir kinders van alle ouderdomme.  - Cailin Spickett

  
 inspirasie, woorde


#PresiesAnders 3: Somerskool en Spoke, Cecilia Steyn (Human & Rousseau, R140)


Zoe is in die wolke toe sy haar ouers en haar tweelingsussie, Zoya, oortuig om hulle na die somerskool toe te stuur. Zoya dink natuurlik dis net een of ander dom somerskool. Vir Zoe is dit egter die kans om eindelik die kampus se spook te ontmoet! Maar dinge loop vinnig skeef toe Zoya uitvind oor die spook. Sy is doodbang vir sulke goed. Natuurlik help dit nie veel dat mislike Queen Bee Beula konstant drama probeer veroorsaak nie. ’n Vermaaklike lekker-lees verhaal. -  Cailin Spickett

 inspirasie, woorde

A wrinkle in time, Madeleine L’Engle (Puffin Books, R168)


Margaret Murry, of net Meg, het altyd geglo dat sy alles vekeerd doen. Almal sê dit vir haar en om alles te vererger het almal altyd gepraat oor haar pa wat net verdwyn het. Haar ma het natuurlik die stories geïgnoreer en vir Meg verseker dat sy missie net langer as gewoonlik gaan neem. Meg het haar ma probeer glo, maar sy het geweet dat haar pa waarskynlik dood is.Een mistige aand het ’n vreemde tannie, Mrs Whatsit, by die Murry-huis opgedaag, iets vreemds gesê en weer verdwyn. Maar sy is binnekort weer terug om Meg, haar jonger boetie en hul vriend op ’n avontuur te neem om hul pa en soveel meer te red. – Cailin Spickett

 
 inspirasie, woorde

Die eindelose storie, Michael Ende (Protea Boekhuis, R285)

Bastian Balthasar Bux lewe maar ’n baie saai lewe en boonop word hy by die skool geboelie.  Eendag bevind hy hom in mnr. Koljander se boekwinkel. Hier ontdek hy ’n boek, Die Eindelose Storie. Dis presies wat hy wou hê,’n storie sonder ’n einde. Hy kruip in die skool se solder weg om te lees. Net hier raak dit interessant: Jy lees die boek binne die boek. Die storie handel oor die verbeelde land, Fantasieë, wat deur die koninklike keiserin regeer word.  Maar Fantasieë word deur Die Niks bedreig. Die Niks is ’n duisternis wat alles wat dit aanraak, vernietig. Die koninkryk het die hulp van ’n mensekind nodig om te oorleef.  Wanneer Bastian ’n beskrywing van homself in die boek lees, begin hy wonder of dit werklik is en of hulle hom nodig het om te oorleef.  Kan Bastian Fantasieë red en hoe kom hy weer terug in die werklike lewe? - Dian Liebenberg

 

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.