Katrien trou met Stefaans, ’n grensboer van die Oos-Kaap, nadat haar eerste man in ’n fratsongeluk dood is. Sy moet haar tuiste op Stellenbosch vaarwel roep om saam met hom na sy plaas te trek en ’n nuwe lewe daar te vestig. Dina is ’n slavin wat al vir jare Katrien se vertroueling en vriendin is. Hulle het saam grootgeword en sy besluit om saam met die nuwe egpaar te verhuis. Aanvanklik gaan dit relatief goed op die plaas, maar aanhoudende teëspoed en veediefstal maak dat hulle deel word van Hendrik Potgieter se trek na die binneland. Die derde vrou wat die verhaal vertel, is Thabisa, ’n Zoeloevrou wat deur haar man verwerp word. Haar vlugtog tydens ’n massamoord op haar hele familie lei haar na tydelike veiligheid by die Ndebeles. Wanneer haar lewe hier weer bedreig word, kruis haar paaie met dié van Katrien en Dina op die trekpad.

Die lewe op trek word realisties uitgebeeld en jy kan nie anders as om meelewing met die vroue se omstandighede te hê nie. Hul lief en leed kom onder die kollig en hoe dit lojaliteit en ondersteuning vir mekaar is wat hulle dra deur stormagtige gebeure. In Diep Spoor (Penguin, R280) vertel Jeanette Stals boeiend hoe die vroue se lewens vervleg raak in ’n stryd om oorlewing.   

Tydens ’n onderhoud vertel Jeanette sy geniet dit om historiese romans te skryf en dat Diep Spoor haar geïnspireer het om ’n verhaal oor die Boereoorlog aan te pak. “Dié keer gaan net een vrou die werklike belewenis van ’n vrou onder daardie omstandighede uitbeeld. Daar is baie boeke oor die oorlog beskikbaar en daar is heelwat boeke oor die kamplewe, maar weer eens wil ek graag vanuit ’n persoonlike perspektief die lig laat skyn op die gebeure in ’n gewone vrou se lewe. Ek is so halfpad met die boek, maar ek sal moet wikkel. Diep Spoor het so lank geneem om te skryf en ek werk baie hard om die nuwe boek klaar te kry. Ek het nie baie jare oor nie.”

 

Wie is jy, waar kom jy vandaan en hoe het jy begin skryf?

Ek is eintlik baie privaat en gaan nie juis na geleenthede en boekbekendstellings nie, want dit maak my nogal angstig. Ek het in Pretoria studeer vir ’n BA-graad met Duits en Sielkunde as hoofvakke in die jaar toet. Toe het ek by die WNNR gaan werk, later getrou en vier seuns gehad. Hoe het ek by skryf uitgekom? Ek is baie lief vir lees en my ouers het ons ook aangemoedig om te lees. Ek het twee susters en ’n broer. Albei my susters is taamlik kreatief en ek veronderstel ek wou nie juis agterbly nie.

As kind wou ek baie graag skryf. Ek dink ek was een van die min kinders in die klas wat gehou het van opstelle skryf. My verbeelding is aktief en ek dink stories uit. Ons kinders is so vyf jaar uitmekaar en my broer was in die koshuis. So, my kinderjare was redelik alleen en dan is mens nogal geneig om te droom en verbeeldingmaats te kry en jou verbeelding uit te leef.

My loopbaan was eintlik sulke losstaande stukke, bietjie onderwys, bietjie personeelkeuring en ander goed. Ek het nooit in ’n beroep gestaan waar ek my opgewerk het tot ’n posisie waarop ek trots kon wees nie. Ek is 77 jaar oud en in my jongdae het vroue min of meer maar kinders grootgemaak. Ek het bietjie gewerk wanneer dit moontlik was. Toe die kinders eers almal op skool was, kon ek meer uitkom.  

Jou eerste boeke was speurromans. Waarom juis speurromans?

Ek geniet dit om speurverhale te lees, maar nie die vreeslike bloederiges nie, hulle vermy ek ’n bietjie. Maar ek verorber ’n skrywer soos Michael Connelly se boeke en dan volg dit seker outomaties dat mens se verbeelding in daardie rigting ontwikkel.

Diep Spoor gaan oor die Groot Trek. Wat het jou aangetrek na die onderwerp?

My pa was ’n onderwyser en lief vir geskiedenis. Hy het baie van die geskiedkundige stories vir ons vertel. Gebore in 1898 het hy heelwat te doen gehad met mense wat as klein kinders óf die Groot Trek meegemaak het óf ouers gehad het wat deel was van die Trek. Hy het altyd na hul stories geluister en dit aan ons oorvertel. Soos dit maar gaan met ’n tiener, wil jy nie eintlik na jou pa se ou stories luister nie, want dis nie cool nie. Maar soos wat ek ouer geword het, het ek besef baie van die goed wat hy vertel het, het waarde en dis belangrik om dit aan jonger mense oor te dra. Veral noudat die skoolsillabus so verander het, dink ek nie daar is baie jongmense wat meer weet wat daardie tyd gebeur het nie. Ek wil nie ’n geskiedenisles vir hulle gee nie en daarom is die boek meer van ’n liefdesverhaal.  

Die geskiedenis vorm eintlik net die agtergrond waarteen die die karakters hul onderskeie verhale vertel. Jy skryf hier vanuit drie vroue se perspektief. Jou speurromans was ook vanuit n vroulike speurder se oogpunt geskryf. Waarom vanuit die vrou se perspektief skryf?

Jy moet nie so sê nie [lag], ek het hier in my agterkop dat my volgende storie oor ’n man gaan. Ek spot net. Ek dink ’n vrou weet hoe ’n vrou voel en dit maak dit net soveel makliker. Dan moet jy onthou, ek identifiseer sterk met my hoofkarakters; so sterk dat ek sit en tjank in die kamer waar ek sit en skryf en my man wonder wat gaan met my aan. Dis makliker om haar ervaringswêreld uit te beeld. Dis asof die woordeskat vir my makliker kom as ek uit ’n vrou se mond skryf en dan natuurlik, in die geskiedenis is dokumente en boeke meestal deur mans geskryf. Vroeër jare het vroue nie eintlik hul hand aan geskiedskrywing gewaag nie en dus is die geskiedenis vanuit die manlike oogpunt weergegee. Dit het net vir my gevoel ek moet ’n vrou se ervaring van die geskiedenis vertel omdat dit so anders as dié van ’n man is. Mans is avontuurlustig. Hulle is nie te bekommerd oor of die kinders gaan gelukkig wees in die situasie nie, terwyl die kinders vir ’n vrou belangrik is. Sy wil vir hulle iets in hul omgewing skep waarmee hulle gelukkig kan wees.

Jy moes geweldig wyd lees om so ’n omvattende agtergrond te kon skep. Hoe het jy die navorsing aangepak?

Ek is geneig om nie vreeslik stelselmatig te wees met my skryfwerk nie en ook nie met my navorsing nie. Ek het byvoorbeeld nie ’n lysie opgetrek en gesê ek moet oor hierdie en hierdie oplees nie. Ek het heelwat tyd by die Universiteit Stellenbosch se biblioteek spandeer en dan het ek maar rondgekyk onder Voortrekkers wat vang my oog. Ek gaan in, stap by die rak met die onderwerpe af en dan is dit asof die boeke na my toe kom. So asof die boeke vir my sê, vat my. As ek hulle dan oopslaan, besef ek dis presies waarna ek gesoek het. Ek het doodeenvoudig gelees en notas gemaak, maar ek moet bieg dat ek ook nie ekstensief notas skryf nie. Alles wat ek lees, sak in en gaan lê in my onderbewussyn, die teelaarde vir ’n storie. Die storie voed op dit wat ek gelees het, maar byna vergeet het. Oor die paar feite wat ek moet gebruik, maak ek notas. 

Was daar iets waarop jy in jou navorsing afgekom het wat jou verstom het?

Ja, veral die Zoeloe-gedeelte. Ek het ’n boek gelees, Zulu Thought-Patterns and Symbolism deur Axel-Ivar Berglund. Dit was verrassend, want die inligting oor Sweedse sendelinge is nie iets wat ek al in geskrifte teëgekom het nie. Omdat hulle sendelinge was, het hulle nou met die Zoeloes saamgelewe en het hulle moeite gedoen om uit te vind hoe die mense leef, dink en voel; spesifiek hul godsdienstige instelling in teenstelling met die Engelse sendelinge wat bloot die geloof gebring het en gesê het: Vergeet van julle kultuurgoed en aanvaar wat ons julle leer. Hulle sê dit nêrens nie, maar die indruk wat ek kry, is dat die Sweedse sendelinge meer oop was.

Katrien, Dina en Thabiso vertel vanuit verskillende oogpunte die Afrikaanse, die slawe- en die Zoeloe-agtergrond. Hoe skep jy jou karakters, begin dit visueel of begin dit met eienskappe?

Ek moet bieg, ek het die storie seker 25 jaar gelede begin skryf. Ek kan nie meer presies onthou hoe dit begin het nie, maar dit was ’n behoefte by my om kort ná die politieke veranderinge in die land vir Afrikaanse mense te skryf. Baie was ongelukkig met die veranderinge en hulle het gevoel hulle kan nie meer in die land bly nie. Dit het my basies teruggevat na die Groot Trek, toe die mense nie kon aanpas en die Engelse bewind aanvaar nie.

Die drie vroue het hulle net by my aangemeld. Aanvanklik was hulle net buitelyne en stelselmatig het hulle ingekleur geraak soos wat ek gedink het oor die storie en meer navorsing gedoen het. Hulle het mense geword. Ek het nie ’n gunsteling nie, elke vrou is in wese meer as een vrou wat haar rolle aanbetref. Ek kon met al drie van hulle identifiseer.

Al is die vroue die hoofkarakters en vertel hulle die storie, is hulle in die sosiale omstandighede van daardie tydperk eintlik die ondergeskiktes. Patriargie is sistemies sterk ingewortel in die geskiedenis van ons land. Wei uit hieroor asseblief.

Ons Afrikaanse mense se sisteem is baie patriargaal. Ek het eenkeer na prof. Hermann Gilliomee geluister wat gesê het omdat die Romeins-Hollandse Reg in Suid-Afrika se regstelsel ingebring is, het die Afrikaanse vroue tog ’n mate van mag gehad. ’n Man kon nie net van ’n vrou skei en alles vat en haar so los nie. Hy moes gelykop deel of ten minste vir haar sorg vir die toekoms. Dit het vroue indirek darem ’n bietjie mag gegee.

Maar wat Diep Spoor aanbetref, besluite soos om te trek het by die man berus en die vroue het nie ’n sê gehad nie. [Lag.] Vroue moes hul lis gebruik om te kry wat hulle wou hê, hulle kon nie hul voet neersit en bepaal hoe dinge gaan gebeur nie. In ons kultuur is dit nie heeltemal so ’n groot probleem nie, vroue kry tog maar hul sin, al is dit met ’n ompad. In die Zoeloekultuur was dit beslis heeltemal ’n ander storie. Hopelik sal dit miskien ook mense in hierdie tyd tot nadenke stem, dat hulle sal insien hoe swaar vroue in daardie kultuur kry, watter opoffering hulle soms moet maak. Baie vroue het kinders, maar die mans neem nie verantwoordelikheid vir hulle nie. Die ma’s moet dan die kinders by ’n ma of ouma laat om te gaan werk.

 

Die praktiese lewe van op Trek wees is ’n harde een.  

Baie min vroue van vandag sou dit gemaak het. Elke ding wat hulle doen, was groot moeite. Hul klere moes hulle maak van lap wat saamgery is. As dit dun geskaaf was, moes hulle dit lap en stop en ou klere daarvoor gebruik om darem net iets aan die bas te hê. Kos was ’n groot probleem. Die mans het gejag en vleis was volop, maar mens kan nie net van vleis leef nie. Om alles op ’n oop vuur te maak. Om nie ordentlike skuiling te hê as dit koud is nie. ’n Tentseil is nie beskerming teen erge koue en swaar reën nie. Alles wat hulle nodig gehad het, moes saamgery word en daar was ook nie winkels om elke hoek en draai nie. Hulle was miskien so ’n rapsie moedswillig. Ek dink nie die mense het aldag besef wat dit van hulle sou verg nie. 

’n Tema wat my opgeval het, is die van onvervulde drome. Jou hoofkarakters moes elk n droom prysgee: Katrien die opvoeding vir haar kinders, Dina n liefde en ’n eie gesin, Thabiso n vreedsame lewe. 

Is dit nie maar waaroor baie verhale gaan nie, ’n strewe? Mense wie se wense en behoeftes in alle opsigte vervul word se stories is nie regtig iets wat ander mense gaan boei nie. Niemand gaan dit lees en wens dat die karakters se lewe ’n ommeswaai beleef nie. Daar is niks om na uit te sien nie, want die karakters se lewe is klaar reg.