Die 14-jarige Bethel vertel haar gesin se verhaal in Maretha Maartens se jongste jeugroman, Bethel se berg (Lapa Uitgewers, R200). Die gesin is arm en woon basies in hul Volkswagen Kombi. Oral waar hulle afpak, bak Bethel se eksentrieke ma vetkoeke om die gesin te onderhou. Baiekeer word hulle gevra om tog nie te naby aan iemand se huis te parkeer nie en dan moet daar weer opgepak en gery word. Dis nie ’n idilliese bestaan nie, en die kinders se grootste droom is om in ’n regte huis te woon op ’n plek waar hulle wortel kan skiet.

Maartens skryf ’n realistiese verhaal waarin die gesinslewe, afwesige pa’s, liefde, aanvaarding en lewensbeginsels in die kollig geplaas word. Die verhaal speel af teen die onstuimigheid van die tagtigerjare en sorg vir heelwat sosiale kommentaar in die teks. Bethel roer jou en jy kan nie anders as om empatie met haar te hê nie. Jy droom saam met haar dat sy haar ideale sal kan realiseer. 

 
Maretha Maartens

Ek het per e-pos met Maretha gesels oor skryf.

Jy is geweldig produktief. Hoeveel boeke het jy nou al geskryf?

Daar is tans 150 gepubliseerde boeke – essays, volwasse fiksie-, jeug- en kinderboeke, biografiese romans, Bybelromans en geestelike boeke. Selfs ’n resepteboek! Persentasiegewys is 35 hiervan kinder- en jeugboeke – ’n heel stewige 23,3%.

Het jy ’n skryfroetine?

Hoe ouer ’n mens word, hoe meer taan jou kreatiewe energie aan die een of ander kant van die dag. Ek is ’n vroegopstaner en my kreatiwiteit taan sonder uitsondering ná 19:00. My skryfroetine was nog maar altyd om die tye aan te gryp wanneer ek wakker en helder voel, afgewissel met noodsaaklike selas. Gedurende die rustye skil ek pampoen of gaan kyk of die oprukkerige lemoenboompie my nog goedgesind is. Jong Cara Cara-boompies kry nukkerige blare wanneer hulle water nodig het. Dikwels gehoorsaam ek vir Mathata, die 22-jarige gemmerkat wat snippermandjies rondstoot wanneer hy iets van my kant gedoen wil hê. En soms drink ek in sela-tyd heel normaal koffie saam met Hennie, my man.          

Jou jongste jeugroman, Bethel se berg, is die naaswenner van Lapa se Jeugromankompetisie, maar jy het al ’n hele paar pryse vir vorige jeugverhale gewen. Waarom skryf jy in dié genre en watter eienskappe maak ’n jeugroman uitsonderlik?

Toe my susters en ek nog kinders was, was vertellings onlosmaaklik deel van ons gesinslewe. My polisieman-pa het voor die kombuiswasbak vir my ma van sy ervarings op distrikspatrollies vertel. My ma, met haar aweregse humorsin, het ons soms só aan die lag gehad dat ons moes gaan sit. Óns drie het vertel, almal het geluister. (Oor raas kry by die skool het niemand ooit enigiets vertel nie, want onderwysers was altyd reg, en wie ook al raas gekry het by die skool, kon tuis ’n pak slae verwag.) Ek weet nou dat die skryf van stories in werklikheid vertellings op skrif is. Dat die skryf van jeugverhale in my geval die natuurlike en blywende uitvloeisel van ’n leefwyse sonder selfone, televisie en tegnologie is, die ewe natuurlike uitvloeisel van ma-wees en hope persoonlike kontak met kinders.

In Alices Adventures in Wonderland (1865) en Through the Looking-Glass (1871), wat steeds wêreldwyd deur kinders, tieners en volwassenes geniet word, is die volwassenes totaal vreemd en kyk Alice dwarsdeur hulle. Die taalgebruik is sprankelend en verrassend. Die boek is gevul met humor, parodie en vinnige aksie. Die teks is oop vir meer as een vertolking, in teenstelling met ’n geslote teks waar die outeur die leser na slegs een interpretasie deur die skrywer se oë neem. Iets uiters aangenaams bly in die leser se gees en geheue agter. En/of iets waarmee die leser intens kan identifiseer. Ek vermoed dat daar heelwat van hierdie bestanddele in uitsonderlike jeugromans is. Maar dat dit nie stap vir stap, gram vir gram, soos in ’n komplekse resep ingeroer word nie. Dit gebeur omdat die karakters uitsonderlik is. 

Is dit n moeilike genre om in te skryf?

Ja, so moeilik soos poësie . . . totdat die skrywer weet hoe en wat die karakters is. Hoe almal se kop werk.

Grond jy jou karakters op werklike mense of is hulle suiwer fiktief?

Geen karakter kan suiwer fiktief wees nie, behalwe waarskynlik in wetenskapfiksie. Skrywers word bestuif: jou eie manier van dink en leef is daar iewers in die storie. Nalatenskappe van onderwysers, ander volwassenes, gesprekke en ervarings met oud en jonk lê in ’n mens se geheue en onderbewuste gestoor. Maar oor werklike mense skryf ek slegs in noue samewerking met persone wat fasette van hul lewensverhaal wil vertel en vir ’n bietjie hulp daarmee aanklop.

Put jy uit jou eie lewe vir jou verhale?

Iewers tóg. Ervarings in ’n mens se ouerhuis, in jou eie leefwêreld as volwassene ens. is nie verspilbaar nie. ’n Mens gaan voel-voel deur die lewe. Jy voel. Niemand anders kan namens jou voel nie. Skrywers het die gewaarwordings en affektiewe aspekte van die bewussynslewe nodig om karakters, nie robotte nie, te kan skep. Elke karakter moet so vinnig moontlik ’n lyf, karakter, persoonlikheid en herkoms kry. En veral ook ’n rede vir die voorreg om in ’n boek te mag leef! Ek dink wel gereeld aan die leser. Wat gaan die leser in dié paragraaf haat? Sny dit dan uit.

Wat was die vonk vir Bethel se berg?

’n Ontmoeting en gesprek met ’n akademikus wie se ma so met haar kinders rondgeswerf het. Maar dit is nie haar verhaal nie – ek het net haar toestemming gevra om die tema te mag gebruik.

Wat was die moeilikste van die skryf van Bethel se berg?

Vreemd genoeg: bitter min. Ons is op dieselfde golflengte, Bethel en ek.

Grootste les wat skryf jou geleer het?

Skryf het my geleer dat ek nooit mag ophou leer nie. Elke dekade is anders as die vorige. Ek beter bybly!