Ons gesels oor sy sy onthullende lewensverhaal, Soldaat (Lux Verbi), wat onlangs uitgegee is. Daarin skryf hy hoe sy ouers se egskeiding hom as jong seun geraak en dié verwonding ’n diep letsel gelaat het. Dis maar eers die afgelope paar jaar dat hy deur die emosionele pyn kon werk om vrede en vergifnis te vind. Die titel van die boek is gepas, verduidelik hy.

Foto: verskaf

“Beide my ma en pa en my stiefma was in die weermag. My uitgewer, Susan Jordaan, het eendag gebel en vertel dat sy op televisie ’n video van ADAM gesien het. Dit was Liefdesoldaat. Toe kliek dit by haar en sy stel voor die boek se titel moet Soldaat wees. Dis eintlik so cool, omdat my ouers in die weermag was en omdat my gunstelingteks uit die Bybel Efesiërs 6 vers 11 is: Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.” Reynardt is hoopvol oor die toekoms, veral ná die boek. “Ek voel asof ek al die swaar goed van my rug af gekry het en my hart gedeel het. Dit voel amper soos ’n oorwinningslied. Die ondersteuning wat ek kry, is baie positief en dit maak my positief vir die toekoms. Ek glo 2021 gaan ’n fantastiese jaar wees. Jy moet jouself in die posisie sit om te droom, om dinge te bereik. Moenie woorde soos, ek kan nie, dis te moeilik, of ek sal nooit dit kan bereik, gebruik nie. Ek sien uit daarna om kreatief te wees, miskien skryf ek ’n reeks saam met iemand of dalk nog ’n boek. Ek gaan steeds liedjies uitbring. Mens weet nooit wat gaan gebeur nie, maar ek het vir myself gesê ek moet groot droom en dis wat ek gaan doen.”

Jy dra jou boek op aan Anna, jou verloofde. Sal ons sommer daar begin – wat beteken Anna vir jou in jou lewe?

Anna was die een wat van die begin af die paadjie saam met my gestap het. Ek het haar in 2009 ontmoet en ons het in 2010 begin uitgaan, en vir’n paar jaar het ons deur moeilike tye gegaan. Sy het deur al dié tye by my gebly. Ek was ook daar vir haar deur haar moeilike tye, dit was ’n kwessie van ondersteuning. Anna is elke dag by my. Sy is die rots in my lewe en ek kon nie vir ’n beter vrou gevra het nie. Ons trou binnekort en ek sien daarna uit om haar as my huweliksmaat aan my sy te hê. 

Hykie Berg, mede-akteur by Binnelanders en jou vriend, het die voorwoord geskryf. Hy het self al oor sy lewe geskryf. Het hy jou raad gegee toe jy die boek aangepak het? 

Hykie het ’n groot rol in die ontwikkeling van die boek gespeel en het die saadjie by my geplant om my lewensverhaal te skryf. Hy het vir my die besonderhede van iemand by NB Uitgewers gegee en voorgestel ek skakel haar, wat ek ook gedoen het. Ek is Kaap toe om Susan Jordaan te ontmoet.

Dit was vir my verskriklik lekker om Hykie naby my te hê, juis omdat hy self al so ’n onthullende boek geskryf het. Hy het my ongelooflik goeie raad gegee in terme van om mense nie uit te haal of te condemn in die boek nie. As dit nie vir sy raad was nie, sou die skryfproses vir my baie moeiliker gewees het. Dit was uitdagend om die boek te skryf.

Hykie het sy hand opgesteek en gesê hy wil graag die voorwoord skryf. Ek voel bevoorreg en is hom ewig dankbaar dat hy dit kon doen. Hy is ook elke dag saam met my by Binnelanders en adviseer my oor hoe om mense se kritiek te hanteer. Want daar is kritiek. Hy bemoedig my om my nie daaraan te steur nie, want ek weet mos waarom ek die boek geskryf het. 

Jy skryf oor jou kinderjare, jou ouers se spanningsvolle verhouding, jou pa se drankmisbruik en jou ouers se egskeiding. Watter impak het jou jeugjare op jou lewe gehad?

Onderwerpe soos drankmisbruik en egskeiding is baie moeilik. My ouers het dinge daai tyd hanteer soos wat hulle gedink het die beste was. Elke besluit het gevolge en juis daarom was dit vir my baie swaar om sin van alles te maak. Ek was heeltyd op soek na aanvaarding en na mense wat in dieselfde posisie as ek was, wie se ouers ook geskei was. Gevolglik moes ek vinnig grootword. Om met soveel volwasse goed te moes deal het my ingehaal. Ek wou eintlik net van alles af weghardloop. Dit was vir my beproewend. Maar ek is oneindig lief vir my ouers en ek weet hulle het die beste probeer doen.

As ek daai lewe kon oorhê . . . [Hy lag verleë.] Dis ’n moeilike een. Mense sê as jy jou lewe kon oorhê, is daar goed wat jy sou verander, of nié verander nie. Jy kan nie so ’n stelling maak nie, want jy kan nie teruggaan nie. Ek kan nie sê ek sou dinge anders gedoen het of dat goed anders moes gewees het nie. Sonder drankmisbruik en ’n egskeiding in die huis sou my lewe dalk heeltemal anders uitgedraai het. Dit het beslis ’n impak op my lewe gehad. ’n Egskeiding en drankmisbruik het altyd nagevolge. Later in my lewe was daar mense wat my uit daai gate gehelp het.

Aan die begin van jou televisieloopbaan by Binnelanders het Danie Joubert vir jou die volgende raad gegee: “Jou hele lewe soos jy dit ken, gaan nou verander. En daar is een iets wat ek van jou vra. Moenie dat hierdie bedryf jou insluk nie. Moenie te veel drink nie. Moenie moeilikheid maak nie. Moenie n groot ego kry nie. Doen jou werk en kies jou kuiers” – bl. 72. As jy terugkyk, is jy spyt dat jy nie sy raad gevolg het nie?

Ek is tot ’n mate spyt. Ek dink ek sou vinniger by ’n punt uitgekom het om ander roetes te volg. Die bedryf was nuut en het my ingesluk, ek het met die verkeerde mense uitgehang en myself in die proses baie seergemaak. As ek terugkyk, moes ek sy raad gevolg het, dan sou ek nie so baie tyd gemors het nie. Maar ek het darem ook nie so baie tyd gemors dat alles verlore is nie. Danie was amper soos ’n pa wat net uitgekyk het vir sy jong seun. Ek is baie bly om nou te wees waar ek is en om ander mense te help, veral wanneer ek kan sien iemand word deur die industrie ingesluk. Wees oopkop, fokus. Jy moet dissipline hê as jy hierdie bedryf wil betree. Jy moet ook baie versigtig wees wat jy doen en wat jy sê, want dit bepaal baie goed.

Om as bekende in die openbare oog te wees is moeilik. Aan die een kant is daar die bewondering, maar aan die ander kant word bekendes vinnig veroordeel as hulle iets doen waarvan bewonderaars nie hou nie. Hoe moeilik is dit om n balans te probeer hou met hoe jy jou lewe in die openbaar leef?

Aan die een kant is dit lekker om herken te word want daar is ’n platform vir jou geskep waar jy elke aand in mense se sitkamers is en ook met musiek. Jy is op stage en mense herken jou. Maar jy moet nooit vergeet wie die mense is wat vir jou die platform gegee het nie. Jy is daar omdat mense na ’n program kyk, jy is daar omdat mense jou CD koop of jou musiek aanlyn luister.

Aan die ander kant, na gelang van wat jy gedoen het, veral as dit iets verkeerd is en dit kom uit, dan veroordeel mense jou maklik, veral met Facebook en Instagram vandag. Jy moet baie versigtig wees wanneer jy iets doen of sê. Ek maak seker dat ek nie in die oomblik terugantwoord as iemand vir my iets leliks op sosiale media geskryf het nie, of waar iemand nie die konteks verstaan van wat ek bedoel het in my boek of in ’n praatjie nie, of in ’n video wat jy vir online gemaak het.

In my boek hét ek sekere goed gesê en ek weet waarvoor ek my inlaat. Jy weet jy sit jouself basies uit vir ’n toffie en jy gaan gekou word. Jy moet die gevolge hanteer. Ek moet onthou hoekom ek doen wat ek doen en nie op die publiek fokus nie. Ek is eerstens ’n akteur en musikant en dis my job. Wat daarna kom . . . ek moet alles kompartementaliseer. Ek moet weet daar’s sekere kompartemente waarin ek klim en tree dienooreenkomstig op.

Dit ís moeilik om in die openbare oog te leef omdat mense jou fyn dophou. Maar dis ook ’n groot geleentheid om die platform te gebruik vir my beginsels. Vir iemand om dalk ’n follower te raak omdat ek vir sekere beginsels staan. Aan die einde van die dag seëvier die waarheid. Die publiek stap saam met jou ’n paadjie, hulle word deel van jou familie en jy moet na jou familie kyk.

Ek maak seker dat my goed op sosiale media skoon is, ek sê niemand sleg nie, ek gee net ’n opinie as ’n opinie gegee moet word. Belangrik ook, ek is ’n gekontrakteerde werknemer by ’n besigheid en hulle het ’n handelsmerk. So, ek kan nie iets doen wat hulle handelsmerk skade berokken nie.

Is jy benoud oor mense se reaksie oor alles wat jy in jou boek onthul? Laat dit jou weerloos voel?

Ek is op ’n plek waar ek besef ek kan mense se reaksies nie beheer nie. Ek kan nie reageer op die lelike goed wat na my kant toe kom nie. Daar was al ’n paar verskriklike boodskappe op Instagram gewees, maar 89% van die terugvoer sover is baie goed. Ek het myself vulnerable gemaak, maar ek gaan nie toelaat dat dit my gooi nie.

Iemand het nou die dag gevra hoekom ek my vuil wasgoed in die openbaar was, want dit sê baie van my karakter. As die persoon die boek lees, sal hy agterkom dit gaan oor ’n oorwinning, om goed te oorkom – nie net drank en seks en dagga nie. Dit gaan oor hoe jy jou seer oorkom, hoe om ’n egskeiding te hanteer as jy op skool is. Wat dit beteken om jammer te sê, wat beteken dit as iemand jou vergewe. Dis waaroor dit gaan.

Ek het 100% die waarheid geskryf en as iemand op sosiale media gaan skryf wat hulle van die boek dink, dis fine. Dis hulle opinie. Daar is egter ’n verskil tussen ’n opinie en my naam sleg maak. As hulle my naam sleg maak, of vals stories versprei, sal ek optree, want dis nie regverdig nie. 

Jy skryf oor jou “lewe van sex, drugs en rock ‘n’ roll . . .” Wei uit oor jou akteurs- en sangloopbaan en die eise wat dit aan jou as mens gestel het.

Ons bedryf is moeilik, veral as jy so jonk begin – 22. Ek was so excited. Alles was nuut en ek het nie baie mense geken nie en dit was amazing om die bekende mense met wie ek grootgeraak het, te ontmoet. Nie net het ek die akteurskant leer ken nie, maar ook die musiekbedryf. Ek het nie gedink die skielike bekendheid gaan so ’n groot rol speel in dit wat volgende gekom het nie. As jy by shows is, kuier jy saam met mense en dis parties en jy kom laat by die huis. Môre is jy weer in die bussie en ry na die volgende dorp en jy kuier weer daar saam met hulle. Dit was ’n baie exciting time gewees en dis hoe ek dit daai tyd hanteer het.

Die laaste vier en ’n half jaar hanteer ek dit op ’n nugtere noot en nou geniet ek dit meer sonder die seks, drugs en rock ‘n’ roll. Ja, daar was aspekte van drankmisbruik. Ek hét te veel gekuier en mense het oor my begin worry. Ek het oor myself begin worry. Geweet ek gaan moet briek aandraai. En dit kon baie groter en ernstige gevolge gehad het. Ek is net bly dat ek heel uit dit gekom het.

Die industrie gaan altyd sy eise hê, maar jy moet jou oë op die bal hou. Reguit vorentoe kyk, nie agtertoe nie, voete plat op die grond en fokus op die suksesse wat jy wil bereik. Dan val al die ander goed in plek. Vir my is dit nie meer ’n lewe van seks, drugs en rock ‘n’ roll nie. Jy kan dit sonder al daai goed doen, en jy gaan dit meer onthou [lag] aan die einde van die dag.

ADAM het n belangrike rol in jou lewe gespeel en jou verhouding met die ander lede het verander nadat jy die groep verlaat het om n sololoopbaan te begin. Het jy regrets oor die breuk?

My tyd saam met ADAM was wonderlik en inspirerend. Ek het baie geleer van menseverhoudings en ook baie foute gemaak. Dis nie maklik om in ’n groep te werk nie, want elke ou het sy eie mening oor goed. Wat ons gemeen gehad het, is dat ons musiek wou maak. Ons het sukses bereik. Dis wat belangrik was. Dit was ’n wonderlike reis om met ander mense te deel. En ons is deur soveel lede.

Ek is die laaste ou wat uit is en ek is nie een dag spyt oor my besluit nie. Dit was ’n fase in my lewe. Ek het nie meer kontak met hulle nie, en dis oukei. Eendag sal ons weer met mekaar gesels en lag oor die ou dae. Vir nou wil ek meer in myself groei en liedjies sing wat ek wil sing. Ek wil regtig mense inspireer op my eie manier. My grootste wens vir die groep is dat hulle suksesse bereik. Ek respekteer elke lid van ADAM en ek is dankbaar vir Hugo saam met wie ek van die begin af deel was van die groep. Maar die boek is vir my toegemaak. 

Die pandemie het geweldige veranderinge in ons almal se lewens gebring. Het dit jou laat besin oor jou sterflikheid en jou doel op die aarde?

Dit was beslis ’n op-en-af-tyd. Ek het in 2020 een van my beste jare gehad, emosioneel en finansieel as ek dit mag sê. Die pandemie het my laat besef dat ons tyd kort is. Dit maak my soms angstig want daar’s so baie wat ek nog wil doen. Ek is nie noodwendig op ’n goeie plek van vrede oor my sterflikheid nie. Jy moet jou tyd saam met die regte mense spandeer, na die regte goed kyk en luister. As jy regtig iets wil doen, doen dit. Beplan dit. Glo in jouself, jy gaan nie andersins ’n geleentheid kry nie. Hierdie pandemie het die rykstes van die rykes terug aarde toe gebring, maar ook die wat nie ryk is nie – vir ons om te besef ons almal is net mense. Ons word deur dieselfde kwessies in die gesig gestaar en ons moet daar wees om mekaar te help.

Was die skryf van die boek vir jou terapeuties en het dit jou gehelp om afsluiting te kry oor sekere kwessies?

Ek hou al vir die laaste vier en ’n half jaar ’n joernaal en het altyd gewonder wat gaan ek daarmee doen. Dit was amazing om alles wat ek al neergeskryf het en waardeur ek al was te kanaliseer in ’n boek. Dit was terapeuties. Ek het reeds vrede gehad oor baie kwessies, maar waar ek nou is, is ek verlos van alles wat gebeur het. Daar is geen geheime meer nie. Ek gaan aan met my lewe en ek probeer positief wees. Ek het myself vergewe en het vrede met waar ek nou is.

Skakel Sondag 28 Februarie om 18:00 in op Netwerk24 se webtuiste om na die regstreekse bekendstelling van Soldaat te kyk. Hykie Berg sal met Reynardt oor sy verhaal gesels en Reynardt sal ’n splinternuwe lied opvoer. Klik hier.