Op die titelblad van haar memoires, Goed, beter, Betsie (Protea Boekhuis, R295), is ’n oop album met foto’s – die eerste aanduiding van haar obsessie. Sy verduidelik hoe sy van kleins af wou weet wie die mense in haar ma se kiekieblik is, waar hulle vandaan kom en waar hulle in die familie inpas. In die boek vertel sy haar boeiende lewensverhaal en waar sy in die gesin se prentjie pas. Sy skryf met eerlikheid oor haar arm kinderjare, haar komplekse verhouding met haar pa en hoe verknog sy aan haar ma, die engel in haar lewe, was.

 inspirasie, woorde

Tydens ons onderhoud vertel sy hoe haar pa sy lewe lank boekminderwaardig was omdat hy nie kon gaan studeer nie. “Hy het nie die geleentheid gehad nie. Gelukkig het my pa ’n goeie gesonde verstand gehad, maar hy was tog verbitterd. Ek glo jy kan kies hoe om so ’n terugslag te hanteer. My pa het gekies om kwaai te wees. Hy het nie altyd goed teenoor my opgetree nie, maar ek ook nie altyd teenoor hom nie. Ek was baie kwaai met my pa. In die boek sal jy lees hy het ander dinge gedoen wat ek glad nie kon goedkeur nie. Ek glo al het my pa nie boekgeleerdheid gehad nie, het hy eintlik ver gevorder in sy beroep en moes hy meer vrede gemaak het daarmee. My boek gaan oor vergifnis, iets waaraan ek baie hard moes werk – om my pa te bevry en om myself te bevry van die kwaad en haatduiwel.”

Tog was dit haar pa wat vir haar haar eerste mik-en-druk-kamera gegee het tydens ’n vakansie in die Krugerwildtuin en so die saadjie van foto’s en fotografie dieper en sterker geplant het.

 
 inspirasie, woorde
Foto: Jacques Barlow

Jy skop die boek af met die verskillende name wat jy genoem word. Kan jy daaroor uitwei?

My doopname is Elizabeth Catherina, genoem na my Skotse ouma. Vir my was dit sulke mooi name, maar my familie het besluit ek moet Betsie word. Toe ek in graad een kom en die juffrou noem my Elizabeth, was ek verskriklik bly; daarvan het ek nogal gehou. Maar in die hoërskool het my vriende besluit dis fênsier om Elize te word. Ek haat die naam, maar jy word mos maar geland daarmee. Toe ek egter ’n kleinkind kry, het ek besluit dis sommer nonsens, ek gaan nie Ouma Elize word nie. Ek wil hê my kleinkind moet my dieselfde noem as wat ek my Ouma Liza genoem het. Nou kan die kind nie ’n “l” sê nie en het ek Ouma Jiza geword; dit gee my ’n nuwe identiteit. Ek dink as mens eers ’n ouma is, word jy ’n ander persoon en is dit geregverdig om ’n nuwe naam te mag kies.

Jy is een van ses kinders en jul ouderdomme verskil nogal baie. Bloed bly mos dikker as water en jou sibbe is eintlik maar jou vriende.

Party van hulle. Dit was nie altyd vir my so lekker in ’n groot gesin nie omdat ek en my jonger sussie eintlik alleen was; ons was my ma se na-babas. Sy wou eintlik nie meer kinders gehad het nie en toe kom die twee glipsies. Die ouer kinders was amper vir my soos tannies gewees. Vandag is my oudste suster egter ’n baie goeie vriendin. Mens moet eers deur jou kinderjare kom om te besef hoe waardevol ’n groot gesin is. In daai dae was ons nogal skaam omdat ons so baie is. Van my skoolmaats het gedink dis verskriklik common dat ek uit ’n gesin van ses kinders kom; hulle het gesmaal daaroor. So iets maak mens nogal sensitief as kind. Eintlik het ek my kinderdae meer as ’n kleiner groepie ervaar, met ouer broers en susters vir wie ek baie lief geraak het, veral toe ek nou (soos hulle gesê het) nie meer ’n snotkop was nie. Tóé kon ek met hulle kuier.

Jou pa het vir die spoorweë gewerk en die grootste deel van jou lewe speel af in Pretoria waarheen hy verplaas is. Beskou jy jouself as n Pretorianer?

Ons het op twee plekke in Pretoria gewoon voordat ons na ons permanente woning getrek het. Ons het in Derdepoort op ’n plot gebly. Ek het nooit daai rondtrekkery beleef wat my ouers ervaar het nie. Hulle het letterlik op elke klein stasie gewoon, totdat hulle Pretoria toe verplaas is. Ek beskou myself as ’n Pretorianer in murg en been. Ek het geen behoefte om enige ander plek te woon nie, al reis ek hoe ekstensief. Pretoria is my hartsplek. 

Ek het in jou boek vir die eerste keer van ’n Commer-kar gehoor. Jou pa het vreemde motors gery en dit was vir jou nogal n ding. Vertel meer.

Eintlik het dit my nie gepla nie, totdat ek skool toe gegaan het. Toe ek vir my skoolvriende vertel my pa ry ’n kar met die naam Commer, het hulle my nie geglo nie, want niemand het ’n Commer gery nie. Iemand het dit gaan opkyk, teruggekom en gesê Betsie jok nie, daar is ’n ding soos ’n Commer. Dit was regtig die lelikste kar.

Dit het my bewus gemaak van lelike karre en ons volgende een, die Zephyr, was natuurlik die aakligste ding op vier wiele. Dit was rêrig ’n lelike motor wat jy nie kon miskyk nie. Ek’s eintlik dankie vader bly my pa het my nooit by die skool kom haal nie, want ek was vir daai kar so skaam. Ek wou net ietsie gehad het wat inblend. Dit hoef nie ’n fênsie Mercedes te gewees het nie, maar kan ons asseblief net ingeblend het by die res van die kinders met ’n gewone Valiant of ’n ding.

Snaaks genoeg, vandag is ek glad nie ’n karsnob nie. Maar op daai sensitiewe stadium in die skool het ek besef ons is eintlik common teen die ander kinders. Ons kom uit ’n groot familie, my ma brei my sokkies met die hand. Ek het ’n bokstas, die ander kinders het leertasse. Ek het oprygskoene, hulle bandjieskoene. Vandag is ek so skaam dat ek so gedink het, want ek het uitgestaan tussen die ander kinders. En die karre was beslis deel daarvan gewees.

Jou liefde vir vlieg kom ook uit jou kinderjare toe jy en jou neef Naas ’n vlieër met papier en meelgom gebou het. Is dit so?

Ek is mal oor vlieg. Wens ek kon nog steeds vlieg, maar mens moet soveel ure insit en jou gesondheid moet goed wees. In my eerste jaar wat ek oorsee begin reis het, het ek regtig lief geword vir vlieg . . . die idee van daai vlieër, ’n dun papierdingetjie wat daar bo vlieg, met sy vlerk wat so uitstaan en speel; ek het hierdie totale wens gehad om ook so in die lug te wees. Mikrovliegtuie was vir my relatief bekostigbaar en dis hoe ek hulle begin vlieg het. Baie jare later het die vliegtuigie met my neergestort en ek was amper dood, maar mens klim nie uit op ’n laagtepunt nie – you exit on a high. Toe het ek ’n groter enetjie gekry en nog ’n paar jaar gevlieg. As ’n vliegtuig vandag opstyg, dis soos ’n bedwelming, ek is so lus om daai stuurstok te vat. Ek is in my element as ek vlieg. 

In jou boek skryf jy ook hoe jy met ’n mik-en-druk-kamera begin fotos neem het. Vandag is jy n bekroonde wildlewefotograaf.

Wildlewefotografie is vir my ’n absolute passie. Saterdag het ek in Krugersdorp agter die witkruisarende gaan aanklim en my hele knie oopgeval van onfiksheid om ’n berg te moet klim. Maar ek hou van ekstreme fotografie. Deur die jare het ek altyd probeer fotografeer terwyl ons gereis het. En ons het baie gereis, veral in Suidoos-Asië. Ek hou daarvan om diere soos die orangoetangs, vreemde diere, af te neem. Ses jaar gelede toe my man en ek aftree, het ek eers die tyd gehad om ernstig wildlewefotografie te begin doen en het mettertyd die toerusting aangeskaf. ’n Wildlewefotograaf dra swaar. Eergister het ek 11 kg op my rug gedra, maar dis wat wildlewefotografie vereis. Ek is baie gelukkig om suksesvol te wees, dit hou my geweldig besig en die lekkerte is jy kom in die natuur. 

Kiekies speel ’n belangrike rol in jou lewensverhaal en is ’n deurlopende tema in die boek. Vertel meer oor die belangrikheid van jou komvandaan met kiekies.

My ma het altyd kiekies gehad en dit het my geïnteresseer. Van kleins af wou ek die kiekies sien en hoor wat my ma daaroor vertel. Sy het toe ook vir my haar kiekieblik en haar albums nagelaat. Dis vir my fassinerend om te sien hoe die oumense geleef het. Ek het die foto’s met ’n vergrootglas bekyk om te sien hoe hul knopies gelyk het, wat hulle op hul koppe gehad het. Hierdie fassinasie, saam met alles wat my pa my ook van sy kinderdae vertel het, het daartoe gelei dat ek uiteindelik ’n kultuurhistorikus, wie se bronne dikwels ou foto’s is, geword het.

Ek stel ook belang in my eie genetika, waar ek vandaan kom, wie was my ouma, wie was my oupagrootjie. As gevolg van die genetiese siektes in ons familie wou ek graag weet watter siekte my eendag gaan vang. Wat het daai oupa gevang en hierdie ouma, en wat kan my potensieel vang. So, kiekies het ingepas by my nostalgie oor die ou dae, maar het ook ingepas by my studie oor genealogie. Dit het veral vir my, wat nie noodwendig ryk grootgeword het met lekker stamboeke nie, waarde gegee om te weet waar ek vandaan kom. In die boek weeg ek die hele tyd die genealogie, die geen wat jy gekry het, op teen dit wat jy verwerf het, dit wat jy self besluit het. Op die einde is mens se lewe ’n kombinasie van daardie faktore.