Boeretroos

1. Hokaai, diabetes

Sowat 11%. Dis hoeveel deelnemers aan ’n Amerikaanse studie hul kanse verminder het om in die daaropvolgende vier jaar diabetes te kry. Dis nadat hulle oor vier jaar hul koffie-inname met gemiddeld 1,69 koppies per dag vermeerder het.

2. Voorkom Parkinson se siekte

’n Hoë kaffeïen-inname (en dus koffie) word met ’n aansienlik laer voorkoms van Parkinson se siekte geassosieer, wys Amerikaanse navorsing. Matige kafeiengebruik kan dalk ook help vir die motoriese simptome, soos stadige bewegings, spierstyfheid, bewerigheid en verlies aan balans, volgens nog ’n studie in die Amerikaanse joernaal Neurology.

3. Lewerkanker

Koffie is goed vir jou lewer. Drie koppies koffie per dag kan jou risiko vir lewerkanker met tot 50% verminder, wys ’n Italiaanse studie.

4. Die hart

Drink koffie matig en dit kan jou teen hartversaking beskerm, volgens Israelse navorsing. (Die studie definieer matig as 2 koppies per dag.)

5. Verminder jou kans op beroerte

’n Sweedse studie wys vroue wat meer as ’n koppie koffie per dag drink, se kans op beroerte is 25% minder. Geen of baie min koffie kan jou risiko inderdaad vergroot.

Herman se koffie-en-karamel-Cremora-tert

SKERMGREEP Inspirasiekos met SARIE

In Herman se eerste seisoen van die VIA-reeks Inspirasiekos met SARIE het hy die heerlike resep gedeel. 

genoeg vir 1 groot tert

1 x 10 g-sakkie gelatien

30 ml water

1 x 200 g-pakkie sjokolade-klapperkoekies

100 g (110 ml) botter, gesmelt

1 x 500 g-sakkie Cremora

250 ml yskaswater

2 x 385 g-blikke kondensmelk

250 ml suurlemoensap

5 ml vanieljegeursel

60 ml espresso-koffie

vrugte van jou keuse om tert te versier

Sprinkel gelatien oor water in ’n bakkie en laat staan tot sponsagtig. Plaas koekies in voedselverwerker en verwerk tot fyn. Voeg botter by en meng tot klam mengsel vorm. Spuit ’n 30 cm-losboomkoekpan goed met kleefwerende kossproei. Voer bodem van pan uit met klam koekiemengsel en druk stewig vas.

Maak Cremora aan met yswater en gooi in mengbak van ’n elektriese menger. Voeg kondensmelk by en klits by hoë spoed tot mengsel dik en romerig is, sowat 5-8 minute. Terwyl menger loop, gooi suurlemoensap geleidelik by en hou aan klits tot mengsel dik en romerig is. Voeg vanieljegeursel en koffie by.

Smelt geweekte gelatien in mikrogolfoond en voeg by mengsel. Meng goed. Skep mengsel in uitgevoerde koekpan en laat stol sowat 2-3 uur in yskas. Verwyder ring en plaas tert op opdienbord. Versier met vrugte van jou keuse.