Gangsters (Tafelberg, R212) gee ’n intieme blik op bendegeweld en vertel in mense se eie woorde hul gewelddadige verhale, asook die wanhoop wat hulle genoop het om deel van die bendekultuur in Suid-Afrika te word.

Carla is ’n gesoute ondersoekende joernalis en vra moeilike en ongemaklike vrae. Die antwoorde wat sy van haar informate kry, dui op die mate waaryoe hulle haar vertrou.In die boek gesels sy met almal van polisiebeamptes en tronkbewaarders tot gerehabiliteerde gangsters en groepe wat help om mense se lewes om te keer.

 
 inspirasie, woorde

Lees hier die verhaal, Van die 18 Gangster Museum tot die Gangstar Café

Khayelitsha. Dis mos die berugte township waar Anni Dewani vermoor is. En dáár is ’n “gangster museum” opgerig wat hoofsaaklik deur oorsese toeriste besoek word.

Miskien moet ons liewer die idee laat vaar. Pastoor Ricardo het immers gesê hy dink hy moet saam met ons gaan. Was dit nie dalk ’n bedekte waarskuwing nie?
Maar dalk moet mens net uit jou geriefsone klim: Ek skryf tog ’n boek oor bendes en ons is nuuskierig. Jacques, wat aan FOMO (fear of missing out) ly, is weereens my Kaapse chauffeur. Ons ry van Kaapstad af op die N2 tot ons die Khayelitsha-afrit kry.

Ons het vooraf ’n webblad genaamd Township Tours besoek waarop die 18 Gangster Museum bemark word. Groot foto’s van uitbundige besoekers voor die museum pryk op die blad. Almal op die foto’s lyk besonder opgewonde. Op een van die foto’s sien mens hoe een van die gidse in ’n skeloranje tronkuniform op ’n ou motorband buite die museum sit en met groot handgebare meer oor bendes aan die besoekers vertel. Hulle hang aan sy lippe.

Onder die opskrif Welcome to the 18 Gangster Museum word vertel dat dié museum enig in sy soort in Suid-Afrika is. Hierdie innoverende lewende museum is daarop gemik om die Suid-Afrikaanse jeug ’n beter begrip te gee van die verraderlike pad wat talle na bendeskap en uiteindelik na die tronk toe lei. Die 18 Gangster Museum probeer om ’n positiewe alternatief te vind.

“Besoek die 18 Gangster Museum vandag en wees deel van die beweging om die plaag van bendeskap in ons gemeenskappe te demistifiseer. Daar word ook huisvesting in nabygeleë hotelle aangebied,” lui die inligting.

Die betekenis van die woord Khayelitsha is “ons nuwe huis” in Xhosa. Die 18 Gangster Museum bied verskeie township-ervarings aan met ’n opgeleide plaaslike toergids en gewese oortreders in Khayelitsha, Kaapstad se grootste swart township, lui die blad.

“Ervaar die kulturele, historiese en ekonomiese aspekte van die township deur die plaaslike gemeenskappe te besoek. Jy kan ’n diep insig in die Kaapse bendekultuur verkry en Khayelitsha meer as net oppervlakkig beleef. Die tariewe wat besoekers betaal sal een plaaslike skoolkind daartoe in staat stel om die museum gratis te besoek.

“Help ons om ons gemeenskappe en toekomstige leiers te vorm.”

Nouja, dit klink goed. Selfs vir ons misdaadvoos en ietwat siniese Suid-Afrikaners.

Ons gaan.

Ná die afrit Khayelitsha toe merk ons op dat die plek, nes die geval met Mitchells Plain, netjies lyk. Geboue waarvan alle aan pophuisies herinner, staan ook tot teenaan die strate. Huisvroue en gogo’s vee hul stoepe skoon. Doodgewone mense wat doodgewone lewens lei.

Die beeld wat mens op televisie van Khayelitsha kry, is hier in Mandela Park skoon vergete. Ons sien nie plakkershutte of oproeriges tydens ons rit nie.

“Kyk hoe skoon is die strate,” gesels ons. “Niks lê hier rond nie.”

Dis duidelik dat almal net ’n bestaan probeer voer. By elke tweede huis, so lyk dit vir ons, word Educare-dienste bemark. Soos ons in Mitchells Plain gesien het, is hier ook talle tuisondernemings soos haarsalonne. Dis duidelik dat Mandela Park se mense entrepreneurs is.

Ons volg die GPS en hou stil waar die 18 Gangster Museum veronderstel is om te wees.

Ons is verbaas dat ons die plek gekry het, maar is dit die regte adres? Al wat ons sien, is ’n outydse kafee op die straathoek reg oorkant ons.

“Waar is die museum dan?” wonder ons kliphard. Gedagtig aan imposante geboue soos kunsmuseums en die kultuurhistories museum in Kaapstad, sien ons niks wat eers vaagweg aan ’n museum herinner nie.

Hier is dan net ’n saal en ’n skeepshouer. Eenvoudig. Gestroop. ’n Uitgelate groep toeriste wat al die tale van Babel praat, loop laggend en geselsend deur die strate. Stofwolke dwarrel agter hulle aan. Hulle is omtrent almal in kortbroeke, T-hemde en gemaklike stapskoene geklee. Reg vir hul avontuur. Hul gids neem hulle op ’n staptoer deur daardie gedeelte van Khayelitsha. Later poseer hulle luidrugtig voor die skeephouermuseum. Been there, done that. Nog iets wat hulle van hul Suid-Afrikaanse besigtigingslysie kan aftik.

Die gangstermuseum val op die oog af nou nie in die liga van Tafelberg as dit by die visuele kom nie. Dis iets geheel en al anders. Wat jou aangryp, is die stories wat die stigter en ander personeel (gewese oortreders) wat daar werk, vertel. Ons besoek eers die piepklein “tronksel” wat in ’n gedeelte van die skeepshouer ingerig is en ’n presiese replika van die ware Jakob is. Troosteloos en karig. Daar is ’n bord onaptytwekkende pap en ’n replika van ’n nederige tjoekietoilet waarop een van die gidse doodluiters met die besoekers sit en gesels. Die ervaring is baie geloofwaardiger as jou toergids ’n gewese oortreder is, is die sienswyse.

En dan is daar die graffiti teen die mure. In suiwer onverdunde tronktaal. Gesegdes en geskrifte van die nommers in ’n skewe, krapperige handskrif teen die afgedopte mure soos The end of me, Go to hell and tell the devil I am alive en Son op. Die harde werklikheid van ’n lewe agter tralies ruk mens. Dalk kan hierdie piepklein “sel” as afskrikmiddel dien vir jeugdiges wat ’n loopbaan in die onderwêreld oorweeg. By die sel se deur is daar ’n houer waarin besoekers fooitjies vir die werknemers kan plaas.

Ons ontmoet vir Wandisile Nqeketho wat ’n medestigter van die museum is. Die jong man verwelkom ons hartlik. Dis min dat Suid-Afrikaners, en dan veral Afrikaanssprekendes, hulle kom besoek.

Soos van die ander wat daar werk en met wie ons ook gesels, het sy familie ook ’n geskiedenis van bendebedrywighede.

Hy het nooit self by bendes aangesluit nie, maar vertel dat sy biologiese pa ’n dwelmhandelaar was en sy halfbroer ’n bendelid wat dwelms aan die gemeenskap verkoop het. Sy pa het op sy 14de verjaardag vir hom ’n vuurwapen persent gegee!

Sy halfbroer is egter dood nadat ’n opposisiebende hom 14 keer geskiet het.

Sy ma, vir wie hy die grootste respek het, was ’n verpleegster. Hy het kontak met sy pa, die bendelid, behou.

“Hoewel die bendes baie bedrywig in die gemeenskap is, het ek nooit vir die versoeking geswig om by hulle aan te sluit nie. Ek skryf dit toe aan die opvoeding wat ek gekry het. My stiefpa was ’n wonderlike mens. Hy was ’n baie gelowige man, ’n gereelde kerkganger en het ons tuis geleer om op die regte pad te bly.

“Ek het sokker en tennis gespeel en aan talle buitemuurse bedrywighede deelgeneem.”

Sy gesig val.

“Ongelukkig het die meeste van my sokkervriende by bendes aangesluit. Vier van hulle het in kruisvuur gesterf.“Ja, ek ken ook ’n hele paar wat agter tralies beland het.” Gelukkig het hy ondanks hierdie negatiewe invloede ander keuses gemaak.

Dan, kopskuddend: “Ek het ’n probleem met gevangenisse want ek is nie daarvan oortuig dat mense daar gerehabiliteer word nie. Uit elke 100 mense wat gevangenisstraf uitdien, is daar dalk net 17 wat gerehabiliteer word. Ons fokus op die mense wat gerehabiliteer het. Van hulle is inderdaad wonderlike mense. Ja, daar is mense in gevangenisse wat ons inspireer.

“Werksgeleenthede is egter skaars. Die Suid-Afrikaanse ekonomie bloei. En as jy tronkstraf uitgedien het, is dit nóg moeiliker om werk te kry. Boonop beskik talle gewese gevangenes nie oor vaardighede nie. Hul families is meestal so arm dat hulle hulle nie in die tronke kan besoek nie.”

Daarmee stem ek saam. Ek het al met talle gevangenes gesels wat nooit besoek kry nie. Hul families kan eenvoudig nie die taxigeld bekostig nie. Jou besoek aan hulle, al is dit net om inligting vir ’n boek te kry, is ’n hoogtepunt.

’n Bekommerde frons op sy gesig.

“Ek sou dit waardeer het as die gevangenisowerhede op rehabilitasie kon konsentreer en die kanse verminder dat die gevangenes nog meer by misdaad betrokke raak.

“Hierdie instellings,” sê hy kopskuddend, “is nie doeltreffend nie. Ons behoort met die bendes te kan klaarspeel. Mens kan wel die regering blameer, maar ons is self ook aan misdadigheid aandadig. Misdadigheid is die gevolge van ’n disfunksionele samelewing.”

Wandisile vertel dat hy ná skool universiteit toe is om verpleegkunde te studeer, maar hy het nie sy studies voltooi nie. Entrepreneurskap was eerder sy ding, het hy besef. Hy was vasbeslote om ’n positiewer leefwyse te voer. Hy het toe ’n ses maande lange kursus by die Raymond Ackerman-Akademie voltooi waar hy met ’n ou vriend en sy huidige sakevenoot Siyabulela Daweti, herenig is. Net soos die noodlot of die geluksgodin dit wou hê. Hulle het toe saam besluit om die ongeregtigheid waarmee hul gemeenskappe te doen het, aan te spreek.

“Drie jaar gelede was daar twee van ons. Nou is ons al 12 wat hier werk,” vertel hy trots.

 Mense is maar skrikkerig vir en bevooroordeeld teenoor Khayelitsha, vertel hy.

“As mens van Khayelitsha af kom, assosieer mense jou altyd met ’n sekere soort identiteit. Jy kom mos van ’n gevaarlike gemeenskap af, dus is die kanse goed dat jy self ’n bendelid is of dat jy minstens oor ’n paar misdadige eienskappe beskik. Dan moet jy alewig aan mense bewys dat nie almal wat van Khayelitsha af kom so is nie.”

Ja-nee, die Gangster Museum is nou wel nie die spogmuseum van R2,4 miljoen wat hulle aanvanklik in gedagte gehad het nie, maar dit dien darem sy doel.

Wandisile meen dat as almal bang vir bendes is, gaan niemand die probleme aanpak en ’n oplossing daarvoor vind nie. En dan sal bendebedrywighede eenvoudig genormaliseer word. Die volgende generasie gaan die slagoffers wees.

Maar nou, met die 18 Gangster Museum, word gewese bendelede darem die geleentheid gebied om weer by die gemeenskap in te skakel.

So word die stigma rondom gewese bendelede ook versag.

Skielik glimlag hy van oor tot oor. “Ek is so bly julle is hier!”

Dan gesels ons oor wit Suid-Afrikaners wat so bang vir townships is. Dat mens net altyd van bendes hoor, maar nie besef hoe vreedsaam die lewe hier voorkom nie. Oor wetsgehoorsame burgers. En natuurlik oor die moord op Anni Dewani in Khayelitsha, wat internasionaal opslae gemaak het. “Ja,” benadruk Wandisile, “dinge word heeltemal uit verband uit geruk. Omtrent al ons besoekers kom van oorsee af. Slegs sowat 5 persent van ons besoekers is Suid-Afrikaners.”

“Ons probeer hard om goeie werk te doen. Om jongmense te waarsku dat misdaad nie betaal nie.”

Hy vertel breëbors dat meer as 4 200 skoolkinders hulle tot dusver reeds daar besoek het sodat hulle hierdie kinders teen bendebedrywighede en die gevolge daarvan kon waarsku.

Dan ernstig: “Dit is eintlik ons fokus.”

Ons moet eenvoudig die ironiese vraag vra of ’n toeris al ooit, wel . . . by die 18 Gangster Museum beroof is? Ek bedoel, dis nie asof al die mense wat hier werk nie ’n misdaadrekord het nie.

“Nooit nie!” Hard en duidelik. Hartstogtelik.

Hy sê ook ingenome: “Wat so mooi is, is dat ons besoekers gewoonlik maar uit bevoorregte gemeenskappe kom.”

Dan, nadenkend: “As jy in Suid-Afrika woon, moet jy ’n verskil maak. Almal kan nie weghol nie.”

Ons praat oor vaderlose kinders wat by bendes aansluit.

Om te kan behoort. Om iewers opgehemel te kan word.

Die vaderlose gesinne is beslis ’n bydraende faktor, stem hy saam.

“Dis op rekord dat sowat 64 persent van kinders wat in Suid-Afrika gebore word, vaderloos is.

“My broer het op 23 ’n baie lang vonnis gekry nadat hy ’n paar mense geskiet het. Ek sal nou nie sê hy vaar goed in die tronk nie, maar hy vaar goed vir iemand wat in ’n gevangenis is.”

Hy kyk af.

“Die gewig waaronder my ma gebuk gaan is erg. Sy word oud. En toe my broer gearresteer is, was sy meisie swanger. Hierdie kind gaan nou ook sonder ’n pa grootword.”

Hy verwys na een van sy kollegas by die 18 Gangster Museum.

“Dis byna abnormaal. Hier werk ’n ou wie se oupa, pa en hyself ’n bendelid was. Nou werk hy hard sodat sy seun nooit ’n bendelid sal word nie.”

Hy verduidelik dat dit dikwels in townships gebeur dat die kinders se ouers soggens sewe-uur werk toe gaan en dan eers sewe-uur saans terugkeer.

“Baie kinders baseer hul besluite in die lewe op dit wat hulle gesien het. As jeuggevangenes gevra word watter woorde hul ouers die meeste gebruik as hulle kwaad vir hul kinders is, is dit die woord ‘stupid’.

“Hulle sal byvoorbeeld sê: ‘Jy is niks, jy is nes jou pa.’ As die ouers ons slypskole bywoon, sal ons hulle inlig dat jy nie ’n dom prokureur, ’n dom dokter of ’n dom ingenieur kry nie.”

Hy glimlag skeef.

“Jy kan nie spinasie plant en dan verwag dat daar wortels te voorskyn gaan kom nie.

“Bou die kind eerder op positiewe wyse op sodat sy selfbeeld nie skade ly nie. As dit nie gebeur nie, is die kind daarvan oortuig dat die gangsters darem in hom glo en vir hom erkenning gee, terwyl dit nie die geval met die familie is nie.

“My dogter woon in Lavender Hill en ek is doodbekommerd oor haar veiligheid tussen die bendes daar.

“Toe ek in Lavender Hill gewoon het, is ek nooit toegelaat om alleen winkel toe te stap nie. My ma het altyd uit vrees vir bendegeweld daarop aangedring dat iemand saam met my stap. Mens moet altyd paraat wees. Daar is wel tye dat die bendegeweld in ons gemeenskap veel meer is en ander tye dat dit minder is, maar dan moet ons nie te houtgerus word nie.”

Hy gee toe dat gebrokenheid onder mense daartoe kan bydra dat hulle by bendes aansluit. Mens vergeet inderdaad van die bydraende faktore.

“Van ’n afstand af lyk bendelede so glansryk en so ryk. En as ’n bendelid sterf en die dag begrawe word, word op daardie dag heeldag lank skote afgevuur. Vir die jonges lyk dit asof die bendelede respek kry. Kyk dan net na die mooi karre waarin hulle rondry.

“Ja-nee,” sê hy, “mens moet versigtig wees oor die op- en aanmerkings wat jy veral voor jong kinders maak.”

Ons vra hom of daar ’n verskil tussen bruin en swart bendes is. En wat van vrouebendes wat ook soms “lady gangsters” genoem word?

“Die ding met bruin bendes is dat hulle baie meer gestruktureerd en georganiseerd as swart bendes is,” vertel hy amper bewonderend. Onder die bruin gemeenskap kry jy bendes soos die Americans, die Mongrels en die Hard Livings. Dis ou bendes, maar hulle opereer seepglad. Swart bendes is nie onnosel nie, maar hulle begin nou eers ’n bietjie struktuur kry. Dis egter min dat jy bendes met lede van verskillende rasse sien. Dit wil voorkom asof mense van verskillende rasse beter in die gevangenisse oor die weg kom. In die tronke is dit in elk geval die nommers wat die septer swaai, nie die bendes nie.

“Eintlik,” sê hy met ’n ironiese glimlaggie, “kan ons wat buite is by die mense wat binne is omtrent rasseharmonie leer.” “Ons kyk mos eers na die nasionaliteit en dan na die mens. Daarvoor het ek begrip. Dit is die gevolg van ons verwikkelde geskiedenis.”

Ek vertel hom van die jong man (die enigste witte tussen 400 swart mans) wat ek in ’n jeuggevangenis in Modimolle ontmoet het. Hy het binne 18 maande vier swart tale vlot leer praat. So, het hy vertel, het hy baie van ander se kulture geleer. Dit was ook duidelik dat hy gewild onder sy selmaats was.

“Ja, dis presies wat agter tralies gebeur. In die tronke is mense meer verenig as buite,” vertel Wandisile met die wysheid van ’n man wat kennis oor mense in die onderwêreld beskik.

Hy gesels geesdriftig voort: “Ons is ’n verdeelde samelewing. Mens moet eintlik tronk toe gaan om te sien hoe mense saamwerk.”

Ek pols hom weer oor vrouebendes, of “lady gangsters”, soos Mario na hulle verwys.

Hy antwoord rustig: “Party van die vrouebendelede is die manlike bendelede se girlfriends. Hulle vorm gewoonlik afsonderlike bendes, maar eintlik is hulle ’n spieëlbeeld van die mans.”

Hy haal sy skouers op en sê: “Hulle word nie juis so ernstig soos die mansbendes opgeneem nie.”

Sjoe, dink ek, is dit dalk ’n bedekte belediging of kompliment? Ek het al dikwels opgemerk dat diegene in die onderwêreld eintlik spog oor wie die grusaamste misdade gepleeg het. As jy nie ’n held in die gewone gemeenskap is nie, word jy maar ’n anti-held in die onderwêreld om ’n soort skeefgetrekte respek te kry.

Was Marinda Steyn en Cecilia Steyn, twee van die medepligtiges in die Krugersdorp-afspraakmoorde dan nie onder die wreedstes van die wredes nie? Vroue is immers lief daarvoor om huurmoordenaars te kry en dan onskuldig te pleit aangesien hulle nie bloed op hul eie hande het nie; iemand anders het die vuilwerk namens hulle gedoen.

Hulle is daar om veral skoolkinders te waarsku teen die valse glans rondom bendes, laat Wandisile blyk.

“Leerders besoek ons gratis. Ons vra hulle nie geld nie. Ons gaan aanhou om hard te werk om hierdie boodskap deur te kry.”

Hy verwys na ene “Samuel”, ’n gewese bendelid wat glo ’n boek geskryf het waarvan die besonderhede op hul webtuiste is.

“Hy was ’n lid van die Sewe-en-Twintigs-nommers.” “Maar die Agt-en-Twintigs is mos die gevaarlike kalante?” “Nee! Die Sewe-en-Twintigs is die gevaarlikste. Die Ses-en-Twintigs soek geld, die Agt-en-Twintigs bloed maar die Sewe-en-Twintigs soek geld en bloed!”

Langs die sel in dieselfde skeepshouer is ’n uitstalling met foto’s van hoogstaande gehalte en inligting waar besoekers verder teen die euwels van bendeskap gewaarsku word. Een van die foto’s lyk soos die vreesaanjaende “Pappa-wag-vir-jou”-TV-advertensie van ’n aantal jare gelede. Genoeg om enigeen met misdadige neigings vroom te laat skrik.

Daar is onder meer ’n foto van Thando, ’n pragtige kind met groot swart oë, die toonbeeld van onskuld. Enige ma se hart se punt. Maar, waarsku hulle, daardie engelgesiggie het ’n bendelid geword. Wie sou dit nou kon dink?

Naby die skeepshouer is ’n soort gemeenskapsaal wat in ’n opvoedkundige sentrum omskep is. Daar ontmoet ons vir Nonkikelolo Mabuza wat weeksdae, baba op die arm, kinders met drama-optredes en huiswerk help. Hierdie kinders word ook teen bendes gewaarsku en oor hulle ingelig. Ons stap terug na die Gangster Museum toe. Dan sien ons hulle weer – die groep oorsese toeriste wat as deel van die Township Tour met dapper en stapper Khayelitsha verken het. ’n Blonde Engelssprekende toerleier wie se voorkoms nogal aan dié van ’n middeljarige hippie herinner, gesels vrolik met hulle. Sy ken almal wat by die Gangster Museum werk, want dis haar werk om gereeld toeriste hierheen te bring. Jare lank al.

Ek vra haar ook of van die besoekers al ooit slagoffers van misdaad was. Ek bedoel dis mos darem Khayelitsha.

Dit het bittermin gebeur, vertel sy. Sy voel veilig hier. Dis haar werk om besoekers meer oor die leefwyse in Khayelitsha te leer.

Dan staan sy hand om die lyf met die werknemers by die museum. “Hierdie mense,” glimlag sy gul, “is my vriende.” Almal se koppe knik instemmend.

Wanneer ons vertrek, kom een van die werknemers met ’n laphoedjie koponderstebo na die kar toe aangeslenter. Hy soek geld vir koeldrank. Ek en Jacques wonder wat aangaan. Is hy, die man wat ons vertel het hy was self in die tronk, dalk ’n kansvatter? Kry hy nie betaling en fooitjies nie? Ons druk maar in elk geval iets in sy hand.

Terwyl ons wegry, bespiegel ons of die mense wat daar werk regtig bendelede was. Is hulle nie dalk wannabe- of have-never-been-bendelede nie? Dalk was hulle maar net gewone misdadigers. Hoe sal ons werklik weet?

Of het hulle dalk net ’n gulde sakegeleentheid raakgesien?

Hoe dit ook al sy. Die doel heilig sekerlik die middele. Ek en Jacques kan maar net nie van die gangsters af wegkom nie.

“Kom ons gaan drink koffie by die Gangstar Café in Kaapstad,” stel hy voor. Dis natuurlik nie ’n gewone café nie. Hierdie kuierplek word ook as ’n onderneming met ’n doelstelling bemark. Dis ’n maatskaplike inisiatief van The Message Trust, ’n organisasie wat daarop fokus om die jeug vanoor die hele Wes-Kaap op te hef.

Die spyskaart is redelik beperk maar die geregte is lekker en bekostigbaar. Hulle bied restaurant- en venuedienste aan klante. En die mense wat jou bedien, is almal gewese oortreders wat hulle uit die kettings van bende- en misdaadbedrywighede bevry het.

The Message Trust bied opleiding aan, verskaf werk, huisvesting en ’n gebou wat in ’n café omskep is. Gangstar Café – die naam met die slim woordspeling.

Die groot droom is dat hierdie manne met misdaadrekords hul rug op misdaad sal keer. Vir altyd.

Die kelners bedien ons flink en vriendelik en poseer lag- gend saam met ons vir foto’s.

Waarvoor sou hulle gesit het, wonder ons natuurlik kliphard. Soos gewoonlik afgryslik nuuskierig.

Maar, soos ’n geestelike werker in ’n gevangenis eenkeer aan my vertel het, hulle vra nie watter oortredings die gevangenes begaan het nie.

Daar is ook nie plakkertjies op hul voorkoppe wat verklap waarvoor presies hulle sit nie. Die gevangenispersoneel werk met die mens. Die mens agter die misdaad. Selfs die mens agter die monster. Is dit, wonder mens, dalk ’n onbegonne taak? Misdaad bly immers een van Suid-Afrika se grootste probleme. Kan bendegeweld werklik aangespreek of voorkom word?

Of is dit net ’n onmoontlike droom?