Foto: Brenda Veldtman

“Dié boek gaan amper ’n afsluiting wees van al die wrede ouens wat mens in die wêreld kry. In die toekoms wil ek ’n vars benadering met Kassie volg. Maar nou is daar ’n reeksmoordenaar los in die Kaap wat mense teen ’n tempo vermoor, boonop ’n baie moeilike kalant om vas te trek,” vertel Rudie.

“Hy het nie ’n selfoon nie. Hy werk nie op rekenaars sodat jy hom op dié manier kan opspoor nie. Hy het talle vals identiteitsboeke en hy gebruik verskeie aliasse. Hy is ’n miljoenêr. Heeltemal iets anders as ’n gewone reeksmoordenaar.

“Die groot probleem is dat Kassie se aandag nie heeltyd op die saak toegespits is nie. Hy is verlief en dit het ’n groot impak op sy werk. Later in die boek ontspoor sy aandag weer wanneer sy bevelvoerder daarvan aangekla word dat sy die ondersoek op ’n manier probeer beduiwel.

“Terwyl Kassie hom besig hou met ander goed, word daar vroue vermoor. Gelukkig kom hy terug op die spoor.”

Oor die treffende een-woord-titel vertel Rudie hy het gedink Hartedief klink meer soos ’n liefdesverhaal, maar dat dit die verhaal eintlik soos ’n handskoen pas. Om die titel 100% te laat werk moes hy ’n bietjie aan die manuskrip herskryf.  

Was die reël “Wanneer wolke bloed reën” op die omslag jou skepping, want dit sê baie van die verhaal?

Ek het gesoek na ’n reël en kon nie een kry wat die verhaal lekker vasvang nie. Die uitgewer gee altyd vir die ontwerper van die voorblad ’n paar blaaie om te lees en so ’n gevoel van die boek te kry. Hy het die woorde sommer as ’n voorbeeld gebruik terwyl hy besig was met die ontwerp. Ek het onmiddellik besef dit werk soos ’n bom, want dis baie atmosferies. Die eer kom Michiel Botha toe.

Laas jaar toe ons in die grendeltyd oor Merk gesels het, het ek gevra of jy die pandemie in jou volgende boek gaan inwerk. Jy het gesê nee en Hartedief speel inderdaad nie tydens die pandemie af nie. Die situasie met die pandemie is so onseker en hou so lank aan, het dit jou uitkyk enigsins verander?

Hartedief was klaar geskryf voordat die pandemie uitgebreek het en dit was dus nie eens in my verwysingsraamwerk nie. Dis ’n moeilike vraag, want as ’n ou nou ’n nuwe boek aanpak, moet jy die pandemie inwerk? Wanneer gaan dit eindig en wanneer gaan dinge normaliseer. Die onsekerhede maak dit baie moeilik, veral vir my wat ’n jaar of twee vooruit werk. Later in die jaar verskyn nog ’n Hans-boek en hy gaan uit en uit oor die pandemie. My volgende spanningsverhaal speel in 2018 af en word gelukkig nie geraak deur Covid-19 nie. Ek het dit vir myself ’n bietjie makliker gemaak. 

In ’n artikel trek die Amerikaanse skrywer Wendy Corsi Staub ’n parallel tussen 9/11 en die Covid-19-pandemie en hoe skrywers dit benader. Sy reken toe 9/11 gebeur het, het baie fiksieskrywers eers heelwat later daaroor geskryf omdat dit net too close to home was, dat die sielkundige impak net te rou was. Haar mening is dat dieselfde gaan gebeur met die pandemie, en die klompie skrywers met wie sy gesels het, het haar stelling beaam.

’n Mens kan dit verstaan. Ek voel ek het darem ’n bietjie opgemaak daarvoor deurdat Hans en die inwoners van Huis Madeliefie hulle in Vlak 5 gedurende die inperking beleef in die nuwe boek. Die spanningsverhaal wat daarna verskyn, moet egter in 2018 afspeel want dis ’n gefiksionaliseerde weergawe van ’n werklike gebeurtenis van daardie jaar. Mense weet van hierdie dinge en gelukkig kon ek skryf oor gebeure van daardie paar maande ná Oktober. Ek kan bly wees dit was nie in die grendeltyd nie [lag]. 

Jy het Kassie se verliefdheid genoem, maar dis nie die eerste keer dat hy op iemand verlief raak nie.

In Judaskus is Kassie eintlik bedrieg deur die vrou. Hy was smoorverlief op die twintig-something vrou, maar sy het hom probeer omkoop om inligting te kry. Sy verliefdheid het gemaak dat hy dit nie kon raaksien nie. Hy was baie seergemaak toe hy besef het die vrou was nie op hom verlief nie. Nou het Kassie ’n vrou van sy eie portuur ontmoet. Boonop is sy ook ’n seëlversamelaar. Hulle het baie gemeen. Sy is oulik en Kassie hou van haar. Of die liefde tussen hulle gaan uitwerk, wil ek nie nou al weggee nie.

Jy het baie inligting gegee oor seëls in dié verhaal omdat dit die gedeelde belangstelling tussen Kassie en Amalia is. Wat was van die interessantste goed waarop jy oor seëls afgekom het?

Ek is ’n groot koerant- en tydskrifleser en knip alles wat ek oor seëls kry uit en sit dit in ’n lêer, want ek weet ek gaan dit een of ander tyd vir Kassie nodig kry. Ek kyk ook na internetartikels oor seëls en veilings. Wanneer ek weer met Kassie besig is, gaan raadpleeg ek daai lêers van my. Daar’s ’n hele klomp interessante seëls waarvan die Driehoek-reeks Kassie se gesogste is. Maar dan raak hy en Amalia ook baie opgewonde oor die Statebond-versameling. Amalia het egter ’n groter versameling daarvan as Kassie en hy is stomgeslaan wanneer sy dit vir hom wys. 

Kassie en Rooi sit met ’n dilemma want hulle weet wie die reeksmoordenaar is. Hulle het sy vingerafdrukke en ander forensiese getuienis, maar kan hom net nie vastrek nie. Om suksesvol oor hierdie forensiese aspekte te skryf moet jy op die hoogte bly van wat gebeur. Hoe doen jy dit?

Ek het ’n kontak wat by die forensiese laboratorium in die Kaap is en ek nader hom as ek wonder of ek op die regte spoor is. Hy help my baie en ek lees ook wyd op. Ek kan uitwei oor reeksmoordenaars as sulks. Ek wou juis ’n reeksmoordenaar skep wat nie in die kassies pas waarin hierdie soort moordenaars ingedeel word nie. Die mees basiese kategorieë waarin hulle geplaas word, is georganiseerde en ongeorganiseerde moordenaars. ’n Georganiseerde moordenaar doen vooraf ongelooflik baie beplanning. Hy sorg dat hy nie spore nalaat nie. Hy dra handskoene sodat hy geen vingerafdrukke los nie. Baie van dié moordenaars verwyder ook die lyke om op ’n ander plek daarvan ontslae te raak. So, dis ’n baie skoon moordtoneel teenoor die ongeorganiseerde moordenaar wat ’n baie bloedige moordtoneel agterlaat. Daar is baie keer soveel leidrade. Omdat dit ’n impulsiewe moordenaar is, gee hy nie eintlik om watter spore hy los nie. Ek het besluit om die reeksmoordenaar in Hartedief nie in een van die twee kassies te plaas nie. Soos Kassie-hulle ook bespiegel, het sommige van die aspekte hom aan ’n georganiseerde moordenaar laat dink, want hy doen tog vooraf beplanning. Hy weet wie hy gaan dood maak. Die ongeorganiseerde deel kom sterk na vore want hy los vingerafdrukke en dis ’n bloederige spul. Dit maak hom ’n baie moeiliker kalant om vas te trek. Ek het regtig probeer om hom uniek te maak.

’n Groot deel van sy lewe leef hy tussen ander mense sonder dat hulle besef hy is ’n psigopaat en moordenaar.

Die ergste is, hy gee ’n vrou net een kyk en sy is dadelik verlief op hom. Die ou is ’n aantreklike man wat reeksmoordenaars gewoonlik nie is nie. Dis ’n karakter waaraan ek lekker geskyf het in die sin dat sy verlede wat heeltyd by hom opkom simpatie wek by die leser. Daai simpatie verander in weersin, glo ek, as hy een van sy moorde pleeg. Ek het gevoel die leser gaan moontlik heeltyd in twee geskeur voel, want daar is ’n rede om hom jammer te kry, maar jy vergeet dit as hy die volgende gruweldaad pleeg.

Waarom sy verbintenis met Nederland?

My dogter woon op Sassenheim. Sy is nogal ontsteld dat haar pa die reeksmoordenaar op haar dorp laat grootword. Ek neem altyd ’n notaboek saam met my wanneer ek reis. Op ’n vorige besoek aan Nederland het ek alle interessante goedjies oor dié dorp neergeskryf, die koffiedrinkplekke, die supermarkte en al die besienswaardighede. Ek hou daarvan om sulke aantekeninge te maak, want ek dink altyd ek kan dit moontlik in ’n verhaal gebruik. In hierdie verhaal kon ek heerlik put uit my ervarings van Sassenheim. So ondanks my dogter se effense misnoeë, het ek dit geniet om die dorpie sy grootwordplek te maak.

Daar is ’n nuwe karakter in die verhaal. Gehasi April is ’n kleurryke polisieman wat Kassie-hulle met die ondersoek moet help. Hoe het jy sy karakter geskep?

Ek het besef dat ’n polisielid van die Langebaan-polisiekantoor ’n redelike belangrike rol gaan speel en het die man toe ’n bietjie anders gemaak as iemand wat net ja en amen sê. Gehasi is ’n kleurryke karakter met uitdrukkings wat ek in boeke gaan uitgrawe het. Ek het gesorg dat ek wegbly van die uitdrukkings wat Hans altyd gebruik. Ek het spesifieke taal gesoek om Gehasi uniek te maak en het baie lekker aan hom geskryf. My uitgewer het die hoop uitgespreek dat hy weer vorentoe in ’n storie sal voorkom, want sy het hom net so baie geniet. Ek het hard gesoek na uitdrukkings, maar op sommige plekke sommer my eie geskep. 

Hoe kies jy die woorde wat jy in jou karakters se mond lê?

Ek kan nie ’n elektroniese woordeboek verdra nie. Dalk sal dit my help as ek meer gewoond raak daaraan. Wat ek waardevol vind van woordeboeke, is terwyl ek ’n spesifieke woord in die HAT opsoek, val my oog gewoonlik op een of twee ander woorde wat my prikkel. Dan maak ek gou ’n aantekening, want ek was nie bewus van hoe lekker dié woord kan werk in ander sinne nie. Ek ontdek heeltyd woorde terwyl ek woordeboeke gebruik. ’n Tesourus is ’n wonderlike boek, want ek soek heeltyd na ander woorde as die geyktes. Soms is dit moeilik, want jy kom nie altyd agter jy skryf geyk nie. Eers wanneer jy jou werk oorlees, besef jy sekere sinne kan sterker gemaak word deur na ander woorde te soek, sonder om vreeslik dramaties en hoogdrawend te raak in die proses. Ek hou niks daarvan nie. Ek verkies om by my koeranttaal te bly, wat ek as joernalis geleer skryf het.

Al wil jy nuwe woorde inbring, kan jy dit nie regtig met jou karakters doen nie?

Dis die kuns, want jou karakter moet praat soos hy van die begin af gepraat het. Maar twee of drie ander karakters wat belangrike rolle in die boek het, moet anders klink met ander uitdrukkings en woordeskat. Anders klink al die karakters dieselfde. Ek dink dis gewoonlik my groot uitdaging om karakters van mekaar te laat verskil deur die dinge wat hulle sê.

In Merk het die reeksverkragter vroue bewustelik geteiken. In Hartedief is ’n klemverskuiwing, vroue is die slagoffers, maar hulle word nie spesifiek geteiken nie. Ek wil vra oor geweld teen vroue, want dit kom meermale na vore in jou boeke.

Die ander groot verskil is in Hartedief is geen seks betrokke by die moordenaar se motief nie. Wat ook eintlik uniek is, want by die meeste reeksmoordenaars speel seks wel een of ander rol. Ek voel sterk oor geweld teen vroue. In Merk spesifiek wou ek die kollig daarop plaas. Met reeksmoordenaars is dit alom bekend dat manlike moordenaars vroue vermoor. Die manier waarop die moordenaar in Hartedief dink, verskil van die norm. Voordat ek ’n boek begin skryf, probeer ek my vonk in nuusgebeure soek. Ek lees dan wyd met die oog op iets wat uitspring. Met Hartedief was dit die eerste keer dat ek die proses anders benader het. Die eerste twee hoofstukke van die boek was kortverhale wat so drie jaar gelede in Vrouekeur verskyn het. Een het gegaan oor Vermooten, die reeksmoordenaar, en die ander kortverhaal het oor Sylvia se lewe gegaan. Terwyl ek so gestoei het oor die volgende boek se tema, het ek baie terugvoering van lesers gekry oor die twee kortverhale. Almal het genoem hulle sou graag wou weet wat verder met die karakters gebeur. Dit het my laat besluit om die twee kortverhale as wegspringplek vir die hele roman te gebruik en om die twee karakters se verhale uit te bou.

Krimiskrywers kry dit ongelooflik goed reg om aktuele kwessies in verhale los te skryf, maar op ’n manier wat meer verteerbaar is as nuusverslaggewing. Jy roer byvoorbeeld weer polisiekorrupsie aan in Hartedief. Wil jy uitwei?

Daar is eerlike polisiebeamptes wat baie hard werk en mens wil nie almal oor dieselfde kam skeer nie. Maar as jy gereeld na die nuus kyk, moet jy agterkom die polisie in Suid-Afrika is vandag disfunksioneel. Dis nie net op grondvlak waar daar polisiebrutaliteit en die diefstal van wapens en allerhande goed plaasvind nie. Dis ook by die topstruktuur waar ’n groot probleem lê. Sedert Jackie Selebi in 2003 of wanneer ook al die hoof van die polisie geword het, was daar nog nooit ’n polisiehoof wat met eer sy amp klaargemaak het nie. Daar was altyd een of ander drama betrokke, een of ander vorm van selfverryking wat die amptenaar laat sneuwel het in sy amp, en dit geld steeds. Ek het twee korrupte polisiekarakters geskep om dit uit te beeld, maar dit móét inpas by die storie.