Die Rietrotte van Rietvallei Hoër, Nerine Ahlers (Protea Boekhuis, R160)

Oor ’n koppie tee vra ek ’n paar vroue met tienerseuns wat die seuns dan nou lees. Agge nee, sug ek onhoorbaar toe Trompie en sy Boksombende weer aanbeveel word as leesstof. In my kop voeg ek by dat Trompie, Rooies en Blikkies seker teen die tyd saam met Hans en Herklaas met hul kieries op die ouetehuis se stoep baljaar.

Dit kan tog nie ál wees wat daar is nie, besluit ek. Toe ek weer by die boekwinkel kom, loop ek verby die rakke met volwasse fiksie en gaan snuffel tussen die boeke vir jongmense.

Ek sien ’n hele paar boeke in die Rietrotte van Rietvallei Hoër-reeks, geskryf deur Nerine Ahlers, raak. Ja, ek ken die skrywer. Sy is die medeskrywer van die gewilde SSS-reeks vir tienerdogters wat insluit: Selfone, skelms en sjokolade; Sms’e, skurke en spinnekoppe; Sepiesterre, sokkies en skobbejakke; Seesand, sonbrille en smokkelaars; Spoke, speurders en straatkafees; Skaduwees, skatte en skelmstreke en Soene, sonroom en seestrome.

Nerine is glad nie ’n onbekende gesig wanneer AKTV-Kinderboektoekennings uitgedeel word nie. Toe onthou ek, in 2020 was sy een van die finaliste vir die South African Literary Awards, juis vir een van die Rietrot-boeke.

Ek weet sy het twee dogters, maar wat sal sy nou van tienerseuns af weet? Wag so bietjie, sy is al baie jare die Franse onderwyseres by Menlopark Hoërskool, amper elke dag omring deur kinders van daardie ouderdom.

 inspirasie, woorde
Foto: Tosca de Villiers

Ek haal Die Rietrotte van Rietvallei Hoër van die rak af en lees die agterblad. Dit trek my onmiddellik in die storie in en maak dat ek summier die boek koop.

Onverwags moet ek later die dag ’n hele rukkie sit en wag vir iemand en haal die boek uit. Begin lees en word vinnig verdiep in ’n fassinerende wêreld wat vir hedendaagse tieners geskep is.

En terwyl ek nou in die tyd van Covid die strate aangedurf het, besluit ek om sommer die ander vier boeke in die reeks ook te gaan koop.

Die een na die ander verslind ek die boeke. Etes bestaan uit beskuit en koffie. Totdat die matrone die spul koshuisbrakke bederf met heerlike toebroodjies. Ek volg haar voorbeeld en lees verder.

Die volgende week toe ek en die vriendinne teedrink, kan ek amper nie uitgepraat raak oor die Rietrotte nie.

Hulle gaan so gemaklik om met moderne tegnologie, ek het sommer ’n hele paar dinge by hulle geleer. ’n Hommeltuig wat Antonie as ’n verjaarsdag geskenk gekry het, word gebruik om ’n pratende papegaai op te spoor. Maar daar is mans met swart pakke ook op hul spoor.

“Waarna het die mans gesoek?”, vra die een vriendin.

Ek skud net my kop. “Lees gerus self. Dis boeiend genoeg geskryf dat grootmense dit ook vir ontspanning kan lees.”

Ná die teedrinkery belowe die gasvrou om die koek se resep met whatsapp te stuur. Wat my dadelik weer aan die Rietrotte laat dink. Hulle het ook hul eie whatsapp groepie, die Fietskettings. Dit help hulle om vernuftig uit Peet en sy matriekvriende se kloue te bly. Wel soms.

Soos dit met tegnologie gaan, is dit nie altyd daar wanneer mens dit soms die nodigste kry nie. Een naweek gaan kamp die Rotte op Daniël-hulle se plot en kom gou agter die veld is vol onverwagte gevare, en party van hulle het twee bene.

Terwyl ek terugry, probeer ek uitpluis hoekom ek so lekker gelees het aan die boeke en dit ook met ’n lekker hart vir my vriendinne se seuns en dogters sal aanbeveel.

’n Paar van my redes:

  • Die spanningslyn word in elke boek vinnig gevestig en algaande word die skroewe stywer gedraai. En net as die spanning te veel word, dan is daar weer iets soos ’n leë beskuitblik of ’n pratende papegaai wat bietjie verligting bring.
  • Boeliegedrag en die werklikheid van ’n Suid-Afrikaanse samelewing wat onder misdaad gebuk gaan, word glad nie omseil nie. Maar dit word nooit in grusame besonderhede beskryf nie. Dit ruk nie handuit nie, en sal jonger lesers nie ontstel nie.
  • Die vraagstukke waarmee die viermanskap te doen kry, bevat dikwels ’n element van etiese dilemmas, waarmee enige tiener maklik kan identifiseer.
  • Die dialoog vloei supercool. Met die lees van die boek het ek my vriendinne se kinders hòòr praat. Ek onthou een van die karakters se dialoog: “Yes dudes! roep Malebo toe hulle nader loop. “What’s up?” Die res van die boeke is in suiwer, idiomatiese taal geskryf.
  • Tieners sal maklik met die veelrassige opset van die skool- en koshuisomgewing kan identifiseer en behoort die hedendaagse samelewing met gebroke gesinne te herken.
  • Die hoofkarakters is tipiese tieners waarmee lesers kan identifiseer. Drie van die hoofkarakters is koshuisbrakke en een bly in sy tannie se gastehuis.
  • Die ontwakende bewuswording van die teenoorgestelde geslag word ook vaardig aangeraak. Daar is darem so hier en daar ’n giggelende meisie met blink oë.

Die teikenleser is seuns so tussen 11 en 13 jaar. Navorsing het gewys dogters lees makliker boeke wat op seuns gemik is as andersom. Ek kan my goed indink ’n hele paar dogters sal hulle verlustig in die manewales van die seuns. Net die seuns neem aan die avonture deel, maar daar gebeur baie dinge soos sportbyeenkomste, die entrepreneursdag by die skool en wetenskapproewe wat alle tieners sal interesseer.

Die boeke het ’n vinnige tempo, maar is so geskryf dat lesers ’n bietjie kan ontsnap na ’n ander omgewing weg van probleme en onderwysers.

Die kweperlat en ses van die bestes is gebêre en strawwe is nou gepas vir die huidige skoolstelsel. Die koshuisbrakke moet byvoorbeeld berge aartappels skil en is bekommerd dat hulle vingers soos wortels gaan lyk.

Die reeks bestaan uit vyf boeke. Almal is ongeveer 130 bladsye lank. Die bladuitleg sorg vir ’n gemaklike lees en die taalversorging is puik.

Net een wenk. Moenie die vierde boek in die reeks, Die Rietrotte en die stropers, lees sonder ’n blikkie kondensmelk byderhand nie. Die spul gaan kamp en maak koffie met kondensmelk. Dit het my ’n ontydige uitstappie winkel toe gekos. Ek waarsku maar net.