Tog het ek uit my eie ervaring in die verlede dikwels gesien hoe vroue vinnig en daadwerklik optree wanneer die geleentheid dit vereis, veral wanneer die welstand van hul gesin op die spel is. Vroue is maar altyd net daar, iemand wat die ondersteunende rol speel en wie se bydrae tot die sukses van die samelewing nie altyd aan die groot klok gehang word nie. Kyk mens maar na geskiedskrywing, en selfs die Bybel, word dit meestal vanuit die manlike oogpunt gedoen. Teen hierdie agtergrond was Bettina Wyngaard se jongste boek vir my ’n insiggewende werk.

In Onverskrokke Vroue (Lux Verbi, R250) bekyk Bettina die rol van vroue in die samelewing, van die "uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag."Op die agterblad word gesê:"[Vroue se] rol as versorgers word geredelik erken, maar wat van die openbare sfeer - waar hoort vroue in die kerk, die politiek, die sakewêreld, sport en wetenskap? Was dit altyd so, of het dié rol oor die jare verander?"

Wyngaard voer in die boek ’n "gesprek tussen toeka en nou, tussen Bybel en Grondwet" om te kyk hoe die rol en posisie van vroue oor die jare heen verander het. Haar agtergrond as regsgeleerde en aktivis laat haar besonder nugter en logies na die verskillende kwessies kyk. Sy skryf direk, verstaanbaar en met ’n onweerlegbare rasionaliteit wat geanker is in deeglike navorsing.

In die onseker en uitdagende tyd waarin ons leef, met ’n pandemie wat ons aan die keel beet het, is die rol van vroue in die samelewing van kardinale belang. Wyngaard skryf toeganklik oor die verskillende rolle van vroue - "as versorgers in die Covid-19-pandemie, as leiers in die kerk, as huiswerkers. En wat van seksuele teistering by die werk, transgenderregte en hutsmerk-aktivisme?" Die boek is aktueel en vra die vrae waaroor elke vrou wonder. 

Lees hier ’n uittreksel oor vroue en korona.

 inspirasie, woorde

 

Korona

Hierdie boek en die navorsing daarvoor het vorm aangeneem in die prepandemie-tyd.

Min het ons geweet hoe ingrypend die lewe binne ’n kwessie van ’n paar maande sou verander. Maskers en sosiale distansiëring, stadskerns wat leeg en leweloos is, sosiale by- eenkomste wat virtueel plaasvind, aanlyn vergaderings en klasse . . . Dit alles was eens vir ons volksvreemd. Nou is dit die voorkeurmanier van werk en leef.  

Noudat ons reeds feitlik ’n jaar lank al op verskillende vlakke ingegrendel is, begin dit duidelik raak dat die pandemie ook met geslagslyne langs ’n impak het. Lande met vroulike leiers hanteer die pandemie met veel groter sukses as lande met manlike leiers. Nieu-Seeland, met Jacinda Ardern as eerste minister, is waarskynlik die uitblinker op alle gebiede. Nie net is Nieu-Seeland se grendeltyd met groot sukses hanteer nie, maar ook die maatskaplike aspekte van die pandemie is beter hanteer as in ander lande. Nieu-Seeland is waarskynlik die enigste land tot dusver wat ’n krisis-begroting vir die kunste voorsien het.

Vroeg in die pandemie het Ardern ’n spesiale TV-onderhoud gerig op die kinders van haar land. In Paastyd 2020 het sy die paashaas se rol as ’n essensiële diens verklaar. In Kersfees 2020 is Sinterklaas immuun teen die virus verklaar. Dit klink dalk ligsinnig, maar tog het dit ’n reuseverskil gemaak in hoe kinders die stres van die pandemie ervaar het.

Ander lande, veral die Noorweegse lande wat deur vroue gelei word, het Ardern se voorbeeld gevolg deur spesiale inligtingsessies vir kinders te hou. Selfs die Wêreldgesond-heidsorganisasie het in die aanloop tot Kersfees 2020 verduidelik hoekom Sinterklaas oor die wêreld heen kan reis sonder om ’n superverspreider te wees.

Dieselfde fokus op die behoeftes van die kinders is nie in lande soos Suid-Afrika gesien nie. Al was daar ’n tyd lank ’n klein verhoging in die maatskaplike toelaes vir kinders, bejaardes en gestremde mense, was dit nie naastenby voldoende om in hulle behoeftes te voorsien nie. Die betaling van ’n toelaag is in elk geval nie op lang termyn volhoubaar nie. Korrupsie en wanbesteding het die begroting uitgeput nog voordat die pandemie verdere verwoesting kon saai. Kospakkies het behoeftiges nie bereik nie en is eerder as politieke kapitaal gebruik.

’n Donkerder sy van die pandemie is die toename in voorvalle van gesinsgeweld en die gepaardgaande afname in ondersteuningstrukture soos nieregeringsorganisasies wat hulle beywer vir die regte van vroue en kinders. Al kan mans ook die slagoffers van gesinsgeweld wees, is die oorgrote meerderheid slagoffers vroue. Dit is natuurlik nog te vroeg om vaste tendense te identifiseer, maar dit lyk of die wreedheid van geslagsgebaseerde moorde toeneem. Terselfdertyd verskuif die fokus van polisiëring weg van die beskerming van vroue en kinders. Terwyl ek hierdie boek geskryf het, was daar berigte in die media oor ’n vrou wat, terwyl sy in die polisiestasie was om ’n klag van gesinsgeweld teen haar man te lê, deur haar man doodgeskiet is. In die polisiestasie. In die teenwoordigheid van polisiebeamptes.

Skole is in grendeltyd gesluit en die meeste kinders moes tuisonderrig ontvang. Weer moes vroue die grootste deel van hierdie werk verrig. Vroue is dus in die posisie geplaas waar hulle hulle werk moes doen, moes kos maak, die gesin emosioneel bymekaar moes hou en boonop ook die kinders moes onderrig. Vir baie vroue het dit beteken hulle moes kies tussen gesin en werk. Baie het hulle gesin gekies. Dit het beteken dat die statistieke van werkloosheid onder vroue die hoogte in geskiet het.

Dit was die ideale tyd vir kerke om hulle rol as vegters vir sosiale geregtigheid uit te leef. Die meeste kerke het egter geswyg oor maatskaplike euwels. Waar kerke wel aktief betrokke geraak het, het hulle gekies om eerder sopkombuise oop te maak. Kerkgeboue en sale het leeg gestaan, maar is by uitsondering gebruik as plekke waar vroue in nood veilig kon gaan bly of waar hawelose mense gehuisves kon word nie. 

Drie belangrike stukke wetgewing om vroue en kinders te beskerm is wel voor die parlement gebring en sal waarskynlik goedgekeur word.

Die eerste van hierdie wetsontwerpe wysig die Wysigingswet op Kriminele Reg (Seksuele Oortredings en Verwante Aangeleenthede) 32/2007.

Die wetsontwerp skep ’n nuwe misdryf van seksuele intimidasie, brei die definisie van bloedskande uit, verbreed rapporteringspligte by seksuele misdrywe teen kinders en brei ook die register van seksoortreders uit.

Die tweede wetsontwerp wysig die Wysigingswet op Kriminele en Verwante Aangeleenthede B 17/2020. Hierdie wetsontwerp teiken borg vir oortreders wat van geslagsgebaseerde geweldsoortredings beskuldig word, en brei ook minimum vonnisse vir spesifieke misdrywe uit.

Die derde stuk wetgewing wysig die Wet op Gesinsgeweld 116/1998, sodat ook verloofde partye, ouer persone wat deur familielede misbruik word en persone in gemeenregtelike verhoudings nou die hof kan nader vir verligting. Aansoeke vir beskermingsbevele kan ook aanlyn gedoen word. Of dit doeltreffend afgedwing sal word, is egter ’n vraag wat die meeste vroueregte-organisasies bekommer.

Slegs wanneer daar meer tyd verloop, sal die impak van die pandemie op die balans tussen die geslagte duideliker word. My voorspelling is dat vroue waarskynlik groter bemagtiging sal ervaar. Vroue word tradisioneel minder betaal vir soortgelyke werk, al is daar wetgewing in plek om dit te probeer bekamp. Vroue word uitgesluit van sekere soorte werk, met die gevolg dat armoede dikwels ’n vroulike gesig het.

In die eerste paar maande van die Covid-19-pandemie is daar ook gevind dat werke wat tradisioneel ’n meer vroulike gesig het, soos haarkappers en skoonheidsterapie, langer verhoed is om na hulle werk terug te keer. Verpleging het egter nie net nuwe status as ’n essensiële diens verkry nie, maar word ook veel meer waardeer. 

In hierdie stadium lyk dit of mans sieker word wanneer hulle Covid-19 opdoen en langer vat om te herstel, indien hulle herstel. Soos daar ná elke wêreldoorlog ervaar is, wanneer die manlike werkerskorps onvoldoende was, word vroue noodgedwonge aangestel in posisies wat hulle andersins nie sou beklee het nie.

Die langtermyngevolg? Groter welvaart en meer onafhanklikheid vir vroue.

Of dit in hierdie geval ook so gaan uitspeel, sal ons egter nog moet sien.