Moenie op ’n hongerdieet gaan en jou gesondheid in gevaar stel nie. Onthou dié wenke en maak positiewe veranderings aan jou leefstyl.

Hier's tien goue riglyne wat jy kan volg om nie net vir die somer gewig af te skud nie, maar ook om jaar ná jaar gesonder te voel én te lyk.

1. Eet minder stysel

Ontbytgraan, brood, rys, pasta? Kies die gesonder, growwer volkoring-opsies. Jy kan koolhidrate in klein hoeveelhede eet, maar veral die verfynde soorte in oormaat is ’n groot sondaar.

2. Verminder jou suiker-inname

Jy gooi dit by jou tee en koffie. Sprinkel dit oor jou pap. Dis in baie van jou gunsteling-versnaperings, wat gaskoeldrank én vrugtesap insluit. En dit skuil in feitlik alle geprosesseerde kos, byvoorbeeld kitsontbytkos en smaakmiddels soos tamatiesous. Ongelukkig is suiker een van die grootste oorsake van vetsug. Wees bedag op hoeveel jy inneem – uit die suikerpot én in verskuilde vorm.

3. Oefen meer gereeld 

Jy moet oefen om kilojoules te verbrand. Jy weet dit, maar jy kom net nie aan die gang nie, veral in die koue wintermaande. Begin deur daagliks net ’n klein bietjie meer te beweeg. Stel haalbare doelwitte en kombineer aërobiese oefening met dié met gewigte. Soek ook ’n oefening waarvan jy hou, of dit nou joga, dans of boks is. Oefening is ook nie net vir gewig verloor nie. Die gesondheid van jou liggaam en kop wen ook heelpad.

4. Drink minder alkohol

Alkohol verminder jou selfbeheersing, wat jou meer geneig maak om meer en ongesonder te eet. Veral appelbier en ander alkoholiese vrugtedrankies bevat ook hope suiker en (leë) kilojoules. ’n Glas (250 ml) appelbier bevat maklik 30 g koolhidrate. Hou matigheid voor oë en heroorweeg jou drankies. Kies eerder jenewer en tonikumwater. Verdun dit nog verder met sodawater en jy spaar nog ’n hele klomp kilojoules.

5. Eet meer groente

Eet meer groente, in al die kleure van die reënboog. Dis propvol gesonde antioksidante en die vesel help jou bloedsuikervlakke beheer. Boonop maak die water in groente jou vinniger versadig! Vervang stysels soos pasta en brood met pampoen, patat of botterskorsie.

6. Eet meer proteïen

Proteïen laat die liggaam minder insulien afskei, wat die liggaam help om meer vet te verbrand. Dit verminder jou aptyt en stimuleer jou metabolisme.

7. Drink groentee

Groentee bevat kragtige antioksidante en sommige studies wys dat dit help om vet af te breek. Die antioksidante in groentee is boonop wonderlik vir jou vel omdat dit jou velselle teen skade deur omgewingsfaktore soos die son, besoedeling, stres en ’n ongesonde dieet beskerm.

8. Eet gesonde peuselhappies

Vermy sjokolade, lekkers en skyfies. Hou neute, biltong, groentestokkies en jogurt byderhand as jy lus is vir ’n peuselhappie.

9. Drink genoeg water

Jou liggaam dehidreer makliker as wat jy dink en kan dors met honger verwar! Sowat 60% van die menslike liggaam bestaan uit water, en al verloor jy net 1,5% daarvan is jy reeds effe gedehidreer. Vir elke kilogram liggaamsgewig benodig jy 20-30 ml water per dag.

10. Hou jou porsiegroottes dop

Skep minder en gesonder kos op jou bord en eet stadiger sodat jou liggaam vir jou kan laat weet wanneer jy versadig is. Jy kan ook ’n dagboek begin waarin jy neerskryf wat jy eet en sodoende meer bewus raak van jou daaglikse kos-inname.

JOU SPESIALE VROUEMAAND-BEDERF

9 Augustus is Nasionale Vrouedag – beslis ’n dag om te vier! Ons doen dit sommer die hele maand lank. As ’n spesiale bederf kry jy 20% afslag op Gesonder met SARIE wanneer jy die koeponkode #GESONDER2021 by die betaalpunt gebruik.

Gaan na www.gesondermetsarie.co.za, klik op "SKRYF NOU IN!", klik dan op "Het jy ’n koeponkode" en vul #GESONDER2021 in die veld in.

*Die koeponkode is geldig tot 31 Augustus 2021.