As mens sê Daisy De Melker, spring daar onmiddellik ’n beeld van ’n vrou met woeste hare en ’n ongenaakbare gesig in jou kop op. Sy is seker die mees herkenbare gifmoordenares in ons land en dis ook geen verrassing dat Lötter sy boek, 17 Maal Moord (Protea Boekhuis, R295) met dié moordenares se verhaal afskop nie. Van die ander moordenaars wat jy tussen die blaaie gaan vind, is onder meer Marlene Lehnberg en Marthinus Choegoe, Maria Groesbeek, Shirley Wilson en dr. Gerhard Boechner.
In die voorwoord skryf Lötter: "Oor die lengte en breedte van ons land staan huise en woonstelle en plaasopstalle waar gewone mense in die gewone gang van sake gewoon asemgehaal het - tot iets daar gebeur wat ’n beskaafde mens se maag laat draai. En dan word so huis, woonstel of opstal ’n adres waaroor almal praat. Vir ’n wyle ten minste."

Lees hieronder die verhaal van ’n gewone huis in Pretoria- Noord waar Frans Vontsteen en Sonjia Swanepoel saamgesweer het om iemand te vermoor.


 inspirasie, woorde

 

EEUFEESSTRAAT 60, PRETORIA-NOORD

(Die vrou wat die venster laat oopstaan het … )

1971

Regter Victor Hiemstra sit op die regbank tussen sy assessore, doktor M. Bliss, ’n senior advokaat, en professor A. Strauss, dekaan van die regsfakulteit aan die Universiteit van Suid-Afrika. In die aanklaersbank sit advokate A.R. Erasmus en P.M. Bekker. Vir die verdediging is daar advokaat J. Els vir Sonjia Swanepoel en advokaat A.S. Burger vir Frans Vontsteen. Dis van die voorste regsgeleerdes in die hoofstad wat hier bymekaar is.

Die gehoor in die hof se aandag is nog nie by die verrigtinge nie. Hulle kyk na twee mooi vroue. In die beskuldigdebank staan Sonjia Swanepoel trots, amper uitdagend, met haar raafswart hare teruggeborsel. Nie ver agter haar nie, in die voorste bank vir die hofgangers, sit nog ’n mooi donkerkop. Wilhelmina Jacoba Burger (née Viviers), beter bekend as die sangeres en aktrise Min Shaw. Sy is getroud met een van die advokate vir die verdediging en, net soos die res van Suid-Afrika, is sy hier om uit te vind wat gebeur het op daardie nag in die huis aan die onderpunt van Eeufeesstraat.

Nog een maal lees die regter die klagstaat voor hom deur:

Die Prokureur-Generaal vir die Provinsie Transvaal, wat as sodanig vervolg vir en namens die Staat, stel die hof hiermee in kennis dat Mara Maria Swanepoel, ’n Blanke vrou, enFranciskus Wynand Vontsteen, ’n Blanke man, (hierin hierna die beskuldigdes genoem) skuldig is aan die misdaad van moord deurdat op of omtrent 2 Augustus 1971 en te of naby Pretoria die beskuldigdes wederregtelik en kwaadwillig vir Francois Pierre Jean du Toit Swanepoel, ’n Blanke man, doodgemaak en vermoor het. In die geval van skuldigbevinding versoek genoemde Prokureur-Generaal vonnis ooreenkomstig die reg teen die beskuldigdes …

Regter Hiemstra sluit sy oë vir ’n oomblik en stuur ’n skietgebedjie op vir helderheid van gedagte voordat hy met sy hamertjie op die regbank klop en die hof in sitting verklaar. In die beskuldigdebank snik Sonjia Swanepoel saggies.

Dis sý wat die plan gemaak het om die venster oop te los …

Albei die beskuldigdes ontken die aanklag. Professor Hieronymus van Praag Koch, senior staatspatoloog, betree die getuiebank. Hy vertel hoedat hy ’n lykskouing gedoen het op die lyk van speurder-adjudant-offisier Francois Swanepoel. Twee skote is deur sy kop gevuur met die loop van die pistool vasgedruk teenaan die slagoffer se agterkop. Hy was vas aan die slaap. Francois Swanepoel het daardie aand in sy bed geklim en met vrede in sy gemoed aan die slaap geraak. Hy sou nooit weet wat met hom gebeur het nie.

Sonjia Swanepoel word geroep om te getuig. Sy vertel ’n deurmekaar storie van hoe sy en haar man om kwart voor tien op daardie ysige wintersaand gaan slaap het, nadat sy haar kinders, ’n dogter van tien en ’n baba van agt maande, teen die Hoëveldse koue gaan toemaak het.

Baie laat die nag of in die vroeë oggendure het sy wakker geskrik van ’n harde slag by haar kop. Sy vertel hoe sy vinnig op haar rug gedraai het en ’n man met ’n vuurwapen in sy hand oor haar gebuk sien staan het. Daar was ’n doek oor die onderste deel van sy gesig gebind. Sy verklaar verder dat sy aanvanklik flou geword het, maar kort daarna bygekom het en oor die straat na die huis van die Pienaars gehardloop het.

***

Buurman Pienaar is die een wat Soois Swanepoel se lyk in die bed ontdek. Daar lê ’n patroondoppie op die bed en die kant van die bed waar Sonjia, volgens haar eie weergawe sou gelê het, was baie duidelik nog netjies opgemaak. Vir hom lyk dit nie of daar ooit iemand gelê het nie. Die patroondoppie kom uit Soois Swanepoel se dienspistool.

Pienaar voel instinktief dat sy histeriese buurvrou nie die waarheid vertel nie. Benewens die opgemaakte bed is daar nog een of twee gate in haar storie waardeur die wind vlytig fluit.

Sy kan geen verduideliking bied waarom sy net met klein Fiama uit die huis vlug en haar dogter daar agterlaat terwyl sy vermoed dat daar ’n moordenaar iewers in die huis rondsluip nie. Die aanvaller beskryf sy ewe lomp as “’n swart man”.

Sy kan nie onthou wat hy aangehad het nie. Sy kan nie onthou of hy lank of kort, vet of maer, oud of jonk was nie. Sy kan nie onthou of hy iets gesê het nie. Sy kan nie verklaar hoe sy wakker geword het van die skoot wat bo-oor gevuur is, daarna kon opspring en die baba gaan gryp, die deur oopgesluit kry en ongehinderd oor die straat kon vlug nie. Waar was “die swart man” dan die hele tyd? Waarom was hy daar? Niks is dan gesteel nie.

En natuurlik die ooglopende: Soois is twee keer in die agterkop geskiet, volgens Sonjia deur die “swart man” wat bo-oor haar gebuk het, maar Soois se lyk lê dan met sy gesig na waar sy sou gelê het! Dit moes dan ’n “swart man” met uitsonderlik lang arms en die vermoë tot buitengewone beweging in daardie arms gewees het wat ’n man in sy agterkop skiet terwyl dié met sy gesig na die skieter toe lê!

Nee, Sonjia lieg en sy lieg soos ’n mens wat nog moet leer lieg. Dit besef almal feitlik dadelik.

Vraag is: Wat was die ware toedrag van sake?

Die ware gebeure is bisar, om die minste te sê. Maande lank, so blyk dit spoedig, het sy en Frans Vontsteen sorgvuldig saam beplan hoe hulle van Soois ontslae sou raak.

As sy net die bed ’n bietjie omgekrap het, die patroondoppie weggevat het en verklaar het dat sy die kombers oor haar kop geruk het en niks gesien het nie, was sy en Vontsteen skotvry. Maar ’n moordenaar maak altyd ’n fout – dit is immers waarom ons van hulle weet. Die plan was saggekook; by die uitvoer daarvan het die spyse op die vloer beland.

Daar is in elk geval geen logiese verduideliking vir Sonjia se wolhaarstorie in die hof nie. Vooraf het sy ’n bekentenis gedoen. Sy het vertel dat die baba van agt maande nie Swanepoel se kind was nie, maar dat haar minnaar, Frans Vontsteen, die vader was. Voorts het sy vertel hoe hulle afgespreek het dat Vontsteen een aand vir hulle in die huis sou wag en Soois Swanepoel sou vermoor sodra hy die huis binnekom. Sy moes net ’n venster ooplaat wanneer hulle uitgaan. Dit sou na ’n inbraak lyk. Ses sulke pogings, sê sy, het misluk. En elke keer het hulle van vooraf beplan.

Dis tog eienaardig dat ’n mens ses keer dieselfde plan kan maak, elke keer misluk dit, en elke keer doen jy van vooraf presies dieselfde ding. Al gevolgtrekking waartoe ’n mens kan kom, is dat die twee so verlief was dat hulle nie meer logies kon dink nie.

Dit was ’n hewige liefde, dié tussen Sonjia en Vontsteen. Hulle wou elke oomblik van die res van hulle lewe in mekaar se geselskap deurbring. Vir hulle twee was daar geen ander toekoms as saam nie. Dit was ’n volkome liefde wat die tyd sou deurstaan soos Romeo en Juliet! Franciskus en Sonjia – vir altyd …

Vir altyd?

Daardie onsterflike liefde het nie eens Sonjia se inhegtenisneming oorleef nie. Sy gaan sit en vertel koelkop hoe die sewende poging blykbaar geslaag het. Sy verseker die polisie dat sy niks daarmee te doen gehad het nie. Sy het wakker geword en Frans Vontsteen oor haar sien staan met die pistool waarmee Soois Swanepoel geskiet is. Dit was Frans en Frans alleen. Hy wou haar hê en daarom het hy Soois vermoor, syself dra geen skuld nie.

En so waar as vet, hier kom staan sy nou voor die hof, skaars ’n maand later, en vertel ’n belaglike storie van ’n “swart man” wat oor haar gebuk en op ’n godsonmoontlike manier eers vir Soois Swanepoel doodskiet en daarna toelaat dat sy weghol en hulp kry terwyl hy verdwyn soos die inhoud van ’n staatsamptenaar se teekoppie.

Frans Vontsteen is die tragiese figuur in hierdie drama. Terwyl Sonjia besig is om hom net ná haar inhegtenisneming behoorlik in die polisiekantoor swart te smeer, trek hy ewe heldhaftig, by wyse van spreke, sy ridderpak aan en erken ewe grootmoedig dat hy wel die moord gepleeg het en verklaar dat hy die skuld op homself neem. Hy wil Sonjia teen alles beskerm. Die liefde van sy lewe sal geen skuld dra nie.

Sy sê nogal nie “nee dankie” vir hierdie meevallertjie nie. As Frans bereid is om die pak te vat, nouja, sy is nie van plan om hom te keer nie! Nie so veel as ’n enkele woord sê sy in ’n poging om hom te beskerm nie.

***

Sonjia Swanepoel is van Italiaanse afkoms. Haar donker, eksotiese skoonheid is tipies van die vroue uit die suide van daardie land. Sy is gebore op 5 Mei 1937. Op die ouderdom van negentien trou sy met ’n Italianer, Elio Scribante, twaalf jaar ouer as sy. Die huwelik is alles behalwe gelukkig.

Kort voor lank bevind Sonjia haar in ’n verhouding met die jong polisieman Soois Swanepoel. Hy is getroud, maar sy egskeiding is vir hulle ’n blote formaliteit. Vir Sonjia is Swanepoel haar droomman. Hy is ’n yslike stuk mens met Springbokkleure in atletiek, ’n netjiese figuur en ’n blink loopbaan in die polisie. Soois is ’n gewilde ou en vir Sonjia is dit lekker wanneer ander vroue skelmpies agterna loer wanneer sy en Soois saam in die openbaar verskyn.

Die ding is net: Scribante is ’n Katoliek en daarby ’n jaloerse man met die vurige emosie van die Italiaanse minnaar – dit is hy in elk geval in sy eie oë. Al wat Sonjia raaksien, is ’n beskimmelde klein mannetjie met ’n olierige kuif en pastasousvlekke op sy hemp. Scribante weier eenvoudig om te skei, en daaraan kan Sonjia niks doen nie. Dus kom dit nie verder nie as ’n vuurwarm vryery met Swanepoel elke paar dae en ’n vuurwarm geveg daaroor, tussen haar en Scribante, elke paar aande.

Drie jaar ná haar huwelik met Scribante verwag Sonjia ’n baba van Swanepoel. Dit is die ding wat die bottel laat bars. Scribante jaag haar terstond by die agterdeur uit. Hy dreig steeds dat hy haar nog eendag sal terugwen van Swanepoel, maar dis blote bravade. Hy moes tog geweet het dat Sonjia nie sou terugkom nie. Soois Swanepoel is al wat sy nou in haar mooi koppie het. Twee dae ná haar egskeiding van Scribante trou sy met Soois Swanepoel – hulle is te haastig om ’n groot seremonie daarvan te maak. Op stuk van sake is sy swanger en is Soois bang dat hy in die moeilikheid kan kom by sy werk oor dié ding. Daardie jare moes ’n polisieman nog toestemming van die kommissaris kry om te trou en sy bevelvoerder moes ’n onderhoud met die toekomstige bruid voer.

7 Julie 1960. Meneer en Mevrou Swanepoel, met baba Swanepoel op pad.

As die huwelik met Scribante ’n huiwerende ramp was, is die tweede huwelik éérs ’n fiasko. Soois Swanepoel is onhebbelik jaloers op sy beeldskone vrou. Om elke hoek en draai sien hy minnaars. By meer as een geleentheid gaan hy haar te lyf. Meer as een keer skiet hy selfs op haar. In sy agterkop moes die gedagte deurentyd draai: “As sy haar man so maklik met my verneuk het, wat keer haar om dit weer te doen?” Nadat die baba gebore is, gaan dit ’n ruk lank beter. Klein en fyn en donker soos haar ma en die oogappel van haar pa. En agt jaar lank gaan dit op ’n kruppelstappie aan. Daar is skouspelagtige rusies gevolg deur liefdesverklarings met die passie van vuurwerkvertonings … en oor ’n paar dae dieselfde storie van vooraf.

In die loop van 1968 ontmoet Sonjia ’n nuwe kollega, Frans Vontsteen. Sonjia is ’n administratiewe beampte by ’n eiendomsagentskap in Pretoria en Vontsteen meld aan as een van die nuwe agente. Die twee hou met die kennismaking al van mekaar en kort voor lank gaan dit ’n bietjie verder. Hulle knoop ’n heftige, passievolle en vurige verhouding aan. Op 6 Desember 1970 skenk sy die lewe aan ’n baba waarvan Vontsteen die vader is. Fiama noem hulle haar. Ousus is nou amper tien jaar oud.

Een van Soois se kollegas sien Vontsteen en Sonjia in Vontsteen se motor in ’n vurige omhelsing en vertel Soois daarvan. Hy is kwaad genoeg om te moor. Sonjia Swanepoel besluit dat sy genoeg gehad het en vra Swanepoel om ’n egskeiding. Dit maak Swanepoel so kwaad dat hy haar aan die keel gryp en half bewusteloos wurg. Daarop dreig hy om haar en die kinders dood te maak as sy nog eenmaal die moontlikheid van egskeiding noem.

Sonjia vertel Vontsteen hierdie verhaaltjie met histeriese snikke en ’n wanhopige greep op die baadjielapelle. Op sy beurt raak hy ál kwater; hoe kan hy net staan en toekyk hoe Swanepoel dreig om die liefde van sy lewe en hulle kind om die lewe te bring? Op daardie tydstip is dit natuurlik nog net hy en Sonjia wat weet wie die vader van die baba is – Soois Swanepoel glo dis sy kind.

Dit was iewers in hierdie dae dat Vontsteen en Sonjia besluit het om Soois te vermoor. Wie se plan dit eerste was, weet nugter. Hy sê dit was haar plan; sy sê hy het die voorstel gemaak. Met albei se droewige rekord van betroubaarheid kan ’n mens nie juis een van die twee glo nie. Dit maak ook nie saak nie, hulle het per slot van rekening saamgestem oor die moord.

Toevallig werk die Swanepoels se huishulp, ou Dora, se suster by Vontsteen as huishulp. Dit is meer as onnosel van Vontsteen om Dora se suster te vra om iemand te kry van wie hy gif kan koop om Swanepoel te vermoor. Dora kom dit by haar suster te hore en dreig Sonjia om Soois van alles te vertel as hulle nie die plan laat vaar nie. Dit lei daartoe dat Sonjia die verhouding met Vontsteen probeer verbreek. Haar vrees vir Soois is groter as haar liefde vir Vontsteen.

Miskien moes Vontsteen hier al besef het dat die liefde van sy kant af baie groter is as van Sonjia s’n. Hy weier om die moontlikheid van ’n skeiding eens te oorweeg!

Vontsteen oortuig Sonjia met ’n bietjie moeite dat dit maklik sal wees om Soois Swanepoel van kant te maak. Al wat moet gebeur, is dat sy Swanepoel moet uitnooi na ’n rolprentteater saam met haar en die kinders. Wanneer hulle terugkom, sal hy hulle in die huis inwag en Swanepoel doodskiet. Dit sal lyk soos ’n inbreker wat op heterdaad betrap is.

Die hele plan word sorgvuldig deurgetrap, maar Soois Swanepoel is ’n eiesinnige mens. Sonjia wil ná die rolprentvertoning nog bietjie vertoef om Vonsteen kans te gee om sy posisie goed in te neem. Soois is egter in een van sy goor buie en die Swanepoels daag hopeloos te vroeg terug by die huis op. Vontsteen is nog nie gereed nie en ontsnap op sy broek se naat by ’n agterste venster uit. Die chaos in die huis lyk kompleet soos ’n mislukte inbraak.

Nou word plan B beraam. Sonjia sal die sitkamervenster ooplos en Soois se dienspistool neersit waar Vontsteen dit maklik in die hande kan kry. Laatnag klim Vontsteen dan deur die venster en skiet Soois Swanepoel dood. Sonjia sal die blaam op ’n denkbeeldige persoon plaas en die polisie sal dink dat dit ’n werksverwante ding is – dalk iemand wat op ’n keer deur Swanepoel aangekeer is of so iets. Die datum vir die moord word vasgestel.

Daardie middag van die beplande moorddag, ’n Maandag, kry Sonjia vir Vontsteen by die apteek. Sy pleit by hom om nie die moord te pleeg nie. Vontsteen is vasbeslote. Hy dreig nou selfs om Swanepoel te vertel van die baba en van die verhouding as Sonjia nie die plan deursien nie.

Sonjia besluit om Vontsteen op ’n ander manier te stuit. Sy sal nie die venster oopmaak nie. Vroegaand daag ouderling Ehlers by die huis op om met die Swanepoels te praat oor hulle kerkbywoning. Soois vertel die ouderling van die “inbraak” en herhaal ’n storie wat Sonjia hom vertel het van ’n swart man wat haar in die straat gedreig het om haar man te vermoor. Dit verklaar die spanning wat die ouderling in die huis aanvoel. Ehlers maan Sonjia om tog versigtig te wees en doen ’n gebed voordat hy loop.

Toe maak die noodlot sy snaakse draai. Nadat die Swanepoels al gaan lê het, kla Soois dat hy verkouerig voel. Hy is bietjie koorsig en kry warm, selfs al is dit ’n koue wintersnag. Hy staan op om badkamer toe te gaan, en om die een of ander onverklaarbare rede gaan maak hy self die sitkamervenster oop wat Sonjia sorgvuldig seker gemaak het behoorlik toe is.

Die res van die storie ken ons. Om halfdrie op die oggend van 3 Augustus klim Frans Vontsteen deur die venster en skiet Soois Swanepoel in sy bed dood met sy eie dienspistool, wat soos gewoonlik op die kassie voor Soois se bed lê.

***

’n Mens kan self kies of jy Sonjia se weergawe van die skoot wat haar wakker gemaak het, wil glo. Vontsteen se weergawe was dat Sonjia opgestaan het en eenkant gewag het totdat hy die moord klaar gepleeg het. Daarna het sy hom gesoen en gehelp om pad te gee voordat sy na die kinders se kamer gehardloop, klein Fiama gegryp en oor die straat gestorm het, waar sy Pine en Naomi Pienaar wakker geklop het met ’n histeriese storie van ’n swart man in die huis wat Soois langs haar doodgeskiet het.

Wat ook al werklik gebeur het, ’n paar dinge staan soos ’n paal bo water:

  •  Sonjia Swanepoel het deeglik help beplan aan die moord op haar man.
  • Sy het nie minder nie as ses keer in enkele maande ’n venster oopgemaak vir Vontsteen om in te klim en haar man te vermoor.
  • Die nag van die moord het sy gewag tot Vontsteen opgedaag het, en ná die moord het sy hom help ontsnap.
  • ’n Kwartier het verstryk voordat sy na die bure gehardloop het om hulp te soek.
  • In daardie stadium het Sonjia reeds geweet dat Soois doodgeskiet is en dat daar geen swart man in die huis was nie.Sy het die belaglike storie oor die swart inbreker in haar eerste verklaring voor die polisie herhaal.
  • As Sonjia Swanepoel nooit ’n bekentenis gedoen het nie, sou Frans Vontsteen nooit ’n bekentenis gedoen het nie en sou hulle waarskynlik kon loskom weens ’n gebrek aan bewyse.

Sonjia en Vontsteen word twee patetiese skepsels wat mekaar in die hof begin beskuldig. Vontsteen vertel dat Sonjia hom histeries gebel en gesoebat het om na die huis toe te kom. Daar het hy Soois Swanepoel dood aangetref. Sonjia was die moordenares, hy het net ’n bekentenis gedoen om haar lewe te red. Hy was nie eens in die huis toe Swanepoel doodgeskiet is nie.

Daar is vandag min twyfel daaroor dat Vontsteen sekere psigopatiese eienskappe getoon het. Uit sy stamelende en dikwels onsinnige verklarings voor die hof kom ’n mens agter dat hy ’n erg verwarde jong man was. Daar blyk talle simptome van psigopatie uit sy hele optrede. Dit sluit in herhaalde mislukking van sy ondernemings, ’n totale gebrek aan senuspanning, onverantwoordelikheid, onvermoë om tussen waarheid en leuens te onderskei, onvermoë om skuld of blaam te aanvaar.

Twee mense staan voor die hof: Mara Maria (Sonjia) Swanepoel, gebore Raffanti, tevore Scribante, 34 jaar oud en die moeder van twee kinders. Langs haar staan die 35-jarige Franciskus Wynand Vontsteen, eiendomsagent en vader van drie dogters uit ’n vorige huwelik. Al wat duidelik is uit die hele warboel is dat hulle saamgesweer het om die 44-jarige Soois Swanepoel te vermoor en dat dit uiteindelik gelei het tot sy dood in die nag van 2 op 3 Augustus 1971 in die slaapkamer van die Swanepoel-huis by Eeufeesstraat 60, Pretoria-Noord.

Sestien dae duur die verhoor. Vontsteen beskuldig Sonjia, trek sy beskuldiging terug, aanvaar skuld, beskuldig Sonjia opnuut en neem ten slotte al die skuld op homself. Sonjia beskuldig ’n onbekende inbreker, aanvaar skuld as medepligtige, trek dit terug, pak die blaam op Vontsteen. Dit hou aan en aan. Die een valsheid op die volgende, die een beskuldiging ná die ander. Geen mens kan later meer kop of stert uitmaak van wat die twee erbarmlike skepsels voor die hof probeer bereik nie.

Uiteindelik moet regter Hiemstra besluit. Advokaat Els doen sy bes vir haar, advokaat Burger baklei vir hom. Die staat is gerus, hulle saak is gewen. Die slotbetoog van die staat is kort en kragtig: “U Edele, die staat betoog dat hier geen versagting vir beide beskuldigdes is nie.”

Uiteindelik is die tyd vir uitspraak daar. Regter Hiemstra verklaar: “Ons bevind dat daar vir beskuldigde nommer 1 (Sonjia) versagtende omstandighede bestaan.” Hy verduidelik dat die hof in ag geneem het dat die oorledene die moontlikheid van egskeiding onmoontlik gemaak het. Daarby kom die feit dat Vontsteen druk op Sonjia geplaas het om hom by te staan met sy moordplanne.

Sy word swaar gestraf, maar nie met die dood nie. Sonjia Swanepoel sal vir vyftien jaar tronk toe gaan vir haar aandadigheid aan die moord op haar man.

Oor Vontsteen is regter Hiemstra en professor Strauss dit eens. Dokter Bliss het van mening verskil, maar die meerderheidsbesluit is die besluit van die hof. Frans Vontsteen word ter dood veroordeel.

Frans se pa en sy suster, Marie, doen alles om sy lot te versag. Henri Vontsteen het selfs ’n stalletjie op Kerkplein opgerig om handtekeninge om begenadiging te kry. Binne ’n dag teken sowat 10 000 mense. Nietemin besluit die Vontsteens om nie appèl aan te teken nie. Hulle glo in ’n wonderwerk, want hulle glo in Frans se onskuld. Mevrou Prins, Frans Vontsteen se moeder wat ná haar egskeiding van sy pa weer getroud is, gaan saam met ’n vriendin na die Uniegebou en oorhandig ’n emosionele versoekskrif om begenadiging van haar seun aan die eerste minister, John Vorster, se sekretaris.

Op Saterdag 30 September ontsnap Frans Vontsteen uit die Sentrale Gevangenis in Pretoria. Die storie haal die voorblaaie van elke koerant in Suid-Afrika.

Dit was nie die wonderwerk waarop hulle gehoop het nie. Frans word dieselfde dag op Pretoria se stasie aangekeer. Op die oggend van 4 Oktober 1972 sterf hy aan die galg in die Sentrale Gevangenis in Pretoria, sowat 8 km van waar hy daardie ysige wintersnag vir die liefde van ’n vrou deur die venster geklim het.

Net Sonjia Swanepoel weet wat werklik daardie nag gebeur het, maar selfs sy sal sukkel om die waarheid te sif uit die klomp leuens wat vertel is. Daar is té veel gesê wat geen waarde gehad het nie. En selfs al kom iemand eendag daarby uit, sal dit steeds nie daardie sitkamervenster toestoot nie.

Aan dit wat verby is, kan ons immers niks verander nie.