Dis egter nie hoe die lewe verloop nie. My ondervinding is dat nes dinge lyk asof dit glad verloop, rol daar ’n rots in jou pad. Dalk is dit familieverhoudinge wat gespanne is. Of dis dalk iets uit jou kinderdae wat in jou onderbewuste ronddraal. Miskien word jy verbaal geboelie. Jy het dalk jou werk verloor en die pad vorentoe lyk duister. Hierdie gebeure maak dat jy selfondersoek moet doen, die probleem moet probeer oplos of vrede probeer maak met die situasie. Iemand sê nou die dag vir my as daardie rots in jou pad gerol word, klim op die rots en kyk wyd. Verander jou perspektief, want dikwels lyk goed anders as jy vanuit ’n ander hoek daarna kyk. Belangrik is om iets aan jou gemoedstoestand en jou situasie te doen. Gebruik jou struikelblokke om jou sterker te maak. Leef in die oomblik en benader die lewe met positiwiteit.

 

 

boeke

Life’s Not Yoga: Or is it? Finding love in the Chaos of Life, Jacqui Burnett (Sophie Blue Press, R340)

Jacqui Burnett is in die vroeë 70’s in ’n Christelike huishouding gebore. In Suid-Afrika vier apartheid nog hoogty. Sy is die enigste dogter tussen vier broers. Die gesin is op die oog af baie heg en lyk gelukkig. Tog, toe Jacqui 16 is, wil sy haar pa vermoor …

Toe sy in haar vroeë 40’s was, het Jacqui geglo sy het haar onstuimige verlede én die trauma van agt naby-doodservarings agtergelaat. Haar lewe was alles waarna sy gestrewe het. Sy het ’n goeie opvoeding, ’n wonderlike eggenoot en sy is suksesvol in haar loopbaan. Wat sy egter nie geweet het nie, is dat sy weens haar eie depressie en wanhoop op die punt gestaan het om alles te verloor. Sy moes net wegkom om sin van alles te maak en in ’n desperate soektog na antwoorde reis sy na die Rocky Mountains in Amerika. Daar ontrafel haar lewe en uiteindelik kom die waarheid oor haar chaotiese kinderjare na vore. Om sin van alles te maak en vrede te vind, moet sy die dood nog een keer in die oë staar. Sy moet ook deur ’n stortvloed struikelblokke werk voordat sy kan begin genees.

Die inspirerende persoonlike verhaal getuig van durf onderlê deur spiritualiteit en diep selfondersoek. Ek kan dit sterk aanbeveel. - Nadia de Jongh 

Die Verlore Seun Vannie Gaatjie, Ivor Swartz (Lux Verbi, R240)

Van ’n pad van selfbejammering tot een van selfverryking, ’n pad van verlore wees tot gevind – ’n pad van hoop!

Skrywer Ivor Swartz vertel sý verhaal van hoe hy as ’n verlore seun weer sy pad terug na sy Vader gevind het; net soos die bekende Bybelse verhaal van die verlore seun wat in Lukas 15 uitgestippel word.

Van jongs af moes Ivor die letsels van sy pa se dood dra, asook die “monster” in die huis wat hom en sy gesin geterroriseer het. Talle kere het hy in die put van selfbejammering geval en verkeerde keuses gemaak om die leemte in sy hart te vul.

Ná ’n paar jaar in die tronk het Ivor by die kerk bewus geraak van die Here se liefde. Hy het daarna besluit om van selfbejammering ontslae te raak en na ’n verrykende lewe te streef waardeur ander “verlore seuns” soos hy ook gehelp kan word.

’n Belangrike tema wat aangeroer word, is die van afwesige pa’s en die impak daarvan op gesinne en die samelewing. Hierdie ware verhaal getuig van God se genade, onbeskryflik groot. – Chantelle van der Merwe

 
boeke


Maggie: My lewe in die kamp, Maggie Jooste (Tafelberg, R290)


Hoe het kinders die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog beleef en oorleef? Maggie Jooste, ’n tiener uit ’n welgestelde familie van Heidelberg, se gemaklike lewe word omgekeer wanneer sy as 13-jarige met haar ma en sibbe drie dae lank sonder kos, water en sanitêre geriewe op ’n veetrok na ’n konsentrasiekamp in Natal aangery word. Hulle was gelukkig. Vir die meeste van die 300 mense saam met hulle was die reis in oop trokke.  So begin ’n stresvolle tyd vir Maggie en haar gesin. In die kamp is daar konstant ’n gebrek aan kos, klere en basiese geriewe. In die saamgebondelde omstandighede gedy siektes en die jong boeremeisies moet koes vir die attensies van die Britse soldate.

Tog word vriendskappe oor vyandsgrense gesmee en die Joostes het tydens en ná die oorlog ’n goeie verhouding met die Russells. Medemenslikheid maak dat 76-jarige Maggie 62 jaar later oor die hulp van en die besonderse bande met dié Engelse gesin skryf. Maggie se verhaal is hartverskeurend, maar ook opbeurend omdat dit deur die oë van ’n kind van oorlewing en vindingrykheid in amper onmoontlike omstandighede vertel. - Ilze Crous

   
boeke

Kim Jiyoung, Born 1982, Cho Nam-Joo en vertaal deur Jamie Chang (Scribner, R270)

Cho Nam-Joo pak ’n kontroversiële kwessie op ’n bedrieglik eenvoudige manier.  Die hoofkarakter Kim Jiyoung beskryf hoe daar teen vroue en hul bydrae buite tradisionele rolle as ma’s en tuisteskeppers in die Suid-Koreaanse samelewing gediskrimineer word. Niemand praat openlik daaroor nie, maar almal weet seuntjies is meer welkom en word van kleins af beter behandel as hul susters. ’n Ma sal selfs haar kind laat aborteer as dit ’n meisie en nie ’n seun is nie. Op meisies word neergesien al word daar baie meer seuns gebore. Wanneer Kim se boetie gebore word, moet sy en haar suster, Enyoung, opofferings maak sodat hy gemakliker kan leef. Hy word in vele opsigte voorgetrek ten koste van sy meer talentvolle susters.Dié vooroordeel duur voort tot in die werkplek waar vroue mindere werk moet doen en selde bevorder word. Dan bars die bom en Kim word kwaad en depressief.

Meer as ’n miljoen eksemplare van dié boek is reeds internasionaal verkoop en op die omslag word dit as een van die belangrikste werke deur ’n Suid-Koreaanse skrywer beskryf. Dis ’n interessante kykie in ’n samelewing wat eintlik as ’n model vir moderne ontwikkeling voorgehou word.  - Ilze Crous

 
boeke

Kleure van lewe, Marelize (Selfuitgegee, bestel byinfo@kleurevanlewe.com)

Die skrywer, net aangedui as Marelize, verduidelik dié boek is nie uitsluitlik “geestelik” van aard nie, maar stel haar oortuiging dat “die Here nog steeds in beheer” is.Gegewe die onderwerp waaroor die boek handel, is dit interessant dat sy haar seuns se positiewe rol in haar lewe erken, en haar man bedank dat hy haar ondersteun het en in haar glo, hoewel hy haar ‘nie altyd verstaan nie’.Dis moeilik om die boek in

’n enkele kategorie te plaas: populêre sielkunde; fiksie of niefiksie. Die skrywer deel veral haar persoonlike ondervinding van boelies en lug haar mening sonder feitelike verwysings: ‘Jy sal so ’n benoude gevoel ervaar wat jou lam lê’.Diegene wat ly onder verbale mishandeling sal moontlik antwoorde in die boek vind.’n Diagram oor kommunikasie verskyn op p.52.Verskeie aanhalings verskyn deur die loop van die teks, en die skrywer haal haarself ook aan. Myns insiens sou dié vertelling’n beter impak maak indien dit deur ’n professionele redigeerder gekontroleer is, maar dit lyk asof die persoonlike verteltrant ’n belangrike oorweging was. - Mariette Postma