Hierdie skrywer weet hoe om jong lesers te boei en ’n storie te vertel wat hulle nie anders kan as om te lees nie. In  Spaghetti tussen jou tone (Lapa Uitgewers, R110) speel Tom en Trevor, twee onnutsige seuns, die hoofrolle. Dis twee van daardie seuntjies wat die vermoë het om allewig onder almal se vel in te kruip. Hul nuwe juffrou word nooit kwaad nie, al vang hulle kattekwaad in die klas aan. Hul poetse toets haar tot die uiterste, want hul plan is om haar woedend te maak. Sal hulle dit reg kry? Die twee vriende leer ’n waardevolle les, wanneer juffrou Zaan hul eie planne teen hulle gebruik. ’n Humoristiese verhaal wat seuns aan die lees sal kry. - Phyllis Green

 


Skool is ’n riller, saamgestel deur Marianna Brandt (Human & Rousseau, R155)

Wat ’n heerlike bundel met grillerige en geheimsinnige verhale! Ná die lees van hierdie boek sal kinders anders kyk na onderwysers, want wie weet watter tipe boosheid skuil onder daardie fraai uiterlike. 20 Uiteenlopende stories verteenwoordig verskillende tipes skole en leerders. Maar een ding wat seker is, al hierdie stories maak dat jy saans as dit donker word, seker maak jy is op ’n plek waar daar lekker baie lig is! Dalk net kruip daar ’n monster in die kas of onder die bed weg. As jy ’n seun tussen 9-12 jaar het wat nie graag lees nie, is hierdie bundel die perfekte manier om hom aan die lees te kry. Phyllis Green

 

Tydlyn, Peter Goes (Protea Boekhuis, R350)

’n Lieflike boek waarin jong lesers die wêreldgeskiedenis op treffende wyse in beeld en woord kan ontdek. Die kleurplate in dié beeldverhaal maak dit toeganklik. Halstarrige lesers sal nie anders kan as om na die prente te wil kyk nie. Van die oerknal tot die hede word gedek en interessante feite oor ’n verskeidenheid onderwerpe word gegee. Geskiedenis is die grondslag waarop mens se begrip van die mensdom en sy inwoners gebou word en Tydlyn is ’n goeie begin waarop lesers kan voortbou. Hierdie boek het al 16 uitgawes gehad en is in verskeie tale vertaal. Selfs volwassenes sal plesier uit hierdie een put! - Phyllis Green

 

Die olifantjie wat aan die slaap wou raak, CF Ehrlin, vertaal deur M Delport (Human & Rousseau, R140)

Kinders stry graag teen die vaak. Hierdie storie, soos die Hasie wat aan die slaap wou raak, vertel hoe Alie die olifantjie op pad is na haar gunsteling-slaapplek. Die olifantjie stap deur ’n towerwoud na haar wuiwende mamma toe en kom verskeie maats teë, wat almal vaak is en graag wil slaap. Alie se reis na droomland word ’n persoonlike reis omdat die kleuter se eie naam ingevoeg word. Die suggestiewe herhaling van frases is betowerend, en die dromerige sketse is die laaste handjievol sand wat kleuters help om heerlik te slaap. – Mariette Postma

 

Op die rug van ’n tier, Dianne Hofmeyr en illustrasies deur Jesse Hodgson (Tafelberg, R150)

Tom teken ’n baie groot tier ná hy ’n skildery deur Henri Rousseau van ’n tier in die oerwoud in ’n galery gesien het. Hulle twee gaan op ’n avontuur en die tier help Tom om sy vrese te oorkom. Wanneer Tom besef hy is nie meer bang nie, spin die tier tevrede. Die gevarieerde teksgrootte en helder illustrasies ondersteun die boodskap van hierdie waardevolle storie. – Mariette Postma


Swimmy, Leo Lionni (Jacana, R110)

’n Boek wat hartseer begin, maar positief eindig, oor ’n vissie wat die ander visse leer hul lewens sal beter wees as almal saamwerk. Die illustrasies in waterverf dra die eenvoudige lewensles ondersteunend oor. ’n Tipiese pragtige Lionni-boek wat baie plesier gaan bring.Mariette Postma


Wie woon hier?,Einat Tsarfati, vertaal deur E van der Merwe (Human & Rousseau, R145)

Dié plesierige verhaal wat uit Hebreeus vertaal is, speel af in ’n woonstelgebou, waar elke deur ‘wys’ hoe die mense lyk wat daar woon. Die mense wat agter die eerste deur woon, is definitief diewe omdat hul voordeur soveel slotte het. Telkens as die hoofkarakter, ’n dogtertjie, by die vierde deur verbystap, gaan die lig af. Dis hoe sy weet dis waar die vampier woon. Die dogtertjie is op pad na haar ‘vervelige’ ouers op die sewende vloer, waar iets van elke vloer in haar vrolike kamer uitgestal is.Mariette Postma

 

Grilgrypers 2: Web van die mummie en Grilgrypers 3: Kamp van die monsters, De Wet Hugo (Human & Rousseau, R170)

In Web van die mummie word die lyk van ’n jong meisie wat gemummifiseer is in ’n grot op die plaas Moordkuil in die Moordenaarskaroo gevind. Pippa woon hier saam met haar ouers. Haar ouers vermoed dis dalk die lyk van haar pa se sussie Annette. Sy het verdwyn toe sy omtrent Pippa se ouderdom was. Die dag nà die vonds verlaat Pippa die plaas om in Paarl hoërskool toe te gaan. Wanneer daar vreemde dinge begin gebeur, voel dit vir Pippa asof die mummie haar van die plaas na die koshuis gevolg het. Clayton word in Kamp van die monsters deur sy pa en sy nuwe verloofde na ’n eksklusiewe rehabilitasiekamp gestuur. Van die begin af voel Clayton dat alles nie pluis is by die kamp nie. Daar is uiters streng sekuriteit by die kamp. Probeer hulle die tieners inhou of iets anders uithou, wonder Clayton as hy uit die hoek van sy oog ’n vreemde wese gewaar. Wanneer van die ander tieners begin verdwyn, besef Clayton hy moet wegkom uit die kamp. Grilgrypers is ’n opwindende grillerige reeks boeke vir tieners. Die verhale bevat aksie, drama, spanning en so bietjie gruwel om dinge interessant te hou. - Karien Labuschagne

 

Otto woon by sy tannie Sharon. Hy het ’n ongewone gawe, hy kan spoke sien. Harry Griesel, ’n grieselgryper en Emily, ’n gewone maar uiters slim meisie, is sy beste vriende. Otto woon in ’n regte spookhuis met drie inwonende spoke, verder het Otto ook ’n pratende troetelvlermuis genaamd Vincent. Otto, Emily, Harry en Vincent het verskeie avonture saam. Die lekker-lees reeks is vir kinders wat van grieselrige stories hou.

In Die Spookmeesters kry Otto ’n nuwe buurvrou wanneer Madame Olga, ’n fortuinverteller, oorkant die pad intrek. Fernando, die Spaanse spook wat in Madame Olga se huis bly, pleit by Otto om van die verskriklike vroumens ontslae te raak. Tannie Sharon gaan kuier gereeld oorkant en Madame Olga oortuig tannie Sharon dat daar gruwelspoke in tannie Sharon se huis woon. Sy besluit sy en Otto moet trek. Later waarsku Madame Olga vir Otto oor ’n pers steen wat iewers in tannie Sharon se erf begrawe is wat spookmeesters aanlok. Otto en Harry sit koppe bymekaar en besluit dat Madame Olga moonlik deur ’n gruwelgees met die naam van Drakemor oorgeneem is. Drakemor wil die steen hê, want met die steen in sy besit kan geen grieselgryper, asook die supergrieselgrypers van die spesiale eenheid wat met gruwelgeeste werk, hom vang nie. Gaan Otto kan kontak maak met die supergrieselgrypers en verhoed dat hy en tannie Sharon trek en gaan hy die pers steen uit Drakemor se kloue hou?

In Die Zombie-ontvoerder vra ’n nuwe onderwyser by die skool vir Otto vreemde vrae vra oor sy vermisde oom Archibald. In die kunsklas struikel Emily oor Otto se tas en die water wat sy dra, spat oor die nuwe onderwyser, meneer Malone, se hand. Hy is woedend en probeer sy hand wegsteek, maar nie voor Otto sien dat sy hand grys is onder die grimering wat hy aan het nie. Kom meneer Malone van die oorkant? As dit so is, hoe het hy aan die kant gekom, wonder Otto. Dan ontdek hy en Emily vir professor Sybrand Swaelkop, die stigter van hul skool wat al baie jare dood is, in die kelder van die skool. Hulle neem die professor na Otto se huis om uit tevind hoe hy aan die kant gekom het, maar hy het sy geheue verloor. Harry vertel vir Otto dat iemand ’n onwettige deurgang tussen die oorkant en die kant geskep het en alle grieselgrypers het opdrag om die ingang te vind en te sluit. Otto, Harry en Emily probeer met die hulp van professor Swaelkop die deurgang vind. Dan ontvoer meneer Malone vir tannie Sharon en vat haar na die oorkant. Gaan Otto-hulle die deurgang vind, haar red en terugkeer voor die ander grieselgrypers die deurgang vind en dit sluit?

In Die Spookmonster het Harry ’n nuwe baas, Rufus Rittelbeen, by die SBI. Rufus stel nuwe reëls in wat ’n impak het op Harry se besoeke aan Otto. Met die hulp van oom Archibald, wie Otto-hulle gered het, kom Otto in aanraking met sy ouers waar hulle gevange gehou word in Kwaalcatraz. Dis ’n spesiale tronk erens tussen die oorkant en die kant waaruit niemand al ooit ontsnap het nie. Rufus vind uit dat Harry steeds vir Otto besoek en as straf moet Harry nou badkamers in die SBI hoofkantoor skoonmaak. Otto en Emily help Harry om meer uit te vind oor sy verlede, so kom hulle af op Operasie Pestilensie. Tydens die operasie in die Middel Eeue is van die onlangse dooies grieselgrypers gemaak sonder dat hulle dit verdien het. ’n Grieselgryper is ’n persoon wie se dade aan die kant so erg was dat hy as straf vir ’n duisend jaar as ’n grieselgryper moet werk. Gaan hulle bewyse kan kry oor die omstrede operasie, en wie al die onskuldiges is wat geforseer is om grieselgrypers te word en gaan hulle Otto se ouers uit Kwaalcatraz kan red? – Karien Labuschagne

 

Kwaai Uil, Kerryn Ponter (Struik kinders, R70)

Daar is ’n paar titels in die Kwaai Uil-reeks: Kwaai Uil en sy Boom, Kwaai Uil en Kwaai Uil Gaan Swem. Kwaai Uil is, wel, ’n kwaai uil. Daar gebeur gedurig iets met hom wat hom ontstel en hy is maar altyd ’n bietjie dikmond. Hy vervies homself gou as iets nie volgens sy plannetjies verloop nie. In Kwaai Uil en Sy Boom verander die seisoen elke keer nès hy gewoond geraak het daaraan. Dan raak hy van vooraf kwaad. In Kwaai Uil is hy ontevrede oor die reënweer en in Kwaai Uil Gaan Swem werk sy plan om te gaan swem, met al sy spesiale toerusting, nie uit soos hy dit wou hê nie. Tog raak mens lief vir die ou uil. In elke storie is daar ’n lessie wat hy leer en teen die einde is hy darem tog ’n gelukkige uil. Die stories kan aan kinders voorgelees word en ná die tyd kan mens lekker gesels oor als wat Kwaai Uil geleer het. - Danica Gouws

 

 

Liedjies vir pikkies en peuters, saamgestel deur Gertie Smit (Tafelberg, R196)

Uit die gewilde boek Rympies vir pikkies en peuters is versies gekies en getoonset. Die resultaat is hierdie oulike bundel van 40 prettige Afrikaanse kinderliedjies met ’n ingeslote CD. Dit is gemik op kinders van 1-5 jaar en dek gepasde temas soos seisoene, plaasdiere, my huis, vervoer, gesonde kos en nog meer. Dis ideaal vir gebruik in speelskole wanneer temawerk gedoen word, maar ook toeganklik vir tuisgebruik. ’n Opwindende aspek van hierdie bundel is die opvoedkundige motivering agterin wat vir opvoeders en ouers wenke gee hoe om hierdie liedjies in te span tot die kleinspan se voordeel. - Danica Gouws

 

My Bielieboek Vol Getalle (Really Decent Books, R145)

Hierdie helderkleurige Afrikaanse reeks is heerlik opvoedkundig! The Boy Fitzhammond se prettige illustrasies vul elke bladsy van hoek tot kant en sal jong kinders se aandag trek. Die boekies is interaktief, maar ook geskik vir eenjariges en ouer om alleen deur te blaai. My Bielieboek Vol Getalle stel kinders bekend aan syfers, moedig hulle aan om self te tel en maak hulle bewus van hoeveelhede. My Bielieboek Vol Kleure wys kinders ’n groot verskeidenheid van bekende voorwerpe onder elke kleur.In My Bielieboek Vol Woorde word daar gekyk na Diere van die Wêreld en Diere op jou Drempel, asook Dinge wat Ry en Alles in die Water, en nog meer. Daar is baie waarna jy en jou kind saam kan kyk en om oor te gesels. Elke keer wat jy deur die boekies blaai, sal iets nuuts jou oog vang. Dit is ’n moet op enige peuter se boekrakkie. Danica Gouws

 

Op die potjie gou!, Sally Lloyd-Jones (Human & Rousseau, R150)

Daar is ’n groot nood onder die dierevolk. Dit is hasie wat knyp-knyp loop en dringend ’n potjie soek. Maar hy is nie alleen nie! Een vir een volg eienaardige, lawaaierige en plesierige diertjies vir hasie om so ook hul potjies te kry. Net soos almal gereed sit op hul potjies, besef hulle daar is nog iemand kort. Op die laaste bladsy is ’n spieëltjie waarin jou kleinding sy eie gesiggie sal sien en besef dat almal vir hòm wag om ook saam met hulle op sy potjie te gaan sit! Dit is ’n prettige en lawwe boekie vir peuters wat besig is om te leer van toiletgebruik. - Danica Gouws

*Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.