Matthew McConaughey en David Attenborough verskil ligjare van mekaar en kom uit heeltemal uiteenlopende agtergronde. Die een is ’n rolprentster met ’n loopbaan wat daarop gerig is om mense te vermaak. Die ander een maak dokumentêre programme oor die natuur met die doel om mense in te lig oor die wonders van die wêreld waarin ons leef. Tog het ek in elkeen van hul boeke lewenslesse gevind wat oorvleuel. Hulle het my ook oor my eie lewe en die van die ander inwoners van ons planeet laat besin en opnuut laat besef dat ons verantwoordelik is vir ons lewe, goed of sleg. Dat dit ook nooit te laat is om ’n nuwe koers in te slaan nie en dat besluite met verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid gepaard gaan.

Soms lees ek die memoires van ’n beroemde rolprentster wat my verras en Greenlights (Headline, R355) van Matthew McConaughey is so boek. Hy vertel stories uit sy onkonvensionele lewe volgens ’n chronologiese tydlyn. Die boek het ontstaan nadat hy 50 geword het en teruggekyk het oor sy lewe en hy gedelf het in die dagboeke wat hy die afgelope 35 jaar gehou het. Hy erken dat hy geïntimideerd gevoel het om so terug te kyk oor sy lewe, omdat hy moes besin oor die sinvolheid van sy lewe en die antwoorde op die vrae wat hy oor die betekenis van daardie lewe gevra het. In sy eie woorde het hy die volgende gevind: "I found stories I witnessed and experienced, lessons I learned and forgot, poems, prayers, prescriptions, answers to questions I had, reminders of questions I still have, affirmations for certain doubts, beliefs about what matters, theories on relativity, and a whole bunch of bumperstickers." Die "bumperstickers" verwys na die insigte wat hy in sy lewe gekry het en wat hy só kort kan opsom.

Sy pad na roem was nie gesaai sonder duwweltjies nie. Sy pa en ma het ’n wisselvallige verhouding gehad, tog het hy as kind etiek en dissipline by hulle geleer. Ook dat die lewe daar is om te leef, dat as jy die groen lig kry vir iets, jy moet gaan daarvoor. Dit het hy ook voluit gedoen en jy kry die indruk dat hy nooit ingekoop het in die glitz and glamour van Hollywood nie. Hy het hom relatief eenkant gehou en selfs tussen die maak van rolprente met sy motorwoonwa in die land rondgereis en relatief incognito by kampplekke geparkeer.

Uit die insigte wat hy uit sy lewe deel, is daar baie juweeltjies. Hier is twee wat ’n blywende indruk op my gemaak het: "Words are momentory, intent is momentous," en "Sometimes which choice you make is not as important as making a choice and committing to it."

Dis baie selde dat ek ’n glanspersoon se lewensverhaal meer as een keer wil lees. Greenlights is die uitsondering en een wat ’n plek op my bedkassie kry. Nie noodwendig oor sy lewensverhaal my soveel inspireer nie, maar McConaughey se groen ligte is klein lewenslesse wat ek weer wil lees, omdat ek persoonlik baat daarby sal vind. Dis ’n bevestiging van die lewe en dat jy geleenthede moet gebruik om in die oomblik en voluit te leef . . . Ten spyte van al die aaklighede in die wêreld, want daar is geen waarborg vir waar jy more gaan wees nie.   

Waar McConaughey vir ons die groen lig gee om voluit te leef, sê David Attenborough hokaai. Stop vir ’n oomblik en dink wat jy doen, want jy maak ’n impak op die planeet waarop jy leef. Sy rooi lig in A Life on Our Planet  (Penguin, R340) is ’n waarskuwing vir ons almal.

Hierdie boek laat my net weer besef hoe vernietigende spesie die mens is. Ons leer nie uit die foute wat ons maak nie en ons hou aan om die omgewing te besoedel en ons natuurlike hulpbronne uit te put. Ek was nog altyd diep beïndruk deur David Attenborough se toewyding en die diepte in die dokumentêre reekse wat hy op televisie aanbied, gewoonlik baie visueel.

A Life on Our Planet is een van daardie boeke wat jou bang maak en terselfdertyd waarsku om te besin oor jou eie bydrae tot die koolstofvoetspoor wat ons planeet beïnvloed. Attenborough bekyk die planeet vanaf die vroegste tyd en plaas die mens se inmenging in konteks, hoe landbou en industriële ontwikkeling die natuur se ritme uit siklus gegooi het. Dan is daar oorbevolking en die effek daarvan op die wêreld se hulpbronne. Daar is al hoe minder woude en natuurlike omgewings oor waarin diere vrylik kan oorleef sonder om gejag te word vir kos of medisyne. Jy kan amper sê ons eet ons wêreld op!

Die boodskap wat Attenborough by ons wil tuisbring, is dat alles nie verlore is nie. Mits ons bereid is om nóú ingrypende en innoverende veranderings te maak om die planeet te probeer red. Wêreldmoondhede moet nie fokus op politieke winsbejag nie en vir ’n slag regtig saamwerk om die energiekrisis te besweer en met ander oplossings te kom vir tradisionele maniere van kragopwekking. Ontbossing en die besoedeling van waterbronne moet die hoogste prioriteit geniet. Sy visie vir die toekoms bespreek rasionele en geloofwaardige ingrypings wat gemaak kan word om die planeet op ’n gesonder koers te stuur. Jy gaan in jou leeftyd moontlik nie baat daarby nie, maar jou kinders sal die vrugte van ’n gesonder planeet pluk.

"Our future on the planet, the only place as far as we know where life of any kind exists, is at stake." (bl.221)

Die boek is’n wekroep en ná die lees daarvan is ek nog meer vasbeslote om op my beskeie manier op ’n verantwoordbare wyse te probeer leef. Mors minder energie, skakel ligte af, vat inkopiesakke saam winkel toe, sorteer papier, metaal en plastiek uit vir herwinning. Maak ’n groentetuin. Dis ’n begin!