Hierdie mense sorg dat daar kos op Suid-Afrikaners se tafels is. Dikwels onder uitdagende toestande. As dit nie die weer en swak oeste is wat hul lewe moeilik maak nie, is dit arbeidonrus en ander ekonomiese faktore. Ivor Price en Kobus Louwrens dis vir lesers ’n versameling uiteenlopende verhale op wat dui op die boere se moed, hoop en liefde vir die grond. Hul toewyding is merkwaardig.

 
 inspirasie, woorde

In ’n resensie oor Hartstories van ons land se boere (Tafelberg, R250) vertel die landboujoernalis, Marieke Snyman, haar leeservaring van die boek.

Vir ’n landboujoernalis soos ek is dié boek ’n riem onder die hart. Dit vertel die verhale wat ek in my werk ervaar op ’n emosionele manier waarby jou gewone stadsjapie aanklank sal vind. Van Malixoli Gwatyu se storie oor sy beste vriend as kind wat nie deur die rassewette van die tyd geïntimideer is nie tot by Nick Serfontein se treffende verhaal oor hoe hy en sy span opkomende boere die selfvertroue en vaardighede gee om nie te misluk in hul pogings om te boer nie. Selfs Wandile Sihlobo se agtergrond en hoe hy in die landbou-ekonomie beland het, is merkwaardig en Anneliese Burgess skryf oor hoe dit voel om bejaarde ouers te hê wat steeds op die plaas bly. Elke storie roer ’n snaar en ek prys Ivor en Kobus vir hul ywer om die boek aanmekaar te sit.  

 

Lees hier: Ons voetspore op hierdie aarde is verganklik deur Philip Jonker, Bonnievale

Ek ken die grond van Weltevrede, die plaas waar ek op die oewer van die Breederivier woon. Op dié plek het ek gespeel en grootgeword, so ook my eie pa en oupa. My oupagrootjie het die grond in 1912 gekoop.

Hy het te perd van die Karoo opgedaag, lief geraak vir die stuk grond, dit toe gekoop en die naam Weltevrede gegee. Die grond was met struike begroei, en met eenvoudige implemente het my oupagrootjie sy sweet en passie ingeploeg. Op voorheen onbenutte grond het hy die eerste wingerde in die Bonnievaleomgewing gevestig.

My oupa het in die depressiejare van die 1930’s by sy pa aangesluit. Saam het hulle ’n tyd van groot risiko en omwenteling oorwin. In die middel 60’s het my pa deel van die plaaslike wynbedryf geraak en die wêreld ingevaar. Hy het edelkultivars aangeplant en landgoedwyn gemaak en gebottel. Toe ek in die laat 1990’s begin boer, het ek met nuwe wyntipes begin innoveer en die plaas se unieke terroir verder verken.

Ek en my vrou, Lindelize, woon in dieselfde plaashuis waar ek gebore is. En vandag speel my kinders op dieselfde grond, die vyfde geslag uit ons terroir. Dis veilig om te sê dat ons versot is op die grond. Aan albei kante van die familie is ons al tien geslagte lank boere in Suid-Afrika. Dis al wat ons ken.

Soms, grappenderwys, sal ek sê ek is geneties gemanipuleer om te boer; dat dit in my DNS is. Ek is mal daaroor om agter die skeurtandploeg te stap as dit die grond soos vars brood oopbreek.

Dan gaan ek in die spoor op my knieë en vat ’n hand vol grond en ruik toe-oë daaraan, asof ek bid. Dikwels wonder ek wat ek nou juis in my hand het. Hou ek grond vas of draai ek my vingers om die aarde se hart? Waarom was mense, soos my voorouers, bereid om vir die grond te sweet? Te veg, te sterf daarvoor?

As wynmakers raak ons graag filosofies oor die invloed wat die grond op die wyn het. Ons landgoed is vanweë sy terroir bekend om wyne met prikkelende minerale eienskappe, afkomstig van wingerde wat in die diverse geologie van die oeroue terroir gewortel is. Terroir is die versamelwoord vir al die natuurlike faktore soos grondtipe, hoogte bo seespieël, geologiese samestelling en die rotsagtigheid van ’n betrokke wingerd. Dit het alles ’n invloed op die gehalte van die wyn wat dit oplewer en die styl waarin jy dit maak.

As jy dit bloot wetenskaplik beskou, is grond maar net materie; elemente van die periodieke tabel. Onthou jy daardie plakkaat in die wetenskapklas met al die elemente? Kalium. Kalsium. Koolstof. Stikstof. Yster. En nog vele meer. Maar ons weet mos die stuk aarde waarop ons boer, gaan oor veel meer as die chemiese samestelling van die grond, net soos ’n mens se liggaam meer as net stof is.

As ek nadink oor ons geskiedenis en die essensie van grond, wonder ek wat verganklik en wat onverganklik is. Ek wonder waar ons presies in die seisoene en siklusse inpas. Ook oor hoe relevant dinge is.

Kyk, ons vallei is geseënd met geologiese diversiteit: Aan die flanke is twee dele van die Kaapse Plooiberge. Soos twee groot, opgevoude tafeldoeke is die minerale oor millennia geskuif en gevorm in kompakte diagonale en vertikale lae. En dié lang proses van druk en temperatuurwisseling lê nou in die dramatiese geologiese landskap vasgevang.

Verder is daar honderde kalksteenheuwels en fossielneerslae en indrukke van Devoniese lewe uit ’n ander era. Die voetheuwels lei na kalksteenlae, oorblyfsels van oeroue opgedroogde watertafels.

Teen die bodem van die vallei kerf die rivier verder aan sy slikbedding. As jy die bogrond van Weltevrede sou afkrap, onthul dit ’n versameling van hierdie geologiese patrone. Oeroue, bros lae skalie. Soliede blokke klip wat soos versteende nougat deur die wit kalkryke neerslag gevorm is. En sandsteenrotse in ’n diep slik.

Op hierdie grond het my familie en families van die plaaswerkers die afgelope 108 jaar geboer en gewoon. Met grawe en ploeë het ons die aarde omgedolwe en saamgewerk na goeie oesjare.

Dit verbaas my dat die grondtipes van soveel verskillende kleure en teksture op die ou end uit dieselfde bestanddele bestaan; dat dit, teoreties gesproke, uit minder as 100 elemente van die periodieke tabel saamgestel is. Verder verbaas dit my dat nie net die grond self nie, maar ook alles wat bo-op voorkom – die bome, wingerde, beeste, huise, trekkers én mense – uit dieselfde elemente op die periodieke tabel bestaan. Dit laat my dink aan die siklus waarvan ons almal deel is. Uit stof gemaak. Uiteindelik weer terug na stof.

Klip is versteende grond. Grond is verweerde klip, aangevul deur stofdeeltjies uit ander bronne: verdroogde wingerdbas, droë blare, mossievere, beesmis waarvan die vog al uit is, geroeste implemente, skaafsels vel van hardwerkende hande. Ons noem dit stof, want iets aards het weer as stof die aarde ingegaan. Daar sal dit weer versteen en dan weer verweer; water en wind en handewerk skilfer dit af en maak dit weer grond. Kalium. Kalsium. Koolstof. Stikstof. Yster. En nog vele meer.

Op Weltevrede is daar sowat 250 000 wingerdstokke, waarvan die oudste al in 1926 geplant is. Dié knopperige, druifdraende plante het hul wortels in hierdie terroir en dis hier waar hulle gemaak is. Uit hierdie grond kry die wingerdstok sy krag; sy wortels strek diep om by voedingstowwe en vog uit te kom. As boere aanskou ons die seisoene, hoe dinge kom en gaan.

In die lente vorm miljoene nuwe plantselle soos die wingerd141 stokke geboorte gee aan lote, blare en rankstele. In die somer dra hulle soet trossies ryp bessies wat wag om gepars te word. ’n Hele oes, tallose mandjies druiwe gereed om in die kelder gestort en dan tot wyn gekneus te word. Uiteindelik kan jy ’n glas skink en proe. En as jy die inhoud van die glas in ’n laboratorium sou ontleed, bevat dit weer hierdie bestanddele: kalium, kalsium, koolstof, stikstof, yster, en nog vele meer – dieselfde as die grond.

Later verf die herfs die wêreld geel en rooi. Geklee in dié kleure struikel die blare sondronk tot aan die wingerd se voete. Hulle raak weer deel van die grond waaruit hulle gegroei het en verweer saam met die druiwedoppe en -stingels tot kompos. Later maak die winter van die wingerdstokke ’n potloodskets, teen die draad staan hulle gekruisig, op knoppe getrek asof hulle ly.

Warm hande, vroegoggend bo vlamme gehou, knip die winterlote met ’n snoeiskêr dat hulle bros en benerig in die ploegsloot val. In dié graf raak die lote weer kalium, kalsium, koolstof, stikstof, yster, en nog vele ander elemente.

En op hierdie grond het ons voorouers gedrink en groente en vrugte geëet en het die beeste op ’n duisend heuwels tussen die veld se lelies gewei. Die gras, in die grond gewortel, het deur xileem en floëem dieselfde elemente opgesuig wat vroeër vergeelde en dooie gras was. Lamsvleis, eers ’n gesinsmaal, dan deel van die mens.

Uit ons ouers is ons noukeurig geskep en deur die naelstring het ons dieselfde elemente ontvang. In nege maande is ons in die moederskoot aanmekaargeweef; vingers en tone, organe, ’n brein en oë – ’n komplekse liggaam, wonderlik uitgevoer. Op ’n dag neem ons ’n eerste asemteug, sien ons die lig ’n eerste keer en selfs daarna hou die selle doelgerig aan vermeerder en groei ons elke dag, elke jaar danksy dieselfde elemente wat deur die are en limfstelsels vloei.

Ons asem die vars herfslug in, want elke ding het sy tyd en sy plek. Gou is dit weer winter en sit ons voor die kaggel en kyk hoe die vlamme om die wingerdstompies krul. Ons kerf biltong en drink wyn en kyk hoe dit wat was, vergaan tot dieselfde elemente.

Ons gaan slaap, vergenoegd of onvergenoegd, en dit is aand en dit is oggend en ons gaan werk om ’n lewe te maak sodat ons kan eet en drink. Dag vir dag. Nege tot vyf. Stof tot stof. En dit raak aand en dit raak oggend en dalk was dit jou laaste oggend, want alles raak uiteindelik weer stof. Kalium. Kalsium. Koolstof. Stikstof. Yster. En nog vele meer elemente.

Wanneer daardie oomblik kom, gaan dit nie saakmaak uit watter materiaal ek geskep is nie omdat my hopie stof en die hond en die tafel s’n maar net nog van dieselfde elemente is. Die periodieke tabel sou dan deur sy hele siklus gegaan het en wat aards is, sal weer deel van die aarde wees.

Die vraag is, wat leef in hierdie tydelike stofdop van my? Oor honderd jaar, wanneer die komende geslagte na ou foto’s van ons kyk, hoe sal hulle ons onthou? Watter herinneringe sal die noem van my naam oproep? Wanneer die stof van ’n besige lewe eers gaan lê, watter voetspoor sal ek agterlaat?

Ek glo dat ek ’n verantwoordelikheid het wat wyer as my plaas strek. In my geestesoog lê my plaas so uitgestrek soos Afrika en die vrug wat die grond dra, is die kontinent se gelowiges. Wys my grond wat braak lê. Hosea 10:12 kom by my op. “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle ’n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.”

Al is ons liggame verganklik en ons voetspore op hierdie aarde net tydelik, glo ek almal moet oorweeg wat verbygaande waarde het en wat vir ewig hou. Uiteindelik is dit net verhoudinge wat saakmaak. Wanneer ons die laaste hoofstuk bereik en terugkyk, sou ek graag wou sê dat my lewe iets werd was. Dat ek ’n verskil gemaak het. Ons tyd is egter beperk. Ons is soos gras. Eendag sal my liggaam ook deel wees van die sooie waarop ons loop, van die stof wat rondwaai en van die grond waarop ons boer.

As iemand wat oor die grond toesig hou, is ek nie aardgebonde nie, maar ek het wel ’n roeping op hierdie aarde. Ek wil sien dat mense hul waardigheid herwin. En eienaarskap of toegang tot grond het ’n rol daarin te speel. Ek is ’n voorstander van landelike volhoubaarheid.

Wanneer ek na ander dele van die vasteland reis, sien ek groter vreugde en vergenoegdheid in die oë van mense wat eienaar is van ’n lappie grond op die platteland as dié met baie geld in die stad wat van hul familie geskei is.

Ek is ’n kommersiële boer en groot kommersiële landbouondernemings is beslis belangrik vir ons ekonomie. Boerdery op ’n klein skaal is egter belangrik vir die ekonomie van die siel. As waarde deur goeie praktyke, voedselverwerking en verpakking toegevoeg word, kan klein ondernemings ook in grotes verander.

Oudpres. Nelson Mandela het die handgeskrewe manuskrip van Long Walk to Freedom, sy outobiografie, in die tuin van die gevangenis op Robbeneiland weggesteek. Hy het geskryf: “Op sommige maniere sien ek die tuin as ’n metafoor vir sekere aspekte van my lewe. ’n Leier moet ook na sy tuin omsien; hy moet ook saai en die saad dan dophou, daarvoor sorg en uiteindelik die produk oes. Soos die tuinier moet ’n leier verantwoordelikheid aanvaar vir dit wat hy aangeplant het; hy moet hom by sy werk bepaal, probeer om sy vyande weg te hou, behou wat behoue kan bly en ontslae raak van dit wat nie kan oorleef nie.”

Op die tronk se werf het hy sy manuskrip begrawe om dit uit die owerhede se hande te hou en tot vandag toe groei daar ’n wingerdstok. Die Weltevrede Bemagtigingstrust, vir die families wat op ons plaas werk, sien na daardie historiese wingerd om. Ek het die voorreg gehad om vir mnr. Mandela wyn uit daardie tronkwingerd te maak. Die wyn is The Parable genoem en op sy 94ste verjaardag deur prof. Jakes Gerwel by sy huis in Qunu in die Oos-Kaap aan hom oorhandig.

Vir my dien Madiba se liefde vir die land en die grond as inspirasie. Deur mense lief te hê, kan ons die land heelmaak. Dit is ook ’n goddelike waarheid.

Dalk kan ons hierdie land heelmaak deur die jeug vir die grond lief te maak, hulle anders na hul stowwerige agterplase te laat kyk en die potensiaal daarin raak te sien. Ek wil hê hulle moet hul omstandighede oorkom en die wêreld verander deur te begin waar hulle is, die vasteland Afrika. Ons kontinent is ryk en geseën met goeie grond, goeie water en goeie mense wat goeie vars produkte lewer. Elke dorpie verdien ’n plek waar die jeug vaardighede kan leer, waar vroue bemagtig kan word, waar die werkloses werk kan kry of self as entrepreneurs ’n bestaan kan maak.

Ons planne en die politiek van die verlede het hoop by ons mense afgevat. Ons moet houdings verander, entoesiasme aanvuur en nuwe entrepreneurs skep. Vir so ’n taak steek ek my hand op. God se liefde vir die land, vir die kontinent, het ek ook.

Ek is op die ou end uit Afrika-materiaal geskep.