Kleinjan Redelinghuys, seun van dominee Jan van Vereeniging, het homself op 17 die eerste keer om die lewe probeer bring.

Hy was ’n slimkop, ’n uitblinker in veral verspring en naelloop. Maar daardie prestasies is deur baie angs gedryf. Meisies het hom boonop misgekyk en sy lelike vel was vir hom ’n yslike verleentheid.

In graad 11 het hy ’n hand vol hoofpynpille gesluk, die eerste van verskeie mislukte pogings om sy eie lewe te neem. Dit was ook geen impulsiewe besluit nie. “Ek het baie aande met ’n lem teen my pols in my kamer sit en huil,” onthou hy sy jonger, wanhopige self. “Gehoop my ma stap in en sien daar is groot fout. Ek het probeer om myself te versmoor, te verdrink . . . selfs een Sondagmiddag my pa se pistool teen my kop gedruk ...maar kon nie die sneller trek nie.”

Dit vertel hy als asof hy die weer bespreek. Maar dan was dit jare lank sy nare werklikheid. Self kon hy destyds nie sy wanhoop aanroer nie, sê Kleinjan tydens ons telefoniese gesprek.“Ek praat nie baie nie, ek’s stil. As jy ’n man is, praat jy mos nie juis oor jou gevoelens nie. Ek het nie geweet hoe om my ouers te laat weet hoe erg dit gaan nie.”

Tot en met die verskyning vroeër vanjaar van sy boek, Unfiltered, het selfs nie sy ouers, Jan en Carol, of broer, Neels, geweet hóé groot die donkerte is wat hom jaag nie. Van sy selfdoodpogings het hy inderdaad met niemand gedeel nie. Net maar die volgende oggend, ná ’n hand vol pille en baie drank, weer sy oë oopgemaak en “voortgeploeter”. Vol botsende emosies: Teleurgesteld, maar ook berouvol.

Vier keer in sy dertig jaar het hy die desperate stap geneem ... en telkens misluk. Totdat hy in ’n stadium gedink het: Ek leef nog. Dalk is daar ’n rede. Met sy boek wil hy ander in dieselfde bootjie aanmoedig om ook hul storie te vertel.“As ek iets vir iemand anders kan beteken, sal ek baie dankbaar wees. Dit voel asof ’n gewig van my skouers af is. En dit als omdat ek my mond oopgemaak en gepraat het.”

Destyds het hy graad 11 deur tuisonderrig voltooi. Maar hy het sy motivering verloor, rigtingloos in die huis rondgehang. Dit het ’n domino-effek gehad: Hy het agtergeraak en terug by die skool vir sy matriekjaar was hy skielik nie meer ’n topstudent nie. Aan die begin van die jaar het hy boonop nog ’n paar weke gemis omdat hy gesukkel het met sy gemoed. “Op ’n manier het ek deur matriek gekom. Ek het egter besluit om nie rekeningkunde te gaan swot soos my plan was nie. Al het ek keuring gekry, was my selfvertroue geknou.”

Tog het Kleinjan hom vir baie jare hierna nie weer in dieselfde diep gat bevind nie. In 2016 het hy sy doktorsgraad in bedryfsielkunde voltooi en is hy getroud. Toe hy egter besluit om sy ou droom na te jaag en ouditeur te word, beland hy weer in die maalkolk van donker emosies. Ná drie maande by ’n ouditeursfirma bedank hy. “Ek was uitgebrand en het soos ’n mislukking gevoel. Selfdoodgedagtes het my oorspoel. Wéér het ek pille gedrink, wéér het ek die volgende oggend wakkergeskrik. My vrou het vanweë haar werk gependel en was nie by die huis nie.”

In 2018 dryf sy ma se dood en sy egskeiding hom “in die diepste gat waarin ek ooit was. Ek het gedink ek sal nooit weer heeltemal herstel nie, wou nie soggens opstaan, gaan werk nie. Al was my werksomstandighede by die NoordwesUniversiteit (NWU) ook goed. Als was moeite. Ek’t selfs belangstelling verloor om my boek klaar te skryf, iets wat my gedryf het toe niks anders kon nie.”

Steierend het hy voortgegaan, nog twee keer sy lewe probeer kortknip. Die positiewe: Hy het weer met terapie begin, waarmee hy steeds volhou.“Dinge het aanvanklik nie juis verbeter nie, al het ek my medikasie gedrink en gereeld probeer oefen. Niks was lekker, snaaks of betekenisvol nie.

“Skielik was dit 2020 – ’n jaar wat ek nooit beplan het om te sien nie. En dinge het in my guns begin draai. My driejaarkontrak by die NWU het tot ’n einde gekom. Op Vrydag 19 Junie vanjaar is my boek gepubliseer en die Maandag daarna het ek gehoor my werksaansoek by die Universiteit van Johannesburg was suksesvol. Dít in ’n tyd wat mense sukkel om werk te kry, of hul werk verloor.

“Ek het die eerste keer in baie jare weer toekomsplanne en geniet die lewe. Ek lag weer, my sin vir humor is terug en ek geniet kos, kuier saam met vriende. As ’n meisie nie op my boodskappe reageer nie, slaan dit my nie plat nie. As iemand dink ek is vreemd, ook nie. Ek weet ek is vreemd – dis een van my beste eienskappe! Wat die toekoms inhou, weet ek nie, maar ek lewe en is dankbaar daaroor. Ek voel skoon skuldig dat ek goed voel terwyl baie mense nou so swaarkry!”

Depressie, sê hy, is soos ’n tweesnydende swaard. Aan die een kant stamp dit jou af grond toe. Maar dit gee jou ook meer empatie vir ander en laat jou dieper oor dinge dink. “Dit wat ek deurmaak, het my ook baie wysheid geleer.”

*Unfiltered: Grappling with Mental Illness deur KJ Redelinghuys is as e-boek beskikbaar op Amazon.com. Bestel dit in boekvorm teen R100 (aflewering uitgesluit) by Kleinjan: kjredelinghuys@gmail.com.