Só skop jy jou brein soggens wakker

1. Koue water

Mense wat hul gesig ná ’n middagslapie met koue water was, doen daarna net so goed in ’n geheuetoets as dié wat nie geslaap het nie, wys ’n klein studie. Of dit jou genoeg gaan opkikker om jou dagtaak met ’n helder kop aan te pak, is nog nie ondersoek nie. Maar as jy deurmekaar geslaap uit die bed rol, kan die skok van ’n koue stort dalk die ding doen.

2. Koffie maar ...

Dit is bewys kafeïen laat jou brein op aandag spring. Dis egter nie nodig om meer as twee koppies ko e op ’n slag te drink nie, want dit gaan nie noodwendig jou kop helderder maak nie, wys studies. En dit kan jou die ritteltits gee. Gewone water gaan ook wondere vir jou aandagspan doen. Jou lyf het dit nodig ná die lang slaap.

3. Baai in die lig

’n Sonnige dag kan jou bui lig en jou kop energiek maak. Helder lig wanneer jy opstaan, verhoog kortisolvlakke, is in ’n studie bevind. Kortisol is ’n steroïedhormoon, ’n soort innerlike alarmstelsel. Om op stres te kan reageer verhoog kortisol jou bloedsuikervlakke en verbeter ook die brein se vermoë om dit te benut.

4. Energiek stap

Loop sommer flink in jou huis rond. Of nog beter, doen dit buite in die son. Oefening verbeter jou wakkerheid tydelik, deels omdat jou liggaamstemperatuur styg en meer bloed na die brein vloei.

5. Nee vir suiker

Selfs al smag jy daarna, is suiker nie die antwoord om jou slaaproes af te skud nie. Dit gaan jou tydelik op en top laat voel, maar daarna tuimel jou energievlakke – en dis lippe teen die klippe. Eet liefs proteïen soos eier om jou breinkrag ’n hupstoot te gee.