“Wanneer ’n ma oor haar eie lewe ’n brief aan haar dogter skryf, moet sy dit in die taal van haar hart doen. So eenvoudig soos dit.”

Marita en Mia, haar dogter aan wie sy dié lang brief geskryf het. Foto: Verskaf

Só sê Marita van der Vyver oor ’n Baie lang brief aan my dogter, wat sy in Afrikaans aan haar Franse dogter, Mia, geskryf het. Dié memoires oor haar jeugjare wou sy nie in Engels of Frans, die tale van haar verstand, skryf nie, verduidelik sy. Dis ’n outydse brief uit haar hart en daarvoor moes sy haar moedertaal inspan. Toe sy boonop begin skryf, het sy besef die mededelings is nie net vir haar dogter bedoel nie; dis ook vir die mense van haar geboorteland, almal wat Afrikaans magtig is.

Marita se “briefskrywery” kom al ’n lang pad. Sy het immers haar hele wraakroman, Dis koue kos, skat, tong in die kies in briefvorm geskryf. “In baie van my boeke speel minstens een of twee briewe ’n rol. In Die blou van onthou is daar briewe tussen ’n ouma en haar kleindogter en in Grensgeval draai die hele storie om ’n brief wat in Kuba afgelewer moet word. Vir my was dit amper vanselfsprekend as ek met my dogter wil praat, maar ook wyer, dan is ’n brief iets tussen die verskriklike rou privaatheid van ’n dagboekstem en die meer formele geredigeerde boekstem wat vir duisende mense bedoel is. ’n Briefstem is die naaste wat ek as skrywer aan ’n praatstem kan kom.”

Haar terugblik is meesleurend en sy skyn vanuit ’n persoonlike perspektief ’n lig op die gebeure en mense wat haar lewe help vorm het. En ja, beaam sy, dis ook vir haar ’n manier om sin van haar eie verlede te maak.

SARIE-boekeredakteur Phyllis Green het met Marita van der Vyver gepraat oor haar nuwe boek, ’n Baie lang brief aan my dogter (Tafelberg, R330).

Jy dra die boek op aan Harry Kalmer en Ryk Hattingh. Het hul dood, sowel as die Covid-19-pandemie, jou anders laat kyk na die lewe?

As mens 50 geslaan het, besef jy onvermydelik die pad wat voor jou lê, is korter as die een wat jy reeds afgelê het. Jy raak meer bewus van jou sterflikheid. Hulle begin in jou bos kap, soos die oumense gesê het. Jou vriende en tydgenote gaan dood, nie net in motorongelukke of weens selfdood nie, maar ook van ouderdomsverwante siektes. Beide Ryk en Harry se dood het dit net weer ernstig onder my aandag gebring. Ek sou so graag nog meer wou lees van wat hulle sou skryf. Dit het my laat vra wat daar is wat ek graag nog sou wou geskryf het as ek môre moet doodgaan. Die antwoord het uitgekom in dié vorm van die baie lang brief aan my dogter.Die Covid-pandemie maak dat ons almal die afgelope jaar lank lewe met die dood wat oor ons skouers loer. Ons moet daarmee saamlewe. My boek was ’n poging om dit te doen, om miskien my eie dood in die oë te kyk en nie noodwendig ’n negatiewe ervaring daarvan te maak nie, maar om by dankbaarheid uit te kom. En regtigwaar te besef die tyd wat oorbly, moet jy na die beste van jou vermoë gebruik.

 

Waarom die brief aan jou dogter in boekvorm publiseer, eerder as net ’n private gesprek tussen julle?

Toe ek begin dink het om die brief aan my dogter te skryf, het ek besef daar’s baie dinge wat ek eintlik vir meer mense as my dogter wil sê. ’n Verantwoording doen aan die volgende geslag; elke geslag lewe in ’n ander wêreld as die vorige een. Selfs al maak jy jou kinders in Suid-Afrika groot, dis nie dieselfde Suid-Afrika waarin jy grootgeword het nie. Jóú Suid-Afrika is die Suid-Afrika van die verlede. My kind word letterlik in ’n ander land, ’n ander taal en in ander kulturele omstandighede groot. Ek dink elke geslag is dit aan die volgende geslag verskuldig om die verlede te verduidelik. Dis net as ons die verlede begin verstaan dat ons met ’n bietjie meer vertroue vorentoe kan stap.

In die brief praat jy oor jou jeugdrome, en hoe nie alles waar geword het nie. Is jy spyt oor dinge wat nie uitgewerk het nie?

Daar’s baie dinge wat nie uitgewerk het soos ek gedroom het nie. Maar wat help dit jy slaan op jou bors. Ons moet die beste maak van wat ons wel het. Terwyl ek geskryf het, was ek oor en oor dankbaar vir die stukkies drome wat op skewe maniere waar geword het.

Jy skryf oor die sondes van die vaders, iets wat ons tydgenote geërf het en van jou dogter wat in die era van Black Lives Matter lewe. Voel jy nog skuldig oor wat in ons land se verlede lê?

Ek voel beslis skuldig oor die tyd waarin ek grootgeword het. Ek wil nie hê die jonger geslag moet skuldig voel daaroor nie. Eintlik wil ek hê niemand moet skuldig voel nie, want skuld is ’n verlammende gevoel waaruit jy niks kan voortbring nie. Wat ek graag sou wou hê, is ’n soort erkenning van bevoorregting. Dis ’n sensitiewe onderwerp onder Afrikaanse lesers en voordat enigiemand my aanval, lees eers die boek sodat jy kan sien wat ek sê voordat jy op jou perdjie spring. Ek probeer dit juis sensitief aanpak om te sê, kom ons luister na mekaar, kom ons praat met mekaar.

 

Jy vertel hoe ’n groot rol boeke in jou en jou dogter se lewe speel. Dink jy boeke is op spesifieke tye op jou pad gelê en dat die insig wat jy daardeur gekry het jou as mens help vorm het?

Ek glo aan die magic wat gebeur wanneer die regte mense en die regte boeke op die regte oomblik by mekaar uitkom. Dis wat lees fantasties maak. Daar’s beslis boeke wat op my pad gelê is: Daardie wonderlike stel Kinders van die Wêreld wat ’n reislus en ’n nuuskierigheid op ’n jong ouderdom in my aangewakker het. Dis lekker om daarna terug te kyk. Danksy die wonderwerk van vertaling kon ek en my dogter soms dieselfde boeke lees wat vir ons op verskillende maniere baie beteken het.

 

Hoe het jou leessmaak deur die jare verander en waarom lees jy so verwoed baie?

Ek glimlag altyd as ek lees, she doesn’t suffer fools gladly – eintlik net ’n eufemisme vir “sy is ’n bedonnerde tannie”. Ek glo in my alledaagse lewe is ek nie ’n bedonnerde tannie nie. Ek’s baie verdraagsaam teenoor mense, veral oor wat hulle lees. Elke diertjie het sy plesiertjie en enige leesplesiertjie is steeds vir my verkieslik bo enige ander plesiertjies. Ek kyk nooit neer op ander se leesplesier nie. In my jong dae het ek soetsappige liefdesverhale gelees wat ek glad nie meer kan lees nie omdat dit nie goed genoeg geskryf is nie. Boeke moet goed geskryf wees, of dit ’n liefdesverhaal, speurroman of hoë letterkunde is. As boeke nie geskryf is op ’n vlak wat my bevredig nie, kan ek dit nie lees nie. Dis so eenvoudig soos dit.Lees is ’n absolute wonderlike verslawing waarsonder ek nie kan lewe nie. Hoe meer ek lees, hoe meer wil ek lees. Daar’s altyd nuwe boeke om te ontdek.

“En jou huis – vra maar vir jou ma – is nie Parys of Londen of Kaapstad nie. Jou huis is waar op aarde jou hart ook al is.” – bl. 27 Wil jy meer hieroor sê?

Die Portugese skrywer Fernando Pessoa het gesê sy enigste tuiste is in sy taal. Sy werk beteken vir my baie en sy liefde vir sy taal het my altyd aangetrek. Hoe langer ek ver weg van my wortels af in ’n ander land bly, hoe meer hartstogtelik lief word ek vir my taal en hoe minder vervreemd voel ek in die vreemde, want ek het die taal waarin ek kan skryf. Al is ek die enigste mens wat nog daai taal kan skryf en praat, bly dit vir my waar my hart is. Én my tuiste bly my taal. Op ’n manier gee ek vir my dogter die troos, dit maak nie eintlik saak waar jy gebore is nie. Jy kan kies in watter land jy eendag wil woon.

 

Jy put uit jou eie lewe vir die karakters in jou romans en gebruik gebeure uit jou eie lewe as motivering vir hul optrede. Is dit ’n manier om sin van gebeure in jou eie lewe te maak?

Beslis. Vir baie fiksieskrywers is die fiksie wat ons skryf ’n manier om sin te maak van niefiktiewe dinge wat met ons en mense om ons gebeur. Philip Roth word in sy outobiografie, The Facts, deur die karakter Zuckerman (’n alter ego wat hy geskep het) aangeval. Zuckerman vra hoe is dit moontlik dat alles wat Roth in sy outobiografie skryf so sin maak, terwyl 99% van wat met mense gebeur eintlik sinloos is. Dis ’n sonde waarvan Roth deur sy eie karakter beskuldig word. Ek dink die meeste skrywers is skuldig aan daai sonde om altyd sin van alles te probeer maak. In my brief het ek plek gemaak vir randomness, vir dinge wat gebeur het waarvan ek nie noodwendig sin maak nie. Dit het net gebeur. Dis ook wat die lewe is.

 

Hoe belangrik is dit om deel van ’n tribe te wees?

Dis ’n diep menslike behoefte wat van ons beter mense maak, omdat ons nie net vir onsself lewe nie, maar ook vir die mense van ons tribe. Dit kan natuurlik ook ’n gevaarlike behoefte wees, want dikwels is die tribe nasionalisties en patrioties en kan dit oorloë en ander xenofobiese gebeure veroorsaak. Ek probeer dit breër sien as nie net die klein kring waarin jy gebore is nie. Soos jy ouer word, kies jy jou eie tribe, die mense wat soos jy dink. In my geval is dit baie beslis lesers. Mense wat veral wyd fiksie lees se verbeelding word geprikkel én dit leer jou empatie met ander mense en dit hou jou kop oop vir nuwe gedagtes. Miskien moet ek sê fiksielesers is my tribe. Belangrik is my tribe moet oopkop wees, en nie vashaak in die geloof dat hulle reg is nie. En hulle moet aanhou lees.

 

In die gesprekke tussen jou en jou dogter is daar sommige dinge waaroor julle nie van aangesig tot aangesig praat nie. Sy los wel haar dagboek êrens waar jy dit onder oë kry. Vertel meer.

Ek’s gelukkig om ’n openhartige verhouding met my dogter te hê van kleins af. Ons kan nou nog omtrent oor enigiets op aarde gesels. Maar geen ma moet haarself ooit vertel dat haar kinders met haar oor absoluut alles sal gesels nie. Ek dink nie dit bestaan nie, want soms wil jou kinders jou beskerm teen iets wat jou gaan seermaak. Daar’s baie redes. Ons was almal in ’n situasie waar jy vir ’n geliefde iets wil sê, maar jy weet dit gaan jou seermaak om dit te sê en dit gaan die geliefde seermaak om dit te hoor. Die versoeking om stil te bly is dan baie groot. As kommunikasie belangrik is, dan is die enigste moontlikheid eintlik om dit op skrif te stel. Dan hoef jy nie in die geliefde se oë te kyk terwyl die geliefde jou woorde lees nie. Dis iets wat my dogter op ’n vroeë ouderdom met haar dagboek agtergekom het. ’n Paar keer het sy iets in haar dagboek geskryf wat sy wou gehad het ek moes lees, maar nie geweet hoe om dit te sê nie. Dan het sy die dagboek op ’n plek laat lê waar dit glad nie veronderstel is om te lê nie, oop op ’n spesifieke plek, asof dit ’n uitnodiging is: Ma, lees my. Dan het ek dit gelees en net vir haar ’n foto of ’n veer op die bladsy gelos sodat sy geweet het ek was daar sonder dat ons daaroor gepraat het. Nou die dag het ons toevallig daaroor gepraat. Toe ek vra of sy onthou, het sy gesê ja, dit was maar haar manier.

 

Jy wou altyd ’n skrywer wees, maar jy skryf dat jy agtergekom het die meeste kinders weet eintlik glad nie wat hulle eendag wil word nie. Jou ma wou altyd ’n verpleegster wees en sy was ook een. Het haar voorbeeld jou gehelp om jou droom te realiseer?

My ma wou van kleins af ’n verpleegster word en sy het lewenslank groot bevrediging geput uit dié werk. Toe ons klein kinders was, was dit nie prakties vir haar om in verpleegkunde te werk nie. Sy moes ander werke doen, maar sy het later teruggekeer na verpleging en selfs verder studeer. Toe ek van kleins af ’n skrywer wou word, het ek gedink dis normaal. Vir lank het ek nie die moed gehad om dit vir ander mense te sê nie, omdat niemand in my familie skrywers is nie. Ek het nie een lewende skrywer geken nie, nog nooit een gesien nie, so waar kom dit vandaan? Dit sou belaglik gevoel het om te sê ek wil ’n skrywer word. Eers toe ek self ma geword het, was ek verras, selfs geskok, om agter te kom my kinders en hul maats het nie ’n clue van wat hulle wil word nie en dat hulle eers later hul paadjies vind as hulle gelukkig genoeg is. My ma se voorbeeld het my miskien nie noodwendig gehelp nie, maar het my laat dink dis hoe dit werk. Jy weet wat jy wil word en jy word dit. Jy het ’n roeping wat jy eers later besef hoe skaars dit is. Ek’s so dankbaar ek het daardie roeping gevoel.

 

“Maar nou is dit te laat. Weemoed, melankolie, woe, het deel van my geaardheid geword.” – bl. 98. Wei uit asb.

Melankolie is vir my ’n manier van wees. My ma het altyd vir my die versie van Wednesday’s child is a child of woe aangehaal. Ek het aanvaar ek’s op ’n Woensdag gebore. Miskien was sy deurmekaar met die dag waarop ek gebore is, of dalk was ek so hartseer dogtertjie dat sy dit gesê het om my te troos. Ek het eers taamlik onlangs uitgevind ek’s op ’n Dinsdag gebore toe ek op die internet na ’n almanak van my geboortejaar gesoek het. Toe’s dit nogal ’n skok! Eintlik is ek ’n Tuesday’s child, full of grace. Nie dat ek altyd baie grasieus voel nie. Ek skryf oor hoe ek geleidelik die verskil tussen melankolie en sentimentaliteit agtergekom het. Die een is iets waaroor ek nie skaam is nie, maar die sentimentaliteit van my tienerjare en die soetsappige boeke wat ek gelees het en die flieks wat my laat huil het, het later ’n verleentheid geword. Maar die sentimentaliteit en soetsappigheid is normaal as jy ’n kind is. Baie mense haak lewenslank vas daaraan. Met my het die soetsappigheid oorgeskuif na ’n tipe melankolie, amper soos die Portugese fado en saudade. Dis ’n state of being, ’n verlange na dinge waarop jy nie altyd jou vinger kan lê nie.

 

Jy is ’n bekroonde skrywer wie se werk wyd gelees word. Tog skryf jy jy is “’n onseker ervare skrywer”. Waarom voel jy so oor jou skryfwerk?

Dit is iets waaroor ek nie meer vrae vra nie. Ek probeer deesdae my onsekerheid net benut om beter te skryf. As jy té seker van jouself raak as skrywer, kan dit gevaarlik wees, want mense wat baie seker is van enigiets in die lewe, is eintlik wat my betref dom of verwaand of narsisties of wat ook al. Vir my is onsekerheid eerder iets waarna ek strewe. Soms kan dit verlammend raak. Jy moet die balans handhaaf, en soos ’n koorddanser op daai tou kan stap tussen onsekerheid wat jou heeltemal onkapabel maak, en ’n gesonde onsekerheid wat jou laat strewe om beter te doen. Jy gaan nooit tevrede wees met wat jy gedoen het nie, maar ek klou aan daai gesonde onsekerheid vas.

In ’n sekere mate kan memoires as ’n lewensreis beskryf word. Dit bring my by reis. Wat van onbekende bestemmings bekoor jou? En verduidelik die twee toestande, fernweh en heimweh, waarna jy verwys.

Ek sou miskien Reisiger as ’n titel kon gebruik vir my memoires, maar dis ongelukkig reeds gebruik deur Elsa Joubert, wie ek te veel bewonder om eens te probeer naboots. Alles het begin by daai Kinders van die Wêreld-boeke wat my so bekoor het en ’n nuuskierigheid in my aangesteek het oor vreemde plekke en mense wat anders as ek is. Hoe meer ek reis, hoe meer wíl ek reis. Nou tydens die pandemie is dit verskriklik erg, dis een van die baie hartseer dinge van Covid dat mens nie kan reis nie. Ek probeer myself nie daaroor bejammer nie, want daar’s erger dinge wat Covid vir baie mense beteken.Oor fernweh en heimweh ... fernweh is die moderne Duitse woord vir wanderlust, die woord wat almal deesdae gebruik vir die lus om te reis – vir jeukende voete. Fernweh is mooier omdat dit ’n weemoed vir die verte is, ’n verlange na die verte waaraan ek ly. Ek het ’n lewenslange reisiger geword en verlang altyd na die plekke waar ek nog nie was nie. Dan’s daar heimweh, heimwee in Afrikaans. Dis ’n verlange na jou huis, jou heimat. Omdat ek vir so lank so ver van my geboortehuis en my geboorteplek af leef, is heimwee altyd deel van my gemoedstoestand. Ek lewe tussen fernweh en heimweh, soos ’n koorddanser wat op ’n tou moet stap. Die tema, dat ons moet leer om te balanseer, kom oor en oor uit in my brief aan my dogter. Ons stap tussen verskillende toestande en raak baie bekwame koorddansers.

 

Ek het lekker gelag oor jou beskrywing van die Franse en hul bewonderenswaardige eienskappe, maar dat “klagtes, stakings en ipekonders nou eenmaal nasionale stokperdjies” bly. Hoe moeilik is dit om nie jou oë te rol daarvoor nie?

Dis onmoontlik om nie my oë te rol vir ipekonders nie, want ek het met ’n verpleegster-ma grootgeword wat geen geduld daarmee gehad het nie. Ek kon nie soos ander kinders maak of ek skoolsiek is nie. Sy het my een kyk gegee en uit die bed gejaag en gemaan daar’s baie kinders in die hospitaal wat smag om skool toe te gaan, kry jou stert by die skool. Dis een van die vreemde verrassings van toe ek self ma geword het dat ek besef het ek het nie geduld met ipekonders nie en dat die ironiese noodlot my toe in ’n land soos Frankryk laat beland het waar almal om my vreeslik lief is vir ipekonders. Partykeer rol ek my oë en glimlag en dit amuseer my ook hoe ’n mens dinge van jou ma voordra. My ma is lankal dood. Ek het my kinders grootgemaak met dieselfde vat-nie-nonsens-van-ipekonders-houding van my ma. Dit was net moeiliker in Frankryk. As ek weet die kinders is nie regtig siek nie en hulle skool toe stuur, het die skoolverpleegster my gebel en gesê ek moet hulle kom haal [lag]. Hulle kon die skoolverpleegster makliker oortuig as vir my. Dan moes ek hulle maar gaan haal. So moes ek leer met die Franse stelsel saam.

Verduidelik oor die “Red Marita Van Te Veel Dink”-veldtog. Dink en wroeg jy steeds vandag te veel?

Ek was ’n baie angstige kind met baie kompulsief-obsessiewe neigings. Dit het my ouers so bekommer dat hulle die revolusionêre stap gedoen het om my na ’n kindersielkundige toe te neem. Ons praat van die jare sestigs in die noordelike suburbs van Kaapstad. Ek het geen ander mens van enige ouderdom geken wat die binnekant van ’n sielkundige se spreekkamer gesien het nie. Dis baie anders as deesdae, waar baie kinders en omtrent die meeste volwassenes al by sielkundiges was. Dit was net nóg iets wat my anders laat voel het. Ek het dit geheim gehou. Ek wou beslis nie vir my skoolmaats sê dat ek ’n sielkundige sien nie. Maar die sielkundige het vir my ouers verduidelik ek moet besig gehou word, so besig dat ek nie veel tyd het om te veel te dink nie. Dan sal ek minder angstig wees, daar sal nie tyd wees vir angsaanvalle en al die kompulsief-obsessiewe neigings nie. Dis waarna ek spottenderwys as “Die Red Marita Van Te Veel Dink”-veldtog verwys. Ek moes leer fietsry, balletklasse neem en Voortrekkers en Kinderkrans bywoon. Die hele dag is net eenvoudig ingedeel in besige dinge. Vandag glimlag ek daaroor. Deesdae word kinders te veel besig gehou. Soms moet kinders kans kry om te kan droom en om te kan rondloop en hulle te kan verbeel. Toe ek klein was, het ek miskien te veel tyd gehad om te droom en te dink en bang geword en angsaanvalle gekry. Die Red Marita-veldtog het tog op ’n manier vir ’n paar jaar gehelp. Mens kan natuurlik nie jou geaardheid verander nie. Ek is steeds geneig om te diep te dink en te veel te wroeg, maar het ander maniere gekry om dit te hanteer, soos joga wat ek al langer as ’n kwarteeu doen. Joga-asemhaling help as die angsaanvalle kom en ek nie kan slaap nie en so.

Kan ons praat oor kulturele toeëiening omdat dit deesdae so ’n belangrike rol speel in skrywers se loopbane. Wat is jou persoonlike mening hieroor?

Dis ’n komplekse kwessie en ek sal verkies as lesers in die boek lees wat ek daaroor skryf. Die sensitiewe onderwerp is moeilik om op te som in twee sinne. Ek kan probeer om ’n deeltjie uit te lig: Vroue, die groep waartoe ek behoort, is ’n gedomineerde groep wat dit vir honderde jare nie kon regkry om te skryf soos mans nie en dit was vir vroue baie moeiliker om te publiseer. Tog was daar mans wat wonderlike boeke oor vroue geskryf het, cultural appropriation-boeke soos Anna Karenina van Tolstoi of Flaubert se Madame Bovary wat ek spesifiek noem en baie ander. Die afgelope eeu is daar al hoe meer vroue wat hul eie stories skryf. Dis wonderlik en ek’s verskriklik bly daaroor. Goddank mans word nie verbied om vrouestories te skryf nie, want hulle kan ook baie goeie vrouestories skryf. My hoop vir die toekoms is dat daar soveel mense van voorheen kultureel gedomineerde groepe is wat hul eie stories vertel dat dit nie meer ’n bedreiging sal wees as die dominante groep óók die stories vertel nie. Dis een deel van hoe ek daaroor voel. Ja, ons moet meer swart mense kry wat hul stories skryf, maar ons moet asseblief tog nie by ’n punt kom waar wit skrywers nie meer ’n swart karakter se lewe mag beskryf nie. Dit kan natuurlik net gebeur as daar genoeg swart stories gepubliseer word. Dit sal dalk nog ’n hele ruk vat, maar ons gaan uitkom by ’n plek waar ons nie meer vir mekaar ’n bedreiging hoef te wees met die stories wat ons skryf nie.

 

Die verlede is eintlik net ’n voorspel vir die hede, of soos jy dit voor in jou boek aanhaal in die woorde van Shakespeare: Whats past is prologue. Is dit hoe jy oor jou lewe voel?

Ek is mal oor dié aanhaling uit my voorgeskrewe drama in my matriekjaar. Tydens die skryfproses het ek elke dag besef die verlede bepaal ons toekoms. Tog het mens steeds die keuse hoe jy jou hede aanpak. Dít wil ek nie net vir my dogter nie, maar vir alle jong lesers graag op die hart druk: Die Covid-pandemie is nie iets wat enigeen van ons sou kies met ons moet gebeur nie. Dis absoluut aaklig, maar ons moet dit na die beste van ons vermoë hanteer. Een manier waarmee ek nare dinge probeer hanteer, is om te dink dit kon erger gewees het. In my eerste volwasse roman, Griet skryf, het ek dit spottend gedoen met ’n hele relaas oor hoe erg dinge eintlik kon gewees het. Maar op ’n meer ernstige manier help dit ook. Ek dink deesdae gereeld aan die Tweede Wêreldoorlog, want hier in Frankryk is dit nog ’n lewende herinnering. Op elke dorp is daar monumente, selfs die kleinste dorpie, met lang lyste name van almal wat dood is. Tagtig jaar gelede is mense se lewens vir ses jaar lank omvergegooi. Niemand het dit gekies nie, niemand wou dit gehad het nie. Jy kan sê ’n hele hoërskool- of universiteitsloopbaan is daarmee heen ... Dit was soveel groter ontwrigting as ’n pandemie. Jy kon letterlik jou huis verloor, gebombardeer word, jou hele familie kon om jou doodgaan. Dit was baie, baie erger en mense het dit oorleef. Nie omdat hulle dit gekies het nie, maar omdat hulle die beste daarvan moes maak. So, dis een van my maniere wat my help om deur die pandemie te kom, om net vir myself te sê, kyk, Marita, dit kon erger gewees het.

Die boek gaan hoofsaaklik oor jou jeugjare. Beteken dit ons kan uitsien na ’n volgende aflewering waarin jy oor jou later jare skryf?

Ek lag, want almal wat die boek voor publikasie gelees het, het dieselfde vraag gevra. Dis vleiend om dit te hoor, maar ek kan eerlikwaar nie die vraag beantwoord nie. Ek sal moet sien of ek dapper genoeg is. Dít sê ek nie ligtelik nie. Dit het geweldige dapperheid geverg om dié een te skryf. Dis vir my moeiliker as fiksie, want ek kan nie wegkruip agter vals name of wat ook al nie. Ek skryf oor mense na aan my en oor mense wat nog lewe en dis baie moeilik. Weer eens, dis daai koord waarop jy loop. Om so eerlik as moontlik te wees en te besef jy kan mense dalk seer maak. Ek kon dit doen oor my jeugjare omdat dit nou baie ver van my weg is. Soms voel ek steeds 17 jaar oud ... As ek ’n volgende boek moet skryf én miskien nog een – ’n drieluik – sal dit al hoe nader kom aan waar ek nou in ware tyd is en dus moeiliker raak. Al hoe meer mense wat steeds deel van my lewe is, moet onvermydelik betrokke raak. Dis alles dinge waaroor ek nog wroeg op my “Red Marita Van Te Veel Dink”-manier. So, ek weet nie. Ons sal maar moet sien, soos die Franse sê, que sera sera.