Winterbach het al meermale die Hertzogprys, die M-Net-prys en die UJ-prys ontvang. Haar romans het al in Nederland, Frankryk en Amerika verskyn. Sy woon op Stellenbosch en is ook ’n beeldende kunstenaar.

Soos gewoonlik verweef Winterbach weer ’n paar verhaallyne in die roman.

’n Vrou, Katerina Steenkamp, haar oog ferm op die berg, gaan op ’n aanlyn dating site en ontmoet mense met onverwagse gevolge. ’n Man, sy kop vol apokaliptiese frases, patrolleer die strate sonder enige sigbare voorneme of doel. ’n Ander man hou die naghemel dop en wag op die koms van ’n elliptiese tuig. Nog ’n vrou, aan die einde van haar lewe, besin oor haar huwelik, en die lewens van haar drie susters.

Voorouer. Pelgrim. Berg. (Human & Rousseau, R340) is ’n uitdagende roman, wat bowenal dui op vernuwing in Winterbach se werk. Die roman was op die kortlys vir NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021.  

Winterbach het al twee keer met die louere weggestap  in dié wedstryd, in 2012 met haar roman, Die aanspraak van lewende wesens en in 2018 met Die troebel tyd.

Helené Prinsloo, reklamekoördineerder by Human & Rousseau sê die volgende oor  Voorouer. Pelgrim. Berg. 

"Ek is ’n groot fan en hierdie een is sonder twyfel my gunsteling. Voourouer is propvol interessante verwysings en swymelings en draai by onderwerpe soos asteroïede en aanlynafsprake en voorouerstories. Haar kenmerkende kleurvolle karakters is hier meer kleurvol as te vore, en dít wat hulle met mekaar verbind, sal my lank bybly."

 

Lees hier ’n voorsmaak van Winterbach se nuutste:

Ek staan voor my kombuisvenster. Aan die bopunt van die straat wat haaks op ons huis loop, sien ek ’n man staan. Hy staan doodstil. Ek herken hom, hy is die man wat heeldag in die strate in die omgewing op en af loop. Somer en winter dra hy ’n keps met oorflappe, soos ’n Tweede Wêreldoorlog-vlieënier. Nou staan hy doodstil, asof hy luister. Hy staan daar soos ’n brandwag. ’n Rukkie later draai hy om en begin met die pad afstap. Hy draai links in die straat wat voor ons huis verbyloop. Hierdie man is ’n flaneur, dink ek vanoggend, hy is soos Baudelaire, soos Walter Benjamin in Afrika (hoewel geen dandy nie, allermins, dit ís op slot van sake Afrika hierdie). Daarbenewens vermoed ek dat hy moontlik nie heeltemal reg wys is nie, want vroemôrens hoor mens hom half singend met homself praat wanneer hy in die pad afstap. Onontsyferbare frases. Ek het geen idee waaroor hierdie prewelings gaan nie. Dit is moontlik dat die lewensdruk vir hom te groot was, dat hy iewers geknak het onder onsegbare trauma. Iemand wat nooit die liefde van ’n moeder of die sorg van ’n vader ervaar het nie. Dit is ook moontlik dat sy oënskynlike eenvoud van gees ’n voorwendsel is (’n veinsery en      ’n versinsel), in diens van donker elemente (Riduaan Aarbei, byvoorbeeld); dat hy ’n agent is, ’n spioen. ’n Gedaanteverwisselaar wanneer dit hom pas.

Toe ek wegdraai van die kombuisvenster, moes ek iets op die radio gehoor het, of die sneller was dalk ’n droom van die vorige nag, want ineens is Jakobus Jonker bý my, hélder voor my geestesoog. Verontrus tend. Ek besef skielik dat Jakobus al ’n geruime tyd daar was, nét buite my onmiddellike bewussynsveld, as ’n soort polsende aanmaning, en dat die droom presies die sneller was om hom na my bewussyn te laat deurbreek. Ek onthou nie die detail van die droom nie, maar dit was nie aangenaam nie – een of ander konfrontasie, en dit het onopgelos gebly.

Op die radio sê die kenner, dis nie óf ’n asteroïed die aarde sal tref nie, dis wannéér. En hulle is nie meer so groot nie, gelukkig, die asteroïede, sê hy, soos byvoorbeeld die een wat die Vredefort-koepel veroorsaak het toe dit die aarde ongeveer twee miljard jaar gelede, tydens die Paleo-proterosoïkum, getref het. Hierdie koepel, sê die man, is die grootste geverifieerde impakkrater op aarde. Die een wat nou op pad is, 361955 Amygdala, sal op ’n veilige afstand verby die aarde beweeg.

Altyd iéts om voor dankbaar te wees, dink ek, in hierdie eindtye.