Die skokkende feit, volgens Statistieke Suid-Afrika, kom uit die jongste navorsing oor huishoudings (2016/2017). In sowat 10 % van huishoudings is die pa oorlede. Wat hartseer is dat waar daar wel ’n pa is, speel hy in 50% van die gevalle geen rol in die kinders se lewe nie. Boonop het 43,1 % van kinders in 2018 by ’n enkelma gewoon.

Jong seuns het ’n vaderfiguur as mentor in hul lewe nodig om hulle op die regte pad te kan lei, skryf Julian Jansen in Seuns sonder pa’s (Lux Verbi, R230). Betrokkenheid van die gemeenskap, die kerk, die skool, sport- en kultuurklubs kan egter ook bydra tot kind se ontwikkeling. Kinders se ontwikkeling is nie net die ouers se verantwoordelikheid nie; almal moet bydra om kinders aktiewe lede van ’n gemeenskap te maak.

In sy boek neem Julian Jansen bestekopname van die realiteit van vaderloosheid en die impak daarvan op seuns en vra wat aan die situasie gedoen word. Hierdie kwessie is vir hom persoonlik en dis sy eie lewenservaring wat hom gelei het om die boek te skryf.

"Ek het diep in my eie lewe gaan grawe oor hoe dit was om onder die hoofleeu se gesag te lewe - en uiteindelik daarsonder." Maklik was dit nie vir die ses Jansenkinders nie. "My pa se skaduwee was oral om en oor ons ses kinders, soms allesversmorend. Hy was destyds selfs meer prominent in ons lewe as Jesus Christus. Hy was sowel die held en die skurk in sy gesin. En toe ons hom die nodigste gehad het, het hy net verdwyn en nooit weer teruggekeer nie." Dit het letsels gelaat en as die broers nie op kritieke tye goeie mentors in hul lewe gehad het nie, kon hul lewens so maklik ontspoor het.

Buiten sy eie roerende verhaal, deel Jansen ook die verhale van individue wat ’n rol in sy lewe gespeel het. Hy praat ook met kundiges oor die impak van vaderlose huise.

Die boek is gepak met praktiese en geestelike oplossings in die gesprekke met mense wat met hierdie situasies te doene kry.

Lees hier een van die inspirerende rolspelers, Quinton Adams se bydrae.

Enkelma’s se uitdagings om kinders alleen groot te maak

Quinton Adams is ’n Kaapse onderwys-sielkundige en ook wyd bekend as die “shackbuilder” omdat hy gesinne in informele nedersettings help om ordentlike strukture te bou met sterk ankerpale, oop vensters vir goeie ventilasie en ’n dak wat nie lek nie. Hy vertel graag die verhaal van Ma Leen en haar vyf dogters om te wys hoe enkelouers die probleem van ’n afwesige pa in ’n huisgesin met veerkragtigheid kan oorkom.

Die fisieke afwesigheid van ’n pa in ’n huisgesin het verreikende gevolge vir die gesin se funksionering. Verskeie studies wys die belangrikheid van die pa se rol in die kind se totale ontwikkeling. ’n Studie in Swede het bewys dat die teenwoordigheid van ’n pa ’n groot impak het op die totale ontwikkeling en lewe van die kinders. Hierdie bevindinge het tot gevolg gehad dat menige projekte en internasionale veldtogte van gestapel gestuur is wat fokus op die pa se rol in ’n kind se lewe.

Verskeie beleidsaanpassings is ook in sommige lande gedoen om die deurslaggewende rol van die pa in huisgesinne te verstewig. Meningsvormers fokus al meer op die rol van die pa om sy pligte as pa na te kom. Met die toenemende gesprekke oor die vaderfiguur sal dit interessant wees om onsself af te vra wat moeders gedoen het om die afwesigheid van die vaderfiguur te oorkom. Daar is wel baie suksesverhale in gemeenskappe waar die pa fisiek afwesig was en die ma die rol van ma en pa oorgeneem het.

In die boek Father Hunger verwys die skrywer Margo Maine spesifiek na die leegheid wat deur vroue ervaar word tydens die fisieke en emosionele afwesigheid van pa’s.

Dit lei tot ander psigologiese uitdagings wat nie net vroue ervaar nie, maar mans ook. Verder verwys wetenskaplikes ook na die “simbool van vaderskap”. In die afwesigheid van die vaderfiguur  was daar wel moeders of enkelouers wat albei rolle aangeneem het. Hulle het die tradisionele rolle van die vaderfiguur oorgeneem soos die broodwinner, die beskermer, die gesagsfiguur en outoriteit binne die huis.

Daar is baie sulke stories waar enkelouers met die nodige oortuiging, eienskappe en vaardighede verseker het dat hul kinders bo die moeilike omstandighede van hul lewe kan uitstyg. Hierdie enkelouers het dubbele ouers geword.

Een so ’n storie is dié van Ma Leen. Dit het my op ’n teoretiese en akademiese wyse só aangegryp dat ek jare lank herhaaldelik daarna verwys het tydens vele aanbiedings op nasionale en internasionale platforms.

Magdaleen Adams, of Ma Leen soos sy bekend was, het vyf dogters en ’n seun gehad toe sy haar man op ’n vroeë ouderdom in ’n ongeluk verloor het. Sy het ’n verbete stryd gevoer as enkelouer om te verseker dat haar kinders nie vasval in die sirkel van armoede nie. Dit was moeilike tye van armoede en apartheid. Sy wou nie hê hulle moet net oorleef nie, sy wou verseker dat hulle hierdie uitdagings sal kan oorkom. Haar ingesteldheid, veerkragtigheid en lewensoortuigings het geseëvier. Ma Leen se deurlopende gedrewenheid is prysenswaardig en haar storie moet verstaan word binne die konteks van ’n afwesige man en pa.

Magdaleen Adams is op Doornfontein, ’n plaas buite Heidelberg, gebore. Die plaaslewe het baie van haar sienings gevorm, iets wat sy later nodig gekry het toe sy haar kinders grootmaak. Die plaaseienaar wou hê haar broer, Apie, moes pleks van skool toe gaan, eerder sy koeie oppas.

Ma Leen se pa het geweier en hulle moes die plaaslewe vir die dorpslewe verruil. Die dogters onthou die storie goed, want hul ma het dit gereeld vir hulle vertel. Sy het hulle aangemoedig om te gaan studeer “anders gaan hulle by die wit vrou in die kombuis moet werk” – en dít sou sy nie toelaat nie. Dit was haar fokus en ingesteldheid in die lewe.

Dit is ’n merkwaardige storie van ’n enkelma se vasbeslotenheid om te verseker dat al haar kinders ’n professionele kwalifikasie verwerf. Die dogters verwys met ’n diepe trots na hul ma wat haar nie in die donker dae van apartheid op ’n plattelandse dorp laat onderkry het nie.

Met haar doelgerigte lewensingesteldheid het sy ’n verskil gemaak en verseker dat armoede nie ook hul voorland sou wees nie. Ma Leen was klein van postuur, maar ’n vegter wat nie toegelaat het dat haar oortuigings en deursettingsvermoë deur uiterste armoede bepaal word nie.

Armoede in gemeenskappe is soos ’n spinnerak waarin die prooi vasgevang en dan stadigaan vergiftig en verlam word en uiteindelik sterf. Ma Leen se lewensverhaal is een waarin die spinnerak van armoede vernietig word. Sy het nie toegelaat dat die spinnekop haar siel en menswees vergiftig nie, haar verlam en doodmaak nie. Sy het teruggeveg teen die gif van moedeloosheid,  terneergedruktheid en die wreedheid van armoede en nie toegelaat dat dit haar ambisies en drome vernietig nie.

Veerkragtigheid gaan oor die vermoë van die mens om bo sy of haar omstandighede te kan uitstyg. ’n Paar faktore speel ’n rol in die oorkoming van uitdagings.Sterftes in haar familie was deel van Ma Leen se uitdagings.

Sy het haar ma verloor toe sy nege jaar oud was en moes daarna help om die ander kinders groot te maak. Haar man is vroeg dood en van haar tien kinders het een by geboorte en een kort daarna gesterf. Nog twee, een vier en die ander nege, het in ’n motorongeluk omgekom. Haar seun is op 39-jarige ouderdom oorlede.

Haar deursettingsvermoë en persoonlike oortuigings het haar anders na erge persoonlike trauma laat kyk. Die Woord was haar verwysingsraamwerk en sy het haar kinders geleer om op God te vertrou. Dit was ’n aktiewe geloof wat tydens uitdagende oomblikke getriomfeer het. Haar oudste dogter, Cynthia Roberts, vertel van so ’n oomblik toe die kollege haar laat weet het sy kan nie terugkeer om haar studie voort te sit nie omdat sy hulle R6 skuld. Haar ma het haar oortuig dat sy die geld sal kry voordat sy die betrokke middag kollege toe sou vertrek.

Cynthia het geglo dat haar drome aan skerwe is – daar was geen manier dat hulle dié betrokke dag nog die geld sou kry nie, hulle was net te arm. Haar ma het werk vir die plaaslike Anglikaanse predikant gedoen asook ekstra strykwerk en daardie middag stuur die mense ’n koevert met R10 vir haar. “Mamma, leer my om ook so te kan glo,” was Cynthia se dankbare woorde aan haar ma.As enkelma het sy hard gewerk om vir haar kinders te sorg. Die welsyn het haar R36 per maand vir die dogters gegee, maar hulle vertel dat sy nie net op die welsyngeld staatgemaak het nie, maar ook hard gewerk het. Sy het stryk- en naaldwerk gedoen waar sy kon, en het dikwels tot laat in die nag voor haar swart naaldwerkmasjien gesit.

Dit was ’n gedurige stryd om oorlewing. Hulle onthou hoe hulle bruinsuikerwater op hul brood gekry het as deel van hulle kos, en wanneer hulle gelukkig was, soms ook ’n patat. Hulle kon nie self suiker in hul koffie gooi nie omdat daar spaarsamig daarmee te werk gegaan moes word. Sy het ook ouer familielede se klere kleiner gemaak sodat hulle dit kon dra. “Die wêreld skuld ons niks”, het hul dinamiese ma hulle gereeld vermaan. Ook die refrein dat hulle “nie eendag wit mense se vloere gaan skrop nie” is konstant voor hulle gehou.

Hulle het sowat 20 jaar in ’n huis met twee vertrekke in die “donkiekamp” gebly en in die 1980’s na ’n nuwe en beter woonbuurt getrek.

Ma Leen het groot drome vir haar dogters gehad en dit baie duidelik aan hulle gestel. Sy het geweet hoe om met haar geld te werk en met min geld oor die weg te kom. Daar was geen onnodige uitgawes nie. Finansiële bestuur was vir seker een van haar sterkste punte, sê haar dogters.

Nog ’n uitstaande eienskap was hoe sy dissipline met ’n ysterhand toegepas het. Reëls was deel van haar ouerskapstyl en sy het haar gesag duidelik en met ’n ferm hand laat geld. Die kinders moes goeie maniere hê en almal het presies geweet wat van hulle verwag word. Sy was ook deel van die uitgelese leierskap van die plaaslike kerk se moedersunie.

Haar vyf oorlewende kinders het almal professionele kwalifikasies verwerf. Twee, Cynthia en Mathilda Edom, het albei skoolhoofde geword, Agatha Adams ’n onderwyser en Maureen en Denise September verpleegsters.

Hul enkelma het gesien hoe haar drome vir haar kinders verwesenlik word voordat sy op 89-jarige ouderdom oorlede is. Op haar 70ste verjaardag het haar dogters vir haar ’n groot partytjie gehou. “Ma Leen se sukses was opgesluit in die feit dat sy in die Here geglo en naaldwerk gedoen het,” het die hoofspreker by dié geleentheid gesê.

Haar lewe is vol lesse oor hoe om veerkragtig te wees om te verseker dat die spinnerak en spinnekop van armoede jou nie vernietig nie. Sy was deel van ’n magdom enkelouers in ons gemeenskappe wat soos die rots van Gibraltar uitstaan.

.