Ek is mal oor die kletskoning Graham Norton en kyk graag na sy televisieprogram. In sy gesprekke is hy spitsvondig en hy steek soms lekker die draak met sy gaste. In 2019 het ek die eerste keer met hom as skrywer kennis gemaak, toe ek sy boek, A Keeper, gelees het. In teenstelling met sy kletsprogram is sy aanslag as romanskrywer sensitief, aandoenlik en ondersoekend. Hy fokus op menseverhoudings en die gebeure wat karakters se lewens affekteer. In A Keeper het die hoofkarakter agtergekom dat haar ma ’n groot familiegeheim vir haar weggesteek het, een waarvan sy eers ná haar ma se dood bewus geraak het. Sy moes met nuwe oë na haar eie indetiteit kyk.

Norton se derde roman, Home Stretch (Hodder & Stoughton, R335), het onlangs die lig gesien en aangevuur deur my vorige leeservaring kon ek nie wag om te sien of hy aan my verwagtinge voldoen nie. Ek is nie teleurgesteld nie.Hierdie verhaal het weer geheime en geheimhouding as’n sterk tema. Dit speel af in die laat 80’s in Mullinmore, ’n denkbeeldige klein Ierse dorp, waar die gemeenskap besig is om voor te berei vir ’n troue. Die dag voor die huweliksbevestiging gaan ’n groepie vriende vir die dag strand toe. Op pad terug is hulle in ’n motorongeluk en sterf die verloofde paartjie en die bruidsmeisie. Die bruidsmeisie se suster is in ’n koma. Die mediese student Martin Coulter en die kroegman Connor Hayes het die ongeluk oorleef. Dié tragedie het ’n geweldige impak op die gemeenskap en laat mense vinger wys en bespiegel oor wie verantwoordelik gehou moet word vir die families se groot verliese. Die direkte gesinne van die betrokkenes se lewens is nooit weer dieselfde nie.Ná afloop van die begrafnisse, vertrek Martin terug universiteit toe om sy studies te voltooi en onstnap in ’n mate van die gemeenskap se verwyte. Connor moet bly om sy ouers in die kroeg te help, maar mense kyk anders na die gesin omdat Connor die motor bestuur het op die ongelukkige dag. Om sy ouers die skande en verwyte te spaar, verlaat hy Ierland vir Engeland waar hy deur familiekonneksies ’n heenkome vind. Nog dramatiese gebeure vind plaas om sy lewe verder te ontwrig en hy wyk uit na New York om ’n vars begin te maak waar niemand hom, of sy geheime, ken nie. Jare later word sy lewe weer ontwrig toe daar iemand uit sy geboortedorp opdaag en Connor gedwing word om sy verlede in die oë te staar. Hy keer terug na Ierland om herenig te word met die familie van wie hy homself heeltemal geïsoleer het.Norton lei jou op ’n gevoelvolle ontdekkingsreis saam met Connor. Jy ervaar saam met hom sy soeke na sy eie identiteit. Vrae word gevra oor die rol van berou, aanvaarding en vergifnis in die lewe van ’n individu, maar ook hoe hierdie elemente ’n gemeenskap raak. Die verhaal word vanuit verskillende karakters se oogpunte vertel en die geheime word eers reg aan die einde bloot gelê: Oor hoe misverstande kan ontstaan en gemeenskappe kan verdeel as die volle waarheid oor ’n insident nie van die begin af vertel word nie. Gay-wees word met sensitiwiteit aangeroer in die verhaal wat afspeel in ’n tyd toe homoseksualiteit nog met groot stigma omvou is. Die kompleksiteit van mense se emosies en die gebeure wat hulle dryf in die eg menslike verhaal laat jou diep dink. Wanneer dit gebeur, weet ek die skrywer is een wie se volgende boeke ek beslis ook wil lees. - Phyllis Green

Dark Sacred Night, Michael Connelly (Orion, R330)

Op die agterplat is ’n aanhaling van skrywer Lee Child. Volgens hom is Connelly "a superb storyteller." Ek is altyd skepties wanneer sulke stellings gemaak word, maar ek moet in hierdie geval met Child saamstem. Dis my eerste kennismaking met die onkonvensionele Harry Bosch. In hierdie verhaal span die afgetrede speurder sy kragte saam met speurder Renée Ballard.

Sy doen die graveyard skof in die Hollywood polisiestasie. Een nag loop sy haar vas in ’n vreemdeling in die polisiestasie waar hy besig is om deur ou dossiere te blaai. Dis niemand anders as Harry Bosch nie. Sy vergesel hom uit, maar is nuuskierig om te sien waarna hy gesoek het. Haar nuuskierigheid sit om in ’n obsessie om die onopgeloste moord van Daisy Clayton op te los. Sy en Bosch moet saamwerk om dit te kan doen.Connelly kry dit reg om jou vasgenael te hou soos wat hy die verhaal laat rondspring tussen Ballard en Bosch. Daar is genoeg aksie en drama om enige adrenalienverslaafde te bevredig. Maar wat hy meesterlik regkry, is om ’n deernisvolle menslike kant van hierdie twee speurders te onbloot. Al het hulle ook diep en donker aspekte in hul karakters. ’n Heerlike leeservaring en ek sien met afwagting uit na ’n volgende aflewering! - Phyllis Green

 

The Winters, Lisa Gabriele (Harvill Secker, R290)

Ek het Daphne du Maurier se Rebecca seker al tien keer gelees, tot die voorblad van die slapband afgeval het. The Winters is op dié aangrypende boek gegrond, maar speel in die hede in Amerika af. Gabriele het my tone laat krul van die lekkerkry met al die ooreenkomste en verwysings na die oorspronklike en ook met hoe sy die storie aan die einde verdraai. Haar boek kan egter net so goed op sy eie gelees word sonder dat jy enigsins van Rebecca kennis dra. Baie slim!

Die storie in kort: ’n Jong verloofde sukkel om aan te pas by haar nuwe, glansryke lewe. Oral loop sy haar vas in bewyse dat sy net nie kan kers vashou by haar voorganger nie. Gedagtes oor die oorlede eerste vrou wat klaarblyklik in alles so perfek was, vreet aan haar. Is dit alles in haar kop, of is iemand besig om die situasie uit te buit? Alles dui daarop dat Dani, die bedorwe tienerdogter van die herehuis, die een is wat kwaad stook, maar tog wil twee en twee nie heeltemal vier maak nie. Die Winters steek geheime weg en die jong bruid kan nie anders as om te begin vrae vra nie. Maar wil sy regtig die antwoord weet?

Hierdié is ’n heerlike riller en Gabriele sit nie ’n voetjie verkeerd nie. Net soos Du Maurier kry sy dit reg om baie getrou die worstelende binnegesprekke van ’n onseker jong vrou weer te gee sodat die leser presies verstaan hoe sy voel. Sjoe! - Helen Schöer
 

The Reckoning, John Grisham (Hodder, R220)

Die hoofkarakter, Pete Banning, interesseer jou sommer al met die afskop van die boek. Pete, ’n katoenboer en oudsoldaat, staan een oggend op met ’n doelgerigte plan om moord te pleeg. Dis nie duidelik waarom Pete voel hy moet hierdie moord pleeg nie, maar jy vind uit dat dit iets te make het met Pete se vrou Liza. Dit skok jou, want Pete word beskryf as ’n legende – ’n gesiene man in Ford County. Dít laat jou natuurlik ernstig wonder hoekom dié man dan die Metodiste predikant op die klein plaasdorp vermoor.

Pete gee skynbaar geen verduideliking aan sy suster, Florry, en twee kinders Joel en Stella nie. Hy beveel Joel en Stella om uit die dorp weg te bly en voort te gaan met hul studies. Florry sien om na Pete in sy nuwe omstandighede terwyl sy kinders slegs af en toe ’n verskyning in die dorpie maak om by hul pa in te loer.

Hoewel die dorpsmense dit nie kon glo nie, kry Pete die doodstraf en word tereggestel. Dis egter nie die einde van die nagmerrie vir die Banning-familie nie. ’n Hofsaak bedreig die familieplaas waarop Florry steeds bly en wat vir geslagte al aan die Banning-familie behoort. Die kinders vind dit moeilik om met hul lewens aan te gaan. Hul hoop is op hul ma wat in ’n inrigting vir ernstige depressie is. Hul vind ook uit dat iets haar ’n ruk voor hul pa die moord gepleeg het, heeltemal laat knak het. Florry is die kinders se steunpilaar, maar soos hul reeds goed weet, word geen Banning regtig baie oud nie. Dieselfde geld vir Florry. Die kinders verloor amper alles, maar dit gee hulle eindelik berusting toe hulle uitvind waarom hul pa dit noodsaaklik gevind het om die moord te pleeg.

Die verhaal speel af in die 1940’s en vertel interessante geskiedenis oor die oorlog wat ’n groot rol in Pete se lewe, sy vrou en moontlik die predikant se dood gespeel het. Beslis ’n moet-lees vir dié wat van wêreldgeskiedenis, oorlog- en regsverhale hou. - Yolandi Jordaan

 

The Boy Who Saw, Simon Toyne (Harper Collins, R400)

Dis die tweede boek in die Solomon Creed-reeks. Solomon Creed is ’n man wat na homself soek, want hy kan glad nie onthou wie hy is nie. Sy enigste leidraad is die wit baadjie wat hy dra. In die baadjie is ’n etiket met die woorde, “made to treasure for Mr. Solomon Creed” en dat dit deur ene Joseph Engel gemaak is.

Creed reis na die suide van Frankryk om na Joseph te gaan soek. Voordat hy egter met Joseph in aanraking kan kom, word Joseph vermoor. ’n Ster van Dawid is in Joseph se bors gekerf en op die muur is daar met sy bloed in Duits geskryf : “Eindig wat begin was”. Joseph was een van vier kleremakers wat die konsentrasiekamp, bekend as die ‘Tailor’s Camp’, tydens die Tweede Werêldoorlog oorleef het. Joseph se aanvaller glo dat hy, sowel as die ander onbekende oorlewendes wat slegs as ‘die andere’ bekend is, in die kamp moes gesterf het.

Die polisie vermoed Creed was betrokke in Joseph se dood, veral nadat sy psigiater hom as ’n paranoïese skisofreen met ’n ongelooflike hoë IK beskryf. Solomon reis saam met Joseph se dogter, Marie-Claude en haar seun Leo. Hy probeer hulle beskerm, terwyl hulle Joseph se moord en die raaisel rondom Solomon se verlede probeer oplos. Dis ’n uitstekende verhaal waarin verskeie dramatiese gebeure jou aan die neus rondlei. Dit boei tot die einde. - Karien Labuschagne 

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.