Vir Afrikaanse lesers is dié name bekend. Winterbach wat vanjaar die kortlys gehaal het met haar roman, Voorouer. Pelgrim. Berg, het in 2012 en 2018 as die wenner weggestap van dié gesogte prys. 

Jaco Fouché het hierdie jaar met die louere weggestap vir sy roman, Simoelégri. In 2018 was hy die naaswenner en in 2012 het sy roman, Verstevlei, die derde plek ingeneem.

Francois Smith het bekendheid verwerf met sy debuutroman, Kamphoer. Sy inskrywing vir vanjaar se Groot Romanwedstryd het aan hom die tweede plek besorg. In Die getuienis doen ’n egpaar verslag oor ’n geloofsreis wat hulle van Naboomspruit na Ventershoop en terug onderneem, een waarop hulle heeltemal op Die Voorsienigheid moet staatmaak, selfs vir petrol om in die geleende Fort Figo te gooi. 

Mercia S. Burger skryf haar indrukke van Winterbach se roman, Voorouer. Pelgrim. Berg, asook vorige romans deur Fouché en Smith.

 inspirasie, woorde

Voorouer. Pelgrim. Berg, Ingrid Winterbach (Human & Rousseau, R345)

Moenie verwag Ingrid Winterbach se roman open en eindig netjies verpak met maklike instruksies nie. Haar skryfwerk duisel, haar idee’s omring jou soos ’n klomp flitsende ligte, maar het hierdie leser met tye ook oorweldig en effens verlore gelaat. ’n Mens wil sê dis bykans onmoontlik om alles wat dié roman bied met een slag te ontrafel. Nou ja, soms is lees – soos ’n pelgrimstog – harde werk.

Katerina Steenkamp is ’n prulskrywer wat veel eerder ’n literêre werk as haar huidige wraakroman wil skryf. Ná ’n verbrokkelde huwelik en ’n gestorwe vorige geliefde is sy op haar eie innerlike pelgrimstog waar sy soek na “’n soort waarheid wat agter alle skyn lê.” Pelgrimsmotiewe soos religie en boetedoening word deur alledaagse (en banale) situasies vervleg, soms met ’n knip-oog.

Gedurende haar “pelgrimstog” kruis haar pad met ’n paar vreemde karakters, elkeen met hul eie bagasie.Daar is, om maar ’n paar te noem, ’n flaneur, ’n smous met stowwerige lokke, en die vreugdelose Joydene Adams, wat altyd slegte nuus aandra. Gysbert glo aan ’n naderende apokalips, Werner vervaardig sekspoppe en Vossie is ’n outodidaktiese karavaanpelgrim.

Aanhalings uit die joernaal van die skrywer, Anne Carson, wat met ’n hardkoppige metgesel die Camino gestap het, word as paralelle teks tot Katerina se introspeksie voorgehou. Selfs waar die teks met tye wyd dwaal na filosofie, wetenskap en kuns (van die klassieke Goya en Titiaan na die meer kontemporêre Kerry James Marshall en George Gittoes), kry die leser elke keer ’n paar sleutels om saam met Katerina ’n nuwe wêreld te ontsluit.

Natuurlik is geen introspeksie voldoende sonder insetsels van die alomteenwoordige voorouers nie. Voorouers is die gids tot die onbewuste, glo Katerina se broer, Daan, wat probeer om met hulle in gesprek te tree oor die droefnis en trauma van die verlede.

En intussen staar Katerina na ’n berg voor haar kamervenster wat gereeld van gedaante verwissel – van bleek,roerloos en onverbiddelik na sag en solied, in pienk opgelos en soms onsigbaar. “Ek slaan my oë op na die berg. Ek fynkam dit vir spore van pelgrims. Vir klein, woedende figuurtjies. Vir diegene wat hoopvol is.”

Het onse Katerina die prulskrywer uiteindelik genoeg van boetedoening gehad om haar wraakroman te laat staan en hierdie literêre werk te skryf? Ek hoop tog so.

 inspirasie, woorde

Aanspreeklikheid, Jaco Fouché (Human & Rousseau, R295)  

In hierdie roman keer Jaco Fouché met klipharde en eerlike skryfwerk terug na ’n tema wat hy so raak en met heelwat swart humor in sy vorige boeke ondersoek – die emosionele leegte en identiteitsverwarring waarin wit, middeljarige Afrikanermans in Suid-Afrika hul bevind.

“Die nuwe era het nie vorm nie … Ons is tussen iets wat was en die dood van daardie iets,” brom die protagonis, Jaco Diehl. Die mag van ’n vorige generasie en herinneringe aan sy militêre diensplig spook by hom. Verder werk hy, ’n sukkelende skrywer, aan ’n biografie oor Napoleon se minister van polisie, Joseph Fouché, ’n man met ’n reputasie van wreedheid en bloedvergieting (let op die naamspeling).

Nadat Diehl ’n slagoffer van verkragting word, verval sy persoonlike lewe in sinnelose verhoudings en misplaasde geweld. Maar hy is ook ’n glibberige verteller wat lekker met realiteit speel, en dus ook met die kwessie van aanspreeklikheid.

Afhangende van die leser se gemoed, kan daar tog ’n glint van vernuwing in die slot van dié nihilistiese roman skuil. 

In 2018 was die roman tweede in NB Uitgewers se Groot Romanwedstryd.

 inspirasie, woorde

Die kleinste ramp denkbaar, Francois Smith (Tafelberg, R310)

Toe Dokter Gustav van Aardt een oggend by sy spreekkamer instap, is een van sy pasiënte Frans Schuin, “die vet polisieman” met ’n morsige reputasie. Schuin is bewusteloos, ylend van koors, en in sy hand is ’n telefoonnommer. Gustav is agterdogtig en besluit om ondersoek in te stel na dié vreemde gebeure. Dit klink soos die begin van tradisionele wie-het-wat-gedoen speurroman … dan nie? 

Die leser geniet vrye toegang tot Gustav se komplekse gedagtegang en innerlike monoloë, en kom gou agter iets is nie wel nie. Soos hy leidrade in die fynste detail navolg, raak hy vergeetagtig, vaag, verstrooid. Gereeld wil hy iets vra, maar weet nie wat nie. Onbenullighede word paranoïes bevraagteken, en die leser sien hoe Gustav se realiteit tussen sy hede en verlede al vaer word. Hier is ’n man op soek na ’n ramp, terwyl hy die ooglopende ramp in sy eie lewe mis.

O ja, moenie verwag om voorgesê te word presies wat die kleinste ramp denkbaar is nie – die leser sal hier self ’n bietjie moet dink.   - Mercia S Burger

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.