In die nuwe verhaal het Klara die skerwe van haar lewe opgetel, nadat sy en David die wreedheid van haar eksman oorleef het. Sy is nou gelukkig getroud met Nathan Dean en hulle het ’n vierjarige dogtertjie. Die plattelandse dorp waar hulle woon, word deur ’n kindermoordenaar geteiken. Hou wat nou op die dorp gebeur verband met die verlede? En sal die polisie die moordenaar ontmasker voordat nog dogtertjies verdwyn?

In ’n onderhoud oor haar debuut, Adder, het  Christelle gesê dat sy in die spanningsgenre skryf omdat sy ’n boek wou skryf wat sy sélf sal wil lees. "En ook ’n boek wat mense met sy egtheid raak. Om dít te kon doen, het ek gereken, sou vereis dat ek meer as net navorsingskennis van my onderwerp moet hê. Drie van my vier broers, asook my suster se man, was polisiemanne. Ek het self ook ná matriek vir so amper drie jaar by die polisie gewerk, vir die grootste gedeelte by die Port Elizabeth Blitspatrollie. Ook, as joernalis is ek daagliks in kontak met geweldsmisdaad."  Die volledige onderhoud kan hier gelees word:

http://www.netwerk24.com/sarie/Argief/kragdadige-en-ontstellende-debuut-deur-christelle-van-rooyen-wessels-20170914

Ons plaas spesiaal vir lesers Hoofstuk een uit Brandmerk (Penguin, R280) as ’n lusmaker. Al is die boek die opvolg van Adder, staan die verhaal op sy eie bene en kan onafhanklik daarvan gelees word.

 

Brandmerk. Uittreksel – Hoofstuk1

Dis die helderrooi van haar rokkie wat sy aandag trek.

Die dogtertjie, ’n horde helderkleurige strikkies in haar hare, draf huppelend langs ’n mooi jong vrou. Nie een is bewus van die oë wat hul elke beweging volg nie.

“Mmangwane, can I really buy any sweets I want?” Die dogter­tjie se groot, diepbruin oë skitter van opgewondenheid.

Lebo Madiya knik en lag toe haar suster se dogtertjie haar seker vir die honderdste maal vandag om die lyf gryp en bedank vir dié lekker bederfuitstappie.

Lebo verstaan nie hoekom haar suster tevrede is om in dié gods­verlate dorpie te bly nie. Portia het matriek. Sy kon ook ’n werk in die stad gekry het en iets met haar lewe gedoen het. Nou sit sy hier en werk vir ’n minimumloon as ’n kantoorskoonmaker. Haar man werk ook maar net wanneer iets oor sy pad kom. Hierdie arme kind van hulle het nog nooit eens ’n regte winkel van binne gesien nie, net die spaza’s in die township.

Lebo verpes dit om hierheen te kom. Niks in die township voel meer vir haar asof dit die plek is waar sy grootgeword het nie. Sy het niks om oor te gesels wanneer sy van haar skoolmaats raakloop nie. Die afkeur in hul oë wanneer sy op Engels hul vrae en opmer­kings antwoord, ontglip haar ook nie.

Die dogtertjie hervat haar gebabbel. Lebo slaan haar linkerarm om Palesa se lyfie en druk haar teen haar bene vas.

Vanoggend het sy haar susterskind Edgars toe gevat om vir haar ’n rok, onderklere en skoene te kies. Dit was ’n belewenis om die kleine Palesa se absolute verwondering te kon aanskou. Ná baie wik en weeg het sy op ’n rooi rok met die afbeelding van ’n strokiesprinses op besluit. En die nuwe kledingstuk, sowel as die splinter­nuwe broekie en sandale, daar en dan aangetrek.

Hulle het toe eers vinnig by die Nigeriese haarkapper in Coet­zersdal se hoofstraat gestop. Die man het met flink vingers Palesa se hare in bolletjies op haar kop gedraai en met die veelkleurige knippie-strikkies vasgesteek.

Nou is Lebo en die dogtertjie op pad Pick n Pay toe. Sy ys as sy dink wat die uitstappie haar op die einde gaan kos, maar dalk kan sy vandag ’n saadjie in die dogtertjie se lewe plant wat haar gaan laat besef dat daar meer daar buite is as net die stofstrate van die township.

Sy is verbaas toe sy die kind moet aanpor om vir haar lekkernye te kies.

“Can we take pap as well, aunty Lebo? Mama is always worried that the pap will be finished before she gets paid. So, if we take pap now, she will not worry so much.”

Lebo is sommer van vooraf vies vir haar suster en dié se keuses. ’n Kind moenie sulke bekommernisse hê nie.

Maar sy onthou maar te goed dat dit die meeste township-kinders se daaglikse realiteit is. Dit was hare ook. Daarom dat sy elke oom­blik van haar hoërskoolloopbaan omgewens het sodat sy hier kon wegkom. Dit is hoekom haar skoolmaats se dunk van haar haar nou min skeel. Hulle het haar op skool al as ’n “coconut” uitgeskel.

“Eish, Lebo-English-English. You’re Tswana, wena, speak Setswa­na.” So het sy bykans daagliks deurgeloop.

Lebo hurk nou by Palesa en trek speels aan een van die strikkies. “Yes, we can take pap as well,” stel sy die dogtertjie gerus en kyk dan met genoegdoening hoe die kind eensklaps die lekkergoedrak met baie meer belangstelling betrag.

Lebo kyk net tersluiks na die jong man wat ook voor die lekker­goedrak kom staan. Sy glimlag en skud net haar kop toe hy vra of die oulike dogtertjie hare is.

Teen die tyd dat sy en Palesa eindelik by die kasregisters vir hul inkopies betaal, het Lebo al van die man vergeet.

En dit pas hom perfek.

Hy weet hy het volop tyd. Die twee gaan nou eers weer terug tot by die swembad moet loop om daar ’n minibus-taxi te haal. Nee wat, niks jaag hom nie.

Hy staan onder die stoepdak van die winkel en kyk hoe die vrou en die dogtertjie die straat na die swembad toe oorsteek. Die vol­gende taxi het nog nie kom stilhou nie.

Hy kyk hoe die vrou op ’n klip langs die swembadhek gaan sit en dan die kleintjie op haar skoot tel. Die dogtertjie is besig om in een van die inkopiesakke te grou.

’n Toeter klink op en die man draai sy kop in die rigting van waar die geluid gekom het. ’n Taxi is sowat ’n halwe straatblok weg en trek solank die aandag van moontlike passasiers.

Hy is meteens doelgerig.

Met lang treë steek hy die parkeerarea tot by sy bakkie oor.

Deurentyd hou hy die vrou en die dogtertjie in die oog. Hy wag tot hulle in die minibus klim voordat hy sy eie voertuig aanskakel en op ’n afstand volg.

Wat is die plan? Hy weet nog nie regtig nie. Maar iets aan die twee se uitbundigheid trek hom aan; daag hom uit.

“Mamma, bona! Mmangwane o rekile dilo tse for nna.” Palesa hup­pel om die lendelam kombuistafel, gretig dat haar ma haar goedkeu­ring moet gee vir die geskenke wat haar tannie vir haar gegee het.

Portia Serape glimlag vir haar kind, dankbaar dat Palesa nie die hartseer agter die glimlag sal raaksien nie. Sy is bly Lebo het haar dogtertjie so bederf, maar dit skeur haar in twee. Natuurlik is sy dankbaar vir die klere en alles, en sy is dankbaar vir haar kind se vreugde. Maar daar wag ook teleurstelling op Palesa as Lebo weer weggaan. Sy en Sello doen hul bes, dis al wat hulle kán doen.

Portia weet wat Lebo van haar dink: Dat sy sonder ambisie is. Dat sy nie die moed gehad het om die stof van Coetzersdal van haar af te skud nie. Maar dit was óf sy óf Lebo.

As sý die pad stad toe gevat het, sou Lebo moes bly. Ouma Sara het niemand anders gehad om na haar om te sien nie, een van hulle moes haar versorg. En Lebo het ’n jeuk aan haar voete gehad, van kleins af. As sý hier moes bly, in plaas van Portia, sou dit daardie lig wat almal in Lebo kan sien, vir altyd doodgemaak het. Sy kon dit nie aan haar kleinsus doen nie.

Palesa het ook daardie spesiale lig. Soms maak dit Portia bang. Want daar is mense daar buite wat soos honger honde loop en snuif, en as hulle eers jou lig gevind het, rus hulle nie tot hulle dit verslind het nie.

Sy trek haar enigste kind teen haar vas.

“Ja, ek sien jou tannie het omtrent die dorp leeg gekoop. Jy lyk baie mooi.” Sy glimlag steeds, maar bo die kind se kop rek sy haar oë vir haar suster.

“Toe, gaan wys vir Bonolo jou mooi nuwe klere, ek en Mmang­wane moet begin om kos te maak vir vanaand.” Sy piets die dogter­tjie speels op die sitvlak en kyk hoe die kind buite toe dartel om na haar maatjie te gaan soek.

Die man het stadig verby die huisie gery nadat Lebo en Palesa by die skewe voorhekkie in is. Hy het haastig anderkant toe gekyk toe die kind vassteek. Hy het die bofbalpet laer oor sy gesig afgetrek.

Ag, miskien moet hy huis toe gaan. Dié idee was in elk geval net op die ingewing van die oomblik. Ondeurdag.

Hy draai regs by die volgende stopstraat en ry verby die kliniek. Twee seuntjies hang aan die lendelam hek en waai vir hom. Hy waai vriendelik terug. Vir hulle is hy net nog een van die tientalle wit mense wat elke dag hierlangs ry om goed by die groot herwin­ningsaanleg te gaan aflaai, of iemand wat by een van die sewe sko­le werk. Hulle kan selfs dink hy is een van die polisiemanne van die gemeenskapsentrum wat in die volgende straat is.

Sal hy nou huis toe gaan? Hy het eintlik baie werk. Maar hy weet uit ondervinding dis nie so maklik nie. Wanneer die kooltjie eers begin gloei het, doof hy dit nie maklik uit nie.

Hy kan dalk net nog een keer verby die huis ry? Net nog één keer. Hy draai in Mosiapoastraat in, een van die min strate waar ’n naam nog sigbaar op die randsteen is. Toe links.

Hy herken onmiddellik die uitbundige strikkies. Die dogtertjie staan alleen op die sypaadjie en gee hom ’n wye, skitterwit glimlag toe hy nader kom. Voor hy nog self besef wat hy doen, het hy langs haar stilgehou.

“Bly jy hier?” Sy glimlag is ewe wyd, ewe wit. Die kind kyk hom met groot oë aan. “Do you live here?” herhaal hy. Die dogtertjie knik.

Die man kyk vinnig verby die kind. Die straat is steeds stil. Maar hy weet in dié plek bly dit nooit lank só nie. As hy iets wil bereik, moet hy dit nou doen. Of los. Gewoonlik spandeer hy eers ’n bietjie tyd op sy keuses. Hy kan eerlik sê kleintjies hou van hom. Dit laat hom altyd dink dat hy ’n goeie pa sal maak. Beslis ’n beter een as wat hý gehad het.

Die dogtertjie het belangstelling in hom verloor en is besig om om te draai en weg te stap. Instink neem oor en besluit namens hom. Sy deur is meteens oop. Die kind weeg byna niks en hy pluk haar met gemak tot binne-in die voertuig. Hy trek dadelik weg, die spartelende kind oor sy skoot. Sy probeer onder sy greep uitkom, maar hy druk haar half onder die stuurwiel in.

Hy kyk rond. Niemand storm uit ’n huis of roep agter hom aan nie. Hy neem aan hy het bespeuring ontglip. Hy gee ’n ingenome laggie. Practice makes perfect, nè.