Voor 1994 "het wit Engelssprekendes en Joodse ondernemers die Suid-Afrikaanse besigheidswêreld gedomineer."

In die skrywersnota van Fortuine (Jonathan Ball, R310) vertel Ebbe Domisse dat die "boek oor ’n tydperk van drie jaar voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie voltooi is, [en dis] die relaas van ’n joernalis wat oor ’n lang tydperk ontwikkelinge in die verwante terreine van die Suid-Afrikaanse ekonomie en politiek waargeneem het." Hy verduidelik verder "die kern van die boek berus op onderhoude en e-korrespondensie met hooffigure in die sakelewe en die megalandbou." Al is jy nie ’n sakeman nie, sal jy geboei word deur die verhale van mense soos Koos Bekker, Johann Rupert, Christo Wiese, Whitey Basson, Douw Steyn, Johan van Zyl en nog heelwat ander. Geen boek oor entrepeneurskap en besigheid in Suid-Afrika sal volledig wees as daar nie oor Markus Jooste geskryf word nie. Jooste het Domisse se versoek om ’n persoonlike onderhoud kort en kragtig per e-pos van die hand gewys. Tog word sy geskiedenis boeiend uiteen gesit en besef jy die versoeking vir die superrykes om te hoog te vlieg met groot risiko gepaardgaan. Meer gaan ek nie weggee nie, jy moet maar self lees oor die berugte 'grootmeneer' Jooste en sy doen en late.

Ek kon die boek nie neersit nie en het werklik baie meer insig in die rol wat Afrikaner-magnate in ons land se ekonomie en in die wêreldmark speel. Meeste van die sakemanne waaroor Domisse skryf, is nie met ’n goue lepel in die mond gebore nie. In teen deel, baie kom van relatiewe klein dorpe af en het in nederige omstandighede grootgeword. Hulle is blootgestel aan die sakewêreld deur ouers of familie wat die een of ander besigheid bedryf het. Meeste het ook reeds as kinders in die besigheid gewerk. Dit het hulle gehelp om ’n goeie basis te ontwikkel vir hul latere loopbane. Hierdie mense is uitstekende rolmodelle vir jong mense wat na die sterre reik.

 
sakewêreld

Lees hier oor ’n deel van Johan van Zyl se loopbaan uit die hoofstuk, "Avontuur uit assuransie".

Twee Afrikaanse voorlopers in die versekeringsbedryf, Johan van Zyl en Douw Steyn, het sterk uiteenlopende persoonlikhede. Albei het egter ’n besondere konneksie met vooraanstaande swart leiers opgebou: Van Zyl met die rykste swart Suid-Afrikaner, Patrice Motsepe, en Steyn met die staatsman Nelson Mandela.

Van Zyl, onder wie se leiding Sanlam herlewe het, is ’n landbouekonoom wat rektor van die Universiteit van Pretoria was voordat hy hom tot die sakewêreld begewe het. Hy was besturende direkteur van sowel Santam as Sanlam, en dit is waar hy Motsepe, die stigter van African Rainbow Capital, beter leer ken het. Hy het hom mettertyd in uitvoerende hoedanigheid by Motsepe aangesluit om sy sakeryk uit te bou.

Johan van Zyl, wat by ’n plaasskooltjie genaamd De Grootboom naby Lydenburg in Mpumalanga begin skoolgaan het, wou as jong man aanvanklik gaan boer soos sy pa – ’n vrugteboer wat sitrusvrugte uitgevoer en ook met beeste geboer het. Maar sy ma, wat in die depressiejare ná st. 6 uit die skool moes gaan om te gaan werk, het hom oorreed om eers te gaan studeer. By die Universiteit van Pretoria het die hoof van die departement van landbou-ekonomie, prof. Jan Groenewald, hom tot die kursus toegelaat met die vergunning dat hy wiskunde en geologie as vakke kon neem.

Van Zyl het sy honneurs- en meestersgraad in landbou-ekonomie cum laude behaal en het toe twee jaar by die Departement van Landbou in Pretoria gewerk. Daarna het hy twee doktorsgrade verwerf, die eerste in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria en die tweede in makro-en-mikro-ekonomie aan die Vista-Universiteit.

Hy is op dertigjarige leeftyd as professor aangestel en in 1997 het hy die visekanselier en rektor van die Universiteit van Pretoria geword. Tydens sabbatsverlof was hy besoekende professor aan die Michigan State University in Amerika, daarna het hy ’n slag ook by die Wêreldbank in Washington gewerk. Die internasionale ervaring het sy horisonne verbreed.

Prof. Groenewald was een van die twee mense wat ’n groot invloed op Van Zyl gehad het. Groenewald het Van Zyl, wat uit ’n tipiese Nasionale Party-agtergrond gekom het, beïndruk “omdat hy nie ’n tipiese Afrikaner was nie. Hy het vrae gevra, en die manier waarop hy oor goed dink.”

Die ander was Anton Rupert, die kanselier van die universiteit terwyl Van Zyl rektor was. Van Zyl se vrou, Cristelle, is ook verlangs familie van Rupert. Volgens Van Zyl het Rupert hom elke maand of twee na Stellenbosch laat kom. “Dan het ons by Fleur Du Cap gesit, of by sy huis, of by die Decameron,” het Van Zyl vertel.

“Ons het so drie ure, vier ure gepraat oor die universiteit, oor die land, oor die goed wat moet gebeur, en hy het ’n ongelooflike invloed op my gehad, vir my as ’n jong outjie … ek was skaars 40. En die goed wat gedoen moet word, moeilike goed. As ’n klankbord was sy idees vir my ongelooflik, om leiding te gee. Ek het nooit eintlik ’n mentor gehad nie, behalwe daardie tyd. Van die vyf jaar dat ek daar was, was hy vier jaar kanselier, en ons het ’n baie goeie verhouding gehad.”

As rektor van Tukkies het Van Zyl die transformasie van die universiteit gelei. Een van die mense wat daardeur geïmponeer is, was Marinus Daling, uitvoerende voorsitter van Sanlam. Toe Van Zyl se termyn as rektor in 2001 tot ’n einde kom, het Daling hom oorreed om hom by Santam aan te sluit, waar dr. Leon Vermaak as uitvoerende hoof na Sanlam sou oorskuif. Dit het gebeur omdat Daling, wat Sanlam se uitvoerende voorsitter en besturende direkteur was, siek geraak het en gevolglik gedwing is om sy poste te skei. Van Zyl is in Vermaak se pos by Santam aangestel.

Daling, wat Sanlam moes ontbondel nadat hy gehelp het om die maatskappy tot ’n reuse-sakekonglomeraat uit te bou, is egter binne vier maande weens kanker oorlede. Ton Vosloo, wat in 1989 in Sanlam se direksie aangestel is, het die pos van nie-uitvoerende voorsitter oorgeneem.

Die 40-jarige Vermaak, hoewel bedrewe in die korttermynmark, kon nie die mas in die lewensversekeringsmark opkom nie. Markaandeel het gekrimp, beleggers het vertroue verloor en Sanlam se aandeel wat met demutualisering op R6 genoteer is, het tot R5,80 teruggeval. Op ’n direksievergadering in Desember 2002 waartydens Vermaak die skuld vir Sanlam se swakkerige vertoning gepak het op die aandeelhouding van Absa, met wie hy Sanlam wou saamsmelt, het senior direkteure beswaar gemaak en hulle het skerp kritiek op “die vernietiging van waarde” uitgespreek. Dit was Vosloo se taak om Vermaak te vra om die raadsaal te verlaat. Vermaak het nie teruggekeer nie.

Van Zyl, wat nie ’n Aprilgek genoem wou word nie, is vanaf 31 Maart 2003 (vir een dag se ekstra betaling!) as die nuwe uitvoerende hoof van Suid-Afrika se naasgrootste lewensversekeringsmaatskappy aangestel. Hy het volgens Sanlam se gedenkboek wat met die eeufees in 2018 uitgegee is, die “futlose organisasie soos ’n duisend volt getref en die broodnodige leierskap en visie in oorvloed voorsien”.

Van Zyl se akademiese en internasionale ervaring het goed te pas gekom in sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse besigheidswêreld. Hy het in die laat tagtigerjare by Vista klasgegee, waar hy verskillende ekonomiese stelsels, van kommunisme en sosialisme tot kapitalisme, aan studente moes verduidelik. Die swart studente wou egter niks weet van kapitalisme nie. Almal het gesê hy kan praat soos hy wil, hulle sal nooit daarvoor stem nie; almal moet dieselfde kry, ens. Toe hulle die eerste toets skryf, het hy die punte uitgedeel: 51% vir almal, die gemiddelde van die klas. Die studente het begin brom, die slimste student het sy hand opgesteek en gesê daar is ’n probleem, want hy het rondgevra en almal kry 51%.

“Ek het gesê: Ja, maar dit is waarvoor julle gestem het, nie waar nie?” vertel Van Zyl. “Julle het verklaar dat dit is wat julle gaan kry; so, waarom wag totdat ons ’n kommunistiese of sosialistiese staat is? Ons begin vandag.”

Toe Van Zyl met sy lesing voortgaan, het die slim student weer sy hand opgesteek: “Professor, maar ek dink ek het beter gevaar.” Van Zyl het gereageer: “Natuurlik het jy, jy was in die tagtigs. Maar jou vriend langs jou was in die twintigs; so, hy het ’n deel van joune gekry. Wat meer is, volgende keer gaan jy nie studeer nie, want maak nie saak hoe hard jy werk nie, jy gaan net die gemiddelde van die klas kry. Jou vriend, wat een lesing bygewoon het, gaan ook nie meer klasloop nie, hy gaan altyd op ander se rug ry. Volgende keer gaan die klasgemiddelde ook nie 51% wees nie, want omdat niemand sal werk nie, is daar geen aansporing om te werk nie; so, die gemiddelde gaan tot 30% daal.”

Die student het weer gepraat: “Professor, jy het jou punt bewys. Ek is ’n kapitalis.”

Van Zyl het die staaltjie daarna in die sakelewe herhaal om inherente tekortkominge van kommunisme en sosialisme te illustreer. Sanlam se direkteure het hulle slap gelag oor die studente se ommeswaai, totdat hy gevra het waarom dieselfde in Sanlam gedoen word?

“Ons betaal almal dieselfde bonus, ongeag van wat hulle persoonlike bydrae en prestasie is; kom ons verander dit,” het hy sy kollegas meegedeel. Hy beskou hierdie kopskuif, die wegbeweeg van sosialisme, as een van die belangrikste bydraes tot die welslae wat Sanlam onder sy leiding behaal het.

“Ons het insentiewe ingestel, ons het net die mense wat regtig goed doen en wat ons vorentoe vat ordentlik en meer vergoed, en ons het die fokus op die besigheid gesit. Dit is die grootste verandering wat ek in Sanlam aangebring het. Hoe kan ek vir ’n ou in Johannesburg vertel of hy twee sekretaresses nodig het, of sy een goed werk? Ons moet hom net verantwoordelik hou vir wat hy doen. As hy dit nie reg doen nie moet daar nadele wees, soos een of ander straf, en as hy dit reg doen, moet daar een of ander vergoeding wees. Dit is maar die basiese … dis nie ingewikkeld nie.”

 

Patrice Motsepe en swart bemagtiging by Sanlam

Onder Van Zyl se leiding het Sanlam met swart bemagtiging begin nadat Metropolitan Lewens (vroeër bekend as African Homes Trust) in 1993 verkoop is aan ’n maatskappy met 85% swart aandeelhouding.

Van Zyl se inisiatief om Sanlam ’n veel groter staanplek in die groeiende mark vir swart mense te laat kry, was die begin van ’n lang verbintenis met die swart sakeleier Patrice Motsepe, die eerste swart Suid-Afrikaner wat op Forbes se lys superrykes verskyn het. ’n Jaar nadat Van Zyl die uitvoerende hoof geword het, is Motsepe in 2004 in die direksie as die eerste swart ondervoorsitter van Sanlam aangestel.

Motsepe het naskools aan die Universiteit van Swaziland gestudeer en ’n regsgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. In 1994 is hy as die eerste swart vennoot van die regsfirma Bowman Gilfillan in Johannesburg aangestel. Sy vrou, dr. Precious Moloi-Motsepe, wat haar studie as medikus met behulp van ’n studielening van die Helpmekaar Studiefonds voltooi het, is ’n mode-entrepreneur wat die organisasie African Fashion International begin het om jong Suid-Afrikaanse modeontwerpers aan te moedig.

Motsepe het tot die mynbedryf toegetree deur uitgewerkte myne te begin ontgin. Hy het met kontrakwerk mettertyd sodanig uitgebrei dat hy myne oorgeneem en die maatskappy African Rainbow Minerals gestig het. Die maatskappy het belange in goud, platinum, steenkool, ystererts en koper.

Motsepe, wat onwrikbaar is dat hy aan geen transaksie wil raak waarby mense betrokke is wat met staatskaping verbind is nie, het in sy jeugjare heelwat oor besigheid en mynwese te wete gekom. Hy het toe reeds mynwerkers leer ken en het met allerlei take in sy pa se winkels en restaurants en sy ma se drankwinkel gehelp. Hy wys daarop dat baie mense nie weet dat daar reeds in die apartheidsdae groot swart entrepreneurs was nie.

“Ons het mense gehad soos dr. Sam Motsuenyane, Richard Maponya, Habakuk Shikwane … Op baie maniere het hulle die apartheidswette getrotseer wat hulle beperk het en suksesvolle besighede begin,” sê Motsepe.

Motsepe se Afrikaanse grootwordjare het ’n belangrike rol in sy koms na Sanlam gespeel. Sy vader, Augustine Butana Chaane Motsepe, ’n stamhoof van die Bakgatla ba Mmakau’s wat sakeondernemings in Hammanskraal bedryf het, het hom na ’n Afrikaanse kloosterskool op Aliwal-Noord gestuur. Volgens Van Zyl glo Motsepe dat Afrikaners diep wortels in die land het en hier sal bly, en daar is ’n baie noue affiniteit tussen hulle twee. Hy praat nooit Engels met Van Zyl en ander Afrikaanse sakelui nie, net Afrikaans. “As hy kwaad word, praat hy net Afrikaans, al is dit in die direksievergadering waar daar Engelse en ander sit!” vertel Van Zyl.

In die stadium toe Motsepe ’n direkteur geword het, het Sanlam die wind van voor gehad. Daar was ’n gebrek aan leierskap en gevolglik gebrek aan visie en ’n duidelike sakemodel. Motsepe was ook besig met onderhandelings om na Old Mutual te gaan. “Hy het met ons saamgegaan omdat hy geglo het hy kan met die Afrikaners en die Afrikaanse mense verder kom; oor die geskiedenis en die feit dat ons nie ander plekke het nie. So, dis eintlik ’n baie mooi storie. Dit was boonop net die tyd toe Old Mutual Engeland toe gegaan het, en Anglo American en SA Brouerye hul primêre noterings na Londen geskuif het. Dit was veral vir die ANC en die swart mense ’n redelik moeilike ding; hulle het gevoel, noudat ons in beheer is, nou hardloop die Engelse weg Engeland toe.”

Oudpresident Nelson Mandela het gehelp om Motsepe te oortuig om ’n vennootskap met Sanlam aan te gaan. Die ANC se pensioenfonds was reeds by Sanlam en Mandela het aangevoer dat wat Sanlam met Afrikanergeld reggekry het, ook met die geld van swart Suid-Afrikaners gedoen kan word.

’n Breedgebaseerde bemagtigingstransaksie is met die Motsepe-maatskappy Sizanani-Thusanang-Helpmekaar (Edms.) Bpk. aangegaan en in April 2004 het die Ubuntu-Botho Beleggings (Edms.) Bpk. tot stand gekom. Die maatskappy se naam gee uitdrukking aan Motsepe se verbintenis tot ubuntu: swart mense se oortuiging dat mense vir mekaar moet sorg – dieselfde konsep wat ’n eeu tevore deur die Helpmekaarbeweging onder Afrikaners bevorder is. En dit bring die koppeling van ubuntu-helpmekaar, een van Motsepe se gunstelingwoordgebruike, in verband met sy oortuiging dat Suid-Afrikaners een nasie vorm wat onderling op mekaar aangewese is.

Die nuwe maatskappy se swart vennote het niks op ’n skinkbord gekry nie; die transaksie is op gesonde sakebeginsels gegrond. Vakbonde, tradisionele leiers en gemeenskapsorganisasies is by die bemagtigingsgroep betrek. Die groep, wat 8% van Sanlam se aandele teen R6 per aandeel verkry het, met skuldfinansiering van R1,2 miljard, het spoedig begin groei en uitbrei. Sodanig dat Ubuntu-Botho as ’n model vir swart bemagtiging beskou word. Reeds in 2006 is die eerste dividend van R50 miljoen uitbetaal aan meer as 700 aandeelhouers en die Ubuntu-Botho Gemeenskapsontwikkelingstrust. Die trust staan veral plattelandse mense by met ’n gestruktureerde ontwikkelingsplan.

Motsepe, wat ook die sokkerklub Mamelodi Sundowns besit, het tydens die ramptoestand oor die koronavirus in 2020 kort ná die aankondiging van die Rupert- en Oppenheimer-familie se skenkings van R1 miljard elk vir noodleniging hom ook tot ’n skenking van R1 miljard verbind.

Motsepe het nog net een Sanlam-direksievergadering misgeloop en dit was terwyl hy oorsee was, het Van Zyl in 2018 vertel. Hoewel dit vieruur in die oggend in Amerika was, het hy daarvandaan ingebel. “Dit is die soort benadering wat van ’n direkteur verwag kan word.”

Motsepe se toetrede tot Sanlam in 2004 het saamgeval met die beëindiging van ’n ooreenkoms wat tot gevolg gehad het dat die versekeringsmaatskappy ’n dekade lank uitgebly het uit die ontluikende mark van swart mense. Deels was dit die gevolg van ’n bemagtigingstransaksie met Metropolitan Lewens, wat Marinus Daling tien jaar tevore begin het. Sanlam het onderneem om tien jaar lank nie met Metropolitan mee te ding nie. Daardeur het Sanlam “eintlik sy toekoms verkoop”, soos Van Zyl dit later gestel het. Talle van Sanlam se swart kliënte het na Metropolitan oorgeskakel, terwyl ander mededingers ook ’n voorsprong op Sanlam benut het.