Ons almal is daarmee gebore: veerkragtigheid! Daardie spesiale krag wat jy binne jouself ontdek wanneer die lewe jou platgeslaan het en jy die moed bymekaar moet skraap om weer op te staan. 

Saam het SARIE se boekeredakteur en die skrywer en joernalis Ilse Salzwedel die afgelope twee weke gekyk na wat veerkragtigheid waarlik is (kyk die episode hier) asook hoe dit verwant is aan dankbaarheid (kyk die episode hier). Vanaand delf hulle dieper in die onderwerp wanneer die duo oor die positiewe én negatiewe impak van spanning op jou veerkragtigheid gesels. Uitbranding, woede, komplekse post-traumatiese stressindroom en Covid-19 kom vanaand onder die vergrootglas.

Veerkragtigheid is die tema van Ilse se nuutste boek, Floreer (Lux Verbi). In dié boek ontdek en deel sy hierdie wêreld van veerkragtigheid. 

Skakel vir die volgende twee weke elke Dinsdagaand om 18:30 in op SARIE se Facebook-blad om te luister na hoe Ilse en SARIE se boekeredakteur, Phyllis Green, dieper delf in die tema van veerkragtigheid. Boonop kos dit jou nie ’n sent nie en jy benodig nie ’n kaartjie nie. Jy moet net op SARIE se Facebook-blad inskakel vir hierdie uitsendings!

Die laaste twee episodes sal op die volgende datums uitgesaai word, elkeen met sy eie tema. Klik op die episode-naam om te registreer sodat jy 'n kennisgewing ontvang wanneer die uitsending begin.

Dinsdag, 4 Mei | 18:30 | Stres en veerkragtigheid

Dinsdag, 11 Mei | 18:30 | Praktiese wenke om veerkragtigheid aan te leer

Maak seker jy skakel in vir dié episodes! Ilse se praktiese wenke en ware verhale van veerkragtigheid sal jou inspireer om jou eie veerkragtigheid te ontdek, bo jou terugslae uit te styg, en teenspoed in die toekoms makliker te oorkom. Danksy Phyllis se in-diepte-vrae en kommentaar, sal jy die gereedskap kry om jou eie veerkragtigheid te help ontwikkel.

Floreer is Ilse se sesde boek. Ander boeke uit haar pen is Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee (2011), Bloedsusters (2011), Onvertelde Stories van Afrikaans (2012), Selna Visser: My hel in Dubai (2013) en Van Sprokie tot Tragedie in die Kollig (2013)

Lees in SARIE se Mei/Junie-uitgawe (nou op die rak) meer oor wat dit beteken om veerkragtig te wees.