Vat nou maar die woord awesome wat nou al so deel van gewone spreektaal is dat mense outomaties daarmee reageer. Hoe gaan dit? Awesome! Kyk hoe mooi is die blomme. Awesome! Wil jy kom koffie drink saam met my? Awesome! En so kan ek aangaan en aangaan en aangaan . . .

Toe die nuwe Tesourus van Afrikaans (Pharos, R450) deur Leon en Amanda de Stadler op my lessenaar beland, was ek gevul met vreugde. Dis die enigste volwaardige tesourus in Afrikaans en is vir die eerste keer sedert 1994 hersien en bygewerk om die verandering en groei van ons taal te weerspieël. Natuurlik het ek heel eerste gaan soek na woorde om die gewraakte awesome mee te vervang. Die lysie wil ek vir almal stuur wat daai woord so ligtelik gebruik om elke ding te beskryf. Wat van: ontsagwekkend, ontsaglik, verskriklik, vreeslik, aaklig, fantasties, wonderlik, ongelooflik, en asemrowend. Verder is daar: pragtig, lieflik, fraai, aanskoulik, fabelagtig, meesterlik, verruklik, subliem en een van my gunstelinge, ougat. Vervang asseblief jou afgesaagde woordkeuses. Ek vra jou mooi. Maak gebruik van ’n tesourus of selfs ’n woordeboek om jou woordeskat uit te brei.In ’n gesprek met die skrywer Chris Karsten vertel hy my van sy liefde vir woorde en dat hy skryf met ’n verskeidenheid woordeboeke rondom hom sodat hy na die eksakte woord kan soek om ’n spesifieke gewaarwording te beskryf. Ek verstaan dit baie goed. Hier waar ek sit en skryf, lê drie woordeboeke en die gewaardeerde tesourus op my lessenaar. Alles om seker te maak ek span ’n paar nuwe woorde in! Dink ’n klein bietjie voordat jy outomaties gryp na awesome.Rol die nuwe woorde op jou tong, proe hulle, en vind dié wat gemaklik in jou praat uitkom. Dalk verras jy jouself!

 

As die Cape Flats kon praat, Brian Fredericks, (Human & Rousseau, R245)

Fredericks se debuutbundel bevat nege kortverhale wat op die Kaapse Vlakte afspeel. Die leser word aan die lewe in die komplekse wêreld van die Kaapse Vlakte bekend gestel. Dis ’n wêreld waar die grens tussen reg en verkeerd nuwe betekenis kry. Die lewe in die gevangenis, bendes en die stryd om oorlewing word uniek uitgebeeld. As jy op die Kaapse Vlakte bly, is dit moeilik om nie by bendebedrywighede betrokke te raak nie, én nog moeiliker om daarvan los te kom. Die verhale gaan egter oor gewone mense. Die karakters word oortuigend uitgebeeld en maak jou bewus van die feilbaarheid en die broosheid van menswees.Die bundel is geskryf in’n mengsel van Standaardafrikaans, Kaaps en die kodes van die nommers in die tronke. Dit dra  by tot die uniekheid van die boek. Die skryfstyl lees maklik en die leser kan die verhale sonder probleme volg. Verhale oor die Kaapse Vlakte is skaars en die uitsonderlike debuut sal ’n nuwe wêreld vir jou oopmaak. Dit laat jou opnuut kyk na die wêreld om jou en in jou.  – Gert Venter.

 


Die Antie met die pienk rok en ander stories, Jan Spies (Tafelberg, R230)

As ek soms na die herhalings van sekere goor programme op die kassie kyk, voel ek lus om ’n petisie, “Saai weer Spies en Plessie uit”, te begin. Nou verklap ek lekker my ouderdom, want my kinders het al gevra “waarvan praat ma.” Ma praat van lekker lag, van kan nie wag tot Jan Spies op die kassie verskyn (destyds) nie en van stories wat ’n ander deel van ons land na ons sitkamers gebring het. So met die lees van die boek het al die goeie herinneringe teruggekom.Dit het ook my eie vraag beantwoord oor hoekom juis nou so ’n boek. Ja, in Covidtyd het ’n mens dit nodig.
Ek het sommer hardop gelag by die lees daarvan. Van die tannie wat al haar tande laat trek het en gesê het: "So pyn nou daar in die dokter se bakkie as julle wil pyn". Daar is verskeie ander humoristiese vertellings. ’n Goeie skoot filosofie in Eie familie sit jou sommer aan die dink en die gesprekke oor katname, wat “een lang miaau" is in Sy is dalk hy en nie sy nie laat jou spontaan giggel - iets wat mens meer kere wil doen. Wonderlike afleiding wat jou help ontsnap van die werklikheid. – Alida Vos.

   

 

Macbeth, Jo Nesbo (Penguin Random House, R290)

Jo Nesbo se hervertelling van William Shakespeare se klassieke verhaal van Macbeth is deel van die Hogarth Shakespeare-reeks. Die verhaal speel in die 1970’s af, in ’n koue, grys, besoedelde en somber Europese kus dorp waar misdaad en korrupsie hoogty vier. Macbeth is die leier van ’n SWAT (spesiale, wapens en taktieke) span. Duff is die leier van die narkotika eenheid. Macbeth en sy span se vinnige reaksie verhoed dat Duff en sy kollegas uitgewis word wanneer ’n dwelmtransaksie lelik skeefloop. Alhoewel Macbeth vereer word vir sy optrede sal hy nooit die erkenning en posisie in die lewe bereik wat hy verlang nie weens sy agtergrond en opvoeding. Lady plaas druk op Macbeth om op te beweeg in die range van die polisie. Wanneer die druk te veel raak, begin hy weer dwelms gebruik wat gebrou word deur Hecate en die drie hekse. Dit lei tot tragiese gevolge.

Die boek is ’n unieke hervertelling van die klassieke verhaal van Macbeth. Vir my voel die karakters egter soms stomp en onafgerond. – Karien Labuschagne

   

My eerste 1000 woorde, Ants Books (Human & Rousseau, R80)


Die groot, kleurvolle sagteband boek is propvol besige prentjies met woorde op elke bladsy. Dis gemik op kinders van 3 jaar en ouer. Verskillende beroepe, seisoene en teenoorgesteldes is van die relevante temas wat gedek word. Kinders sal ook woordeskat leer vir by die dokter, ’n klerewinkel, ’n restaurant en vele meer! Die boek sal kinders vir lank fassineer, want hulle sal elke keer iets nuut op die bladsy raaksien. Dit verskaf ook heerlike opvoedkundige vermaak vir ouer en kind om saam na die prentjies te kyk en die woorde op te sê. My eerste 1000 woorde sal die kleinspan se woordeskat speel-speel en sommer vinnig uitbrei. - Danica Gouws 

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.