The Beauty of Living Twice, Sharon Stone (Allen & Unwin, R335)

 inspirasie, woorde

Om in die kollig te wees, boonop in die glanswêreld van Hollywood, kan nie maklik wees nie. Al het jy dit gekies. Sharon Stone is vir my een van die mooiste en mees talentvolle aktrises van die silwerdoek en ek moes eenvoudig haar memoires lees.

In die boek vertel sy van haar vertwyfeling, dat sy nooit gevoel het sy is goed genoeg nie, dat sy dubbeld so hard gewerk het om aan haarself te bewys sy kan die hoogste sport van haar loopbaan bereik.Toe kry sy ’n beroerte met ernstige bloeding op haar brein. Sy moes veg om haar lewe. Dít plaas alles wat voorheen in haar lewe gebeur het in ’n nuwe lig.

Die herstelproses was lank en moeilik. Tog het sy die tyd gebruik om nie net haar liggaam gesond te kry nie, maar ook om bestekopname te maak van die vertwyfeling wat maar altyd deel van haar lewe is. Vir die eerste keer het sy ook die trauma van haar kinderjare in die gesig gestaar. Sy erken hoe sy en haar suster vir jare deur haar oupa seksueel misbruik is. Sy skryf dat dié onthulling met sy eie risiko kom, dat dit kan sorg vir sensasionele hoofopskrifte in die media. Maar, skryf sy verder, “Generation after generation we will still be learning just how to talk about and deal with abuse without being abusive in our very discussions, sensationalistic in our interest, cruel with our concern.”

Stone is uitgesproke en is eerlik oor hoe min selfvertroue sy na haar beroerte gehad het; hoe groot impak haar siekte op haar loopbaan gehad het en hoe haar huwelik met Phil Bronstein verbrokkel het en sy boonop toesig van hul aangenome seun verloor het. Aan die anderkant kry jy insig in haar humanitêre werk saam met amfAR, The Foundation for AIDS Research, en die redes waarom sy haar tyd en invloed ten bate van MIV/vigs gebruik. Natuurlik bespreek sy ook die rolprente en die rolle waarby sy betrokke was, asook van die groot name saam met wie sy al gewerk het en wie haar rolmodelle in die bedryf is.

Sy sluit haar lewensverhaal af met die woorde: “I have learned to forgive the unforgivable. My hope is that as I share my journey, you too will learn to do the same.” Al was die lewe in die kollig nie altyd maklik nie, het Sharon Stone geleer om haarself te aanvaar, die goeie en die slegte, en sy vra nie om verskoning nie. Inteendeel sy is trots op wat sy vermag het, dat sy ’n tweede kans gekry het en dat sy is wie sy is. - Phyllis Green

Sy is nie al skrywer wat in hul memoires oopmaak oor vertwyfeling en die gebeure wat hul lewens gevorm het.

 

Robert, Robert Hamblin (Melinda Ferguson Books R 280)

 inspirasie, woorde

Die bekende Suid-Afrikaanse fotograaf, kunstenaar en aktivis, Robert Hamblin, daag met dié memoires lesers uit om hul eie siening oor seksualiteit, identiteit en menslikheid te toets.

Die gemaklike skryfstyl lei ’n mens onverhoeds in die komplekse bestaan in van klein Adéle wat in 1969 vir Billy en Stella Venter in Alberton gebore word. Haar pa is egter gay en hy stap uit die huwelik terwyl Adéle nog doeke dra. Sy ontmoet hom eers weer in haar tienerjare.

Op sestien word Adéle, wat seunsagtig voorkom, in haar pa se wêreld opgeneem. Billy is ’n swendelaar wat met leuens en bedrog sy flambojante leefstyl befonds. Dis ’n lewe van partytjies, volop seks, alkohol en dwelms. Billy se minnares, Alexis, leer Adéle hoe om met haar lyf mense te manipuleer. Alexis is haar ikoon en haar eerste langdurige liefde in ’n lang lys van lesbiese verhoudings.

Adéle Hamblin (haar stiefpa se van) beland as agtienjarige in die koerantwêreld as fotograaf. Die werklikheid van ’n harde nuus-omgewing staan haar nie aan nie en dis as kunsfotograaf dat sy opgang maak. Terselfdertyd spoed haar lewe voort, terwyl sy wroeg met ’n ongemaklikheid met haarself en haar lyf.

Die tempo van die verhaal is vinnig. Dit was moeilik vir my om die hoofstukke te lees waar Robert in sy soeke na sy seksuele identiteit worstel. Sy betrokkenheid by die pynlike lyding van vigslyers het my diep geruk. So ook die verwerping deur sy stiefbroer en -pa, wat hy moes verduur. Dan was daar ook sy desperate insnydings met ’n lemmetjie deur die vel. Adéle word Robert lank voor die werklike transformasieproses begin. Sy dra mansklere terwyl haar lang hare laag oor haar rug hang.

Wanneer Adéle ’n verhouding met feminis May aanknoop, gee hy sy eerste treë as “man”. Robert se lang hare word afgesny en sy kop daarna kaal geskeer. Dié emosionele oomblikke word op film vasgelê. ’n Jaar in Amerika volg en met die terugvlug na Suid-Afrika word sy lewensroete tydens ’n paar dae in Parys bevestig. ’n Israeliet gee hom daar die antwoorde waarna hy al solank soek. Hy is transgender, al hou hy niks van die woord nie.

Met die hulp van May, wat hom terugverwelkom, begin sy lewe rigting kry. Sy transformasie oor agt jaar begin. Robert tree in hierdie tyd op die voorgrond as aktivis vir ander transgender mense.

Robert se fyn waarneming van die nuanses van die lewe het my geboei tot aan die einde. Ek verstaan ook waarom daar op die voorblad ’n waarskuwing is dat hierdie boek nie vir die “straight or narrow” is nie. Maar as jy jou konserwatiewe skoene vir die duur van die lees van Robert se memoires kan uitskop, dan het jy gebaat by die verhaal. - Tina Swiegers

 

Tough Love, Lovemore Ndou (Jonathan Ball, R260)

 inspirasie, woorde

Met dié boek slaan Lovemore Ndou die cliché van die “dom bokser” kisboude. En terwyl jy sy memoires lees, voel dit soms of hy ook ’n paar houe in jou maag plant.

Sy verhaal maak seer. Verseker het hy seergekry terwyl hy dit geskryf het. Die lewensverhaal – sover – van die seun van die Limpopo-provinsie wat na Australië emigreer en ’n beroemde bokser én later ’n prokureur geword het, was vol landmyne.

Dis ’n reis wat amper deur rassisme ontspoor is. Genade mense, dié ou het ’n paar houe gevat en ’n mens kan hom nie kwalik neem dat hy op ’n tyd vermoed het dat daar ’n rassis agter elke graspol geskuil het nie.

Van die dinge waaroor hy skryf is regtig ontstellend, soos ’n gebeurtenis vroeg in sy lewe toe rebelle hom en sy mense in ’n gehuggie in Zimbabwe geterroriseer het. Ndou skryf hy kry nou nog daaroor nagmerries. Wel, hierdie leser kry nou ook nagmerries daaroor.

Die boksgevegte in die boek is keurig en met ’n vars aanslag geskryf. Dis ook nie net die hele tyd ’n geboks nie, die boksery maak net ’n deel uit van sy verhaal.

Ndou skryf ook eerlik oor sy gebroke verhouding met die moeder van sy kinders. Dis moeilik om te verstaan hoe hy kon studeer het terwyl die vonke so om hom gespat het.

Regtig, dis nou ’n storie hierdie wat die moeite werd is om te lees. Maar onthou, jy is gewaarsku, van Ndou se woorde maak so seer soos sy links-regs-kombinasies! - Michael Green