In die verlede was Amerika vir miljoene mense inderdaad die land van melk en heuning, eerste op die lys van bestemmings waarheen hulle wou emigreer. Om die Amerikaanse droom te vervul van ’n beter en meer demokratiese lewe as in die res van die wêreld.

Helaas! Alles wat die laaste maande tydens die Amerikaanse verkiesing afgespeel het, laat die wêreld met nuwe oë na dié land kyk en wonder waar dinge so skeefgeloop het. Politieke verdeeldheid en polarisering tussen mense van verskillende rasse en agtergronde is aan die orde van die dag. In Mei 2020 is Amerika geruk deur erge teenstand nadat George Floyd in Minneapolis gesterf het as gevolg van hardhandige optrede tydens sy inhegtenisneming deur ’n polisiebeampte. Landwye protesoptrede het teen Junie tot die instel van ’n aandklokreël in 200 stede gelei.

Ek is self vasgenael voor die televisie om te sien hoe gebeure ontvou en het in hierdie dae ook oudpresident Barack Obama se boek oor sy eerste termyn as president gelees.

Barack Obama, A Promised Land, Amerika, Donald Tru
Verskaf

Vir my was van die skokkendste beelde tot dusver toe president Donald Trump se ondersteuners die Amerikaanse kongresgebou bestorm het ten tyde van die bekragtiging van aangewese president Joe Biden se verkiesingsoorwinning – ’n miskenning van ware demokrasie.

Hierdie gebeure staan in skrille kontras met die Amerika wat Obama in A Promised Land (Viking, R599), die eerste volume van sy presidensiële memoires, beskryf. In die 7 cm dik boek word jy bekend gestel aan ’n ander sy van Amerika. Ja, daar was nog altyd rassisme en politieke verdeeldheid, skryf hy, maar daar was ook respek vir die grondwet en die Amerikaanse droom, en daar is deur die jare baie werk gedoen om versoening te bewerkstellig.

As jong student in 1983 was Obama nie soseer geïnteresseerd in ’n politieke loopbaan nie. Op bl. 11. sê hy: “What did capture my attention was something broader and less conventional – not political campaigns but social movements where ordinary people joined together to make change.” Vir hom het die beginsel van meet af ’n rol in sy loopbaan in Chicago gespeel. In 1992 is hy en Michelle, ’n regsgeleerde, getroud. Hy het sy eie loopbaan as prokureur opsy geskuif om betrokke te raak by Project VOTE!, een van die omvangrykste kieser-registrasieprojekte in Illinois se geskiedenis. Min wetende dat dit sy politieke loopbaan sou afskop!

In 1995 was daar ’n opening vir ’n Demokratiese kandidaat in die Illinois-senaat en Obama is oorreed om as buiteperd in die verkiesing te staan. Teen alle verwagtinge in het hy as die wenner uit die stryd getree. Agt jaar lank het hy gependel tussen Springfield, sy politieke tuiste, en Chicago waar sy vrou en sy huis was. Vir hom was dit ’n groot leerskool, want “Illinois best represented the demographics of the nation, home to a teeming metropolis, sprawling suburbs, farm country, factory towns and a downstate region considered more southern than northern” (bl. 31). Hy begin besef om regtig ’n impak op gewone mense se lewe te maak moet hy ’n wyer politieke gehoor verteenwoordig. Dit motiveer hom om in 2004 die Amerikaanse senaat sy doelwit te maak, waartoe hy dan ook suksesvol verkies word. Vier jaar later word hy benoem as president van die VSA en op 20 Januarie 2009 word hy ingesweer as die eerste swart president van Amerika.

In sy boek beskryf hy die binnewerking van sy verskillende politieke veldtogte en hoeveel werk én geld dit kos om suksesvol te wees. Hoe dit die interaksie met mense op voetsoolvlak was wat hom geleer het om te luister en om ’n plan te maak om die probleme in suksesse te probeer omskakel. Dis fassinerend vir my wat nie regtig ’n diep kennis van die Amerikaanse politieke stelsel het nie om gebeure vanuit die perd se bek te hoor.

Obama se leuse van “Yes we can” het miljoene mense opgesweep en verenig om saam te werk vir ’n beter Amerika, en dis ook waarop hy voortbou tydens sy presidensiële termyn. Sy omvattende en gedetailleerde uiteensetting van gebeure sal lesers frustreer wat daarvan hou om deur ’n boek te blits. Vir my het dit egter soveel meer insig gegee in die daaglikse balanseertoertjie wat Obama en sy personeel moes uitvoer om al die balle in die lug te hou. Daar was binnelandse kwessies soos gesondheidsorg vir almal, die stimulasie van die ekonomie om Amerika se werkloosheid te bekamp en buitelandse kwessies soos die wêreldwye finansiële krisis, asook Amerika se militêre betrokkenheid in Irak en Afghanistan. Hy is openlik oor die vyandige teenkanting wat hy van die Republikeine ervaar het, en in sommige gevalle selfs van meer konserwatiewe Demokratiese partygenote vir wie hul eie politieke posisies belangriker was as die groter voordele vir die Amerikaanse samelewing.

Hoewel hy nie breedvoerig oor sy huwelik en sy verhouding met Michelle skryf nie, blyk dit dat hy skuldig voel omdat sy baie moes opoffer om sy loopbaan eerste te stel. Wat baie duidelik is uit hoe hy oor haar skryf, is die liefde en respek vir mekaar wat hulle eerstens ’n gesin en tweedens ’n gedugte span maak om uitdagings saam te trotseer. Sy moes haar loopbaan opsy skuif om hom te help om sy doelwitte te laat realiseer. Tog wou sy steeds self ’n verskil maak. Daarom het sy haar as presidentsvrou toegewy aan vier kwessies: gesonde families, militêre personeel en hul gesinne, voortgesette hoër onderwys en die skoolopvoeding van adolessente meisies wêreldwyd. Sy trots en waardering skemer telkens deur in sy woorde.

Diep persoonlike aanvalle op wie en wat hulle is, het vanuit verskeie oorde gekom. Een wat meer impak gehad het as wat Obama kon voorspel, was Donald Trump se verdagmaking oor sy herkoms, dat Obama nie ’n Amerikaner is nie. Nou ja, êrens in die boek noem Obama Trump ’n spektakel – profetiese woorde!

Waarom hierdie boek lees, sal jy vra? Al die lande van die wêreld is vandag onderling verbind weens ekonomiese en politieke ooreenkomste en globale finansiële markte. Amerika is, en was, nog altyd ’n groot rolspeler ten spyte van hoe die res van die wêreld verander. Obama se boek gee jou insig in hierdie verwikkelde verhoudings en die kompleksiteit van onderhandelinge om haalbare kompromieë te bereik waar almal voel hulle het iets uit die situasie gewen. Wat my ook bybly, is die indruk wat Obama as mens by my gemaak het. ’n Politieke realis, maar iemand wat bly glo in die inherente goedheid van mense en dat Amerikaners beter is as dit wat ons nou op televisieskerms sien. Hy glo steeds in die Amerikaanse droom. En ja, hulle kan!