Op die agterblad van Marinda se koskas (Human & Rousseau, R250) sê Margit verder mens voel nie bang om aan Marinda se kos te hap nie, al is dié kos baie mooi. “Kook is haar ding, maar haar resepte probeer nie beïndruk met fancy tricks en hoërgraadmetodes nie. Haar geregte spreek vanself: gemaklik, gul en vrek lekker. Ek voel gekoester aan haar tafel.”

SARIE se kosredakteur, Herman Lensing, sê agterop die boek hy is vir Marinda so lief soos vir sy eie ma. “Haar kos is eerlik en troos met elke hap, nes ’n ma se kos moet!”

 
 inspirasie, woorde

Wat my opgeval het toe ek deur Marinda se resepteboek blaai, is dat Margit en Herman raak beskrywings gee van wat ek sien. Die resepte is almal maklik om te maak en dis kuierkos wat jy sonder moeite kan voorsit. Jy hoef inderdaad nie ’n agtergrond in die kookkuns te hê of werklik bedrewe in die kombuis te wees om dié geregte op te tower nie. As ek hier klaar geskryf het, gaan ek die koue hok slaan met Marinda se aartappel-en-preisop. Klink vir my na net die regte ding om te eet op ’n ysige wintersdag in Pretoria!

Ek het per e-pos met Marinda oor kos en kook gesels.

Vertel kortliks waar jy vandaan kom, wat jou agtergrond is en hoe jou reis met kos begin het.

Ek het grootgeword op ’n plaas net buitekant Durbanville. Ek was bevoorreg om kos te kon eet wat vars uit die tuin of van die lande of wingerd gekom het, en wat in seisoen was. Winkels was ver en jy moes klaarkom met dit wat tot jou beskikking was.

Ek het ná skool onderwys en daarna drama studeer. Daar was nie vir my ’n definitiewe begin met kos nie. Dit was vir my deel van my lewe vandat ek my oë oopgemaak het. Ons het op my ma se formica-kombuistafel geleun met ons elmboë, gekyk wat sy doen en bakke uitgelek.

By my liewe ouma het ek gesien hoe patats blink, blink braai in ’n Hart-pot. Sy het op Melkbos gewoon en saam met haar het ons harders gaan koop by die skuite. Sjoe, ’n hardertjie oor die kole is koningskos.

Jy skryf in die voorwoord van jou boek jou kinderherinneringe het grootliks met kos te make. Vertel n paar staaltjies oor jou vroegste herinneringe.

Ons het nie grootgeword met volksvreemde kosse nie. Artisjokke, aspersies, kaviaar en sampioene was kos wat ek eers as volwasse jong vrou ontdek het. Ek sal nooit die eerste keer vergeet toe ’n artisjok voor my neergesit is nie. Ek het gedog dis ’n afstammeling van ’n ystervark (dié ken ek goed). Maar ek het my pose gehou en gekyk wat ander om die tafel doen.

As ons as kinders lus was vir lekkers en die winkel was ver, het ons boomgom gekou vir bubblegum en Eno’s en jellie gemeng vir sherbet.

Was daar iets waaraan jy as kind jou mond nie gesit het nie, en hoe het jou ma dit hanteer?

My ma het nie nonsens gevat nie. Jy eet wat voor jou op jou bord is, en jy eet dit op. (Jy kan mos sien hoe ek lyk, ek dra nou nog aan die nagevolge.) Ek het nie spinasie geëet nie, dan het ek dit onder die skorsie se skil weggesteek. Ek het selfs ’n gril op my lyf gehad vir sago. My ma-hulle het gepraat van padda-ogies en ek het dit geglo. Die gedagte aan ’n padda-ogie in my mond het nie goed afgegaan nie.

Wat is jou persoonlike kosfilosofie? 

Liefde is die beste bestanddeel in kos. As jy met liefde kook, dan kan niks sleg smaak nie. Mense proe liefde in kos.

Hoe het jou deelname aan Kokkedoor jou lewe verander?  

Dit het my lewe radikaal verander. Die ervaring het my meer selfvertroue gegee om uit my gemaksone te beweeg. Ek het nooit aan wen gedink nie. Dit was net so lekker.

Onder een van die fotos in jou boek staan: “Met kos kan mens troos en feesvier.” Wat is jou beste trooskos en met watter gereg wil jy feesvier? 

My trooskos is bobotie met gewone witrys en Mrs. Balls chutney. Ek het eers later in my lewe geleer van tzatziki, sambals en poppadums wat jy saam met kerrie kan eet. Dit maak van bobotie ’n bruid!

My feeskos is beslis beesstert wat stadig in Old Brown Sherry gaargemaak is. Daar moet klein uitjies, aartappeltjies en wortels in wees. Ek kan myself ophang aan beesstert. Ons het gepraat van lepelkos: Kos waar jy nie ’n mes en vurk nodig het nie. Jy kan eet met ’n lepel of met jou hand.

Het jy resepteboeke en kook jy daaruit? En vra jy ander mense maklik vir resepte?

Ek het beslis resepteboeke en Kook en Geniet is my handleiding tot alles wat ek wil weet. Ek glo elke resep het ’n oorsprong en ’n storie. Waar het dit begin en hoekom is dit die eerste keer gemaak. Ek lees kookboeke soos storieboeke en klim graag in my bed met een. Raad vra ek maklik en my resepte deel ek met ’n ruim hart met ander.

Het jy n kosheld? 

My kosheld is ’n fiktiewe karakter. Sy kook soos ek kook: Met die beste wat tot ons beskikking is en ons hou nie terug nie; ons kook in oordaad. Sy is Babette van Babette’s Feast.

In jou boek skryf jy growwe beskuit laat mens minder skuldig voel, want dis goed vir jou. Voel jy ooit skuldig oor kos en eet?

Uit die aard van my werk moet ek baie proe. Gedurende die week probeer ek gesonder keuses maak. Oor naweke gooi ek los sonder brieke. ’n Mens mag nooit skuldig voel oor kos nie. Kos het nie sonde nie.

Watter retro-resep uit jou verlede is n staatmaker en iets wat eintlik weer kosmode is?

My ma se gestolde tunaring. Dit bly diep lekker. Ek maak dit in mooi klein houertjies en sit dit voor met melba-toast.

Was daar n gas op jou program, Maklik met Marinda, wat totaal niks van kosmaak geweet het nie? En hoe hanteer jy so iemand?

Mens praat nie uit ’n kombuis of ’n slaapkamer nie! Dit was nie iets wat ek moes hanteer het nie, die gaste was juis daar om te leer. Ek dink my onderwysagtergrond het gemaak dat ek geduldig was. En dan los ’n glasie wyn ook baie probleme op.

Lekkerste wenk wat jy al ooit by n TV-gas gekry het?

Sorg dat die wyn altyd koud is.

Jy lyk altyd so gelukkig. Is jy iemand wat mens as n happy soul kan bestempel?

Ek wil myself graag so sien. Vir my is ’n glas halfvol, no pun intended. As jy wag vir ander mense om jou gelukkig te maak, gaan jy baie lank wag. Ons het een lewe. Leef dit lig en met ’n sagte oog teenoor ander. 

As jy vir n wêreldbekende kon kook, wie sal dit wees en wat sal jy vir die persoon wil kook?

Kan dit nie maar vir ’n plaaslike persoon wees nie? Covid maak dat ek nie gou vir iemand oorsee kan kook nie. Ek sou vreeslik graag vir oudpresident Mandela wou kook – sy geliefde stamp-en-stoot met afval. Ek weet hy het daarvan gehou. Dan sou ek malvapoeding met vla vir soetigheid voorgesit het. Hy was nie ’n lyntjie-en-skuimpie-eter nie. Hy het van kos, soos in kos, gehou. Ek sou graag by hom meer wou leer oor vergewensgesindheid.

Waarsonder kan jy nie in die kombuis klaarkom nie? 

Suurlemoene, botter, tamaties, knoffel en ’n skerp mes.

Het jy al n totale flop in die kombuis gehad, so erg dat dit absoluut oneetbaar was?

Soos jy ouer raak, leer jy om daai floppie vinnig in iets anders om te tower. My raad aan jongmense is altyd om deurentyd aan jou kos te proe. As jy daarvan hou, behoort jou gaste ook daarvan te hou. Floppies inspireer weer ’n nuwe gereg.

Is jy gemaklik om voor mense op te tree, of moet jy goed voorberei?

As mense die moeite doen om my vir ’n geselligheid te bespreek, hanteer ek dit met die grootste respek. Ek berei goed voor en doen deeglik navorsing. Maar die oomblik wat ek voor die gehoor staan, los ek my notas en praat uit my hart uit, want dan is dit wat ek die vorige dag in my kop gebêre het, reeds in my hart.

Ek sien in die resepte in jou boek jy vat kortpaaie met bestanddele wat klaargemaak is, soos deeg en kitssop. Wat wil jy vir puriste sê oor kortpaaie in die kombuis?

Hoekom die wiel herontwerp? Bestee die tyd liewers saam met jou familie of vriende om ’n tafel.

Reis jy graag en na watter bestemming sal jy wil reis spesifiek vir die koservaring? 

Dit is ’n wonderlike ervaring om ander lande se kos te kan proe, so verryk jy jouself; dis soos die kosuniversiteit van die lewe. Ek sou graag na Italië wou reis en aan hul kos smul. Nie in restaurante nie, maar aan huis van plaaslike inwoners. Daar is niks wat kom by eerlike kos wat met vars produkte gemaak is nie.