Lana Bastašic se debuutroman, Catch the Rabbit, (Picador, R330) speel af in naoorlogse Bosnië en verken die rol van ’n komplekse vroulike vriendskap. Tog is die roman nie nét ’n verhaal oor Bosnië nie. Óf oor die oorlog nie. Óf oor vriendskap nie. As jy die eerste sin van die roman lees en dink jy weet waaroor die boek gaan of hoe dit gaan eindig, dink weer.

 inspirasie, woorde

Volgens ’n artikel uit The Calvert Journal het die idee vir die boek ’n paar jaar gelede by Bastašic vlamgevat toe sy weer Alice in Wonderland gelees het: “Mense dink dis ’n magiese boek waar wonderlike dinge gebeur, maar eintlik is dit ’n donker storie. Nes Bosnië . . .”

So word Catch the Rabbit ook vandag geprys as ’n hedendaagse Alice in Wonderland en elemente van Lewis Carroll se boek is ook deurgaans opvallend in dié roman: Van hase tot die twaalf hoofstukke wat die verhaal vorm.

Die twee hoofkarakters, Sara en Lejla, was onafskeidbaar toe hulle in Joegoslawië grootgeword het, maar wanneer ons die karakters ontmoet, is dit al twaalf jaar sedert hulle van mekaar vervreem is. Sara, ’n skrywer en die verteller van die roman, woon al vir ’n geruime tyd saam met haar kêrel in Dublin, Ierland, waar sy haarself met onbenullige goed soos hul avokadoboom ophou, terwyl Lejla, die eintlike sentrale karakter, getrou het, haar hare blond gekleur het en Mostar toe getrek het waar sy in ’n restaurant werk. Die boek open met Sara wat ’n onverwagse oproep van Lejla kry waarin sy aandring dat Sara dadelik na Bosnië moet terugkeer om saam met haar van Mostar na Wene te ry waar Armin, Lejla se broer wat gedurende die oorlog verdwyn het én wat almal vermoed dood is, vir hulle wag. Alhoewel sy skepties is, koop Sara tog ’n vliegtuigkaartjie.

Bosnië is vir Sara ’n konyngat; ’n verwarrende en disoriënterende plek waarheen sy moet terugkeer en ou herinneringe moet oopkrap. Deur hul reis van Mostar na Wene kry die leser deur middel van terugflitse ’n blik op Sara en Lejla se kinderjare; hul avonture, die mylpale wat hulle bereik het en ook die bitter dele van die oorlogsjare. Sara het bevoorreg grootgeword, terwyl Lejla, ’n Moslem, teen identiteitspolitiek moes baklei en tog was Sara jaloers op Lejla.

Sara is ’n ongeloofwaardige verteller en dit word duidelik dat die twee karakters nie altyd dinge op dieselfde manier onthou nie, maar wie onthou die waarheid en wie se herinneringe is verwronge?

Aanvanklik was die boek vir my langdradig en durf ek sê, ietwat vervelig, maar eindelik was dit uitdagend en verrassend. Bastašic  is ’n briljante skrywer wat die leser na die anderkant van die spieël lei en hom wys hoe die werklikheid daarvandaan lyk. Die boek laat jou op die ou end met meer vrae as antwoorde en jy sal nog lank nadat jy die laaste bladsy gelees het steeds aan hierdie boek dink. G’n wonder Catch the Rabbit het die Europese Unie-prys vir Letterkunde in 2020 gewen nie. Die skrywer het self Catch the Rabbit vertaal uit Serwo-Kroaties na Engels.

Bron: https://www.calvertjournal.com/articles/show/12868/novel-catch-the-rabbit-lana-bastashi-90s-yugoslav-war

Pryse kan wissel van winkel tot winkel.