Kleurvolle illustrasies trek aandag en help om kleiner kinders se aandag te hou. As jy boonop die stories voorlees, help dit jou om ’n band met die kind te skep. Lees moet pret wees en glo my, hierdie boekies is waarlik prettig.



Die Probleem met Probleme, Rachel Rooney (Lapa Uitgewers, R140)

Probleme is vreemde gediertes. Party is baie groot en duidelik en ander is so goed met wegkruip dat mens hulle nooit te siene kry nie. Daar is probleme wat mens bang maak, kwaad maak, frustreer en bekommer. Hulle is regte pretbederwers. Gelukkig hoef ons nie vir hulle terug te staan nie, want daar is dinge wat ons kan doen om van hulle ontslae te raak.

Die Probleem met Problemeis ’n prettige lewensvaardigheid boekie wat jong kinders in rymende Afrikaans bewus maak van probleme en hoe om dit te hanteer. Die wenke, soos om nie probleme te voer nie of om dit met iemand wat jy vertrou te deel, is prakties en die illustrasies maak dit lewendig vir die jongspan. ’n Oulike boekie vir voorlees wat vir goeie gesprekke tussen ouer en kind sal sorg. - Danica Gouws



 

Moenie met ’n prinses mors nie!, Rachel Valentine (Human & Rousseau, R145)

Eendag, in ’n pragtige koninkryk was daar ’n groot trol wat ’n geweldige gemors gemaak het. Die mense was baie bang en die koning verbied sy drie kleindogters, die prinsesse, om die paleis te verlaat. Hy gee die (bibberende en bewende) ridders opdrag om met die trol af te reken, maar die drie koninklike niggies beraam egter hul eie kreatiewe plannetjies. Hulle ontsnap uit die paleis en waar die ridders faal, maak hulle staat op hul eie talente en spesiale vermoëns om die situasie te beredder. Hulle trotseer ’n betowerende woud vol gevare en gediertes en ontmoet die trol, wat met goeie rede grootskaalse verwoesting saai! Hulle bewys hulself voorwaar as vasberade, vindingryke prinsesse met wie niemand sal wil mors nie.

Dit is ’n genotvolle en oorspronklike prinsesstorie vol avontuur en opwinding. Beslis ’n aanwins op enige jong kind se boekrak! – Danica Gouws

 



Eendag in ’n woeste woud, Chris Riddell (Protea Boekhuis, R150)

Groenkappie is ’n dogtertjie wat doelgerig deur die donker, woeste woud stap. Sy is op pad na Raponsie se partytjie by die hoë toring, maar eers is daar interessante karakters met wie sy kort-kort paaie kruis. ’n Gawe wolf, ’n ou vroutjie met ’n appel en ’n trol wil geselsies maak. Ondier verlang verskriklik na Skoonlief wat by haar familie gaan kuier het, ’n towerharp is lus vir baklei en Duimelientjie sit handjie by toe Groenkappie moeg gestap is. Boonop word die sewe dwergies uit die oond van ’n nare heks gered en saam met Groenkappie probeer hulle betyds by die toringpartytjie uitkom.

Hierdie storie is propvol avontuur. Kinders sal geniet om te sien hoe bekende sprokieskarakters op oorspronklike maniere met mekaar in aanraking kom. Dit is ’n heerlike saamlees boekie met kleurvolle, lagwekkende illustrasies en ’n prettige, feestelike einde. – Danica Gouws

 



Waar’s Willie? - Die Fantastiese Reis,  Martin Handford (Protea Boekhuis, R120)

Hierdie soek-en-vind boekies is al vir meer as drie dekades in druk en in is reeds 31 tale uitgegee. Die Waar’s Willie?-reeks bly maar net ’n treffer. Die Fantastiese Reis is Boek Drie en Willie en Towenaar Witbaard reis na allerhande vreemde en sprokiesagtige wêrelde. Hulle kruip weg tussen vretende vrate, rooi dwergies, vuurspuwende drake en walglike wesens soos vampiere en hekse. Willie-aanhangers moet ook nie van Wenda, Tronkvoël en Woef vergeet nie.

Daar is belangrike reisitems en twaalf misterieuse perkamentrolle wat weggesteek is op verskeie einaardige plekke, versprei oor twaalf ongewone tonele. Oud en jonk kon nog altyd ure se vermaak uit Willie se reise kry en hierdie uitgawe is geen uitsondering nie. Lekker soek! - Danica Gouws




Gediggies vir vrolike gesiggies, Aletté-Joanni Winckler (Lux Verbi, R235)

Aletté Winckler, motiveringspreker, stilis, skrywer en besigheidsvrou, se nuwe kinderboek is ’n juweel vir ouers met klein kinders. Dit bestaan uit ’n versameling van 49 gediggies waarby jong kinders aanklank sal vind. Sy self is ’n ma van vier en het hierdie gediggies juis so geskryf om as ’n hulpmiddel vir ouers te dien. Die boek is ook lieflik geïllustreer deur Wess-lee de Klerk.

Ma en pa hoef nie te veel kop te krap oor waar om relevante inligting op te spoor om die kleinspan amptelik te onderrig nie. Met hierdie boekie kan kinders rym-rym leer van die vele aspekte van God, belangrike lewensvaardighede, hul eiewaarde en veel meer. Lees die gediggies voor of luister na die twintig liedjies, getoonset deur Aletté en haar man Heinz, op die ingeslote CD. Hierdie boek is geskik vir kinders van 3-8 jaar. - Danica Gouws

 



Dierestories vir kinders en Slaapstories vir kinders (Human & Rousseau, R175)

Die eerste ding wat ’n kinderboek verkoop, is hoe dit lyk. Albei hierdie boeke slaag met vlieënde vaandels, met pragtige volkleur illustrasies en selfs ’n boekmerkie sodat elke aand se storie die vorige een maklik kan opvolg. Bekende stories, soos vertel deur Grimm, Andersen, Esopus en natuurlik tradisionele Afrika-stories is ingesluit in hierdie boeke. Lees- en kyk-en-luister vreugde vir kinders van so ses jaar. - Mariette Postma

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.