Tyd in die natuur verminder stres. Maar so ook plante in die huis. Duitse navorsers het bevind hospitaalpasiënte met binnenshuise plante in hul kamer se stresvlakke is laer. Dié plante is maklik om te versorg, vermeerder suurstof en verwyder gifstowwe vir skoner lug. Asem in ...

AALWYN (ALOE VERA)

Die jel van die aalwyn het verskeie helende eienskappe. Dit sus nie net snye en brandplekke op jou vel nie, maar kan ook ongesonde chemiese stowwe in huishoudelike skoonmaakmiddels (soos formaldehied en bensien) uit die lug verwyder. Raak sulke chemikalieë in die lug te veel, verskyn bruin kolle op die blare. Sit in ’n lekker sonkol.

SEILBOOTJIES (SPATHIPHYLLUM WALLISII)

Dié lid van die aronskelkfamilie is ’n veelsydige huisplant en het min geite. Al wat nodig is, is baie water en ’n bietjie sonlig en siedaar: jy het ’n groen lugsuiweraar. Dit verwyder bensien, formaldehied en trichlooretileen uit die lug. Die blomme lyk na wit aronskelke, maar met ’n oper gesig.

SKOONMA-SE-TONG (SANSEVIERIA LAURENTII)

Die plant het nie baie lig of water nodig nie en is ’n goeie keuse vir enige hoekie in jou huis. Dit absorbeer koolsuurgas en stel suurstof in die nag vry (die meeste plante doen dit bedags). Sit een in jou kamer om die lug snags te suiwer.

BAMBOESPALM (CHAMAEDOREA SEIFRIZII)

Die palm is op NASA se toplys van plante wat die lug skoonmaak met ’n telling van 8,4 uit 10, en is glo veral doeltreffend om die lug van bensien en trichlooretileen te suiwer. Dis ’n uitstekende binnenshuise palm vir ’n sonnige plek naby ’n venster.

RUBBERBOOM (FICUS ELASTICA)

Rubberbome is goed om die lug te suiwer en een van die maklikste plante om aan die groei te kry. Dit aard goed selfs in dowwe lig en kouer klimate en het min versorging nodig. Die groot blare breek gifstowwe (veral formaldehied)in die lug af en maak dit skadeloos.

Bronne: NASA-studie (https://archive.org), www.huffpost.com, Keith Kirsten se volledige tuingids vir Suid-Afrika