Foto: verskaf

In Die 17de veer werk Lara in haar vrye tyd wanneer sy nie by die skool is nie, by ’n tatoëersalon waar die eksentrieke eienaar haar alles oor tatoeëermerke leer. Vir ekstra sakgeld verkoop sy ook vintage-klere. Sy bly by haar ma en oom Dan met sy whisky wat maar altyd net daar was. Hoe hy in hul familie-opset inpas, weet sy nie juis nie. Sy weet nie wie haar pa is nie, want haar ma weier om haar te vertel. Lara se huislike lewe is nie juis maanskyn en rose nie. Soos sy self sê (bl. 24): “Ons loop almal op eiers. Waarom praat niemand met mekaar in hierdie huis nie? Regte praat, reguit en openlik praat. Die een is in die waas van alkohol. Die ander in die arms van Xanor, die kalmmaakpil wat die lewe se skerp punte rond maak.”

Lara se pad kruis met dié van Alex. Hy het in ’n kinderhuis grootgeword waar hy met ene Jay-Jay in aanraking gekom het. By dié het Alex oor naweke geleer van uile en die bos en was ’n tipe vaderfiguur in sy lewe. Nou is Alex betrokke by die rehabilitasie van uile. Hy het Kaapstad toe gekom omdat hy ’n belofte aan iemand gemaak het. Hoe hou die belofte verband met Lara? Sal hulle twee vriende kan word? Sal hulle vrede kan vind oor die verliese van die verlede?

 Ek het per e-pos met Nanette van Rooyen gesels oor Die 17de veer, wat die naaswenner was in Lapa se Jeugromankompetisie 2017.
Nanette van Rooyen Foto: verskaf

Vertel meer oor jou roetine as skrywer, het jy een of is jy n enige tyd, enige plek-tipe skrywer?

Ek is ’n rooi-boekie-draer. So ’n klein notaboekie wat ek digter teen my hart hou as die pennies in my beursie. Daarin maak ek aantekeninge. Beskryf wat ek sien en hoor. Teken mense se liggaamstaal aan. Pen woorde vas wat my bekoor. Maar wanneer ek gaan sit om ’n storie te skryf, sit ek meerkat-regop voor my rekenaar, in my studeerkamertjie, uitgeklee met foto’s en vere, met my talismans: ’n brandende kers en musiek.

"Die 17de veer" het die ATKV-veertjie gewen vir jong lesers en was in 2017 ook ’n naaswenner in Lapa se Jeugromankompetisie. Wat beteken pryse vir jou? Sit dit meer druk op jou met ’n volgende skryfprojek?

’n Literêre prys is vir my ’n wonderlike aansporing. Dit maak my nie bang vir my volgende projek nie. Dit maak my nederig. Dit lig my voete vir ’n korte wyle van die aarde af en wanneer ek weer grond vat, is ek net dankbaar.

Voor in "Die 17de veer" bedank jy jou ma dat sy jou geleer het “om die spoor van vere na te loop”. Vertel bietjie meer hieroor.

Ma het geglo dat vere boodskappe van die engele is. Wanneer jy ’n veer in die pad raakloop, moet jy dit optel. As klein dogtertjie het sy my hare versier met vere. Ek het gedink dit is normaal. Toe die liefmoeder oorlede is, moes ek haar huisie gaan oppak. Oral het ek bosse vere gevind. In die spens langs die Maizena. In haar linnekas, ’n glashouer vol vere. In haar badkamer langs die seep. In haar eetkamer op die vensterbank. Dit was altyd daar, maar ek het dit nie so prominent gesien nie. Tot haar dood. En nou loop ek dieselfde verepad. Dit is hoe ons kommunikeer. ’n Sagte gesprek, dink jy nie?

Hoe het "Die 17de veer" vir jou begin?

My oudste dogter, Sabina, het op ’n dag by ons huis aangekom in een van haar retro-rokke met haar tatoe van Albert Camus op haar voorarm. In Frans: In the midst of Winter I have found the innermost of Summer. Ek het daardie dag nuut gekyk na haar en gewonder: Jy is ’n karakter. In watter storie gaan ek jou neerpen?

Jy skryf onder meer oor pilverslawing, oormatige alkoholgebruik en die verhongering van modelle in die verhaal. Is dit vir jou belangrik om kwessies in jou verhale aan te roer?

Nee, ek is nie gedrewe om kwessies aan te roer nie. Wanneer die karakter vir my ’n onderwerp aandra, dan doen ek navorsing daaroor en sleep dit die storie in. Dis gebeur organies en is hopelik nie pedanties nie.

Moes jy baie navorsing doen?

O ja! Steampunk. Die kuns van tatoes. Soveel moontlik oor voëls, veral uile. Die kuns en artefakte van Indonesië en Bali. Musiek wat by die karakters pas. Maleise kos, onder meer. Lekker kennis ingewin oor single malt whisky. Ek is ’n navorsing-junkie. Dit lei my op paaie wat my verryk. Soms moet ek myself knyp en aanmaan: “Nou is dit genoeg. Stop. Hou op. Skryf jou storie.”

Het jy ’n tatoe?

Nee. Kan jy glo? Ek wou vir my ’n 17de veer laat tatoe op my rug toe ek klaar is met die boek, maar toe is ek te bang.

Leen jy altyd uit die werklike lewe om karakters te skep? 

Ek begin alles en almal vanuit die werklike lewe en dan lieg ek lekker verder as die gees my vat.

Wat was die moeilikste aspek van "Die 17de veer"?

Om die heeltyd eerlik in die kop van Lara te bly was ’n uitdaging. Sy is ’n komplekse jong mens. Ek wou nie goed uit my duim suig nie. So, ek moes my vinger op haar pols hou. Dit was ook vir my hard om saam met Lara se verlies te loop oor haar pa. Toe sy die briewe ontdek, het ek vir lank sonder vel gevoel.  

Is dit maklik om van jou karakters afskeid te neem?

Dit is vir my nooit maklik nie. Hulle word deel van my lewe, deel van my onderbewussyn. Ek hoor my karakters by tye duideliker met my praat as my eie gesinsmense. Ek was so lief vir oom Dan. Die weemoedige man met die lang, slanke vingers met sy whisky en musiek. Nou nog dink ek aan hom as ek en my man ’n single malt geniet. Dan speel ek sommer Boccherini se vioolkonserte en klink ’n glasie op oom Dan.