Juliana Coetzer dra haar jongste boek, Die kind se naam is Anneke (Human & Rousseau, R275), op aan haar vriendin Martie. Hulle het mekaar meer as twintig jaar gelede by ’n ondersteuningsgroep vir ma’s ontmoet en hul “onmiddellike konneksie is gebore uit ’n wedersydse behoefte aan ’n vriendin wat werklik verstaan en sonder veroordeling luister” (bl. 55). Juliana se dogter, Anneke, het ’n aftakelende siekte nadat sy as sewejarige ’n waterpokkie-virus in haar brein gekry het. Martie, weer, het ’n dogtertjie aan die dood afgestaan. In ’n onderhoud met Juliana vertel sy hoe sy en Martie saam ’n pad van selfkennis en selfaanvaarding begin loop het. “Jy kan nie daai pad alleen stap nie. Jy het ’n getuie in jou lewe nodig wat validate wat jy sê, sien en ervaar. Veral om vir iemand te kan sê, ek het hierdie donkerte in my, en die persoon kyk sonder enige oordeel na jou en aanvaar dit. Dis die waarde van ons vriendskap.”

Anneke se siekte tas haar brein aan en sy gaan stelselmatig agteruit. Lesers het kennis gemaak met haar storie in Bloedvreemd, die eerste boek waarin Juliana oor hierdie traumatiese ervaring van haar en haar gesin geskryf het. In die boek vertel sy met skreiende eerlikheid en op ’n empatiese manier wat die impak van Anneke se siekte op dié gesin se lewe is. Hoe moeilik dit was om vrede te maak dat haar dogter nooit ooit haar volle potensiaal sal bereik nie, dat haar sterk, onafhanklike kind se brein onafwendbaar aan die kwyn is.

Juliana verduidelik dis hoeka Martie wat haar aanvanklik gehelp het om meer sin te maak van hoe die Coetzers se lewe met Anneke is. “Martie het op ’n dag Welkom in Holland, ’n storie deur Emily Kingsley wie se seun met Downsindroom gebore is, aan my gegee. Emily skryf om ’n kind te verwag is soos om vir ’n reis na Italië te beplan. Jy’s opgewonde, pak jou tasse, leer selfs ’n paar sinne in Italiaans. Jy klim op die vliegtuig en wanneer julle land, dan sê die lugwaardin: ‘Welkom in Holland.’ As jy vra hoekom is jy hier, dis nie waar jy wil wees nie en jy is nie voorbereid vir Holland nie, antwoord sy dat jy nie ’n keuse het nie – dit is waar jy is en jy moet daar bly. Aanvanklik murmureer jy en jy is kwaad omdat jy in Holland is terwyl jy eintlik in Italië wil wees. Dan sien jy op ’n dag skielik die tulpe raak, ook die museums, en ervaar die kaas – dan besef jy Holland is goed genoeg. Jy is tevrede om daar te wees. Dit is ook ons verhaal. Jy kan beplan soos jy wil, maar die lewe gebeur soos dit gebeur.”

Vir die Coetzers is beplanning nie ’n opsie nie, want met Anneke se siekte is alles onvoorspelbaar. Daar’s geen waarskuwing oor wanneer sy ’n epileptiese aanval of ’n uitbarsting gaan kry nie. “Ons wing dinge. Ten spyte van omstandighede het ons Anneke onafhanklik grootgemaak, want dis wat sy verwag. Sy het selfs in die kombuis van ’n bewaarskool gewerk en haar eie geld verdien. Sy doen haar eie inkopies, maak haar eie koffie en tee. Onafhanklikheid is ’n sterk behoefte by Anneke, sy het met ’n sterk wil in die wêreld gekom. Haar onafhanklikheid is iets wat ons nooit van haar wil wegvat nie, al is dit deesdae beperk. Die siekte takel haar af en omdat sy so vreesloos is, wil ek nie hê sy moet vrese aanleer nie. Ons is versigtig in sekere situasies, maar Anneke is nie ’n slagoffer nie.”

 

Die kind se naam is Anneke is die opvolg op Bloedvreemd. Dit moes aan jou gevat het om so ’n diep persoonlike verhaal te skryf. Was dit dié keer vir jou effens makliker en meer natuurlik? 

Dit het natuurliker gekom en was ook makliker. Bloedvreemd was moeilik om ’n ander rede, nie noodwendig omdat ek moes teruggaan na die herinneringe van ons lewe nie. Ek het geweet as ek dié verhaal skryf, moet ek die waarheid praat. Ek sal moet sê wat regtig binne my aangegaan het. Dit het my met elke sin laat wroeg oor wat mense daarvan gaan maak. Daar was goed wat ek gedink het ek eerder nie moet sê nie, maar dan skryf ek dit met die hoop dat ek genadiglik nie gekruisig sal word nie. Dit was vir my die verrassing van die eeu dat die boek so goed ontvang is. Baie mense het gesê dis hoe hulle ook al in ’n moeilike situasie met ’n gestremde kind gevoel het of met mense wat siek is en by hulle bly. Dit was vir my ’n groot oorwinning. Ná daardie boek kon ek terugkyk en sê ek is nie meer hierdie storie nie.

Ek’s ontsettend dankbaar ek het dit geskryf, maar het altyd geweet ek sal die storie moet afsluit. Baie mense het vir my briewe gestuur om te vra hoe dit met Anneke gaan. Ek wil graag dié mense antwoord en dis waar die nuwe boek vandaan kom. Snaaks genoeg, die skryf was op ’n manier vir my minder moeilik. Ek moes dit uit my kry. Ek het ’n bietjie van ’n detachment gehad terwyl ek dit geskryf het ook. Dit het natuurlik gehelp dat ek dit in die ernstige deel van grendeltyd geskryf het. Op ’n manier was dit ook ’n uitkoms vir my om op iets anders te fokus. Ek is dankbaar dis nou afgehandel. Ek het afsluiting en nou kan ek aanbeweeg.  

Met Bloedvreemd het jy geweldig weerloos oorgekom, maar as ek die opvolg lees, voel dit asof jy baie gegroei het en dat jy emosioneel sterker is. Is dit so?

Dis inderdaad so. Die inligting wat ek gaan haal het vir Bloedvreemd, is oor ’n baie weerlose tyd in my lewe en die begin van die verlies in my lewe. Ek kan regtig sê ek het nou geskryf vanuit ’n ander plek binne myself. Miskien kom Bloedvreemd uit ’n meer weerlose plek en dié boek meer uit ’n plek van waar ek my krag teruggekry het. 

Anneke se siekte is veroorsaak deur ’n virus en dit het jare geneem om by die diagnose van die seldsame Landau Kleffner-siekte uit te kom. Jy het op ’n baie persoonlike wyse geleer wat die werking van ’n virus is. Het die huidige wêreldtoestand vrese in jou wakker gemaak?

Ek was nog altyd bang een van my ander kinders kom iets oor. Die seuns sal vir jou sê as hulle êrens gaan swem het, het ek hulle gewaarsku om tog net nie te duik nie. Selfs nou nog! Ek was so bang vir ’n kopbesering. Mens speel nie met ’n virus nie. Ek is nie bang nie, maar omdat ek die effek van ’n virus ken, vat ek nie onnodige kanse nie en ek wou ook nie hê mense rondom my moet onnodige kanse vat nie. Maar ja, ek is maar te bewus van wat ’n virus kan doen omdat ek die effek van ’n virus eerstehands ken. Daarom is ek ook vies as ek hoor mense wil hulle nie laat inent nie. Ook ouers wat sê hulle gaan nie hul kinders laat immuniseer teen die gewone kindersiektes nie, want hulle besef nie waartoe dit kan lei nie.  

Wat my in die boek opgeval het, is hoe vreesloos Anneke eintlik is en dat sy van kleins af haar vrese vierkant in die oë gekyk het, omdat sy, soos sy vir jou gesê het, “nie ’n bang mens wil wees nie”. Hoe hanteer jy vrees en die onsekerheid en onvoorspelbaarheid van Anneke se daaglikse lewe?

Nou die dag eet ons snoek en ek wil die grate vir haar uithaal, want daar het al voorheen ’n graat in haar keel vasgesit. Toe sê sy ek moenie, want sy is nie bang nie. Daai ding kom altyd na vore, dat sy nie bang is nie. As ek daaroor praat, wonder ek altyd wat sy sou kon bereik het as haar lewe anders uitgedraai het. In die beginjare het ek ’n geweldige vrees gehad dat sy ’n epileptiese aanval in ’n supermark of winkel sou kry. Dit het elke vrees, elke minderwaardigheid in my wakker gemaak. Al die oë wat kyk. Tot op ’n dag wat ek besef het, daar’s altyd hulp. Ek kan nie vir jou sê hoeveel mense het al die kind uit ’n winkel gedra nie, of die bestuurder van die winkel kom met ’n rolstoel aangehardloop. Ek moes dié vrees binne my aanspreek en het besluit dit kan nie my lewe terughou nie. Daar is tye wanneer Anneke die een epileptiese aanval ná die ander kry en dis vreesoomblikke. Maar ek hanteer dit beslis beter as aan die begin toe ek gevoel het ek wil weghardloop. Ek voel nou ek weet wat om te doen en dit help. 

“Ek is ingetrek in die wesenlikheid van Anneke. Sy het die mens geword rondom wie ek my lewe beplan. Die verantwoordelikheid volg my soos ’n skaduwee. Ek weet nie meer hoe om myself te kies sonder om haar in die berekening in te werk nie. Hoe ek ook al daarteen stry, Anneke het die fokus geword. My kom en gaan is aan haar gekoppel, en eintlik maak dit nie sin nie. Ongemerk het dit waarteen ek aanvanklik geveg het – om die identiteit van die ma van ’n gestremde kind aan te neem – my realiteit geword” (bl. 103). Wil jy meer sê hieroor?

Dit was vir baie jare deel van my identiteit, daai sorg, kyk, en die verantwoordelikheid neem. Sy is nou in ’n plek op Somerset-Wes so 45 minute se ry van ons af en ons gaan haal haar elke tweede naweek. As sy hier is, dan slaap ek weer nie. Ek’s in my kantoor, maar ek hoor elke geluid van agter die toe deur af. Dis ’n vreemde ding. As sy nie hier is nie, is ek totaal en al los en vry. As sy by die sorgsentrum is, is ek rustig want ek weet hulle kyk mooi na haar. Die oomblik as sy in die huis instap, is ek weer daai ma wat versorg. Ek is nie ’n kloek-ma nie, my kinders is van kleins af geleer om onafhanklik te wees. Ek het daai klein voëltjies dalk te vinnig uit die nes geskop. Dis wat vir my so swaar is met Anneke, dat dit net nooit kan gebeur nie. Daar het ongemerk ’n ding oorgeneem. Ek kan die gevoel nooit afskakel nie.

Hoe het Anneke se lewe die ander lede van die gesin geraak?

Sy was sewe toe sy siek geword het. My oudste seun was tien en die ander een nege. Anneke was immer teenwoordig, die sussie wie se gesondheid heeltyd agteruitgaan. Ons het van die begin af besluit ons gaan nie ’n gestremde gesin wees nie. Ons het daarop gefokus om die seuns se lewe so normaal moontlik te hou. Ek dink wel die seuns het regtig compassion ontwikkel. Hulle sien maklik as iemand swaarkry en deins nie weg van hulp nie. Hulle moes baie tye na haar kyk as ek of Fanus, my man, weens werk nie kon nie. Dis ’n verantwoordelikheid wat ons nie vir die toekoms vir hulle gaan gee nie. Daarom moet sy in ’n sentrum versorg word.

Maar Anneke se siekte veroorsaak spanning in ’n verhouding. Iemand het gevra hoe ons huwelik dit gehou het. Daar was eenvoudig nie tyd om nog aan skei te dink nie. Daar was genoeg op die agenda. Ek het vir ses jaar hartseer opgestaan en saans kwaad gaan slaap. Fanus was kwaad vir dié situasie waaraan hy niks kon verander nie. Hy is ’n doener. Dit het ’n invloed op jou verhouding want elke ding maak jou kwaad. Of die ander persoon onskuldig is of nie, jy haal dit op mekaar uit. Tog, Fanus sê as ek af was, was hy oukei, en wanneer hy af was, was ek weer orraait. So kon ons mekaar help en ons het besef ons het mekaar nodig. Fanus leef lig en ek dink dit het ons baie gehelp. Ons hou van lag en fun goed doen. Dit was ons behoud. Wat my deurgedra het, is dat ek joy kies in plaas van die absolute miserabele gevoel van verlies waarmee ek so lank geloop het. 

Het die skryf van die boeke en die gesels oor Anneke se storie jou gehelp om perspektief te kry?

Ek voel tog so. Ek het nie Bloedvreemd om terapeutiese redes geskryf nie. Ná ek klaar was daarmee kon ek terugkyk en sê: “Ek is nie meer dié storie nie.” Martie het my aangemoedig om te skryf. Tyd is ook ’n wonderlike ding. Vertel help ook, want dit dien ook ’n ander doel. Anneke se potensiaal is so verminder deur die virus, maar tog gee dit ’n rede vir haar lewe. As die vertel van haar storie vir iemand iets kan beteken, is ek baie dankbaar daarvoor.