Die impak van ’n jong seun se selfdood staan sentraal in Stille waters. Sy lewe is direk en indirek verbind aan die drie vrouekarakters wat hul storie afwisselend vertel.

Hannna skop die verhaal af. Sy is Divan se ma en ’n suksesvolle personeelagent wat haar professionele lewe moet balanseer met die van ma-wees van twee kinders en ’n liefdevolle eggenoot. Een middag kom sy wanneer sy van die supermark af terugkom op Divan se lewelose liggaam in die motorhuis af. Sy dood ruk haar en sy probeer antwoorde soek oor hoekom hy sy eie lewe geneem het.

Dorette bestuur die supermark waar Hanna was en hul paaie kruis daar. Sy is ’n enkelma wat saam met haar drie dogters vir haar ’n nuwe lewe kom skep het nadat sy van haar verwoestende verlede weggevlug het. Al wat sy wil doen, is om haar kinders van die euwels van die lewe te beskerm. Haar oudste dogter, Katrien, is saam met Divan op skool en speel saam met hom in die orkes.

Katrien is verantwoordelik vir die derde storielyn. Ná Divan se dood sink sy dieper en dieper in ’n swart put van depressie weens haar ontnugtering met die lewe. Haar beste vriendin hang al hoe meer saam met die gewilde kinders uit en Katrien voel al hoe meer soos ’n buitestander. Wanneer sy een van die cool ouens op sosiale media bevriend, lei dit tot ontstellende wendings.

Al is hy nie self aan die woord in die roman nie, leer die leser Divan ken uit sy dagboekinskrywings wat tussen hoofstukke geplaas word. Dit plaas sy emosionele wroeging vir die leser in konteks met die gebeure.

’n Mens kan nie onaangeraak staan teenoor die emosionele verhaal nie. Aggenbach roer belangrike kwessies op ’n eg menslike en geloofwaardige wyse aan. En hoe die gevare waarin kinders verkeer dikwels onder die radar plaasvind. Op die omslag sê Wilna Adriaanse die roman is “Hartverskeurend mooi. ’n Aangrypende verhaal vir volwassenes sowel as tieners.” Ek stem heelhartig saam, ’n verhaal wat by my bly broei.

Ek het per e-pos met Juanita oor die skryf van Stille waters (Human & Rousseau) gesels.

Juanita Aggenbach afgeneem deur Brenda Veldtman.

Skryf jy voltyds of het jy n ander beroep ook?

Ek skryf die afgelope paar maande voltyds. (My “voltyds” beteken eintlik oggende, omdat ek die voorreg het om die res van die dag my kinders se persoonlike chauffeur te wees).

Dis my geheim was jou eerste en boek gebaseer op jou persoonlike ervarings. Vertel my hoe jy begin skryf het en waarom so ’n persoonlike kwessie aanroer in jou debuutroman?

Om boeke te skryf was nooit een van my kinderfantasieë nie. My Afrikaanse opstelle op skool het altyd my punte afgetrek. Maar een jaar moes ek ’n opstel oor my lewe skryf as deel van my aansoek vir meestersgraadkeuring in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Ek het ’n kollega (’n taalonderwyser) gevra om na my opstel te kyk. Toe reken sy ek kán skryf. Dis dalk hoekom dit in my hart geresoneer het toe ek en my swaer ’n paar jaar later oor ’n tema filosofeer en hy die woorde gebruik: Jy moet ’n boek hieroor skryf. ’n Paar dae later het ek voor die rekenaar gaan sit, ’n Word-dokument oopgemaak en myself afgevra: As ek ’n boek sou skryf, waaroor sal dit wees. Die antwoord was: Ek het ’n storie met ’n rede, skryf dáároor. Tien bladsye in die manuskrip in het ek besef my storie gaan oor meer as net myself. Om die storie reg te vertel moes ek begin by my biologiese ouers en moes ek my aanneemouers se ervaring ook bywerk.

Het die skryf van dié roman vir jou n rustigheid oor kwessies in jou eie lewe gebring?

Ek het grootliks vrede gevind oor my verlede sewe jaar voor ek aan Dis my geheim begin werk het. Maar tydens die skryf van sekere gebeurtenisse in die roman het ek emosies ervaar wat ek nie daardie tyd beleef het nie, en ek dink dit was nodig om die laaste bietjie heling te bring. Dit was veral goed vir my om die geleentheid te kry om ’n bietjie in my biologiese en my aanneemouers se skoene te klim.

Hoe begin verhale vir jou, met n karakter of n gebeurtenis?

Dit begin gewoonlik by ’n tema. Ná elke boek spits ek my ore vir iets wat my aandag trek. Sodra ek ’n tema het, meld die karakter genadiglik aan.

Jy roer altyd n kwessie in jou verhale aan – borskanker, drankmisbruik en nou boeliery en tienerselfdood. Wat trek jou na hierdie onderwerpe?

’n Paar mense het ná die lees van Dis my geheim na my toe gekom en vertel hoe hulle ook ’n kind vir aanneming opgegee het, of ’n kind aangeneem het, of self ’n aangenome kind was. Dit was wonderlik om te dink dat my boek ’n dialoog kon begin waaroor tipies nie gepraat word nie. Van toe af wou ek ’n stem gee aan mense wat die dinge deurleef wat my karakters beleef. Wanneer ’n leser vir my skryf of sê, “Ek het presies soos daardie karakter gevoel”, beteken dit vir my meer as enige goeie resensie. Mense kom nou na my toe en sê: “Ek het ook borskanker gehad” of “My pa was ook ’n alkoholis” of “Ek het presies soos Hanna gevoel in Stille waters”. Nou die dag het ek van ’n tiener gehoor wat Stille waters gelees het en vir haar vriendin gesê het die boek was vir haar ’n openbaring, want sy sien nou al ses weke ’n sielkundige, maar verstaan nou vir die eerste keer wat met haar aangaan. Dis lekker om te weet mense kan vanweë my boeke hierdie dinge sê sonder skaamte, want daar was ’n karakter in wat deur dieselfde is en heel anderkant uitgekom het.

Wat was die vonk vir Stille waters?

Ek was pas klaar geskryf aan Gister is verby toe daar kort ná mekaar twee berigte was oor twee tieners wat afsonderlik selfdood gepleeg het. Ek wou weet wat in hul kop aangaan. 

Hoe skep jy jou karakters en wat is vir jou belangrik wanneer jy hulle skep?

My karakters begin dikwels baie eendimensioneel wanneer ek aan die verhaal en storielyn werk, maar hoe meer ek herskryf, hoe meer volrond raak hulle. Dis vir my belangrik dat hulle eg menslik is en dat ’n mens met hulle op een of ander vlak kan identifiseer, al hou jy nie noodwendig van hulle nie.

Het jy n gunstelingkarakter in die roman?

Ek hou baie van Hanna se vriendin, Sandra. Ek wens ek was soos sy – vreesloos. En Katrien het baie vinnig in my hart ingekruip. Die manier hoe sy na die lewe kyk en hoe sy haarself soms uitdruk, het my ’n paar keer laat glimlag.

Moes jy navorsing doen vir Stille waters?

Ek sou heeltemal uit my diepte gewees het sonder hulp uit verskeie oorde. Gelukkig is mense ongelooflik met die deel van hul kennis. Buiten die naslaan van boeke, artikels en webtuistes – onder meer dié van SADAG [SA Depressie-en-angsgroep], het ek buite op ’n bankie by die polisiekantoor met ’n speurder gesit en gesels; ek het koffie gedrink saam met ’n ma wat Hanna se pad gestap het; ek het gekoek en tee by ’n Compassionate Friends-byeenkoms; ’n kliniek besoek en met ’n spannetjie tieners gesels. ’n Paar psigiaters in private praktyk het my vrae geduldig per e-pos beantwoord. My boeke is eintlik maar altyd ’n groot spanpoging.

Wat was die moeilikste van hierdie verhaal?

Die verhaal lê my baie na aan die hart omdat ek self twee tieners grootmaak. Daarom wou ek dit graag rég vertel sodat mense dit nie net waardevol vind nie, maar dit geniet en aanbeveel ook.

Hoe het jy by die titel uitgekom?

Hoe beter ek vir Divan en Katrien leer ken het tydens die skryf van die manuskrip, hoe meer het ek besef hoe tieners hulself boikot deur nie met hul ouers of selfs enigiemand te praat oor wat in hul lewe aangaan nie. Dit het my laat dink aan die idioom “Stille waters diepe grond, onder draai die duiwel rond”.

Is dit maklik om afskeid te neem van jou karakters as jy klaar is met n boek?

Oor die algemeen sê ek sonder moeite totsiens, maar ek vang myself soms dat ek aan hulle dink – amper soos mens aan ’n vriendin sal dink wat jy lanklaas gesien het.

Hoe het die grendeltyd jou skryfproses geraak of kon jy ongestoord aanhou werk?

Al wat tydens die grendeltyd vir my verander het, was dat ek die middag ook tot my beskikking gehad het om te skryf. Dit was salig!

Werk jy aan n nuwe boek?

Ek is tans besig met ’n manuskrip, ja. Maar soos met my ander boeke, glo ek eers dis iets werd wanneer die uitgewers dink dis publiseerbaar.